Dan is dít hoe ’n moordenaar lyk,” sê Heleen. Sy huiwer ’n oomblik voor die portaal se spieël, druk haar koplig reg en steek die lang ystervyl in haar mou op.

“Vanaand gaan ek dit doen.”

Sy wil nie hier wees nie; glad en geheel nie.

Sy wag tot die aandnuus se twee lesers hul storie mooi aan die gang het. Dan glip sy by die voordeur uit. Sy skakel haar koplig aan en begin haar gewone oefenronde.

Sy stap saans wanneer die agies van die oord voor hul televisie sit en die land se ellendes bekla. Bedags is daar te veel mense wat vrae vra, geselsies wil maak, die weer wil bespreek . . .

Hulle verstaan nie. Sy wil nie hier wees nie; glad en geheel nie. ’n Fikse boervrou uit die Vrystaat is nie gemaak om in ’n stad te kom oud word nie. Sy wil uitslyt van plaaswerk, nie oproes van niksdoen nie, verdomp. Maar Willa wou niks weet nie.

“Daar is nie ’n manier dat ma alleen gaan bly boer nie. Ma is ’n statistiek wat wag om te gebeur.”

Die plaas is aan Willa bemaak; dus kon sy daarmee maak wat sy wil – dis hoe Willem se testament gelui het. En Willa, hul enigste, het haar pa se wense stiptelik uitgevoer.

Sy het opsluit ’n bestuurder aangestel wat die plaas tot eendag vir die drie kleinseuns sal bestuur. En toe het sy met haar vreemde stadsmaniere, stinknuwe Jeep en spykerhakskoene Heleen in hierdie mooi stadstronk kom inboelie.

Casa Nova, lui die naambord in groot goue letters. Ha! Hulle kon dit net sowel op die boeremanier geskryf het: Nuwe Huis.

Ongelukkig is ’n doring in die vlees deel van hierdie een se pakket. Dis ’n doring wat van ’n ordentlike vrou ’n misdadiger gaan maak.

Heleen versnel haar pas. Sy kyk op die treëteller aan haar arm. Dis nog een van Willa se stadskontrepsies. Sy kyk elke aand op haar rekenaar of haar ma die voorgeskrewe 5 000 treë gestap het wat haar mediese fonds vereis.

En behoede haar wanneer sy afskeep, want dan klik Willa se winkelnaels blitsvinnig op daardie selfoon om ’n kwaai WhatsApp-boodskap te stuur.

“Nog 1 680 treë, ma.”

“Die kind is kwaaier as wat sy op twee was,” sug Heleen.

“Haar woedeuitbarstings regeer nog my lewe.”

Dis die versmoorder van haar groentetuin. Dis die monster wat haar huis in ewige skemerte en kilheid hul.

Maar vanaand is sy bly oor die poliesman aan haar arm; dis die ideale rookskerm vir haar planne. Haar bure rol nie meer hul oë wanneer sy saans verwoed aan die stap gaan nie; hulle weet mos.

Toe sy die derde keer voor haar eie huis verbysnel, swenk sy weg na waar die doring in haar vlees op die oorkantste sypaadjie staan.

Dis die grootste, ruigste sipres wat sy al ooit gesien het. Maklik drie verdiepings hoog. Dis die steler van haar son en vreugde. Dis die versmoorder van haar groentetuin. Dis die monster wat haar huis in ewige skemerte en kilheid hul.

Kort ná haar aankoms het sy haar saak aan die bestuur gaan stel. In die kantoor moes sy 12 minute wag terwyl die dikke agter die lessenaar ’n persoonlike oproep afhandel.

“Kan ek asseblief betaal om die sipres oorkant my huis te laat uithaal?”

Die versoek was redelik. Die antwoord was nie.

“Een van ons sipresse? Onder geen omstandighede nie!”

Die bestuurder in haar pienk rok wou apopleksie kry.

“Die eienaar het dit self geplant. Hy inspekteer die oord se tuin maandeliks. As iets met een van sy sipresse gebeur . . .” Sy het haar vinger oor haar keel getrek.

“Maar dis uitheems. Dis steriel. Dis ’n begraafplaasboom,” het Heleen vasgeskop.

Die vrou het haar lip gekrul asof Heleen na beespens ruik.

“Daar kom nie ’n druppel son in my huis nie. Ek woon in ’n donker yskas en my rose kry roes. Laat ek met die eienaar gesels, toe? Ek sal ’n ander boom laat plant. Iets inheems; ’n mooi karee of wildeolyf. Iets wat die voëls kos kan gee.”

Die vrou het haar lip gekrul asof Heleen na beespens ruik.

“Luister mooi, mev. Bornman, jou buurman het ook probeer om die boom te laat verwyder. Hy het tot ’n prokureursbrief aan die eienaar gestuur, maar niks reggekry nie.”

Die vrou het Heleen die rug toegekeer en op haar rekenaar begin tokkel.

“Regtig, juffrou . . .”

“Hannetjie.”

Die vrou het gesug en lydsaam geglimlag. Heleen kon haar gedagtes lees: ou mensies. Foei.

“Hannetjie, ek kom van ’n plaas waar ’n stormwind een nag so ’n groot sipres omgewaai het. Lelike storie. ’n Splinternuwe trekker was met skuur en al daarmee heen. En my huisie is reg in daardie monster se pad.”

“Monster? Kom nou, mevroutjie. Dis buite die kwessie. Hoekom het u nie ’n ander eenheid gekies toe u gekoop het nie?”

Touché. Die vrou het ’n punt.

Dis net dat die skelm agent van die oord dit in die aand vir Willa kom wys het. Heleen se stilte moes vir Hannetjie in haar pienk rok oortuig dat sy dié ronde gewen het.

