Twee dae voor Kersfees, in die finale kleedrepetisie, val die viool uit haar kind se hande. Die kerk se akoestiek tel die knal so doeltreffend op soos elke onsuiwer stem van die kinders wat vandag teësinnig vir die Kersdiens kom oefen het. Die slag dawer deur die gebou.

Die klank skiet in die toring op en duiwe fladder verby die vensters. “Gerhard!” Heleen skree amper ’n woord wat nie in die kerk hoort nie. “Sorrie, mamma.”

Asof hy nie 13 jaar oud is nie, maar nog ’n klein seuntjie. Sy besef die kinders in haar gr. 4- musiekwaarderingsklas staan almal met groot oë na die ramp en kyk. Sy reageer nie op haar seun se verskoning nie.

Sy vrees die skade wat sy verwag terwyl hy buk en die viool optel. Toe sy die viool in sy hande skrams sien, is sy aanvanklik verlig: Dis net ’n kraak.

“Jy kan nog daarop speel,” sê sy. “Dis nie te erg nie.”

Die orrelis skud sy kop. Asof hy sal weet. As sy so na hom luister, raai sy hy speel Sondae nes die teksvers in die Bybel: asof die linkerhand nie weet wat die regterhand doen nie.

Wat het haar besiel om hierdie geleentheid te reël? Dit sal nie haar ma terugbring nie. Sy gryp die viool by Gerhard, draai dit om. Benewens die kraak voor is die agterkant van die hout plek-plek losgetrek. Een van die kinders sê die vloekwoord wat sy inhou. Sy kyk op.

Sy vrees die skade wat sy verwag terwyl hy buk en die viool optel.

“Sherbet, juffrou,” verbeter die kind.

“Ek wou anyway nie speel nie,” sê Gerhard.

Vanuit die musiekklas se geledere is ’n fluistering: “En ek wou nie kom sing nie. Ek sing nie eens koor nie.”

Ontsteld sê die tiener terwyl hy wegstap van die ongelukstoneel by die galery se trap af na onder: “Dis jou skuld, mamma.”

Sy gaan sit met die stukkende viool in haar hande in die voorste ry langs die orrel met haar rug na die kinders. Sy hoor hoe die 10-jariges roer. Sy weet hulle is almal orent en probeer die skade bekyk.

“’n Viool is vrek duur,” sê Leendert hier van agter af.

“Dis ancient,” sê Mila.

Die kind is reg: Die viool as instrument dateer al uit die Bisantynse era. Net jammer haar eie antieke kennis baat haar min en bied weinig werk. Geen vaste aanbod nie, net hier en daar aflosposte. Sy sê niks. Sit stom en vryf met haar vingers oor die kraak in die hout.

“Ek ken ’n vioolmaker in die noordelike voorstede, Heleen,” sê die orrelis uit die bloute.

Op pad na die vioolmaker praat sy en Gerhard nie met mekaar nie. Wat is daar om te sê buiten verwyte? Die uitgawes van Desembermaand is een ding, maar Januarie is nog erger: hoërskooluniform, skoolgeld, sokkerklub, vioollesse.

Mits daar ’n viool is om op te speel.

Tog, op ’n manier het sy daar ingekom en verdien haar gesin nou ’n paar ekstra sente per maand. Dis so nuttig die afgelope ruk met Jaco wat kliënte verloor namate die pryse styg.

“Jy sal seker nog in Januarie die musiekwaarderingsklas by die skool gee, ma,” sê Gerhard asof hy haar gedagtes kan lees.

“Ek weet nie of juf. Geldenhuys gaan terugkom nadat sy die baba gehad het nie.”

“Dis net ’n tydelike reëling; jy weet wat mnr. Gouws gesê het. En dan kan ons in Januarie aan jou stukkende viool afbetaal terwyl daar nie geld is vir nuwe skoolskoene nie,” hap sy terug.

Uit die hoek van haar oog kan sy sien hoe bleek sy gesig is; in sy stem hoor sy dat hy sleg voel. Maar sy woorde is kwaad.

“My skoene pas my nog,” sê hy.

“Moenie so ’n drama queen wees nie. En pappa verdien mos ook geld.”

Wat weet hy van kontrakwerk en stygende petrolpryse? Die GPS verduidelik die pad emosieloos met ’n Amerikaanse aksent. Sy stop by ’n verkeerslig en die bedelaars staan met die kartonborde om hul nekke: No food, no job, please help, God bless.

Die kinders in haar tydelike musiekwaarderingsklas se onbegrip kan sy nog verskoon. Hulle weet maar nog min. Toe sy hulle vra om haar te vertel watter musiek hulle ken, sê hulle Baby Shark.

“Wie’s dit?” het sy gevra. “Wat is dit?”

“Kyk jy nie YouTube nie?” het Leendert gevra. Op sulke dae het sy gewonder wat die doel van musiekwaarderingsklasse vir hierdie generasie kinders is. Die beheerraad verkies dat dit nie meer deel moet wees van die skool se gekose kurrikulum nie.

Toe juf. Geldenhuys met kraamverlof gaan, wou hulle die klas summier staak. Musiekwaardering is nie noodsaaklik nie. Bestee die geld aan noodsaaklikhede: Knap die rugbyveld op; vervang die netbalbaan se nette.

Tog, op ’n manier het sy daar ingekom en verdien haar gesin nou ’n paar ekstra sente per maand. Dis so nuttig die afgelope ruk met Jaco wat kliënte verloor namate die pryse styg.

