Emma le Roux kyk gesteurd op van haar boek waar sy knus in haar jeans en los trui in ’n hoekie van ’n boekwinkel in Cambridge sit en lees.

Die winkeldeur het oopgeswaai en ’n ysige koue het saam met ’n jong paartjie ingeglip. Hulle loop hand om die lyf en lag en gesels intiem. Hulle praat Afrikaans en Emma spits haar ore.

Die winkelassistent groet hulle en vra hoe hy kan help. “We are looking for a book about pot plants,” antwoord die jong man. Sy aksent is so dik soos die bobeen van ’n olifant.

Die assistent gee ’n ongemaklike kuggie en verduidelik hulle verkoop nie “daardie soort” boeke nie.

“I think he means,” help Emma geamuseer vanuit haar hoek, “potted plants. I don’t think he plans to grow pot.”

Die assistent giggel, rol sy oë en sê: “Okey dokey,” maar dit neem die jong man ’n paar sekondes om die verskil te snap en ongesteurd te beaam: “Ja, sorry, potted plants.”

’n Mens moet ietwat eendimensioneel wees om na sonskyn en blou lug te verlang in dié paradys van kuns, kultuur en geskiedenis.

Hoe jammer, dink Emma, baie aantreklik, maar ’n bietjie stadig. Die meisie verdwyn om die hoek na waar die assistent beduie hulle boeke oor “potted plants” sal kry, maar die jong man beweeg na Emma se tafel.

“Andries,” stel hy hom voor en steek sy hand uit om haar op ’n boeremanier te groet. “Emma,” antwoord sy met ’n handdruk so ferm soos syne. Sy merk op sy oë is die kleur van nuwe blaartjies in die lente.

Hy gaan sit teenoor haar. “Mis jy jou plaas so dat jy nou in potte wil boer?” vra sy. “Wat ek mis, Emma,” sê hy met erns in sy groen oë, “is blou lug en sonskyn. Dié grys koue sal my nog gek maak. Wat op aarde bring jou in die middel van die winter na Engeland?”

“Ek studeer hier. Aan King’s College London. Winters inkluis.” Sy voel hoe haar katnaels uitskiet. Dis haar domein en sy sal dit verdedig teen sy tipiese mening dat Engeland niks meer as slegte weer het nie.

“Maar al het ek ’n keuse gehad, sou ek selfs in die winter nêrens anders wou wees nie. ’n Mens moet ietwat eendimensioneel wees om na sonskyn en blou lug te verlang in dié paradys van kuns, kultuur en geskiedenis.”

Sy kyk uit die hoogte op Andries neer. Hy blyk te dikvellig te wees om beledig te voel. Hy kyk haar net op en af asof hy wil vasstel hoeveel sy op ’n veiling sal haal. Emma weet sy is mooi, alle mans kyk haar op en af, maar dis nie die soort kyk wat hy haar gee nie. Seker te skraal vir sy kraal, dink sy.

“En wat is jou vakgebied?” vra Andries. Die winkelassistent se kop ruk na hul kant toe. “Moenie daardie v-woord so in die openbaar gebruik nie. Hulle sal dink jy praat vuil.”

Dit neem hom weer ’n paar sekondes om die taalblaps te snap, waarna hy net skuins glimlag. Ai, dink Emma, sy reaksies is so stadig, ’n mens kan ’n dagboek van die proses byhou.

Sy merk op hy dra ’n boek van sy eie saam. “Wat lees jy?” vra sy en beduie met haar kop na sy boek. “Koos Kombuis. i-Tjieng: ’n GPS vir Verdwaalde Siele,” antwoord hy en sit die boek voor haar neer. “I tjieng, you tjieng, we all tjieng,” lag sy en giggel vir haar eie grappie.

“En watter druppels wyshede het Koos Kombuis dié keer raak gedrink?” Natuurlik sal hy Koos Kombuis lees, dink sy. “Onder meer dat die pad wat een mens na insig moet volg nie die regte pad vir enige ander mens is nie.”

