"Oups! Ag nee, man!” Ribbie, my enigste kleindogter, is een bondeltjie verontwaardiging en smyt die eetkamervenster wyd oop.

“Dis nie ek nie; dis Woefie,” kap ek kamma gekrenk teë.

Haar kort swart haartjies staan gejel van ver af tot in ystervarkgat; die vurige donkerbruin ogies piets my tussen die oë.

“Wat?” waag ek flou.

“Jou plek ruik na ou man!” ontplof sy weer met teatrale gebare.

“Maar ek ís oud.”

My flink amper-op-aandag-regopkom weerlê hierdie stelling. Dié kind het die vermoë om my verkeerdom op te vryf, en wat sy pas kwytgeraak het, pluk my snare. Ek gaan toring oor haar.

Tot op ’n punt, ja, tot op ’n punt word hy gedryf, dan moet predikant en poliese kom.

“Dis anders. Oups is nie daardie soort oud nie en hierdie . . . ” Sy pluk haar fyn neusie in die lug: “ . . . geur wil my laat . . . laat slym spoeg.”

Ek bedwing my genadiglik. “Nou hoe ruik my plekkie of ek dan?” vra ek sarkasties-versigtig. Die mensie kan met die skokkendste dinge vorendag kom.

Ek wil giggel; ek wil stres.

Sy snuif weer in die ronde. “Dit ruik swaar . . . bedompig. Ja, soos plaasstewels in die somer. Suur. Siesa!” tik sy met duidelike misnoeë elke stelling op fyn vingertjies af.

Plaasstewels. Nou raak sy ’n teer punt aan. Van die dag toe my buurman byna noodlottig aangeval en beroof is, het my dogter Willemien nie die een klip op die ander gelaat om my van my plaas, Ysterklip, te dryf nie, te dreig nie. Tot hier in die luukse Herfsblaar-aftreeoord. Ingehok tussen vier mure.

“Kolskoot, nè?” knip Ribbie my verlanggedagtes seëvierend kort.

Ek pluk my bymekaar en gaan staan voor die oop venster.

“So, dis hoe ek ruik, wil jy eintlik sê. Ek stort elke oggend, was agter my ore en tussen my . . . tone, borsel my tande en knip gereeld my naels. Wat moet ek nog doen?”

My stem wil-wil wegraak van ongevraagde selfbejammering.

Toe ek omdraai, is sy weg. Vlug betyds, want sy ken my: Yster van Ysterklip. Tot op ’n punt, ja, tot op ’n punt word hy gedryf, dan moet predikant en poliese kom.

Oumensreuk, verbeel jou!

My hart trek met ’n punt na die plaas, die reuk van skaapkraal, beesmis en swart potkleigrond. Ek vlug weer venster toe. Nou moet hierdie lappie tuin my troos. Om wat te plant? Een mieliepit, twee aartappelmoere en vir die troos van ’n paar weduvrouens.

“Haai, jy! Jy trap op my grond,” kom die woorde onbeplan oor my lippe.

Die weduvrou van langsaan ruk haar regop tussen haar petieterige blomstoeltjies.

“Ekskuus, praat jy miskien met my?” beduie sy, plotseling vlak voor my met die tuinvurkie teen my adamsappel.

En toe, net daar, gebeur iets vreemds met my terwyl ek die stomende witkop voor my deur skrefiesoë betrag. Nie sleg nie, glad nie sleg nie. En Willemien is tog al vier jaar weg, onthou ek terloops.

Ek vou my arms onder die vurkie verby. “Ek sien niemand anders nie,” begin ek ewe baldadig en leun ’n rapsie na haar toe. Sy pluk haar gesig sywaarts en ek registreer met skok: die reuk, die oumensreuk!

Met ’n onbeholpe verskoninkie blaas ek die aftog.

Binne pluk ek al wat ’n gordyn is toe en gaan staan voor Willemien se vollengtespieël. “Ou Yster, jy het lood geword nadat hulle jou hiernatoe gesleep het. Daar was jy nog aktief, sterk en waardig. Nou moet jy hier kom muf. Ja, muf is die woord,” gesels ek met my verslae self.

Muf? Terug is daardie pennetjieskop se aantygings. Dis nie ek nie; daarom fynkam ek elke vertrek en beruik hulle van hoek tot hoek. Niks, nie ’n tiekie se geurtjie nie. Pure verbeelding, besluit ek.

Sy pluk haar gesig sywaarts en ek registreer met skok: die reuk, die oumensreuk!

Tot Wille die volgende oggend klokslag om agtuur aan my deur klop. Agter haar loer ’n gesig tussen ’n besem, volstruisvere en lappe uit.

“Pa Yster,” val sy sommer binne. “Soos ons ooreengekom het, kom Charlie elke Donderdag jou plekkie skoonmaak. Volgens reëls en regulasies is dit toelaatbaar. En môre, my knorrige ou pa.”

En die knorrige ou pa laat hom gedwee na die bankie buite onder die skraps boompie lei. Waar hulle onbenullige praatjies maak oor politiek, brandstofpryse en die nuutste produkte op die rakke vir persoonlike higiëne. Ek is nog besig om die louwordende yster in my are te probeer paai, toe beduie sy hier skuins onder my neus verby.

“Haai, môre, tannie Wiena. Heerlike oggend, so lekker fris en prikkend!” murmel sy.

Ek stuit ’n snork. Lofsang vir dié grou oggend. Dan tref dit my: drie Willemiens en ’n Wiena! Toeval of voorteken?

Ek weier om saam met hulle die dag te besing en blaas opgeskroef die aftog na waar Charlie die laaste stoflap uitskud. My plek lyk en ruik soos ’n hospitaalgang.

