Surika! Kom help asseblief gou hier,” roep haar pa van die onderste verdieping af. Surika sit haar pen met ’n sug neer. Sy is besig om deur haar opsommings te gaan. Hulle begin oor ’n maand met die halfjaareksamen.

Sy sien op die groot staanhorlosie in die gang dit is halfagt. Buite is dit al heeltemal donker. Toe sy by haar pa se spreekkamer instap, kan sy haar oë nie glo nie.

Renier, die eerste span se flank, lê op die ondersoektafel oopgesper. In net sy blou oefenbroek. Mnr. Bronkhorst, die nuwe onderwyser, probeer die bloed wat uit Renier se bobeen stroom met ’n vadoek keer. “Sussa, kry vir pa ’n naald, asseblief.”

Surika stap nukkerig hoek toe om haar hande te was en plastiekhandskoene aan te trek. Dan ruk sy die kas oop en kry ontsmettingsmiddel, ’n naald en gare. Sy gee dit alles vir haar pa aan. “En die verdowingsmiddel?” Surika glimlag effentjies.

“Dis op, pa.” Met groot genot sien Surika Renier besef mooi wat dit beteken. Hy is skoon bleek om die kiewe. Surika kry lekker tot in haar kleintoontjie. Renier is die skool se voorste moeilikheidmaker. “Toemaar, dok. Werk hom sommer net so. Die mannetjie is mos dapper,” sê mnr. Bronkhorst.

Dié woorde laat Renier sy tande vasklem en hy kry ’n verbete kyk in sy oë. Ooglopend gereed vir nog pyn. Surika se pa frons. “Is jy seker daar is nie nog ’n botteltjie nie?” “Daar is nog, pa. Ek het net ’n grappie gemaak.”

Renier gee Surika ’n vuil kyk. Haar pa spuit hom in. Sy hande bewe vanaand ekstra erg.

Surika ryg solank gare deur die naald en hou dit dan na haar pa uit. Maar haar pa skud sy kop moeg. “Sal jy sommer, Surika? Jy kan in elk geval baie fyner as ek werk.”

Sonder ’n woord gaan staan Surika op haar knieë. Sy weet wat om te doen. Van kleins af is sy ná ure haar pa se assistent met noodgevalle. Haar ken is nou direk bo Renier se bo-been.

Sy trek haar oë op skrefies en begin stadig en versigtig werk. Haar pa hou die wond se wande mooi vir haar reg.

“Wat het jy aangevang, seun?” vra haar pa vir Renier. “Oom, die ouens het my gedare om ou mev. Oberem se tuindwerg te steel.” “Sonder jou hemp?” vra Surika, snedig.

“Nee, ek moes dit op die devil’s fork gebruik.”

“Toe gly jy en hang soos ’n sprinkaan aan ’n doringdraad?”

“Nee, Surika. Ek is suksesvol oor die heining. En ek het weer terug oor gekom ook.”

“Met die tuindwerg?”

“Ja.”

“En toe?”

“Mev. Oberem hou baie van haar dwerg.”

“Het sy jou agternagesit?”

“Nee, sy het my eers gesien toe ek oor die heining is. Toe laat sy haar rottweiler los.”

“Dit lyk nie soos ’n hondebyt nie,” merk Surika droog op.

“Daai hond is meer blaf as byt. Maar dit het ek te laat ontdek. Om hom te probeer afskud, het ek kortpad deur die parkie gevat. Die volgende oomblik is daar ’n kraan voor my. Ek het gemik om oor te spring, maar toe trap ek in ’n molsgat.”

Surika lag. “En toe hang jy soos ’n sprinkaan aan ’n kraan.”

“Ek het nie geweet ’n mens kry krane met sulke skerp handvatsels nie.”

“En die dwerg?” vra haar pa.

“Hy het nie die val oorleef nie, oom.”

“Sies! Jy beter vir mev. Oberem ’n nuwe een koop,” dring Surika aan.