Andries se groen oë rus op haar. “Koos verduidelik in metaforiese taal hoe jy jou eie weg na selfinsig kan navigeer.”

Dis asof ’n wind by die toe deur van Emma se kop inwaai en haar vooropgestelde idees oor die boerseun voor haar deurmekaarwaai. Sy soek na ewewig, vind dit en sit haar boek langs Koos se i-Tjieng neer.

“Milton. Paradise Lost. Dalk kan Koos se GPS vir Milton met sy verdwaalde siele help. Jy weet, mans hou nie daarvan om rigting te vra nie.”

Andries lag vir die eerste keer. Hy het kuiltjies in sy wange wanneer hy lag. “Dalk is jy verlore in jou eie paradys van kuns, kultuur en geskiedenis? Jy lees Milton, maar wat weet jy van jou eie skrywers?”

“Koos Kombuis is nie ‘my skrywer’ net omdat ek toevallig Afrikaans is nie,” protesteer sy. “Ek is ’n wêreldburger en lees baie wyer as die paar boeke wat in Afrikaans beskikbaar is. Moet jy dit nie dalk verder waag as dié Kombuisstories nie?”

Andries glimlag net. “Ek skat jy is reg. Ek sal ’n paar Engelse boeke aanskaf. Hou jy dan maar vir Koos.” Hy sit sy boek bo-op hare neer. “Dis my nederige bydrae tot jou kultuurparadys. Lees dit. Dis nie ’n koos vir onder jou hemelbed nie.”

Dis asof ’n wind by die toe deur van Emma se kop inwaai en haar vooropgestelde idees oor die boerseun voor haar deurmekaarwaai.

Dié keer neem dit Emma ’n paar sekondes om sy sarkasme te snap. En daarmee staan Andries op uit sy stoel. “Dit was gaaf om jou te ontmoet, Emma.”

Hy glimlag toe hy haar ’n paar sekondes lank met sy groen oë in haar stoel vaspen. Emma knik net haar kop. Hy stap na die meisie wat klaarblyklik ’n boek oor “potted plants” gekry het en nou daarvoor betaal.

Hy gee haar ’n drukkie en saam stap hulle uit. Emma se wange gloei. ’n Boerseun wat skaars Engels kan praat en met Koos Kombuis onder sy arm in Cambridge rondloop, het haar ore aangesit.

En die ergste is sy sal nooit die kans hê om dit reg te stel nie. Sy sal hom nooit weer sien nie. Dié wete verdiep die gevoel van verlies en sy kan dit nie verstaan nie. Sy wens sy het ’n emosionele GPS gehad om by die oorsaak daarvan uit te kom.

Daardie aand moet Emma ’n glansgeleentheid in King’s College se imposante eetsaal bywoon ter viering van die letterkundeprys wat een van haar dosente, prof. Peter Cox, gewen het. Vir die geleentheid het sy ’n klassieke swart nommertjie aangetrek wat haar mooi figuur beklemtoon.

Haar roesbruin hare is in ’n klassieke rol op haar kop gedraai. Sy lyk stylvol en selfversekerd en sy trek die aandag waar sy gaan. Haar ontmoeting met Andries is reeds half vergete en op die agtergrond geskuif.

Ná die formele ete en toesprake meng Emma met haar medestudente. Sy beweeg gemaklik van groepie tot groepie met ’n glas wyn in die hand. En dit is toe dat sy hom gewaar waar hy met prof. Cox staan en gesels.

Hy lyk gesofistikeerd en gemaklik in sy swart pak. Wat, raas dit in haar kop, maak hy hier? Prof. Cox merk Emma op en wink haar nader. Sy het nie ’n keuse nie en sluit by hulle aan.

Nie Emma of Andries laat blyk hulle het mekaar vroeër die dag ontmoet nie. Die professor stel hulle aan mekaar voor. “Andries,” verduidelik hy aan Emma, “is studying chemical engineering at Christ College. He is doing his masters. And Emma,” verduidelik hy goedig aan Andries, “is one of my brightest students.”

