Sy bewe nog liggies terwyl sy wag dat ouma Issie die deur van haar huis op Mooibaai oopsluit en haar, soos altyd, met uitgestrekte arms vir ’n opregte verwelkomende oumadrukkie binnenooi. 

As sy vooraf geweet het wat die laaste uur of twee met haar sou gebeur, sou sy vir seker nie eers ’n draai langs die see gery het nie.

Sy sou, ná die paar uur se rit vanuit die stad, direk na haar ouma se netjiese huisie toe gery het en tien teen een reeds met ’n koppie koffie in die een hand en ’n vars­gebakte sagte mosbolletjie in die ander geduldig die een vraag ná die ander in besonderhede beantwoord het.

Maar nie vandag nie. 

Ouma Issie ken haar kleindogter. Sy merk met die groetslag alles is nie pluis nie, en lank voor sy by die gewone vrae uitkom, wil sy weet wat Isobel ontstel het.

Sy kan sommer onmiddellik sien haar oogappel en naamgenoot is nie haar gewone op­gewonde, vrolike, uitgelate, borrelende self nie.

Dit kos ook nie veel aanmoediging voor Isobel met die hele sak patats vorendag kom nie. Dit het alles begin toe sy ­besluit om net eers vir Saartjie, haar goudgeel Kia Picanto, te gaan wys waarom Mooibaai se naam juis Mooibaai is. 

“Wat gaan met die man aan? Watse geflits is dit so helder oordag?”

Daarna sou sy Saartjie vir ouma Issie gaan wys.

Sy het haar vorige afgeleefde derdehandse skedonk wat haar deur haar studentejare gedra maar reeds sy beste dae gehad het, met dié geel outjie vervang nadat haar ouma vir haar mondigwording vir haar die geld in haar bank­rekening inbetaal het.

Met die afdraai na die kus­paadjie het sy die sand op die padoppervlak sien lê. ’n Man het met sy vierwielaan­ge­drewe voertuig in die teenoorgestelde rigting as sy aangery gekom en sy motor se ligte geflits.

“Wat gaan met die man aan?” het sy gewonder. “Watse geflits is dit so helder oordag?”

Toe besluit sy dit is seker maar net ’n inwoner wat op dié manier al wat voorkom, groet. Sy het aanhou ry, net om oomblikke later in die dik laag sand vas te val.  

Hoe dieper sy die brandstofpedaal trap om Saartjie vorentoe te laat ry, hoe dieper sak hulle in. Sy skakel haar motor se enjin af, draai die ruit af en kyk moedeloos om haar. Sy sien hoe die viertrekvoertuig wat ligte­flitsend by haar verby is, omdraai en ­terugry. 

Sy sien dankbaar hoe ’n lang man met ’n atletiese lyf uitklim en stadig met af­gemete treë aangestap kom. Haar glimlag (Van vorige bladsy) is van korte duur, want sy word begroet deur ’n kopskuddende, onsimpatieke wese wat nie kan begryp dat “iemand met enigiets anders as ’n vier-by-vier so deur die dik sand sal probeer ry nie”.

Saartjie se wiele is byna halfpad in die sand begrawe. Isobel kan nie die deur oopkry nie en klim met ’n gesukkel deur die vensteropening. Die man help haar om haar voete op vaste aarde te kry. 

Sy wag dat hy aanbied om haar te help om haar motor uit die sand te kry, maar hy mompel net iets van “vroumense!”. 

Sy vergeet vir ’n oomblik sy verkeer eintlik in nood en beduie, hande op die heupe, dat sy glad nie van die woord “vrou­mense” hou nie. 

Dit lyk nie of hy gehoor het wat sy sê nie, want hy buk net ongeërg by elke wiel, laat die lug uit en stap na sy voertuig toe. So, hy gaan haar nie help nie. Sowat van onbeskof en onhulpvaardig het sy nog nooit gesien nie. 

Nog ’n motor kom aangery. Klaarblyklik ken die insittendes die lang man, want hulle groet oor en weer. ’n Bejaarde man en vrou klim uit en stap haar tegemoet. Die man besef gou wat die probleem is. Isobel stotter iets oor die onbeskofte man wat skynbaar die pad gevat het. Die vrou se oë rek ongelowig en sy vra of Isobel dan nie die man herken nie. 

