Al is hulle in ’n taamlik los verhouding, moet niemand in Bull Taylor se slaai krap nie.

Dit is warm in die kroeg. Abel staan teen die toonbank, glas in die hand. Sy oë is geskreef teen die rook wat in wit spirale opstyg. Die plek is vol, want dit is maandeinde. Hy bring sy glas na sy lippe toe. Die geur van goeie, onverdunde whisky vul sy neusgate, en hy haal diep asem voor hy omdraai en die glas neersit sonder om daarvan te drink.

Sy oë gly oor Cynthia met haar kort, stywe tiervelrok. Sy dra dit net een keer per maand wanneer sy op die jag uit is.

Uitgestelde genot is ’n teken van intelligensie, het hy gelees. Hy betrag die klante in die groot spieël teen die muur voor hom. Dit is sy maandeindeplesier. Wat anders is daar te doen?

Vandat Corlia oorlede is, is sy woonstel stil en koud, en vir ’n nuwe vrou in sy lewe sien hy tog nie kans nie. Sy oë gly oor Cynthia met haar kort, stywe tiervelrok. Sy dra dit net een keer per maand wanneer sy op die jag uit is.

Kort ná Corlia se dood het Cynthia hom ook een aand benader. Sy louwarm ontvangs van haar oordadige attensies het haar verveel en sonder verwyl het sy haar aandag verplaas na ’n ontvankliker slagoffer. Ook nie meer vandag se kind nie, Cynthia.

Rooi lipstiffie bloei in die vertikale plooie wat soos klein treinspore om haar lippe vorm.

Van ver af lyk sy goed genoeg om van tyd tot tyd ’n opstootjie in die kroeg te veroorsaak, maar van naderby skyn haar bottelblonde hare geel en haar blou oë so koud en leeg soos die Arktiese Oseaan. Sy gesels met ’n man met ’n bles, ’n nuweling.

Hy lyk soos ’n verkoopsman, een van die talle wat soos skimme van die een bestemming na ’n volgende beweeg. Sy gooi haar kop agteroor terwyl sy lag, en rooi lipstiffie bloei in die vertikale plooie wat soos klein treinspore om haar lippe vorm. Die man is baie jonger as Cynthia. Dis hoe sy van hulle hou.

Abel draai sy kop skuins. Van agter gesien, imponeer die man glad nie. Sy skouers is smal en sy heupe breed vir dié van ’n man, en daar is ’n weerloosheid in die ronding van sy skouers. Cynthia gaan hom verwoes.

Hoe het sy korporaal altyd gesê? HKGK. Hier kom groot moeilikheid.

Hy trek sy glas nader, en hierdie keer bring hy dit tot by sy lippe. Hy proe met genoegdoening hoe die whisky glad oor sy tong gly. Dit brand ’n spoor tot in sy maag, en die geurige dampe laat sy oë traan. Dit bly darem maar wragtig lekker. Hy maak sy oë toe van genoegdoening. ’n Klein dog heuglike vreugde.

Die kroegman draai die radio harder. Achy Breaky Heart. Gepaste musiek, dink hy, vir ’n kroeg. Hy maak sy oë oop. ’n Beweging by die deur trek sy aandag. Hy lig sy wenkbroue toe Bull Taylor in die opening verskyn. Interessant. Hoe het sy korporaal altyd gesê? HKGK. Hier kom groot moeilikheid.

Bull is Cynthia se aan-af-kêrel; die man wat haar eensaamheid op ’n gereelde grondslag besweer. Omdat Bull semipermanente status in haar lewe het, beskou hy hom ook as geregtig op haar uitsluitlike aandag. Nog nooit was daar iemand met ’n meer gepaste naam nie.

Wanneer Bull Taylor kwaad word, word goed gebreek – gewoonlik bene en arms.

Bull Taylor is ’n groot man met ’n kaalgeskeerde kop wat so glad en blink soos ’n snoekerbal is. Sy welige snor en ruie borshare wat oor sy oopgeknoopte bont hemp peul, vergoed vir sy haarlose skedel. Groot biseps dwing deur die hemp se moue, en op een gespierde voorarm pryk die woord “moeder” onder ’n vet, blou skeepsanker.

Bull toring bo al die mans in die kroeg uit, en Abel kyk met belangstelling hoe die groot man se oë vernou toe hy Cynthia gewaar en reguit op haar afpyl. Hy sit sy glas neer en skuif stadig op tot hy met sy rug teen die muur staan.

Wanneer Bull Taylor kwaad word, word goed gebreek – gewoonlik bene en arms. Dit is dan beter om maar uit die pad te bly, het ondervinding hom geleer. Hy hoor ’n geluid agter hom en sien uit die hoek van sy oog hoe die kroegman stadig agter die toonbank wegsink.

“Cynthia,” bulder Bull. Hy stap reguit op haar af, maar sy oë is vasgenael op die bleskopman met die breë heupe.

Cynthia staan onseker regop op haar steierende hakke.

“Bull,” asem sy. “Wat de . . . ” Bull beduie na Cynthia se nuutste vriend en sy snor bewe van verontwaardiging.

“Dis niks,” antwoord Cynthia terwyl sy haar hand met sy lang pienk naels voor haar bors oor haar bultende buuste hou.

Bull steur hom nie aan haar nie, maar storm by haar verby terwyl hy die bleskopman aan die kraag gryp. Soos ’n enkele organisme beweeg die res van die klante na die kante van die kroeg. Net soos Abel wil hulle ook hierdie opstootjie van ’n veilige afstand beskou.

