Verduiwels! Sy kry dit nie reg om die stuk musiek te speel nie. Die note bly verkeerd.

“Hierdie vingers van my is 48 jaar oud en kan nie nuwe toertjies leer nie.”

Lea haal diep asem. Sy skud haar kop en kyk na die bladmusiek op die klawerbord se musiekstaander.

“Nee, Lea, probeer nog ’n slag.”

Sy speel weer die gedeelte wat pas nie wou werk nie, maar dis steeds nie reg nie. Dit maak nie saak hoe baie sy oefen nie, dit klink nie mooi nie. Dis lelik, soos sy. Die hartseer en woede vloei opnuut deur haar lyf en sy druk hard met haar plathande op die klawers.

Moenie kwaad wees as dit nie dadelik reg klink nie, Mamma.

“Mamma, wat maak jy?” Die vals musieknote het veroorsaak dat Steph by die kamer inhardloop om te kom kyk wat aangaan.

Hy kom staan agter haar en sit sy arms om haar middellyf. Sy wens hy wil dit nie doen nie. Dit laat haar altyd selfbewus voel; dit maak nie saak of dit haar kind is nie. “Moenie kwaad wees as dit nie dadelik reg klink nie, Mamma.”

Hy huiwer, sê dan: “Ek wou net kom sê het Mamma lyk baie mooi deesdae.”

Hy bedoel goed, maar die kind praat nie die waarheid nie. Sy hande kan nie eens by mekaar uitkom wanneer hy sy arms om haar lyf sit nie. Die dieet werk nie; weer nie, net soos die simpel musiek oefen. Dis net oefen en oefen en oefen. Dis minder eet, dis eet net tot jy versadig is, dis al weer ’n gesukkel en eindelik verander niks.

Die skaal is stukkend, maar sy hoef nie eens daarop te kyk nie; sy weet sommer. Hoekom sal dit hierdie keer anders wees?

Sy is steeds sy: vet, en sonder dat sy sukses in die lewe behaal het.

Oprah was toe verkeerd: ’n Mens kan nie elke droom waar maak solank jy net daarin glo nie. Maar sy wil nie haar kind se gevoelens seermaak nie.

“Dankie, my grootseun,” sê sy en draai om na hom toe sodat hy sy arms om haar lyf moet losmaak.

Hy staan terug en lyk ’n bietjie geïrriteerd. Sy onthou hy hou nie daarvan dat sy hom “grootseun” noem nie. Hy dink deesdae hy is groot. Twaalf is eintlik al ’n tiener. Die jare het so gou verbygegaan.

Al Lea se drome sou kon waar word; sy het vergeet van al die was- en skottelgoed, die vuil woonstel.

Lea onthou sy babadae asof dit gister was: Soggens so teen tienuur, wanneer klein Steph ná sy bottel slaap, kon sy die knoppie druk en daar was Oprah, saam met haar. Oprah het so ’n gerusstellende stem gehad. Wanneer sy jou iets vertel, weet jy sommer jy sal dit kan regkry. Al Lea se drome sou kon waar word; sy het vergeet van al die was- en skottelgoed, die vuil woonstel.

Sy kon net rustig op die rusbank sit en koekies peusel, of vir haar ’n derde toebroodjie met grondboontjiebotter en konfyt maak. Wat anders was daar om te doen?

Die “grootseun”-woord het gemaak dat Steph by die kamer uitstap. Sy draai terug na die klawerbord en skakel dit by die muur af. ’n Klavier sal sy in haar dag des lewens nooit kan bekostig nie. Wat het sy gedink?

Dat haar lewe soos in ’n geselsprogram op TV sou verloop? Dit was klaar duur genoeg om hierdie klawerbord met sy sintetiese klank te koop, maar het sy sowaar gedink as sy baie oefen, gaan sy eindelik mooi kan speel?

Agter haar is nou ander voetstappe. Dis Chris wat nou ook die vertrek binnekom. “Ek is terug.” Sy staan op van die muurprop af en kyk na hom.

Sy gesig hang al weer; dit was seker vir hom ’n moeilike dag by die werk. Sy weet nie hoe iemand ’n slegte dag kan hê as hulle by die huis kan uitkom nie. Hy kan gaan leef. Hy hoef nie net heeldag by die huis te sit met niks anders om te doen as om aan kos te dink nie.

“Jy lyk . . . anders.” Sy gesig lyk skielik vir haar ook anders. Nie net ongelukkig en suur nie, amper vriendelik.

Voor sy hom kan vra wat hy bedoel, gaan hy voort. “Lea, jy lyk mooi.” Die woorde vang haar heeltemal onkant. Sy glimlag sonder dat sy kan keer. Kan dit wees dat . . . ?

Sy het nogal lank laas aan kos gedink. Dit tref haar nou.

Vandat sy so ses weke gelede begin het om spek en eiers vir ontbyt te eet, dink sy glad nie meer aan kos nie tot dit tyd is vir middagete. Middagete is sy ook net lus vir vrugte en jogurt, moeilik om te glo. Saans eet sy gesonder. Maar sy kry dit nie reg om die brood heeltemal uit te sny nie. Tog, sy peusel minder.