“Dan is die saak afgehandel.”

Pienkrok se glimlag was oorwinnend. Nè?

Jy ken Heleen Bornman duidelik nie, het sy gedink en met moord in haar hart aan Willem se gereedskapskis gedink. Sy sou daarin na ’n moordwapen soek, iets waarmee sy self die monster kon uitvat. ’n Boer maak ’n plan; ’n boervrou het plan B en C gereed.

Agter die boom kom Heleen tot stilstand. Sy haal hard asem. Sy laat die ystervyl uit haar mou gly en druk vir haar ’n pad tussen die digte bos siprestakke oop. Sy moet net by die stam van hierdie ongedierte uitkom. Sy sal hom bietjies-bietjies afvyl.

Elke slymvlies in haar kop begin kriewel. Haar oë traan. Sy snuif en sluk verwoed.

Met g’n inspeksie sal die skade duidelik wees nie. Tot op ’n mooi dag wanneer sy die naakte bas met plantgif sal kom dokter, nes sy met swartwattels op die plaas gemaak het. En dan is dit koebaai, Meraai! Die sipres sal sy tone opkrul, goudgeel raak en stadig sterf.

Sy beur nog dieper die taai takdoolhof in. Dit ruik oorweldigend na stof en sipreshars. Sy skud haar kop en probeer haar neus teen haar skouer vryf. Elke slymvlies in haar kop begin kriewel. Haar oë traan. Sy snuif en sluk verwoed.

G’n moordenaar kry tog halfpad hooikoors nie?

Maar iewers in die donker buik van die boom begin sy onkeerbaar nies. Haar sinusse gee summier die stryd teen die monster gewonne. Sy steier loopneus en traanblind die donker in.

“Sakdoek?” vra iemand agter haar.

“Haaa!”

Heleen voel haar maag tussen haar knieë deurval. Sy vlieg om. Haar koplig glim op die brillense van ’n man wat reg agter haar staan.

“Skuus. Jammer. Ek-ek-ek . . .” Sy stamel.

“Die lig. Skakel dit af, asseblief?” Die stem is beskaaf.

“Ekskuus.” Sy klik die liggie af. “Dan gaan ek maar.”

“Net ’n oomblik. Ek sien jou saans stap.”

“Ja. Ons het mekaar nog nie ontmoet nie. Heleen Bornman. Nommer 25.”

“Bly te kenne. Jaap Vorster.”

Hy frons.

“Dis jy wat oor die boom gaan kla het?”

“H’m, ja.”

Kleindorpse geskinder, wil sy eintlik sê. Heleen probeer die vyl weer in haar mou opdruk.

“As ek mag vra, hoekom?”

Heleen byt vergeefs op haar lip. Die woorde stort oor haar lippe.

“As ek nou in hierdie plek móét woon, verdien ek seker ’n bietjie sonskyn. Wat hierdie boom met sy ongeskikte dik lyf my ontneem.”

“Aha. En jy het ’n hekel aan ongeskikte dik lywe. Soos die een in die kantoor hierbo?”

Heleen is dankbaar vir die donkerte. Sy voel die hitte in haar nek opstyg.

Guilty as charged, your honour.”

Sy probeer vir haar eie flou grap lag. Dit kom heel verkeerd uit. Soos ’n snork. En toe gly die vyl by haar mou uit. Dit hop een keer op die harde grond en bly dan beskuldigend voor die man se voete lê.

“En hier wou jy heeltyd net die boom ’n pedikuur kom gee,” sê die man bedaard en buk om die vyl op te tel.

“En dit terwyl ek jou van allerlei duistere motiewe verdink het.”

Dis ’n oomblik stil tussen hulle. Heleen kan nie besluit of die man haar net hier onder die sekelmaan in hegtenis gaan neem en kantoor toe sleep nie. Of haar dalk net gaan uitskel en wegjaag nie. Hetta van langsaan het gesê hy is ’n knorrige dier, wewenaar ofte nie.

“Ha-ha-ha!”

Skielik bars die beheersde man in ’n lagbui uit. Hy hou later aan sy stoep se reling vas. Nog later haal hy sy bril af en vee sy oë met sy hempsmou af. Heleen hou vir hom die sakdoek uit wat hy haar netnou aangebied het.

“Eindelik.”

Hy druk sy bril terug op sy oë. Dan buig hy galant en hou sy arm na haar uit.

“Jou vyand se vyand is jou vriend, Heleen Bornman. Kom ons gaan vier dit. Ek het ’n goeie bottel Kanonkop wat ’n geleentheid soek om geknak te word. En jy lyk vir my na ’n Kanonkopmeisie.”

“Hoe so?” vra sy bewerig-bly.

“Ek kan sien jy het skop. En ek het ’n vreeslose bondgenoot nodig.”

“Die boom?” vra sy hoopvol.

“Net so. Kom ons gaan binnetoe. Ons twee het ’n sipresmoord om te beplan.”

Hy hou die deur vir haar oop.

“In watter storie moes die ridder ’n hele bos afkap om by die prinses uit te kom?”

“Doringrosie.”

Haar wange brand, maar haar hart sing. Skielik lyk haar Casa Nova oorkant die straat na ’n allerfraaiste plekkie. Netjies maar met skop, nes sy. Sy het ’n spesmaas hierdie Jaap gaan die onmoontlike regkry.

En wie weet? Een van die dae het sy dalk ’n huis vol lig. Een waar sy soggens haar slaapkamer se gordyne sal kan ooptrek om die sonstrale soos ’n liefkosing te ontvang.

En as sy hom nie oorkant op sy stoep sien sit nie, sal dit wees omdat hy op haar eie stoep in ’n sonkolletjie sit en koffie drink.