“Nee,” sê sy. “Ek ken hom van geen kant af nie en wil hom ook nie ken nie.” 

Sy kyk moedeloos na haar motortjie. Die wind waai haar hare kruis en dwars oor haar gesig. 

Toe sy haar hare uit haar oë vee, is die lang man terug met ’n trekkabel. Geselsend maar doelgerig koppel die twee mans die kabel aan haar motortjie en aan die lang man se groot voertuig.

Hy skakel dit aan en trek Saartjie versigtig uit die sand. Voor sy behoorlik “dankie” kan sê, stap die lang, lenige man weg en laat hoor iets van “ ’n afspraak en dom vroumense”.

Hy klim in sy voertuig en ry in die rigting van die mooi kusdorpie terwyl Isobel die verontwaardiging vuurwarm in haar nek voel opstoot.

Die bejaarde vrou glimlag en sê: “Ai, die Heindrich darem. Hy is werklik sag op die oog. Ek kan nie wag vir vanaand se episode van Villa Manzi nie. Heindrich vertolk die rol van dr. Retief darem baie goed, nè.

Hy maak die vroue se bene lam. ’n Mens kan nie dink dat hy in die regte lewe nog nie getroud is nie. 

“Hy bly mos hier op Mooibaai. Jy kyk seker ook die sepie op TV.”

Isobel kom tot verhaal. Sy kry nie baie tyd om sepies te kyk nie, maar die naam lui ’n klokkie. Sy het een aand by ’n vriendin gekuier en ’n episode van Villa Manzi saam met haar gekyk.

Voor sy behoorlik “dankie” kan sê, stap die lang, lenige man weg en laat hoor iets van “ ’n afspraak en dom vroumense”

Noudat sy oor die ergste skok van haar vasval-ervaring is, onthou sy hoe hulle die aand ge-oe en ge-aa het oor die akteur in die rol van dr. Retief.

“Nouja, dan is dit nou die akteur Heindrich Wessels in lewende lywe.” 

Sy laat dit daar en kyk bedremmeld na Saartjie wat nog verwese eenkant staan. Die vriendelike egpaar verneem na ouma Issie. Hulle ken haar en weet waar sy bly. Almal op Mooibaai ken mekaar. Die vrou se man koppel die kabel, nog met Saartjie aan die een kant, aan sy voertuig. 

Hy beduie vir Isobel hoe om te werk te gaan wanneer ’n kar getou word en sleep hulle stadig tot by die naaste vulstasie waar ’n vriendelike petroljoggie Saartjie se bande pomp. Isobel bedank hom en haar twee weldoeners wat met “Groete aan Issie” vertrek. Sy slaak ’n sug wat baie diep val en kry koers na haar ouma se huis.

“En dis nou die hele storie, oumie,” sluit Isobel die vertelling af. Sy voel nou sommer beter vandat sy van al die opgekroptheid ontslae geraak het.

“Ek wil daardie Heindrich Wessels nooit in my lewe weer sien nie. Hy is die arrogantste man wat ek nog teëgekom het,” sê sy met misnoeë.

Ouma Issie kyk anderpad en glimlag ondeund van oor tot oor. Sy sal haar kleindogter nie nou peper met al die gewone vrae oor haar werk, die lewe in die stad en die familie nie. Sy skink vir hulle elkeen ’n koppie koffie en breek ’n paar stukke varsgebakte mosbeskuit in ’n mooi bak.

Isobel geniet ’n lekker verfrissende stort en trek ’n spierwit kuitbroek en vrolike blommetjiestoppie aan. Sy rond dit af met fyn sandale en borsel haar hare tot dit sagweg wieg wanneer sy haar kop beweeg.

Sy stap kombuis toe om te hoor of sy kan help met die bereiding van die aandete.

Toe steek sy in die deuropening vas. Sy sien die lang, lenige donkerkopman met sy rug na haar in gesprek met haar ouma wat so tevrede lyk soos ’n kat wat voor ’n piering room staan. 

“Dankie vir die ete-uitnodiging, tannie Issie,” sê hy. “Oom Jan het gesê hy sal sommer môre my trekkabel hier kom afgee. Hy en tannie Martie het dit geleen om ’n vrou van Kaapstad te help met haar motor wat in ’n slaggat vasgeval het.”Isobel draai om en sien drie plekke is reeds op die eetkamertafel gedek. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe!