Carna wil haar hare uit haar kop trek. Kan die vent nie sagter kou nie? Daar gaan die hand al weer in die popcorn-pak in.

Sy praat graag suiwer Afrikaans, maar springmielies pas net nie vir haar by dié vent nie. Die girts-girts wil haar mal maak. Sy sug en kug, maar dit val op dowe ore.

Die vent is so verdiep in die fliek dat hy sweerlik nie bewus is van sy onaardige kouery nie en ook nie dat hy haar, wat langs hom sit, tot raserny dryf nie.

Sy besluit om haar rug effens op hom te draai om die girts-girts in haar ore te demp. Maar sy kan haar nie teen die geslurp van sy koeldrank voorberei nie. Sy swaai verwoed om.

“Kom jy van die plaas af?”

“Huh?”

“Ek vra, kom jy van die plaas af?”

“Nee, hoekom?”

“Want jy kou soos ’n koei! Dit maak my mal.”

“Vergeet van my. Kyk die fliek!”

“Ek probeer, jou . . . jou . . . lummel!”

Carna is nou so vererg, sy gryp haar handsak, val haar amper te pletter oor sy voete en storm die teater uit. Sy kan nie glo wat pas gebeur het nie.

Hierdie soort gedrag gebeur net in films. Nou waar dink jy het dit gebeur, fluister ’n stemmetjie in haar kop.

Sy wil eers lag kry, maar besluit daarteen. Sy voel verontreg en wil die gevoel nog ’n rukkie koester.

Sy gaan soek skuilte in ’n nabygeleë koffierestaurant en bestel ’n rooi cappuccino en ’n groot sny wortelkoek. Sy is seker dit behoort haar te troos. Dis min dat sy op ’n Saterdag nie foto’s neem nie, en die luuksheid om ’n fliek te gaan kyk val haar nie altyd te beurt nie.

Sy dink weer aan die ongepoetste vent. ’n Mens behoort iets te kry soos teater-etiket. As hulle uitsmyters in klubs kan hê, behoort hulle dit ook vir rolprentteaters te oorweeg.

Sy kan al in haar geestesoog sien hoe hulle die vent agter sy kraag optel en by die teater uitgooi. ’n Glimlag plooi om haar mooi gevormde lippe.

Hy haal die springmieliepit uit wat hom in haar kuif tuisgemaak het.

“Gaan u enigiets anders bestel?” vra die kelner skielik langs haar.

“Nee dankie, jy kan maar die rekening bring.”

Carna is net besig om haar beursie in haar handsak te druk toe ’n stoel skielik omval. Sy sien die pak springmielies te laat. Voor sy of die kelner kan keer, kom ’n paar wit stukkies en die laaste klompie pitte in die boks op haar kop te lande.

“Wat de joos!” gil sy.

“Ek is so jammer!” sê die kelner en help uit pure benoudheid haar romp afvee.

“Los!”

“Dis nie nodig dat jy hom vergil nie; dis nie sy skuld nie.”

Carna herken dadelik die stem. “Dis jy, jou mislike vent!”

“Jinne, maar jy is omtrent opgewen. Chill, man!”

Carna trek haar oë op skrefies. “Ek sal graag by jou ma wil weet waarmee sy besig was toe sy jou maniere moes geleer het.”

Sy gryp haar handsak en storm by die koffierestaurant uit. Sy bewe so van ontsteltenis, sy kan amper nie die parkeerkaartjie in die masjien druk nie. ’n Paar sekondes later sien sy sy moet R7 betaal.

Toe sy haar beursie oopwoel, besef sy sy het die kelner haar laaste kleingeld gegee. Sy het net twee R100-note in haar beursie. Vir die spul kleingeld agterna sien sy nie kans nie. Uit pure frustrasie stamp sy haar voet op die vloer nes ’n stout kleuter.

“Staan soontoe,” sê die teaterlummel en druk die nodige muntstukke in die masjien. “Daar’s hy! Jou kaartjie is betaal.”

Hy haal die springmieliepit uit wat hom in haar kuif tuisgemaak het en gooi dit op die vloer. Carna hap soos ’n vis in die lug. Sy het skielik niks om hom mee toe te snou nie, behalwe ’n sagte, ongemaklike “dankie”, waarna sy haar uit die voete maak.

’n Week later sluit Carna haar kothuis se deur agter haar toe. Sy is op pad na ’n nuwe kliënt. Alles wat hy vir sy nuwe bemarkingsveldtog in gedagte gehad het, het hy elektronies aan haar gestuur.

Terwyl sy bestuur, oordink sy weer alles. Gewoonlik verkies sy om eers persoonlik met die kliënt te gesels voor sy sommer ’n projek aanpak. Maar mnr. Ungerer het gesê sy kom op aanbeveling en hy sou in elk geval nie tyd hê om haar eers persoonlik te spreek nie.

Die dokumente en inligting wat hy aan haar gestuur het, wys hy is baie professioneel en weet presies wat hy wil hê. Sy hoop haar eie gevoel van wat kan werk, laat haar nie vanoggend in die steek nie.

Die verkeer is buitengewoon druk en sy wonder wat die oponthoud kan wees. Sy ry en stop, ry en stop.