Haar seun is 13. Hy behoort al meer insig in die lewe te hê.

In 200 meters you will arrive at your destination. Terwyl sy parkeer, praat Gerhard. “Hoekom wou jy hê die kleintjies moet sing en ek moet viool speel, mamma? En wanneer laas was ons anyway in die kerk?”

Die vioolmaker kom aangeskuifel; sy hoef nie op haar kind se vrae te reageer nie. Dis net in haar kop wat sy dink: Hierdie Kersfees wou ek dit beter maak. Ek het die geleentheid gehad om die kinders waarlik musiek te laat waardeer. Toe die kinders van Baby Shark praat, het ek my eie onkunde oordink; al die Kersfeeste saam met ma onthou wat ek nie waardeer het nie.

Hy is baie besig, sê die vioolmaker ongeduldig, sommer net daar in die oprit. Hy nooi hulle nie in nie. “Julle kan bly wees my werk dwing my om by die huis te wees. Mense is weg vir die vakansie,” sê hy.

Hy kyk sommer net daar na die viool. “Groot skade,” sê hy. “Vinnige waardasie: R2 000.” Tweeduisend rand.

“En ek gaan dit nie betyds klaarkry vir Kersfees nie.”

Selfs in die feestyd is daar instrumente wat moet regkom. Oor ’n paar dae, in die nuwe jaar, is daar somerkonserte. Die musici werk op hul hardste wanneer die ander mense sit en glasies vashou in die parke waar die buitelugkonserte plaasvind.

“Ek het ongelukkig nie tyd nie, jammer.” En hy draai summier om en stap weg. Sy bly langs haar seun staan. Wil dit uitskree: al die frustrasie, al die bitterheid van ’n ma wat afloswerk doen om ’n bietjie ekstra inkomste te verdien terwyl sy self eerder ’n konsertviolis sou wou wees – en dan is daar onverwags onnodige skade.

Sy wil skree oor die verlies van haar eie ma, wat verlede Kersfees nog daar was. Ten spyte van die kompleksiteite van hul verhouding, ook al het sy haar nie genoeg waardeer nie.

Sy voel haar seun se hand warm op haar skouer. “Ek is jammer, mamma. Dit was ’n ongeluk.”

Sy kyk na hom. Hier staan hy. En hy lewe.

“Dis net ’n viool,” sê sy. “Ek is jammer ek het jou by ’n konsert betrek terwyl ek kon agterkom jy wil nie eintlik speel nie. Jy hoef nie viool te speel net omdat ek self nou al te verroes is daarvoor nie.”

Die musici werk op hul hardste wanneer die ander mense sit en glasies vashou in die parke waar die buitelugkonserte plaasvind.

Hy kyk haar ongelowig aan; dink sy praat uit pure selfbejammering. Maar hoe meer sy praat, hoe meer bevrydend word dit.

Om musiek én mense te waardeer mag nie ’n gevangenisstraf wees nie. “Ek bedoel dit, Gerhard. Jy is vry om nie te speel nie. Ons maak die viool later reg.”

Hy kyk haar in die oë; syne is vol trane. “Ek wil speel, mamma.”

Sy hoor iemand keel skoonmaak; die vioolmaker het teruggedraai. Hy het ’n klein glimlaggie.

“Dalk, as ek versigtig werk om nie die hele viool uitmekaar te haal nie, sal ek dit vir die helfte van die prys kan doen. Gee my een dag lank tyd.”

Die aand by die huis stuur sy die WhatsApp vir die musiekwaarderingsgroep.

“Net dié wat op Kersdag wil kom sing, hoef daar te wees,” sê sy.

“Niemand is onder enige verpligting nie.” Sy bedoel om hulle te bevry, maar verwar die ouers. Navrae en boodskappe volg. Dis moeilik om te verduidelik dat sy verstaan watter plig met waardering saamgaan. Hoeveel eise dit stel.

Sy volstaan by: “Net diegene wat wil.”

Op Oukersdag is die gom droog. Sy ry saam met haar man en seun en sien Kersligte flikker op pad na hul bestemming. Nog ’n somerson-Kersfees, en die hitte van die dag bak op al die swerwers in die strate en op die motor wat voor die vioolmaker se huis parkeer.

“Waardeer jou ma en pa, boeta,” sê die vioolmaker toe hy die herstelde viool aan hulle oorhandig, die merke in die hout net geringe letsels. “Geseënde Kersfees.”

Op Kersdag stem sy die viool in die kerk, en die snare se intonasie skuif, onvas soos die stemme van die kinders wat wel opgedaag het wat besig is om op te warm.

Sy luister na die kinders se wankelrige lied toe hulle begin sing, met haar seun wat begelei. Skenk ons ’n helder somer-Kersfees . . . Die musiek styg op en vul die kerk se ruimte.

Sy hoor die lewe se morsige lied, met gom wat die stukkende plekke vasplak tot die volgende keer dat iets breek. Musiek bars by die gebou uit soos die knal van ’n vallende viool wat tot in die straat opklink, en dalk tot by haar ma, na wie sy tydens die lied oorverdowend verlang.

Te midde van die slotakkoorde vang sy haar man se oog. Nog ’n jaar het ons oorleef, my lief, al die skade en soet. In die onvolmaakte lied voel sy diep in haar hart die waarde van musiek.