Vir haar nege en ’n half jaar is Lenie baie oplettend. Sy sien allerhande dinge en dink daaroor na. Sy hou haar ma en pa dop, hul doen en late. Sy kyk haar boetie uit. En sy beskou Ouma van ’n kant af.

Met Ouma is dit nie moeilik nie, want Ouma glimlag altyd. Sy is vol dinge, vertel stories en terg jou. Dis vir Lenie baie snaaks.

As jy Ouma iets vra, is dit amper asof sy jou inwag en met ’n relaas gereed staan. Lenie se ma luister gewoonlik ’n kort rukkie en dan haas sy haar weg om iets te doen. Sy het nie self juis stories om te vertel nie.

Maar dis vir Lenie duidelik dat pa haar ouma se vertellings baie geniet. En eenkeer, toe Lenie nie mooi verstaan wat vertel word nie, sê haar pa vir Ouma: “Stout, Ma, stout!” Lenie het gedink net kinders kan stout wees.

Elke dag stap Ouma en Lenie – sommer om die blok, oor die straat en deur die park. Dis wanneer Lenie al Ouma se stories hoor. Boetie is nie by om sy karretjies vir Ouma te wys nie.

Sy is bly, want Ouma vertel Boetie altyd van die klein mense wat in sy speelgoed rondry wanneer hy slaap. Lenie trek haar tekkies aan, en Ouma het ou stapstewels wat sy aan haar voete skuif, die veters soos leisels styftrek en vinnig knoop.

Lenie kyk hoe Ouma haar kierie vasvat, optel, en hulle is gereed vir dié ding. Toe Ouma ’n bietjie moeg word, sit hulle op ’n bankie in die park. Lenie kyk na haar ouma se hande, wat oor die handvatsel van die kierie gevou is.

Sy kyk vlugtig na die agterkant van haar eie hande. “Ouma se are is dan blou,” merk sy op. Ouma tuit haar lippe. “Ja, my kind,” sy knik plegtig haar kop, maar die liggie kom weer in die oë, “dis omdat my bloed blou is.” Lenie frons.

“Maar, Ouma, bloed is mos rooi.” Sy kan onthou, sommer nou die dag, toe sy geval en gebloei en haar ma met ’n pleister reg gestaan het. “Nie my bloed nie, my kind.” Ouma lig haar wenkbroue.

“My bloed is anders.” Sy vee liggies met haar vingertoppe oor die agterkant van haar hand. Lenie dink hieroor na. Dalk kan sy hierdie ding kleinkry. “Is Mammie en Pappie se bloed ook blou?”

“My kind,” Ouma se erns is aanneemlik, “jy sal hulle self moet vra.” Die probleem is nie vir Lenie opgelos nie. Sy wonder oor haar boetie. Sal hy van blou bloed weet?

Sy weet nie hoe haar ma en pa sal voel as sy nou vir hulle loop vra watter kleur hul bloed is nie. Sy het ’n snaakse gevoel hulle sal rooi sê. Weet hulle ouma se bloed is blou? Ouma sal dit tog nie vir hulle wegsteek nie.

Sy en ouma stap verder. Toe hulle die volgende dag weer op die bank sit, sê ouma, seker om van die bloubloedstorie weg te kom: “Hierdie kierie . . .”

Sy hou dit voor haar en aanskou dit. Die handvatsel is growwe hout, maar met ’n dik vernis, sien Lenie, en vir haar is die goudbruin kleure mooi.

“Weet jy waar dit vandaan kom, my kind?”

“Nee, Ouma.” Lenie luister fyn. “Dit was Napoleon se kierie dié.” Ouma kyk met skrefiesoë na Lenie en gee die kierie aan haar.

Sy verduidelik in ’n sin of twee wie Napoleon was. “Toe hy oud was, het hy op ’n eiland naby Kaapstad gebly, en saans het hy met sy hond en dié kierie op die strand ’n uitstappie gemaak, maar,” Ouma wil-wil lag, “hy het nooit ’n Kaapse draai gegooi nie.”

Dit klink vir Lenie soos hogere dinge, en sy het nie nog vrae vir Ouma oor die kierie nie. Of oor die oom wat met sy hond stap nie, maar sy wonder ’n oomblik hoe die kierie van die eiland af gekom het.

Sy wil wel tog iets anders vra. Toe hulle die volgende middag hulself gereed kry, Lenie met haar tekkies en Ouma met die stapstewels, kyk Lenie die soveelste keer na die veters wat Ouma so styftrek en blitsig vasknoop. Die een is bruin, maar die ander is rooi, sommer ’n helderrooi.

Hieroor, dink Lenie, moet Ouma iets te sê hê. Sy sal wag tot hulle op die bank in die park sit. “Ouma,” vra Lenie toe hulle daar is, “Ouma het ’n bruin veter in een skoen en ’n rooi veter in die ander. Kan Ouma sê wat . . .” Ouma leun terug op die bank en sy kyk ver. “Ai, my kind.” Sy kyk af na Lenie.

Sy het al prente van ridders gesien, en dis moeilik om Ouma so te verbeel – hoog op ’n perd, die pantserdrag, die
swaard . . .

