Die kragtige Zeiss-verkyker het die leeu so na aan my gebring, dit voel of ek aan hom kan raak. Sy amper verdorde oë bevestig sy heerskappy oor die trop wyfies hang aan ’n dun snorbaard.

’n Paar maande gelede het ek die geveg tussen hom en ’n vreemde mannetjie aanskou. Afoor het deur sy gewig en gevegsondervinding gewen. ’n Paar keer het ek gedink hy gaan die onderspit delf, maar die jonger leeu was oorgretig en het foute begaan.

Toe hy vlug, het ou Afoor hom ’n ent agtervolg en toe teruggedraf.

Hy’t vasgesteek, na my op die hoë rots gekyk. Dié keer het hy nie sy bolip dreigend opgetrek nie, net stil na my staan en kyk, sy lang stert oor die yl gras heen en weer gevee. Soos altyd in die verlede het ek die alleenspraak begin.

“Dit was amper, nè, Afoor? Was daai mannetjie nie so selfversekerd nie, kon sake anders verloop het.”

Hy’t my stil aangekyk, toe stadig die bloeiende wonde op sy bors en blaaie begin lek. Hy het dit op ’n amper statige, trotse manier gedoen.

“Jy sal maar moet begin om jou vroue te groet, my ou vriend. Jou tyd, nes myne, loop uit.”

Toe doen Afoor iets wat ek skaars kan glo. Hy’t onder die skadu van ’n kameeldoring gaan lê en sy wonde metodies begin lek terwyl sy geel oë heeltyd op my gerig was.

Ek’t met ’n bonsende hart verder gepraat en ek glo hy het my verstaan. Nou lê ek weer hier op dieselfde rotse, nes ’n paar maande gelede, en weer praat ek met die ou leier.

Jy sal maar moet begin om jou vroue te groet, my ou vriend. Jou tyd, nes myne, loop uit.

“Hier’s ’n paar fris jong mannetjies wat jou harem beloer en die dametjies loer terug. Jy sal moet waak dat hulle jou nie pak of jy hulle onderskat nie; onthou, ouderdom tap krag. Ou Afoor, ons grysbaarde se tyd raak minder, nes ons kragte.”

Ek kyk op my Rotary-polshorlosie. My tyd het verstryk. Ek moet gaan. Ek staan op, hang die verkyker om my nek, tel die waterbottel en .375 op. Ek swaai die geweer oor my linkerskouer en haak die waterbottel aan my leerbelt.

Ek merk hy staan op en betrag my aandagtig, skud sy groot kop en begin na sy troppie stap. Aan die ander kant gooi ek die touleer af en klim stadig af.

Vreemd, nie hy of een van die wyfies probeer hier opspring nie. Ek kry so ’n koue rilling wanneer ek dink wat sou gebeur het as een hier bo kon uitkom terwyl ek hulle aan die voorkant bespied.

Ek stap stadig kamp toe, met ’n ompad, want die windjie waai verkeerd en hulle kan my maklik ruik.

Die middagson sak aan die westekant van die ligrooi woestynoseaan van die Kalahari en die veld is vol vreemde en bekende geluide. Die houtvuur brand hoog toe ek by die kamp instap. Eenkant op ’n weggekrapte hoop kole jodel die pappot saggies.

Vir die hoeveelste keer stoot die nostalgie in my op en gaan sit wydsbeen op my hart.

Ek mis my ou klompie, Joseph, Ratel en ou Moses. Ons verstaan en ken mekaar so goed. Soveel kampe, soveel plekke en soveel vure. Ek werp my herinnerings in die vlamme en ’n paar tellings lank staar ek diep in die vuur se gloeiende siel.

Ek gaan sit op die kampstoeltjie langs die opvoutafel, verlang na my kromsteelpyp en my vriende. Buite neem die nagmusiek van die diere toe en ek kyk na Sam, knik vir hom om my koffie te bring.

“Dankie, waar’s die ander mense, Sam?”

“Saam met die mense van die tavern geloop.”

“Wat eet ons vanaand, Sam?”

“Hulle wil braai, maar ek dink nie dit gaan gebeur nie. Mos hulle het baie drinks en bier gevat.”

Die jong mannetjies is ’n veilige afstand weg, maar ek kan net twee sien. Waar sou nommer drie wees?

“Ek gaan sommer boerbeskuit saam met koffie in my tent eet, Sam.”

Ek weet mos hoe dit gaan met ’n klomp buitelanders. Hulle wil die vreemdste goed eet en drink. Ek het my eie beskuit, biltong en droëwors gebring.

“Sê vir hulle ek’s moeg en wil nie gepla word nie. Hulle het gesien wat hulle wou sien en baie foto’s en video’s geneem.”

Ek staan op.

“Hulle moet môre gereed wees. Ek wil teruggaan. As hulle langer wil bly, kan ek reël dat iemand anders hulle kom oppas.”  

Negeuur draai ek die lampie se gaskraantjie toe en gaan slaap. Hulle kom in die vroeë oggendure terug; ek hoor die geraas en vrolike stemme. Ek kyk nie op my horlosie nie, draai om en droom van Afoor. Die hele nag deur gaan die trop leeus tekere, soms dringend, soms dreigend en soms waarskuwend.

Die volgende oggend ligdag blaas ek die eerste blikbeker met koffie koud en slurp dit stadig. Die waterbottel is vol, daar’s ses lemoene in die sakkie en genoeg biltong. My verkyker is op die tafel, die geweer teen die stoel gestut.