Prof. Cox verskoon hom om by sy ander gaste uit te kom en vra Emma om Andries geselskap te hou. “Moenie vra nie,” spring Andries vir Emma voor. “My ouers is ou vriende van die Coxfamilie. My pa is ook ’n letterkundeprofessor. Stellenbosch. Die twee het in ’n stadium saam studeer. Dit gaan ver terug.”

“Jy kon my vanoggend gesê het jy is ’n Cambridgestudent.”

“Jy het nie gevra nie.” Emma weet hy is reg. Sy het summier aangeneem hy is “affie plaas” omdat sy Engels vir haar so geklink het.

“Snobisme is ’n simptoom van ’n identiteitskrisis,” sê hy tergend, asof hy haar gedagtes kan lees. “Ek dink jy het vergeet wie jy is op dié plek.”

“Werklik? En jy gaan my seker vertel wie ek is.”

“O ja, ek gaan. Jy is ’n boeremeisie.”

“Ek het jou gesê ek is ’n wêreldburger.”

“En ek kan aan jou bewys jy is ’n boeremeisie,” hou hy vol.

“Ag so? Ek kan nie wag nie.”

Hulle gesels oor verhoudings gesaboteer deur tekortkomings. Soms raak hulle net stil en luister na die musiek.

“Ja, maar jy sal saam met my na my kamer toe moet gaan. Moenie so verskrik lyk nie; ek sal jou niks aandoen nie.”

Emma wil beswaar maak, maar Andries neem haar aan die elmboog en stap na prof. Cox om hulle te verskoon. Hy verduidelik hulle gaan elders koffie soek. Prof. Cox vra hom om sy suster te bedank dat sy spesiaal vir die prysaand Engeland toe gevlieg het.

“Was dit jou suster wat vanoggend saam met jou was?” vra Emma traak-my-nieagtig. “Dit was.”

Op pad na Christ College gesels hulle oor koeitjies en kalfies, te koud om hartlik met mekaar te redekawel. Sy is dankbaar toe hulle eindelik by sy verhitte kamer aankom en hy dadelik die ketel aanskakel.

“Boeretroos?” vra hy en sy knik onmiddellik instemmend. Dit is ’n tipiese studentekamer, maar die oorspronklike skilderye teen die muur en ’n paar kunswerke gee dit karakter.

Op die kaggelrak is sowaar ’n paar somer-Kerskaartjies. En boeke van vloer tot dak. Emma verken die titels terwyl hy koffie maak en sien hoe wyd hy lees.

En ja, Paradise Lost is ook daar. Terwyl sy haar koffie drink, skakel hy sy rekenaar aan. “Wanneer laas het jy na Laurika Rauch geluister?” vra hy en speel Op Blouberg Se Strand. Sy antwoord nie en luister net.

Nostalgie pluk aan ’n hartsnaar. Hy volg dit op met Jannie du Toit se Liedjie vir Jou, Coenie de Villiers se Karoonag, Lucas Maree se Victoriabaai en spesiaal vir die tyd van die jaar Theuns Jordaan wat Sonneblom uit Bethlehem sing.

Hulle begin ontspan en maak hul siele versigtig vir mekaar oop. Hulle gesels oor hul studie, hul familie en oor dinge wat vir hulle saak maak. En hulle gesels oor verhoudings gesaboteer deur tekortkomings. Soms raak hulle net stil en luister na die musiek.

“Het jy Lisa Se Klavier?” vra sy. Hy kry dit op YouTube en hulle luister in stilte. Sy glimlag vir hom. Hy was reg.

“Ons Kombuistaal is verruklik mooi. Ek het vergeet.”

“En dis hoekom jy my gaan nodig hê,” knipoog hy na haar kant toe. “Sodat jy nie weer vergeet nie.”