“Dis ’n lang storie.” Lenie sê niks. Sy luister net. Hier kom dit. “Lank gelede was daar ridders op perde.” Ouma is die ene erns.

“Hulle het blink pantserdrag gedra met pluime op hul helms. Hulle het lanse en swaarde gehad, maar die koning was bang vir hulle, en hy stuur toe sy soldate om hierdie ridders weg te jaag.”

Vir Lenie verdwyn die park en die kinders wat in die verte speel. Sy luister. “Het die soldate hulle weggejaag?” vra sy. “Ja. Hoe jammer tog, want daai ridders was goeie mense.”

Ouma soek deur haar gedagtes. “Die jare het verbygegaan en die kleinkinders van die kleinkinders van hierdie ridders is vandag nog met ons.”

“Ry hulle op perde, Ouma?” “Nee, my kind. Vandag, helaas, ry hulle maar net met karre rond. En hulle het nie meer pantserdrag en swaarde nie.” “En lanse?”

“Nee.” “En die koning?”

“Vandag het ons nie meer ’n koning nie; ons het ’n president.” “Sal hy sy soldate stuur?”

“Nee, my kind, hy kan nie, want vandag weet niemand wie die ridders is nie. Dis ’n geheim. Daar is net een manier om hulle uit te ken, en net hulle weet daarvan.”

Lenie knip haar oë.

“Wat is dit, Ouma? Hoe weet hulle?”

“Sien, my kind, ek kan nou vir jou einde ten laaste die groot geheim van die ridders verklap. Hulle ken mekaar uit aan ’n enkele rooi veter in hul skoene.”

Lenie kyk af na Ouma se stapstewel. Sy kyk op na Ouma. Die wêreld begin nou deurmekaardwarrel. Weet Ma en Pa hiervan?

“Dié ridders,” gaan Ouma voort, “wil weer ’n verskyning maak en vir mense vertel wie hulle is, maar hulle het ’n leier nodig.”

Lenie werk nou hieraan. “Het hulle ’n leier gesoek, Ouma?” “Hulle het,” sê Ouma. “En hét hulle nou ’n leier?”

“Ja, my kind.” Ouma kyk steeds in die verte. Die gedagtes marsjeer in alle rigtings binne Lenie. Ouma kom orent, toets met die kierie hier en daar, looi ’n klippie weg, en hulle stap verder deur die park waar kinders op die swaaie jil en lag.

Lenie sit in haar skoolbank. Sy sien die heldhaftige ridders op hul perde galop. Vlae wat wapper.

Helmpluime in die wind. Sy wonder oor Ouma, met haar een rooi veter, en sy wonder oor die ridders. Hoe is hulle vandag, in karre? Sal ’n mens hul skoene te sien kry?

Sy het nog nie iemand met ’n rooi veter gesien nie. Ouma sê hulle hét nou ’n leier. “Waaroor sit jy so en dink, Lenie Grobbler?” vra juf. Ronsky by Lenie se wang. Lenie kyk haar onderwyseres aan. “Ek dink oor die rooi veters,” erken sy eerlik.

“En die ridders.” Dalk sal haar onderwyseres hiervan weet. Sy wil-wil nog vir juffrou en die kinders wat om haar luister iets sê, maar hulle lag, sien sy.

Hulle lag vir haar. Maar sy dink ál skerper daaroor. Sy sal die hele storie nog by Ouma hoor. So gedink, so gedoen. Dié middag trek Lenie haar tekkies aan. Ouma skuif die stapstewels aan haar voete. Een met ’n bruin veter, een met ’n rooi veter.

Hulle stap. Lenie dink heelpad. Weet Ma en Pa dat Ouma ’n ridder is? Hoe het sy dit vir hulle weggesteek?

Sy het al prentjies van ridders in boeke gesien en dit is nogal moeilik om Ouma so te verbeel – hoog op ’n perd, die pantserdrag, die lans, die swaard . . .

Ouma met haar kierie, ja, maar Ouma met ’n swaard en ’n helm? Daardie lanse is so lank en swaar. Sy en Ouma sit op die bank in die park.

“Ouma,” begin sy versigtig – sy moet weet, “hoe sal hulle weet wie die leier is?”

Ouma antwoord nie dadelik nie. Sy haal diep asem en pers nadenkend haar lippe saam. “Wel, my kind,” Ouma se erns verdiep. “Die leier sal eendag ’n verskyning maak, want hierdie leier is reeds by ons, in ons midde. Dis tyd.”

“Maar, Ouma, hoe sal die riddermense weet wie die leier is?” “My kind,” Ouma kyk uit ’n hoogte na Lenie, “een persoon sal die teken eers sien voor ander mense dit sien, en dan sal daardie persoon dadelik weet wie die leier van al die ridders is.”

“Maar wie?” Sal sy hierdie dinge ooit verstaan? Ouma vernou haar oë. Dit is asof sy op ’n troon sit. Sy plaas haar kierie opsy teen die bankie en steek haar hand in haar baadjiesak.

Sy haal iets uit, buk vooroor, en daar, voor haar oë, sien Lenie hoe haar ouma die bruin veter in die stapstewel stukkie vir stukkie uitryg.

Dan begin sy versigtig die tweede rooi veter in haar stewel ryg.

“Ouma?”