Dit was 2017 se Superrugby-seisoen, die jaar dat die Bulls so versukkeld afgeskop het.

Pa se gesondheid is vroeg in die seisoen geknou nadat die Bulls teen die Stormers én die Cheetahs verloor het. Niks kon hom troos nie, veral nie die Lions se goeie vertonings nie.

Vandat ek 19 jaar gelede my hoërskoolloopbaan voltooi het, gaan ons elke jaar buite seisoen Krugerwildtuin toe.

Pa en ma het onlangs afgetree, maar die jaarlikse ritueel bly dieselfde. Ons is volbloedwoonwamense; nie halfgebaktes nie. Nie ’n boswaentjie met ’n slaapplek wat jy net met ’n leertjie kan bereik of ’n paar tente wat in 15 sekondes opslaan en ’n halfdag vat om af te slaan vir ons nie, dankie.

Nee, ’n reusewoonwa met sithoekies, elektriese bedrading, ’n dubbelbed, stort en toilet, yskas, vrieskas en mikrogolfoond. Die grootskerm-TV gaan ook saam, want pa kyk Cheetahs, Sharks, Bulls, Stormers én Lions in die wildtuin. (Dis nou nie die wildtuinleeus nie; dis die Superrugby-Lions. Daar is ’n groot verskil.)

Die bure kom kyk na die gepak voor ons vertrek. Soos oom Gysbert, die buurman, sê: “Julle moet nog net die klavier en die boerboel se hok ook inpak.” In elk geval, ons lyk ook soos opregte karavaners.

Pa het ’n ekstragroot, stewige kampeerstoel waaruit hy hom orent worstel om te skree en beduie wanneer die Bulls ’n kans op punte verbrou. Ma bly liefs binne. As ’n mens soveel gewig saamdra, verkies jy die lugverkoelde woonwa.

Ek het ook ’n goeie stoel. Terloops, ek hou nie daarvan om saam met ma die groot bakke kos te berei nie. Ek bepaal my by die eet daarvan.

My spesialiteit is die peuselgoedjies so saam met die rugby: die doopsousies en worsies, die biltong, droëwors, tjippies, soutbeskuitjies en kase. Die rugbykykdeel van ons vakansie is vir my die lekkerste.

Pa het nie ’n seun nie. Net vir my.

Hy vra my altyd om saam met hom rugby te kyk. Tuis gaan ek gereeld saam Loftus toe. Dan kyk ek daardie aantreklike, groot, sterk, gespierde Bulls-manne so en ek wens . . .

Soos reeds gesê, 2017 se seisoen het nie goed afgeskop nie.

My pa is ’n Bulls-man en klaar. Die res hol glo ongeorganiseerd agter die bôl aan; hulle kan nie speel nie. Ons was in die Wildtuin toe die Bulls teen die Stormers verloor. My pa was baie rooi in die gesig en hy het swaar asemgehaal.

Ná die sukkelende vertoning teen die Cheetahs moes ma die medisynetrommel uithaal. Pa het regtig nie goed gelyk nie. Hy het ook nie die volgende dag gaan ry om die Groot Vyf te sien nie.

Ek het alleen met die bakkie gery en die groot sak biltong van pure frustrasie halfpad verslind. Al wat ek gesien het, was voëls en nogmaals voëls. My kop was in elk geval nie by die Groot Vyf nie, eerder by die Bulls.

Ek kon dit nie kleinkry nie. 

My helde het voete van klei gehad. En net daar neem ek toe ’n besluit. Blou is nie die enigste mooi kleur nie. Daar is ’n hele groot, groen lewe in die veld, ’n groter lewe as die Bulls se kleedkamer.

En dit wag op my.

Ek het pa ingelig ek is klaar met rugby. Hy was nie geskok of verbaas nie en het sy aandag by sy steak bepaal. Dit was ’n grote, dik en sappig – trooskos.

Die volgende oggend is ek na die inligtingstoonbank voor by ontvangs. Ek het al die aktiwiteite in die park bekyk, en gedagtig aan die baie voëls wat ek raaksien terwyl ek eintlik op soek is na die Groot Vyf, besluit ek op voëlkyk as die nuwe uitdaging in my lewe.

Ek was moeg vir die Groot Vyf én die Groot Vyftien!

Gewapen met ’n lywige voëlboek, pen en lekker sterk verkyker is ek saam met ander beginners op my eerste uitstappie. Die veldwagter wat ons vergesel, sluit vir my ’n nuwe wêreld oop, ’n wêreld sonder skrums en lynstane, sonder bevooroordeelde keurders, verouderde afrigting en swak skeidsregters.

Daar is baie kleur en klank in hierdie nuwe wêreld, en ek besef ál meer wat ook al verder in die seisoen gebeur, ek voel nou vere vir die Bulls. Terug in Pretoria sluit ek by die voëlkundige vereniging aan en gaan gereeld op uitstappies en kampe.

Ek stap baie en leer die afgeleë voëlparadyse van my land te voet ken. Ek maak baie nuwe vriende en die mense by die werk en kerk sê ek het baie verander. Pa gaan soek voor rugbywedstryde nou maar self peuselgoed.