Die volgende oomblik voel sy ’n harde stamp en toe gly haar motor vorentoe, teen die motor voor haar vas. Sy sluk die lelike woord op haar lippe terug en gaan lê moedeloos met haar kop op die stuurwiel.

’n Geklop aan die ruit en ’n benoude manstem laat haar opkyk. “Is jy oukei?”

Sy kan haar oë nie glo nie. Sy ruk die deur oop en stamp met albei hande teen die teaterlummel se bors. “Stalk jy my of wat?”

“Dit was ’n ongeluk!”

“Jy is van ongelukke aanmekaargesit!”

“Jy oordryf.”

“Is dit wat jy jouself wysmaak?”

“Luister, ek is jammer oor jou motor. Gee my jou besonderhede; ek sal alles met die versekering reël.”

Carna sien die motoris in wie sy vasgery het ook nader kom. Die teaterlummel maak weer verskoning en gee haar en die ander motoris ook sy besonderhede. Hy belowe om dit by die polisie aan te meld.

Sy wil doodgaan van skaamte oor haar gestampte kar

Sy besluit om ’n paar foto’s te neem voor sy verder ry. Sy wil doodgaan van skaamte toe sy ’n halfuur later met haar gestampte motor by mnr. Ungerer se woning opdaag.

Die duur Duitse motors in die oprit bevestig sy was in die kol met haar opsomming oor haar voornemende kliënt. Sy besluit om haar kop op te lig en die wêreld waterpas in die oë te kyk.

Dit voel of sy duisend trappies klim voor sy eindelik die imposante voordeur bereik. Voor sy kan klop, maak ’n ouerige man in ’n swart pak die deur oop. “U is seker juf. De Bruyn?”

Carna knik. “Ja, ek is hier om mnr. Ungerer te spreek.”

“Stap gerus deur. Meneer verwag u.”

Hy beweeg uit die pad, en met ’n swaaibeweging van sy hand beduie hy Carna moet voor stap. Sy verkyk haar aan die lieflike huis. Die meubels en skilderye getuig van goeie smaak; niks is oordadig nie.

“U kan opgaan en in die eerste vertrek links van die trap wag. Mnr. Ungerer sal nou by u wees.”

“Dankie.”

Carna stap die trap op. Toe sy by die venster uitloer, sien sy haar motortjie wat skoon skewebek gestamp is in die oprit staan.

“Juf. De Bruyn?”

Carna draai vinnig om. Sy stik byna in haar woorde.

“Jy kan wraggies nie ernstig wees nie!”

“Ekskuus?”

“Wat is jou probleem?” vra Carna nog harder.

“Juffrou, ek het jou iewers verloor.”

“Moet my nie ‘juffrou’ nie! Eers eet jy soos Jaap van die plaas, dan gooi jy my met jou oorskiet-popcorn, en asof dit nie genoeg is nie, ry jy in my vas! Ek dag jy het gesê jy gaan polisie toe.”

“Juffrou, sit.”

“Man, ek wil nie sit nie! Jy is ’n tsoenami op twee bene. Dink jy vir een oomblik ek sal my tyd mors en saam met jou werk?”

“Ek dink daar is iewers ’n misverstand.”

“Nou het ek alles gehoor! Jy het blykbaar al jou varkies verloor.”

Carna vat haar handsak en storm by die deur uit, af met die trap tot in die ingangsportaal. Sy sien die man in die swart pak.

Daar is ’n frons op sy voorkop wat hom nog ouer laat lyk. “Is u op pad?”

“O, beslis!”

“Ek is seker mnr. Ungerer het gesê u gaan bly vir middagete.”

“Mnr. Ungerer is duidelik deurmekaarder as wat ek gedink het.”

Die frons keep nog dieper. “Juffrou?”

“Meneer, ek is op pad. Ek gaan nie hier eet nie, en ook nie saam met u mnr. Ungerer werk nie.”

Sy ruk aan die deur, maar sonder sukses.

“Wag, ek maak vir u oop.” Carna storm weer die duisende trappies af ondertoe, maar gaan staan skielik stil. Voor op haar enjinkap sit die teaterlummel.

“Hoe de duiwel kom jy hier?”

“Met my motor; hoe anders?”

“Ek bedoel hier onder, man?”

“Het jy koors?” vra hy en staan nader.

Carna kyk op na die eerste verdieping. Sy is seker sy hallusineer; by die venster staan nog ’n teaterlummel.

Carna kyk vir oulaas in die spieël. Lydia, haar strooimeisie, glimlag. “Jy lyk regtig pragtig!”

“Ek hoop net mnr. Ungerer dink ook so.” By die voordeur van die klein kapelletjie sien sy hom staan.

“Jy lyk mooi, ounooi,” groet hy haar.

“Dankie! Vir alles. Jou liewe broer het amper veroorsaak dat ek en jy nooit sake gedoen het nie.”

“Ek is net so dankbaar jy het omgedraai.”

Die twee stap saam in die paadjie af. Voor by die kansel staan haar regte teaterlummel.

Net voor haar toekomstige swaer haar afgee, fluister hy: “Is julle seker springmielies pleks van konfetti was ’n slim idee?”