Uit gewoonte kyk Juanita op haar polshorlosie. Sy het nie nodig om dit te doen nie, want die tyd staan duidelik op die rekenaarskerm voor haar. Sy kan net nie meer haar oë oophou nie.

Die lugversorging hier op kantoor is nou al ’n paar dae lank buite werking. Vandag se ondraaglike hitte het haar so uitgeput dat sy nie langer op haar werk kan konsentreer nie.

Gelukkig is dit Vrydag en amper tyd om huis toe te gaan. Dan sal sy darem ’n bietjie kan rus, of so hoop sy.

Naweke is meestal maar ’n voortsetting van werk. Nou weliswaar nie kantoorwerk nie, maar huiswerk wat bestaan uit wasgoed was, huis skoonmaak, kos kook en soms darem ’n ietsie bak vir haar suikertand.

Sy skrik wakker uit haar beswyming toe die res van die kantoorpersoneel van hul teetyd af terugkeer. Dis eerder rooktyd, en omdat sy nie rook nie, pas sy maar die telefone op.

Sy probeer weer fokus, want sy kan nie dat haar kollegas sien hoe vas aan die slaap sy hier sit nie. ’n Vlaag waarskuwings vir klein oortredings is juis onlangs weer uitgereik, en ’n mens kan net nie te versigtig wees nie.

Jy dink nog iemand is jou goedgesind, dan hoor jy hoe daar agter jou rug gepraat word. Stories word ook sommer gou by bestuur aangedra.

“Kom, Juanita, dis sulke tyd!” roep haar kollegas toe hulle teen huistoegaantyd uitstap. Sy kyk vinnig op en antwoord in ’n dwaal. “Dis reg so; los die sleutel vir my; ek sal sluit.”

Haar liggaam tref die vloer en sy skrik met ’n skok wakker. Dit is reeds donker, maar met behulp van die straatlig wat deur die blindings na binne skyn, kan sy presies sien waar sy haar bevind. Sy is nog in die kantoor en dis reeds donker. Sy besef dadelik dat sy aan die slaap moes geraak het.

Vir die eerste keer vandat sy besef het dat sy hier toegesluit is, oorval rou vrees haar.

Duidelik het sy nog gevorder tot by die rusbank wat in die kantoor staan. Hoe of wanneer, weet sy nie. Sy hardloop tot by die deur en merk dat dit steeds oopstaan. Gelukkig is die veiligheidshek darem op knip getrek, al is dit nou nie gesluit nie.

Sy kon sweer haar kollegas het met hul vertrek vir haar sleutels gelos, wat nou op ’n onverklaarbare wyse verdwyn het. Die kantore staan op twee persele waar twee woonhuise voorheen was. Een deel van die personeel werk in die groter hoofgebou, terwyl sy en ’n paar ander in die kleiner gebou werk.

Dan is daar ook nog ’n werkwinkel op die perseel. In die gewone daglig lyk alles gewoonlik rustig en kalm, maar nou in die glinster van die maanlig lyk dit anders; spookagtig. Sy is te bang om uit te gaan, want wat wag nie dalk daar in die donker agterplaas nie?

Nee, dan maar eerder binne bly. Die ligte word alles van die ander gebou beheer; dus is daar nie eens ’n kans dat sy ’n lig kan aansit nie. Dan onthou sy van haar selfoon en waag dit terug in die donker kantoor om in haar handsak daarvoor te soek.

Gelukkig is die foon se battery vol gelaai, en as dit nie was nie, is die kragproppe darem aan. Dit word aangelos sodat die yskas nie afloop nie.

Die selfoon wys dat dit reeds diep in die nag is en nie nog vroeg soos sy gedink het nie. Daar is in elk geval niemand by die huis om haar te mis nie, niemand wat sy hoef te bel om te laat weet dat sy hier toegesluit is nie.

Angs oorval haar en skielik voel dit asof die gebou haar vasdruk. Sy druk die knoppie om die veiligheidshek oop te maak sodat sy vars lug kan skep. ’n Skielike dapperheid oorval haar toe sy eers buite is.

Dalk moet sy maar gaan kyk of die motorhek voor wel gesluit is; ’n mens weet nooit. Die groot slot wat aan die hek hang, is ’n bewys dat hy wel deeglik gesluit is.

Geen manier dus om hier uit te kom nie. Sugtend wonder sy hoe dit moontlik is dat die bestuurderes, wat altyd laaste uitgaan, nie gesien het dat die oorkantste kantoordeur nog oopstaan nie?

Vir die eerste keer vandat sy besef het dat sy hier toegesluit is, oorval rou vrees haar. Vrees gebore uit die gerugte van ’n onsigbare mag wat glo hom-/haarself hier ten toon stel wanneer iemand alleen agterbly om werk af te handel. Die einste bestuurderes het al gepraat van hoe sy deure hoor oop- en toeslaan wanneer sy laat werk.

Sy oë is bloedbelope. Die afskuwelikste lag wat sy nog gehoor het, ontsnap uit sy keel.

Self het Juanita maar altyd net gelag, want soos almal weet, bestaan dinge soos spoke of geeste nie. Dis loutere onsin . . . of so het sy gedink.