So diep in haar eie gedagtes het sy ingetuimel dat sy eers ná ’n ruk agterkom hy het nie geloop nie, maar staan steeds in die deur. Sy kop is skeefgedraai soos hy haar van kop tot tone bekyk. Onverwags leun hy oor na haar toe en soen haar. Toe draai hy om en stap kombuis toe.

Sy raak met haar hand aan haar lippe, waar sy snor ’n oomblik gelede gekielie het. Jy lyk anders. Lea, jy lyk mooi.

Sy kan die dag onthou toe sy die eerste keer besef sy is vet. Dit was nie net die skaal nie. Wat is ’n getal nou? Honderd kilogram. Ag, wat, sy is nie so vet nie. Die regte vet mense het twee sitplekke op vliegtuie nodig en hulle kan in elk geval nie bekostig om ooit iewers heen te vlieg nie.

Daardie dag het sy geweet sy is vet; hy hoef dit nie eens te gesê het nie

Selfs om iewers heen te ry is nou so duur; die petrolprys styg net die hele tyd. Die slag toe sy besef sy is vet, was die aand toe sy Chris betrap dat hy haar aanstaar.

Hy het aan sy kant van die bed gestaan en sy was doenig met die beddegoed, besig om alles mooi reg te trek om in te klim. Toe sy orent kom, net voor die inklim, het sy besef hy staar. Toe sy in sy gesig kyk, was dit te vinnig vir hom om dit weg te steek: Hy was teleurgesteld.

Nie net met sy dag, met sy werk, met sy lewe nie; ook met haar lyf. Daardie dag het sy geweet sy is vet; hy hoef dit nie eens te gesê het nie. Sy was heimlik bly toe die skaal kort daarna breek. En dit is elke slag vir haar swaar om na die ondersteuningsgroep te gaan, want daar werk die skale baie goed.

Die ondersteuningsgroep! Sy kyk vinnig op haar horlosie en dit tref haar: Hul vergadering begin oor 20 minute. Chris en Steph staan in die oopplankombuis toe sy hulle gaan groet. Hulle kyk albei vir haar toe sy instap.

“Ek sien julle later,” groet sy. “Ek sê mos vir Pa daardie . . . vergaderings werk,” sê Steph en kyk na Chris.

“Jou ma glo my nie,” reageer Chris.

“Lea, jy sal in ’n goeie bui wees wanneer jy vanmiddag terugkom. Jy moet asseblief dan vir my ietsie op die keyboard speel.”

In die Bybel was ook ’n Lea en Ragel, en Lea was die lelike een. Was sy ook vet?

Sy sug, maar glimlag dapper. Die verkeerde musieknote is steeds in haar ore toe sy voor die gebou parkeer, by hierdie vervloekte plek – dit voel nog altyd vir haar soos ’n skande. Die musieknote was lelik. Dit was asof haar vet vingers die note misdruk. Niks werk uit nie.

In die Bybel was ook ’n Lea en Ragel, en Lea was die lelike een. Was sy ook vet?

Oprah het altyd gesê ’n mens kan jou eie drome waar maak, maar wat as jy dit jare lank al nie regkry nie? En Oprah het ook altyd gesê: Dis nooit oor die kos nie; ’n mens eet om ander redes.

Ag, wat help dit tog? Vandag gaan sy net weer ’n slag verneder word.

Dit tref haar terwyl sy by die plek se deur instap: Dalk word geen van haar drome waar nie.

Solank sy nou net nie voor die vrou huil wanneer sy haar moet weeg nie. Maar dit is te laat. Haar trane drup op die vloer, reg voor die dieetkundige by die skaal.

Die vrou vryf haar arm vriendelik. “Lea, wat het met jou gebeur?”

Hoe vertel sy haar nou?

Haar drome is saam met hoop en moed by die agterdeur uit.

Twaalf jaar gelede, toe haar seun gebore is, het sy ophou aandag gee aan haarself. Sy was ingehok tussen die vier mure van hul huis met net die baba as geselskap. Sy het begin eet en eet en eet. Haar drome is saam met hoop en moed by die agterdeur uit.

“Kyk net hoe lyk jy vandag!” praat die vrou by die skaal. Amper draai Lea om en loop weer uit. Hier is nog niemand anders nie, en die vrou kan haar tog nie dwing om haar te laat weeg nie. Maar iewers tussen haar deurmekaar gedagtes deur besef sy die vrou klink vriendelik, asof sy Lea ’n kompliment gee.

“Wel, ek het ’n keyboard gekoop, en pleks van eet het ek begin stukke oefen.”

Die dieetkundige vat haar aan die arm en help haar op die skaal. Lea klim daarop en hoor hoe die naald klim om op ’n getal tot stilstand te kom.

“Jy het begin om iets anders met jou lewe te doen as om net aan kos te dink. En sê ’n bietjie vir my wat staan daar.”

Die vrou beduie na die skaal waarop sy staan. Maar dis wasig van die trane voor Lea se oë; sy kan niks sien nie.

“Ek weet nie,” fluister sy. “Laat ek dan vir jou sê wat jy op die oomblik weeg, Lea.”

Die vals note op die klavier vroeër die middag verdoof. Die getal wat sy die dieetkundige hoor sê, is die soetste musiek in haar ore.