Lanie trek haar viooltjieblou oë op skrefies teen die helder sonlig wat haar hotelkamer instroom. Toe sy onthou waar sy haar bevind, gee sy ’n breë glimlag en strek haarself luilekker uit.

Sy staan op en stap venster toe om die blou hortjies oop te gooi en tree dan uit op die balkon.

Voor haar lê die wye, blinkblou oseaan, wit gekalkte huise met blou koepeldakke en hier en daar ’n spatseltjie kleur waar ’n bloedrooi malvaplant in ’n vensterbank knipoog.

Selfs ná ’n week in Griekeland voel alles nog by tye so onwerklik. Byna asof sy in ’n poskaart ingestap het en alles rondom haar meteens lewend geword het.

Elke eiland het sy eie atmosfeer en sjarme en in elke stegie met sy leisteenplaveisel wag nog ’n avontuur.

Onwillekeurig kyk Lanie af na haar hande wat op die balkonreling rus.

Die bleekwit strepie aan die leë ringvinger van haar linkerhand bring ’n tikkie weemoed en vir ’n kortstondige oomblik wil-wil die hartseer haar oorval.

“Verlief, verloof, verwerp . . . verlore,” prewel sy saggies.

In vier kragtige woorde ’n kort opsomming van die afgelope vyf jaar van haar lewe. En net so vinnig as wat Deon Fouché haar lewe binnegestorm en sy haar impulsiewe jongmeisiehart op hom verloor het, net so blitsvinnig is hy weer daaruit toe hulle op ’n troudatum moes besluit.

Sy verskoning was pateties en tipies van sy onverantwoordelike geaardheid: “Hei, Laantjie, ek’s rêrig jammer, girl. Jy weet mos ek het maar nog altyd commitment issues.”

’n Week later het hy hand om die lyf met ’n modelmooi poppie by die werkdinee opgedaag en daarmee finaal hul vyfjaarverhouding onder die mat gevee.

’n Stortvloed trane, bokse snesies, duisende onbeantwoorde vrae en ’n menigte koppies troostee later het sy besluit om ’n nuwe blaadjie om te slaan.

Of nee, sommer ’n hele nuwe boek te begin leef. Een waarin sy die protagonis is en alles vir ’n verandering om háár draai.

Die volgende dag het sy bedank by Fouché & Vennote, die prokureursfirma op Stellenbosch waar sy as junior vennoot gewerk het. Dit was tyd om haar vlerke te sprei en haar eie drome na te jaag.

Tyd om weg te breek uit haar vervelige daaglikse roetine. Deon was verstom.

“Maar Laan, hierdie gedrag is só nie jy nie. Wat het gebeur?”

Sy het hom vierkantig in die oë gekyk en kil geantwoord.

“Ek is niemand se ‘Laan’ nie en jý het met my gebeur. Dis wat. Ek gaan myself vir ’n verandering eerste stel. En terloops, dit het niks met jou te doen nie.”

Sy het dans- en skilderlesse geneem, leer waterski en perdry en daarna ’n kursus in fotografie voltooi. Dit het haar weer vreemd lewendig laat voel om mooi maar ook hartseer op film vas te lê.

Dit was tyd om ’n nuwe rigting in te slaan en sy het met die gedagte begin speel om ’n vryskutfotograaf vir ’n reistydskrif te word.

Agt maande later was haar visum gereël en haar vliegkaartjie bespreek na die poskaartmooie Griekeland. En hier kyk sy nou uit oor die bekoorlike Santorini.

Lanie glimlag toe sy dink aan haar eerste aand in Athene. Hul eksentrieke Griekse toergids het hulle luidkeels welkom geheet en vlot Duits, Frans en Italiaans gepraat.

Die tradisionele Griekse hemp het om sy breë skouers gespan. Tant Martie en oom Jakob is die enigste ander Afrikaanssprekendes in hul toergroep en het besluit om hulle by haar te skaar.

“Hartjie, as ek nou nog die jare aan my kant gehad het, het ek dié spesimen beslis inkatrol!”

Tant Martie het ondeund geknipoog.

“Hy lyk na ’n goeie voorbeeld van ’n egte Griekse god. Of wat sê jy?”

’n Goddelike flirtasie was die laaste ding waarna Lanie op soek was, maar sy het dit liewer nie hardop gesê nie.

Die dierbare paartjie vier hul 50ste huweliksherdenking en is duidelik nog net so dolverlief op mekaar as toe hulle tieners was.

Daar was egter ’n vreemde roering in haar binneste toe die Griekse mansmens met sy blas vel en bos donkerbruin krulhare sy groen kykers op haar laat rus en innemend glimlag.

En net daar besluit sy die ganse Middellandse See sal eers moet leegloop voor sy weer in ’n man sou belangstel. Sy het net vriendelik geknik.

“Ja-nee, tant Martie, glad nie sleg nie. Ons noem hom sommer Zeus van nou af.”

Hy het hom hoeka soos ’n alwetende oppergod gedra en die toergroep het kort-kort geskater vir sy skerpsinnige sêgoed.

Hy het beslis nie laaste in die tou gestaan toe sjarme en selfvertroue uitgedeel is nie.

Daarna was dit te voet bergop met die Akropolis na die Parthenontempel waar Lanie na hartelus kon foto’s neem.

Terwyl sy tussen die ruïnes rondgedwaal het, dit gevoel of sy eensklaps self deel word van die antieke verlede.

Die volgende twee dae was Mikonos aan die beurt, waar hulle die eiland op bromponies verken het.

Die laaste middag het hulle vrolik afgesluit met ’n mengeldrankie in die hand by die kleurvolle Little Venice. Van daar was dit Naxos, Amorgos en Ios, en nou is hulle op die skilderagtige Santorini.

Ná ’n ontbyt van volroom- Griekse jogurt, fetakaas en olywe gee Zeus hulle tyd om die eiland op vrye voet te verken.

Gewapen met haar kamera stap Lanie deur die straatmarkte van Fira en koop ’n heldergeel sarong en ’n kalender met asemrowende foto’s van die eiland.

Almal groet vriendelik.

“Kaliméra!” Goeiemôre. Dis byna asof die tyd reeds eeue lank hier stilstaan.

In die agterstrate koop sy gyros – ’n vleisgevulde pitabrood met slaai en tzatziki.

Dit wemel van die straatkatte en sy verkyk haar aan die pienk bougainvilleastruike en wasgoed aan lyne oor die nou straatjies gespan.

Haar voete volg hul eie roete terwyl sy die steil paadjie afstap na die ou hawe. Dan roep iemand agter haar. Dis oom Jakob.

“Hallo, meisiekind! Vir wat stap jy so in die bloedige son? Kyk, ons het donkies gehuur. Dis vet pret.”

Lanie wonder hieroor. Die donkies lyk nie juis vir haar alte uitgelate oor dié avontuur nie “Nee wat, Oom, ek stap eerder. Dit gee my kans om elke oomblik in te drink. En dis boonop goeie oefening.”

Die donkies stap ewe gedwee al agter mekaar terwyl die klokkies in hul maanhare vrolik klingel. Sy glimlag kopskuddend toe oom Jakob op sy donkie ver- byskommel.

Hy was beslis nie laaste in die tou toe sjarme en selfvertroue uitgedeel is nie

Laatmiddag is dit tyd om die wêreldberoemde sonsondergang op die dorpie Oia te beleef.

Die lig van die ondergaande son tower die wit geboue teen die steil hang om in ’n ligte roospienk. Dis idillies, maar die kultuurreënboog van toeriste vertrap mekaar letterlik om foto’s te neem, en Lanie begin daarna uitsien om na ’n minder kommersiële eiland te vertrek. Iewers waar sy eg Griekse kultuur kan vaslê.

Zeus het belowe daar wag ’n besonderse eiland aan die einde van hul toer. Hul volgende bestemming is Paros, en hul hotel op die klein kusdorpie Aliki kyk uit op die hawe.

Dié eiland het meer water, en groen dennebome omsoom die strand. ’n Verdwaalde seemeeu swiep deur die lug.

Hier is dit veel rustiger, en Lanie ervaar ’n salige gevoel van bevryding toe sy uitstaar na die helderkleurige vissersbote wat dobber op die kristalhelder asuurblou water.

Tant Martie raak liggies aan haar skouer.

“Dis nou wat ’n mens noem off the beaten track, of hoe?”

Sy giggel skielik hardop.

“Ja-nee, tant Martie, dit voel byna asof ons op die stel van die Mamma Mia-fliek is.”

Zeus neem hulle op ’n bootvaart om die eiland. Die boot se naam is ewe gepas Poseidon – god van die see, water en aardbewings. Lanie vererg haar vir die bewerigheid in haar binneste toe sy na hom kyk.

Sy los hemp wapper teen die holte van sy rug terwyl sy sterk arms die boot ewe behendig deur die turkoois water stuur.

Op sy kop is heel gepas ’n seemanspet. Sy oë hou hare ’n oomblik gevange en Lanie kyk ongemaklik anderpad.

Wat gaan vandag met haar aan? Miskien te veel son, sjampanje of vars seelug?

Dis ’n soel, windstil aand ná die bootrit. Lanie sit by die Akri Gialos-taverne en teug behaaglik aan ’n glasie yskoue witwyn.

Die tafels en stoele staan bo-op die strand net ’n paar meter van die stil see. Lanterns is op die strand uitgepak vir die skep van ’n gesellige atmosfeer.

Op die agtergrond speel Griekse musiek, en selfs die blou-en-wit geruite tafeldoeke eggo Griekeland. Sy skop haar sandale uit en wriemel haar tone in die sand.

Dís mos die lewe! Romanties. Eksoties. Perfek. Haar oë gaan oor die pikante Griekse geregte op die spyskaart. Asof die gode dit so bestem het, staan Zeus meteens voor haar. Sy oë skitter ondeund.

“Daar is nie biltong of pannekoek op die spyskaart nie. Jy sal tevrede moet wees met soewlaki en baklava.”

Lanie is stom en knik net woordeloos toe hy sy hand in ’n groet uitsteek na haar.

“Izak de Villiers vannie Kaap. Bly te kenne.”

Lanie se oë rek groot en sy trek haar asem skerp in. “Maar . . . ek . . . Hoe?”

Hy trek die stoel oorkant haar uit en beduie of hy maar mag sit.

“Oom Jakob en tant Martie is jare lank reeds huisvriende van my ouers. Ek gaan kuier gereeld in Suid-Afrika en het hulle oorreed om op een van my toere te kom.”

Hy skink ’n glas wyn uit die kraffie op die tafel en lig dit omhoog.

“Yamas!” Gesondheid. Hulle vingers raak liggies toe hulle glase klink.

Lanie besef in stille verwondering hoofstuk twee van haar nuwe lewe het pas begin.