Nou op hierdie oomblik op hierdie verlate werf is sy nie meer so seker nie. Dit voel of massas onsigbare oë haar elke beweging noukeurig dophou. Iewers in die verte hoor sy ’n hond lank en onheilspellend huil. Wat het die ou mense nou weer gesê van ’n hond wat huil? As sy tog net beter geluister het!

Die volgende oomblik hik sy soos sy skrik toe die veiligheidshek met ’n slag toeslaan. Sy kalmeer haarself met die gedagte dat die wind dit toegewaai het. Sy voel skielik hoe ’n yskoue rilling teen haar ruggraat afkruip toe sy besef dat geen wind waai nie.

Namate sy omdraai, sien sy twee oë wat uit die donker kantoor na haar staar. Die een oomblik is dit daar en die volgende oomblik is dit weg. Het sy haar dalk verbeel? Versigtig druk sy die kode in, nie seker of sy moet buite bly of ingaan nie.

“Dit is seker nou wat tussen die duiwel en die diepblou see beteken,” prewel sy. Met behulp van haar selfoon se lig beloer sy versigtig elke hoekie en gaatjie.

Tevrede dat daar niemand anders is nie, besluit sy om vir haar ’n beker koffie te maak. Niks kalmeer tog ’n mens so goed soos koffie nie. Dalk nie vir almal nie, maar beslis vir haar.

Sy wonder of sy nie tog maar haar bestuurderes moet bel nie, maar besluit toe daarteen. Sy sal moet uithou tot dit behoorlik dag is; dit sal nie protokol wees om haar in die middel van die nag wakker te bel nie. Dit gee haar ten minste die tyd om te dink wat sy as rede kan aanvoer dat sy hier toegesluit is.

Met haar beker koffie in die hand stap sy terug na die rusbank. Sy word in haar spore gestuit deur ’n mag sterker as sy. Die koffie val uit haar hand van die skok toe sy die swart figuur gewaar wat voor haar staan.

Sy oë is bloedbelope. Die afskuwelikste lag wat sy nog gehoor het, ontsnap uit sy keel.

“Nou ja, wat het ons hier? Ek wag al jare vir ’n geleentheid presies soos hierdie een,” sê hy en lag weer. Met ’n stem wat van vrees bewe, antwoord Juanita: “Ek ken jou nie; wat soek jy van my; wie is jy?”

Hy skud sy kop.

“Nee, jy ken my nie, maar ek is seker dat jy al van my gehoor het? Ek is Johnny.” Dit voel vir Juanita of sy gaan flou word. Sy weet presies wie Johnny is. Net voor sy daar begin werk het, is hy weens ’n ongeluk in die werkwinkel dood. Hy het gesweis en ’n gasbottel het ontplof.

“A-ha, ek sien daar is lig; jy weet wie ek is. Ek is altyd hier, elke dag, en ek hoor hoe julle van my praat. Jy het nog altyd gedink Tagolla, soos ek grappenderwys genoem word, is net die mense se verbeelding. Nee, Tagolla is werklik! Hoekom moes ek met my lewe boet terwyl almal aangaan asof niks gebeur het nie? Ek is al jare en jare hier vasgevang.”

Hy kom dreigend nader. Die volgende oomblik word hy uit die pad gedruk deur ’n vroutjie, klein in postuur, maar baie sterker as hy. Juanita herken haar dadelik. Dit is Yolanda wat hulle skoonmaakster was.

Sy is ’n paar jaar gelede weens kanker oorlede. Johnny huil en soebat, maar Yolanda toon hom geen genade nie.

“Ek sukkel al jare lank dat jy met jou lot moet vrede maak, Johnny, maar ek sien nou dat ek nie suksesvol gaan wees nie. Ek gaan jou hier wegneem sodat jy nie meer die mense kan pla nie.”

Weer soebat hy terwyl Yolanda hom stewig in haar greep hou. “Juanita, ek gaan julle van Johnny verlos, maar ek sal ook nie weer kan terugkom nie. Ek wil hê dat jy my ’n groot guns moet doen.”

Juanita knik instemmend.

“Enige tyd, Yolanda, ek sal enigiets vir jou doen. Soos jy weet, was ek altyd baie lief vir jou.”

Yolanda noem aan Juanita dat sy ’n diamantring wat sy van haar ma geërf het in die instapkluis gebêre het in ’n hoekie wat nooit gebruik word nie.

“Ek wil hê dat jy daardie ring moet uithaal en seker maak dat my dogter dit kry.”

Juanita belowe en Yolanda sowel as Johnny verdwyn.

Dit is ’n week later toe Juanita van Surita, Yolanda se dogter, afskeid neem.

Almal vra wat Surita dan ná al die jare daar kom doen het. Sy het ’n antwoord gereed vir hulle.

“Ek woon nie meer in die omgewing nie, maar was op besoek hier. Omdat my ma en Juanita sulke goeie vriende was, moes ek haar net kom groet.”

Toe sy wegstap, skitter ’n pragtige ring met ’n groot diamant aan haar regterhand.