“Jy los my girlfriend uit, verstaan jy?” sê Bull met ’n koue stem terwyl hy elke woord beklemtoon met ’n dik wysvinger wat hy onder die vaal mannetjie se neus rondswaai. Die bleskopman knip-knip sy oë.

“Hei, man,” sê hy sag. “Sorrie. Ek wil nie moeilikheid maak nie.”

As daardie allemagtige vuis die verkoopsman se kop tref, is hy bokveld toe.

Sy stem klink so weerloos soos wat sy ronde skouers lyk. Bull leun vorentoe, en Abel kan sien hoe die ander man wegbeur. Hy sou ook, want benewens Bull se kragdadigheid het hy ook die allerverskriklikste stink asem. Gerugte doen die rondte dat Bull se lewer lankal gevrot het.

“Moenie vir my kom sorrie-sorrie nie.” Bull trek die man met sy een arm regop, en van sy beskermde posisie in die hoek kan Abel materiaal hoor skeur. Bull trek sy arm terug en Abel wil sy oë toemaak, maar kan nie. As daardie allemagtige vuis die verkoopsman se kop tref, is hy bokveld toe.

Cynthia probeer tussenbeide tree.

“Bull,” sê sy. “Lovey . . . ”

Haar naels fladder soos pienk skoenlappers tussen Bull Taylor en die vaal mannetjie, wat grootoog na hom staar. “Don’t tell my heart, my achy breaky heart ,” sing Billy Ray Cyrus ongestoord voort. Bull kyk nie na Cynthia nie. Sy aandag is ten volle op die vaal verkoopsman voor hom.

Hy swaai sy vuis na die vaal man se gesig, en soos een mens hou die kroeg asem op.

“Staan eenkant toe, Pops,” sê hy vir haar. “Dis mansbesigheid hierdie.”

“Maar . . . ”

“Ek wil nie moeilikheid hê nie,” sê die bleskopman weer.

Bull se nekspiere span en sy gesig is bloedrooi. Hy swaai sy vuis na die vaal man se gesig, en soos een mens hou die kroeg asem op. Skielik is daar ’n warrelwind van hande en voete en die volgende oomblik lê Bull Taylor op die naat van sy rug op die bierdeurdrenkte mat van Swaer Se Bar.

Wat op aarde?

Abel se oë rek.

Die bleskopman leun oor Bull Taylor se asemlose figuur. ’n Dun straaltjie bloed loop by die groot man se een neusgat uit en stol in sy walrussnor. Skielik lyk die vaal verkoopsman se skouers nie meer so rond nie en sy heupe nie meer so breed nie. Die verkoopsman vryf sy hande stadig teen sy broekspype af.

“Ek het vir jou gesê ek soek nie moeilikheid nie.”

Bull Taylor lê met groot oë op die grond en snak.

Cynthia leun oor Bull en vir ’n oomblik moet Abel sy oë toemaak, want haar gul buuste dreig om soos lentekalwers oor haar kort rokkie se laehalskraag te spring.

“Bull, jy is ’n gek,” sê sy.

“Ggg . . . ggg,” antwoord Bull Taylor. Dit lyk of sy oë wil omdop, maar Cynthia tik hom onsag teen die wang.

“ ’n Idioot,” sê sy lieftallig.

Hy kyk rustig na die mense rondom hom, en vir die eerste keer kan Abel sien hoe koud en berekend sy oë is.

Die verkoopsman gaan sit op sy stoel en wink na die kroegman, wat intussen stadig agter die toonbank gemanifesteer het.

“Brandewyn en Coke,” sê hy. Hy hou twee vingers in die lug.

“Maak dit ’n dubbel.”

Hy kyk rustig na die mense rondom hom, en vir die eerste keer kan Abel sien hoe koud en berekend sy oë is. Cynthia por Bull met die punt van een spykerhakskoen in die sy.

“Staan op,” sê sy. “Jy kan nie so hier bly lê nie.”

Bull kreun diep, en Abel voel vir hom jammer. Cynthia skud haar kop.

Hy probeer regop sit, maar iets moes seergekry het, want hy kreun weer diep en sak weer op die grond terug.

“Harry, help hier.”

Die verkoopsman staan op, leun vorentoe en steek sy hand uit. Bull Taylor lê wantrouig na hom en kyk.

“Heiden,” sê Cynthia.

“Vlieg jy en jou lover in julle maai,” sê Bull met ’n dik stem.

Hy probeer regop sit, maar iets moes seergekry het, want hy kreun weer diep en sak weer op die grond terug. Bull Taylor is ook nie meer vandag se kind nie.

“Los my uit. Ek sal regkom.”

“Bull Taylor, jou ou gek,” sê Cynthia met ’n sagte glimlag. “Lover?”

“Hier’s jou dop,” sê die kroegman met respek vir die vaal mannetjie, wat intussen weer gaan sit het.

Lover?” herhaal Cynthia en skud haar kop. “Harry is nie my minnaar nie.”

Sy buk af en trek ’n teësinnige Bull aan sy arm regop. Sy streel liefderik oor sy wang.

“Jou lawwe ou ding.” Sy draai na die vaal mannetjie, wat ongeërg aan sy brandewyn teug.

“Ontmoet my kleinboetie. Hy werk vir die Britse Weermag. Wat doen jy nou weer, Harry?”

Die mannetjie sit sy glas neer.

“Hand-tot-hand-gevegsinstrukteur.”

Abel se oë rek.

“O,” piep Bull.