Heyneke Meyer wil met sy nuwe boek, 7: My Notes on
Heyneke Meyer wil met sy nuwe boek, 7: My Notes on Leadership and Life, saam met Marco Botha, mense hoop gee, veral in moeilike tye, en uit sy foute laat leer. Foto: Getty Images/Gallo Images.

Vir my is die mooi ding van merkwaardige mense nie net hul prestasies nie, maar ook hul houding teenoor mislukking.

As ons net ander se suksesse sien en waardeer, ontneem ons onsself van die geleentheid om te verstaan watter krag in terugslae lê.

Terugslae openbaar karakter, en terugbaklei openbaar wat ons uit mislukking geleer het.

In daardie opsig het min mense my meer geïnspireer as wyle Florence Chadwick, wat in 1951 die eerste vrou geword het om in albei rigtings oor die Engelse Kanaal te swem.

In 1952 het Florence ook probeer om die eerste vrou te word wat die 42 km tussen Catalina-eiland en die Kaliforniese kuslyn kon swem.

Sy was al 15 uur aan die swem toe digte mis onverwags oortrek. Toe sy die kuslyn later nie meer kon sien nie, het Florence haar sending laat vaar en later verduidelik sy het gevoel asof sy in sirkels swem.

Sy is per boot kus toe gevat en het toe besef sy het minder as 2 km van haar mikpunt af opgehou.

Sy het dit as ’n leergeleentheid beskou en twee maande later daarin geslaag om die volle afstand in ewe mistige toestande af te lê. Maar dié keer het sy op haar visie gefokus gebly, al kon sy nie die kus sien nie.

Sonder ’n missie sal jy waarskynlik misluk. Jy sal sonder fokus, energie of rigting voortploeter.

Dit is net so waar in leierskap as in die lewe oor die algemeen. Jy moet ’n visie hê. Maar dit gaan oor meer as net een hê.

 7: My Notes on Leadership and Life
7: My Notes on Leadership and Life. Foto: Verskaf.

Skryf jou visie neer

Navorsing toon 97 persent van mense skryf nie hul drome neer nie, en die oorblywende 3 persent is meer suksesvol daarin om hul drome te bereik as die res bymekaargetel.

Wanneer jong afrigters en spelers my om raad nader, vra ek altyd hulle moet vir my hul visie wys. Hulle vertel amper altyd vir my wat hul visie is, maar kan dit selde vir my wys. Hulle is deel van die 97 persent.

As ’n kind het ek daarna gestrewe om die Springbokhoofafrigter te word.

Ek het ’n taamlik helder idee gehad van wat moes gebeur dat ek dit kon regkry.

En dit was in hierdie korporatiewe omgewing dat ek vir die eerste keer verstaan het hoe belangrik dit is om ’n visie te hê én neer te skryf.

Ná skool het ek sportwetenskap en sielkunde studeer terwyl ek studente-rugbyspanne afgerig het en in die bestuur van die universiteit se rugbyklub gedien het.

Ek het daarna ’n nagraadse onderwysdiploma gekry, met die wete dat afrigtingsgeleenthede deur die skole-rugbystelsel kom.

Ná twee en ’n half jaar as onderwyser het ek vir Woolworths gaan werk. En dit was in hierdie korporatiewe omgewing dat ek vir die eerste keer verstaan het hoe belangrik dit is om ’n visie te hê én neer te skryf.

In daardie tyd het die kleinhandelgroep losstaande koswinkels begin toets. Woolworths Foods was ’n treffer, met die eerste winkel wat in Houtbaai geopen is.

Party mense het vir my visie gelag. Dit het eerstens belaglik geklink op grond van hoe swak die span toe gespeel het.

Ek het dié projek waargeneem en toe die taak gekry om die eerste Gautengse tak te open.

Die kleinhandelbedryf is obsessief oor duidelike en saaklike visie- en missiestellings, en toe ek teen die einde van 2000 ’n onderhoud vir die pos van hoofafrigter van die Blou Bulle kry, het ek dié ervaring toegepas.

As deel van my sakeplan het ek ’n visie aan die raad voorgelê: Om die beste rugbyklub ter wêreld te word.

Party mense het vir my visie gelag. Dit het eerstens belaglik geklink op grond van hoe swak die span toe gespeel het.

En tweedens is sulke visiestellings beskou as sakeskooljargon met geen plek in die regte wêreld nie – veral nie in rugby nie.

My voorlegging was gelukkig indrukwekkend genoeg om die raad te oortuig om my aan te stel.

Ek het die werk teen my beterwete aanvaar, want ek wou eintlik net my jong groep Blou Bulle tot ’n wêreldmag ontwikkel.

Met ’n piepklein begroting het ek dadelik ’n jong groep spelers begin kontrakteer wat in 2001 die Vodacombeker gewen het. In ons aantrekkamer het ek ’n groot teken opgesit met die visiestelling daarop.

In 2002 rig ek toe ook die Bulle in die Super 12-kompetisie af. Dit was ’n streekspan bestaande uit die Blou Bulle, Valke, Poemas en Luiperds. 

Ek het die werk teen my beterwete aanvaar, want ek wou eintlik net my jong groep Blou Bulle tot ’n wêreldmag ontwikkel. Ek het geen beheer oor die beskikbare spelergroep of interprovinsiale politiek gehad nie.

Daardie Bulle-span het 11 uit 11 Super 12-wedstryde verloor – ’n rekord wat ek tot 2010 gehou het en waarvoor ek die tweede keer in drie jaar afgedank is. (Ek is ook in 2000 uit dieselfde pos afgedank.)

Gelukkig het die Blue Bulls my behou.

Toe die 2002-span so swak vaar, het ons spanbestuurder, Wynie Strydom, die visiestelling uit die aantrekkamer verwyder.

Wynie is fyn ingestel op wat ander mense dalk dink of voel en doen moeite om jou beter te laat voel.

Droom groot drome, want groot drome roer ’n man se bloed.

Ek het nie geweet wat hy daarmee gedoen het nie, maar toe ons ons eerste van drie Superrugbytitels in 2007 wen, het Wynie die teken uit ’n pakkamer gaan haal, dit vir my gegee en gesê: “Coachie, ek dink jy was dalk reg oor dié een.”

Visie gee jou die vermoë om al jou energie te fokus, soos ’n vergrootglas. As jou energie nie gerig is nie, gebeur niks nie. Maar as jy daardie vergrootglas op een plek fokus, sal jy genoeg energie opwek om ’n hele veld aan die brand te steek.

Om jou energie te rig en te fokus, het jy groot drome nodig. My grootste afrigtingsmentor, Vince Lombardi, het gesê: “Droom groot drome, want groot drome roer ’n man se bloed.” Dis waarvoor groot drome is. Dit gee jou energie.

  • 7: My Notes on Leadership and Life deur Heyneke Meyer en Marco Botha (Flyleaf) is beskikbaar teen R295 by Takealot. Die prys was korrek teen druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe