Die vet vrou wat ook eens anders was, sit in ’n verkleehokkie in Curves en voel onseker of sy ooit weer die krag sal hê om hier uit te kom.

Sy was oomblikke tevore nog by die klimraam vir volwasse vroue waar ’n mens gat-oor-kop soos ’n tamaai vlermuis moet hang, maar ’n onverwagte ontnugtering het haar na haar asem laat hyg. Sy moes haastig by ’n hokkie instrompel alvorens sy beswyk, nie van oefening nie; van haar geloof in die lewe verloor – net so.

Eensklaps, iewers tussen ’n plakkaat op die vloer voor die kring oefenapparate wat wys hoe ’n mens met jou voete vrolik oor mekaar dansies moet uitvoer, en ’n ander verskrikking wat meer gepas in ’n pornografiese rolprent sou wees. Op laasgenoemde moet jy sulke oopskop-beenbewegings doen terwyl jy jou gesig ontspanne hou en liefs oogkontak met al die ander persgekledes vermy.

Skielik is haar hoop op. En dis nog nie eens 07:10 op ’n Woensdag nie. En sy het maar pas 50 geword.

Buite is al die tekens van ’n blou dag reeds daar. Sy weet onder by die kaai bestel kantoormense lattes en chai-tee en wens dit was liewer bier. Die berge en seiljagte lê skuins op die water in ’n kabbelende weerkaatsing.

Ná ’n hele ruk besef sy dat sy met haar swart bra in die hand sit asof sy wag op ’n oproep wat uit die kuberruim in DD-grootte opgevang is.

Al is sy bewus van dit alles om haar, het ’n baie omvattende stilte nietemin in die vet vrou se gemoed neergedaal.

Dis so stil, sy kan hoor hoe die gim se fonteintjie borrels sluk en hoe haar hart klop soos iets wat ná elke hartslag eers besin of hy gaan aanhou om dit te doen of nie. Ná ’n hele ruk besef sy dat sy met haar swart bra in die hand sit asof sy wag op ’n oproep wat uit die kuberruim in DD-grootte opgevang is.

Sy bring die fyn materiaal na haar oor. “Hallo?” “Dis ek. Die een wat al ’n leeftyd vir jou wag. Maak tog gou!”

Met onverklaarbare genade wikkel sy haar bra aan en bring vernuftig alles hok toe wat op stal moet wees. Sy verbeel haar die stem verdoof in ’n kloof van salige tevredenheid. Die oorgawe aan losbandige kensheid neem net ’n paar sekondes van haar lewe in beslag, maar aangesien sy skielik baie tyd het, ontstel dit haar nie.

Tydsaam trek sy haar lae klere en Himalajagebergte-poncho aan. Wel, nie regtig nie. Woolworths se Sewe Jare in Suburbia pleks van Seven Years in Tibet.

Hoe meer lyf die normales in die somer kan wys, hoe meer moet die onaanvaarbares hulle bedek, dink sy. Sy stap by die gim en by haar werk uit soos iemand wat ’n testament onderteken. Die vet vrou is skielik klaar met ’n klomp goed. Nee, eintlik met alles.

Terug in haar ateljee waar branders skuim soms tot op die stoep spat, pak sy kratte asof sy jaag om nie vir ’n lewensafspraak laat te wees nie.

“Ek dink ek het vandag aan my eie einde gekom,” fluister sy vir Antes, wat soos ’n Egiptiese godin op lang pote sit en kyk.

“Ek sal niks mis nie, behalwe vir jou.”

Die vet vrou wat eens anders was, maar dit nie meer kan onthou nie, pak haar lewe op in minder as ’n week. Sy gee hordes goed weg en traan net een keer toe sy die bure se kat moet groet. Antes vou haar voorpote oor mekaar, en met ’n lang, sprekende oogknip laat sy die vet vrou weet sy is vry om te gaan.

Haar kar is gepak soos ’n Nigeriese taxi. Elke dan en wan stop sy en raak van nog iets ontslae. Voor sy van die kus af weg-swenk, laai sy ’n groot spieël met ’n houtraam af en maak dit staan in die sand langs die turkoois strandmeer.

As dit teen hoogwater nog nie weggedra is nie, sal die stroom dit wel later die dieptes in voer. Die slordige ibisse hou haar met gesnawelde kyke dop waar hulle op ’n wiegende vullisdrom probeer balanseer.

Regdeur twee provinsies ignoreer die vet vrou die fladderende stapel boeke langs haar op die sitplek. Sy voel byna asof hulle hande klap en haar aanmoedig. Sy ry ’n dag lank. Sy ry dae en nagte.

Haar petrolnaald is soos ’n bekende-onbekende se vinger wat haar dringend vorentoe wink.

Sy ry tot haar pakkerasie sodanig gesak het dat sy weer by die agterruit kan uitsien. Iewers op ’n stuk sinkplaat trek sy eers af. Byna los bo-oor uit haar buustelyf geskud, vat die vet vrou die boonste boek van die stapel verwaaide blaaie en lees die Boerneef-vers asof dit ’n SMS is wat pas ingekom het.

Die berggans het ’n veer laat val van die hoogste krans by Woeperdal, my hart staan tuit al meer en meer, ek stuur vir jou die berggansveer . . .

Die vet vrou ry nog ’n hele paar keer haar petroltenk leeg en kom eindelaas te staan voor ’n groot hek net langs die stowwerige dorpsplein van ’n klein gemeenskappie.

“Ons ontvang nie gewoonlik besoekers so laat nie . . .” swaai die hek tog oop.

Iewers langs ’n kerk waar ’n verligte Jesus sy arms wyd gooi en die nag verwelkom, word die vet vrou ’n eie lafenis gegun.

Die vet vrou met die vuil kar wat al dae lank op hiert-jy-wakkerblydrankies oorleef, stotter. Sy vertel van hoe die blinddoek oor haar lewe skielik by die klimraam afgeval het en hoe sy besluit het om nooit weer in haar ou spieël te kyk nie. Sy sluit af met ’n tirade oor wanneer laas sy ooit ’n berggans gesien het.

“Dan is dit tyd, ja,” vroetel die deur- oopmaker in haar wit gewaad se sakke na ’n tros sleutels. Sy beduie die aan- komeling moet haar volg. Iewers langs ’n kerk waar ’n verligte Jesus sy arms wyd gooi en die nag verwelkom, word die vet vrou ’n eie lafenis gegun. ’n Kamer, driekwart ligblou geverf, met ’n bed en ’n wasbak in die hoek.

Voor die non wegdraai, kyk sy die herbergsoeker op en af.

“Lyk my jy gebruik jou lyf, eerder as ons Liewe Heiland, as anker in hierdie lewe?” Haar woorde is sag soos haar klein handjies wat vir ’n oomblik om die moeë reisiger s’n vou.

Die nag en baie nagte daarna slaap die vet vrou soos ’n kind. Soggens word sy wakker van vrywilligers wat om die katedraal vee en kinders wat geselserig oor die dorpsplein skool toe stap.

Bedags sit die vet vrou ure in die skadukolle tussen die palmbome wat al lafenis hier vir gelowige sowel as ongelowige is. Die eerste son stroom bane lig tussen die stamme deur wat haar malende gedagtes soos rafels in ’n naaldwerkkamer vasvang. Stadig dwarrel hulle weg.

Mettertyd, in die ritme van ’n dorpie wat ’n rustige eie lewe het, vergeet sy van cappuccino’s, skinkbordetes op vliegtuie (waar sy ’n verlengstuk vir haar gordel moes vra), die spa se skaal, krag- onderbrekings en spertye.

In party mense stoel die lyf juis wanneer die gees dun en verhongerd is.

As sy in die veld is wanneer die klok vir die Heilige Mis lui, glimlag sy met die wete dat die suster se skoentjies nou van die grond af lig soos sy aan daai logge tou hang.

Saans, nadat die ergste hitte gewyk het, sit die susters by haar op hul stoep terwyl sy eet wat hulle berei het.

“In party mense,” sê die suster een aand terwyl sy die vrou se kos skep, “stoel die lyf juis wanneer die gees dun en verhongerd is. Jy lyk my skoon uitgeteer gebore. Dit gaan diepliefde vat om jou te vul.”

Ure daarna sit die vrou nog op haar poncho voor die katedraal na die verligte Beminde en opkyk. Dit wil-wil vir haar voel asof Iemand ’n piepklein verjaardagkersie binne die donker spelonk in haar aangesteek het.

Rowe vrees val van die vrou af en walle smart smelt weg, maar sy merk dit skaars op.

Die vet vrou wat besig is om onkeerbaar te verander, ry soms ver die berge in en stap dan tot sy selfs van haar driekwart blougeverfde kamertjie vergeet.

Hier trek sy graag haar boonste klere uit, want tussen die kranse bêre die klowe vir haar geheime koeltes te midde van ’n skroeiende somersoond; nie vir kleur of vitamien D nie, maar omdat iets in haar besig is om op te kom vir asem.

Die vrou met kurwes sit op klippe, verwonder haar aan wolke, streel kokerbome en grawe gate om in te lê. Rowe vrees val van die vrou af en walle smart smelt weg, maar sy merk dit skaars op, soos lae onnodige vleis wat haar gepantser het en nou moeiteloos vervel. In haar is ’n landskap van selfvrede aan die opkom.

Op ’n goeie dag loer die witdoekgeraamde gesig uitasem oor ’n droë rivierloop se wal.

“Gedog ek sal jou hier kry!” kom staan die non hygend met haar hande op die heupe na die vrou en afkyk.

Die vrou wat versadig in haarself is, frons-lag vraend van haar skryfboek af op.

“Suster, ek het wraggies net vanoggend ’n berggansveer opgetel; kyk!”

As die non se glimlag ’n kerkklok kon laat lui, het dit tot duskant Gobabis geklink.

Ek stuur vir jou die berggansveer, mits dese wil ek vir jou sê hoe diep my liefde vir jou lê . . .

Die suster swaai ’n ongeduldige vinger. “Basta met vere en gedigte! Daar is iemand wat jou soek!”

Agterdogtig kom die vrou orent. “Niemand weet waar ek is nie en suster weet ek wil niemand sien nie.”

“Dis ’n m-a-n. Aardig, maar groot en sterk, van lyf én gees,” sê die suster.

Die eenvoud-en-ooptes-vrou wat een met die Verruklikheid geword het, dink as die non se glimlag ’n kerkklok kon laat lui, het dit tot duskant Gobabis geklink.

“Hy’t gesê as jy jou teësit en weier om hom te ontmoet, moet ek vir jou sê hy is doenig in die berge hier agter – en hy’t ’n verkyker in sy bakkie. Hy wag vir jou.”