April gaan ek op my tweede voëlkyk-uitstappie in die Drakensberge. Ons klim en stap en ek sien vergesigte en skaars voëls. Ek verluister my aan die gids se voortreflike voëlkennis. Sy geesdrif oor die pragtige oranjeborsberglyster is aansteeklik. Hy loop gereeld in bome vas terwyl hy fokus op ’n skaars gevleuelde maatjie wat iewers bo ons kop skelm sit en koggel.

Ek lag nie saam met die ander vir hom nie. Eers later besef ek hy kom stap ál meer langs mý en kyk mý in die oë wanneer hy vertel en dat ek nooit meer aan die Bulls dink wanneer ek saans my kop neerlê nie.

Ek sien ’n lang, rankerige, maer man in ’n veldwagtersuniform, een met duisend lagplooitjies en bruingebrande hande wat fladderend beduie. Toe hy vra of hy kan kom koffie drink, begin ek vir die eerste keer wonder.

Dalk is dit net vriendskap. Watter regdenkende man sal aangetrokke voel tot ’n lywige vrou in haar laat 30’s, ’n gesette karavaner wat nog jaarliks saam met haar ouers kampeer? So breek die koffiedag toe aan.

Vroegaand hoor ek die getjier van ’n naguiltjie. Dis darem ’n aanknopingspunt: om hom te vra presies watter soort dit is. Dis immers hoekom hy kom kuier: om oor voëls te gesels.

Toe ek klaar gestort kamer toe stap, hoor ek stemme: “Nee, man, jy het die verkeerde adres. Hier woon nie so iemand nie, hoor!”

Ag nee. Hy is vroeg, baie vroeg. Ek moes pa en ma voorberei het op die kuiertjie. Maar voor ek iets in die gang af skree, hoor ek weer pa se stem uit die voorportaal: “Beskryf vir my die vrou wat jy soek; dalk woon sy hier naby!”

Ek hou my kamerdeur op ’n spleet en druk my oor daarteen om beter te kan hoor. “Nee, oom, dis nou moeilik vir ’n man. Hoe sal ek sê? H’m, sy is lank, oom, so lank soos ek, maar nie so erg maer soos ek nie. Sy het, ek bedoel, sy is ’n mooi vol, vollerige vrou. Haar oë is groot en blougroen soos die poele daar bo in die Drakensberge, daar waar die Tugela afstort. H’m . . .”

Watter regdenkende man sal aangetrokke voel tot ’n lywige vrou?

“Waarvan hou sy? Watter soort mens is sy?Dalk help dit ons.”

Dis weer my pa. Op die agtergrond hoor ek ma aan die giggel, seker in die kombuis.

“Wel, oom, sy hou van stap en sy kan lekker ver en vinnig stap. Sy hou van bergklim en 4x4. Sy is mal oor voëls en gelowig, sy kampeer graag, sing mooi en werk by die bank. Sy kan glo nie eintlik kook nie, en ja, nog iets, sy hou ook van sport.”

“Nee, my ou maat, jy is vir seker by die verkeerde huis. Die Linelle wat hier bly, hou nie juis van rugby nie en sy hou beslis niks van die Bulls nie en jy is dan nou ’n Bulls-man.”

Toe bars die voorhuis oop in ’n onverwagte, dawerende gelag wat ’n swerm hadidas sal laat bloos.

“Kom sit, Johannes. Ma, kom ontmoet die man!”

Ek klap my kamerdeur driftig toe.

So hulle ken mekaar en dis natuurlik hoekom hy hier wil kom koffie drink.

Ek voel ’n gloed in my nek. Nou ja, ek sal hom wys. Maar toe ek voor my kas staan, word my hart sag, tot in my knieë, want iewers koggel die piet-my-vrou: “Oë groen-blou . . . ’k hou van jou . . .”

Ek huiwer ’n oomblik – dis net ’n koffie-by-jou-huis-afspraak – maar toe haal ek tog die styfpassende turkoois nommertjie uit, die een wat ek na die werkgeleentheid gedra het nadat almal gesê het ek het so baie verander.

Ma klop sag en loer om die deur. “Hier is ’n jong man wat glo by jou kom koffie drink. Oe, my kind, jy lyk pragtig. So, so mooi.”

Ma se sagte, hees stem daal ’n paar note. Dan styg dit weer jubelend, soos dié van die vleiloerie in die tuin: “Maak gou; hy wag vir jou.”

Pa vlieg vervaard op toe ek by die sitkamer instap.

“Haai, sus, h’m, julle ken mekaar?”

Ek kyk kwaai na die twee mans.

“Hallo, Johannes. Ja, pa, maar van waar ken julle mekaar?”

“O, hierdie jong man is ’n voël van ander vere. Hy vra nog ’n pa of hy by sy dogter mag kuier en ons het toe saam gaan rugb . . .”

“Ons het ’n bier gaan drink,” tjirp Johannes vinnig tussenin.

Toe kom die gedagte by my op: As ek my spelpatroon kon verander en op 37 ’n man kon raakloop, een wat my vlerke gee, dan is dit goed moontlik dat die Bulls se seisoen kan draai. Sy hand gly om my middel en hy trek my styf teen hom aan.

Ek kyk diep in sy oë: “Ek sal julle twee met valkoë moet dophou; so ek sal maar volgende keer saam met julle die Bulls gaan kyk, wie weet!”