“Meneer gaan daai leeu kyk?”

“Ek gaan, Sam. Slaap hulle nog?”

Hy knik en grynslag breed.

Ek staan op, haak die waterbottel, swaai die verkyker om my nek, .375 in die regterhand en sakkie lemoene in die linker.

“Ek dink dit sal die laaste vir my en Afoor wees, Sam. Ek’t gesien daai drie jong mannetjies is lus vir hom en ek wil dit sien.”

Ek lig my hand en loop in die rigting van die rotse. Iets binne-in my vertel my die geveg om die leierskap van die trop gaan vandag gebeur; ek het dit trouens gisteraand gedroom.

In die nag het ek geluister hoe die jong leeus die uitdagingsbrulle uitstoot en die hees basstem van ou Afoor gehoor. Ek klim met die touleer op, trek dit agterna en haak dit vas. Ek skuif stadig vorentoe, tel die Zeiss op.

Die trop lê in die kameeldorings se skaduwee. As ek die ronde pense van die wyfies so bekyk, het hulle gisteraand ’n feesmaal gehad. In my enigheid hoop ek die geveg sal vandag gebeur, nie vanaand nie.

Ek moet terug plaas toe en het reeds te veel tyd saam met die buitelanders deurgebring. Hulle het goeie foto’s gekry en was taamlik stil saans; so stil as wat ’n mens kan wees in die geselskap van Ierse whisky.

Ek spring orent, die kolf van die .375 warm teen my wang. Ek skiet die eerste skoot voor die aanstormende oorwinnaar. . .

Ek swaai die verkyker. Die jong mannetjies is ’n veilige afstand weg, maar ek kan net twee sien. Waar sou nommer drie wees? Ek laat die verkyker die gebied fynkam, maar dit is woestynstil.

Asof op bevel staan die twee mannetjies op, oemf saggies en draf stadig nader. Ou Afoor kom orent, stoot sy brul hard en waarskuwend uit. Die twee leeus antwoord sy waarskuwing, maar kom steeds nader.

Afoor se stert swaai op en af en ek weet hy gaan storm. Hy gee nog ’n waarskuwende brul, en onder sy ou vaal vel knoop die spiere. Dan storm hy.

Ek merk ’n beweging van skuins onder die rotse. Soos ’n geel blits kom die derde mannetjie op hom af en tref Afoor van agter. Die stof warrel en maal en beperk my sig.

Deur die brulle en gromme weet ek een ding: Afoor het verloor nog voor dit begin het. Die ander twee leeus draf brullend nader, maar gaan staan ’n ent weg eerbiedig stil.

Die geel tollende liggame breek van mekaar. Een bly lê, en voor die ander weer storm, sien ek Afoor op sy rug lê soos ’n reusehuiskat met die groot pote in oorgawe in die lug. Deur die stofwalms sien ek die bloederige vernietigingswerk van die uitdager.  

Ek spring orent, die kolf van die .375 warm teen my wang. Ek skiet die eerste skoot voor die aanstormende oorwinnaar; nog een laat die sand in sy gesig spat en hy swenk weg na waar die wyfies hom inwag.

Ek laai blitsig. Nog twee skote in die takke van die kameeldoring laat die trop haastig padgee. Die nuwe mannetjie sal die jong leeutjies verskeur; die enigste begin om sy eie familie te teel. Dit wil ek nie aanskou nie en ek kyk na ou Afoor. Hy’t omgerol en lê op sy linkersy. Sy lyf is bloedbesmeer; sy asemhaling hortend en swak.

Afoor lig sy groot kop moeisaam, kyk my vol in die gesig, en die skok ruk deur my.

Ek klim stadig af, stap geweergereed om die rotse en steek so 20 treë van hom vas. ’n Beseerde ou leeu is dodelik gevaarlik; dit het ek oor jare geleer terwyl ek gejag het. Afoor lig sy groot kop moeisaam, kyk my vol in die gesig, en die skok ruk deur my.

Van hier af kan ek sien die linkeroog is uit die kas geskeur en hang stofbesmeer aan ’n reep sening teen sy maanhaar vas. Die ingewande is uitgeruk, peul stadig uit die verflenterde maag, en daar is reeds groen brommers op die bloeiende lyf van die ou kryger.

Ek stap nog nader. Sy regteroog kyk my stil aan, geen dreigement of waarskuwing in nie, net pyn, skok en ’n smeking.

“Ou vriend, ek is so bitter jammer. Hy was te slinks, jonk en sterk vir jou, maar ek sal jou reputasie in ere herstel.”

Ek lig die geweerkolf teen my skouer, druk die veiligheidsknippie met my duim terug.

“Maak toe jou oog, Oubaas. Ek sal nie toelaat dat die roofdiere jou laaste eer vernietig nie.”

Hy kyk my stip aan. Is daar dankbaarheid in die geelseer van die oog?

Ek trek die sneller byna eerbiedig en skiet hom agter die afoor. Sy stertkwas klap net twee keer, toe is dit stil. Ek druk ’n ander patroon in die magasyn en hang die geweer om my linkerskouer. Onwillekeurig kap my velskoene se hakke teen mekaar en ek raak die rand van my laphoed aan.

“Ek salueer jou, dapper kryger.”

Toe draai ek om en stap in die rigting van die kamp. Daar’s ’n vogtigheid in my brandende oë en ’n seer gevoel in my bors.

“Goed gejag, my ou kryger. Nou kan jy sag slaap. Dankie dat jy solank die pad vir my vooruitgestap het.”