Dis met verligting dat ek hulle gaan wegsien. “Sê groete vir tant Wiena,” gooi sy nog die laaste troef.

Geen kiem of geur kan standhou teen die steriele lug wat my neerdruk op die stoel waar ’n glansende rooi geskenkpakkie met naskeerroom en reukweerder van duur smaak my verder tart nie. Ribbie het gaan nuus aandra.

Ek vlug kamer toe. “O, Boereplaas,” jubel Mimi Coertse oor die radio en sing my in ’n nuwe vlaag Ysterklip-nostalgie in.

Die volgende oggend is die winkelaromas weg, maar ’n ander, subtiele stankie huiwer. Ek vlug terug kamer toe, spieël toe. En daar, in die aanskyn van my desperate soeking, ruik ek onder my arms, blaas bolle asem in my handpalms en ruik-ruik af tot bokant my enkels. ’n Mens ruik nie jou eie liggaamsreuke nie, onthou ek Willemien se woorde.

As ’n mens aanhou om jouself iets voor te sê, glo jy dit later self, kap ek filosofies terug.

My kop raas later van al die teenstrydige gedagtes. Ek maak weer al die vensters oop, spuit en spuit, borsel my tande ná elke happie kos wat ek kou en trek vars kouse aan. Trek eindelik die gehate sandale van voor die oorlog aan.

Ek begin sleg slaap en kry nagmerries van karkasse en dipkrale.

’n Bestuurslid kom doen ’n hoflikheidsbesoekie. Die frons op sy voorkop word ál dieper. Nee dankie, hy sal nie vir koffie wag nie – “ander verpligtings” – en hy maak spore.

En ek? Rede- en radeloos takel ek weer die lugverfrisser, maar besef bietjie vir bietjie ek dra die oumansreuk.

Ek woon nie meer gesellighede by nie, ook nie verjaardae, teepartytjies, Bybelstudie of samesang nie. Loop net heeldag ruik-ruik en grom-grom deur my woonplekkie.

My neus en keel is sensitief van die oorversadigde lug toe Ribbie versigtig kom inloer.

Waar ek vroeër haar borrelende teenwoordigheid verwelkom het, is ek nou bra stuurs. Sy is egter die ene drukkies en “oupsies” en gesels ewe tuis in die huis oor haar ingebore takt en oordeel. Bla-bla.

“Oups, wanneer braai jy weer vir ons ’n vleisie? Jy weet mos ek vrek oor ’n ribbetjie.”

Ek ontdooi stram. Ja, en die japsnoet wat elke keer terwyl die vleis nog rou op die rooster lê, smeek vir ’n “ribbie” met ’n ag-please-tog-oupsie-stemmetjie, onthou ek weemoedig.

“Oups, ek dink dis oups se hormone.”

“Nè?”

“Ja, dit skei ’n stof af. Oups weet mos, soos ’n hondemamma wanneer sy . . . ”

“Willemiena!” Ek gil my uit my depressie binne die ontsettende werklikheid van my dilemma in.

Die klein merrie weet seker sy is nou op gevaarlike terrein, maar sal sy nie in die deur nog die laaste pyl afskiet nie?

“Baai, oups, dink maar goed oor wat ek gesê het.” En sy beduie woes na langsaan se huisie.

Ek is te verslae om te reageer.

Drink net twee kopseerpille en veg om kalmte.

Toe ek later deur ’n skrefie in die gordyne sien hoe ’n dun, aristokratiese vrou net sirkels bokant haar kop maak en haar metgesel na my plek toe beduie, sluk ek aan die knop in my keel.

Wille vermy my soos ’n stopstraat. My daaglikse lewenskurwe daal drasties. Ek begin sleg slaap en kry nagmerries van karkasse en dipkrale.

Ek wil terug na my plaas toe waar die vars berglug my oumansreuk kan opslurp, weeklaag ek agter oop vensters en toe gordyne.

Ek roer nie net nie; ek spring op soos ’n baldadige bulkalf en storm deur toe.

Ek draai nog my trouring om en om – nou ’n ou gewoonte – toe glip die ring van my maergeworde vinger af. Dit spat weg op die teëlvloer. My ongeoefende knieë kraak toe ek afsak vloer toe. Ek soek in elke hoekie van my kombuisie, fynkam elke gaatjie en krakie.

Niks. Niks wat naastenby soos ’n troupand lyk nie.

Toe steier ek agteroor, stort lankuit op die vloer neer. Hoor en sien vergaan, ook die getimmer op die agterdeur.

“Meneer . . . Yster! Het jy jou been gebreek, jou rug? Ag, vadertjie tog. Moenie roer nie,” dring die gekerm van my buurvrou tot my deur.

Ek roer nie net nie; ek spring op soos ’n baldadige bulkalf en storm deur toe.

“Wienatjie, ek het sommer gelê en mediteer oor hoe wonderlik die lewe is! Kom binne.”

Haar wangetjies gloei. “Wille het gesê ek moet kom kyk. Jy antwoord nie jou selfoon nie,” stamel sy dierbaar.

“Wat van ’n koffie vanmiddag?” stormloop ek. Sy knik blinkoog en trippel weg.

Ek gaan lê weer op my sy op die vloer voor die antieke ou kassie, nog van die plaas af, en hark versigtig die vrot, vrot up-to-date-aartappel agter sy puntige agterpoot uit. Versigtig lanseer ek dit in ’n porselein-erfstukkie, gee dit ’n goeie spuit verfrisser en gooi ’n kraledoilie daaroor.

Ek kan nie wag om hierdie oumansreukbewysstuk onder die neuse van my twee Willemiens te druk nie. En om ’n sekere Wiena openlik die hof te maak nie.