“O, hy gaan sommer twee koop. En vir die res van die kwartaal die seunskoshuis se toilette skrop,” sê mnr. Bronkhorst terwyl hy sy hande vryf.

Teen dié tyd is Surika klaar. Sy staan stram op en vryf oor haar knieknoppe. Haar pa gee haar skouer ’n klein drukkie toe sy verby hom loop.

“Dankie, sus.” Surika knik.

“Plesier, pa. Dan gaan ek weer terug na my kamer. Ek wil graag daai hoofstuk vanaand klaarmaak.”

“Reg so, sus.”

“Baai, meneer,” sê sy toe sy loop. Sy groet nie vir Renier nie.

“Pleks jy ook leer; nou tempteer jy ou, onskuldige vroue,” hoor sy mnr. Bronkhorst raas terwyl sy die trap opklim.

Surika sit eenkant in die hoek van die skoolterrein teen ’n akkerboom se stam. Onder haar is ’n digte blad krakende bruin blare. Haar wiskundehandboek lê oop op haar skoot. Sy konsentreer so hard dat sy haar onderlip vasbyt. ’

'n Geritsel digby haar laat haar gesteurd opkyk. Dit is Renier. Gewapen met ’n kruk. Haar pa het dit seker aan hom gegee om hom te help om die gewig van sy gewonde been af te hou.

Sy is verbaas hy gebruik dit. “Ja?” vra sy met ’n geligte wenkbrou.

“Sukkel jy?”

“Waarmee?”

“Daardie formules.”

“Nee.”

Renier kom steunend langs haar sit. Sy bobeen lyk geswel. “Oukei, doen dan daai som.”

Surika probeer. Ná ’n ruk skud Renier sy kop.

“Jy verstaan verkeerd.”

“Goed; doen jy dit dan,” daag Surika hom uit. Binne ’n minuut het hy dit reg. Surika gaan die antwoord twee keer agter in die boek na.

“Mnr. Bronkhorst verduidelik dit verkeerd aan julle.”

“Aan wie?”

“Julle meisies.”

Surika se oë vernou en sy vra: “En hoe sal jy dit aan ‘ons meisies’ verduidelik?”

“Meneer stel dit te ingewikkeld. En julle vrek mos daaroor om alles nog meer te kompliseer. Ek sal dit vir jou vereenvoudig.”

Ná ’n ruk vra Renier: “Verstaan jy nou?”

“Ja, dankie,” mompel Surika.

“Hoekom ek eintlik hier is, is om jou te bedank,” verklaar Renier terwyl hy orent sukkel.

“Waarvoor?”

“Dat jy my been so mooi toegewerk het ten spyte van jou vooroordele. Ek sal nou nie weer kan rugby speel dié seisoen nie, maar . . . ”

Surika onderbreek Renier. “Ek gee nie om oor jou sportvooruitsigte nie. Ek het dit vir my pa gedoen.”

Dis drie dae later. Surika en haar pa sit aan tafel. Een van haar pa se pasiënte het gekanselleer en nou kan hulle saam middagete eet.

’Hoekom is jy, die hartebreker van die eeu, deesdae so op my case?’

“Ek het nog nie weer van die instituut gehoor nie.”

“Mm,” knik haar pa vaagweg terwyl hy nikssiende in die niet staar.

“Dink pa die punte wat ek vir hulle gestuur het, was nie goed genoeg nie?”

“Mm,” antwoord hy weer.

“Pa, hoor pa wat ek sê?”

“Mm.”

Haar pa se afsydigheid raak vir Surika net te veel. Sy stoot haar halfgeëte bord tunaslaai eenkant en staan van die tafel af op. Sy vlug na buite en gaan teen die sykant van hul huis staan met haar kop in haar hande.

Skielik praat iemand langs haar. Sy vee vinnig oor haar wange voor sy haar kop na die spreker draai.

“Surika Vermeulen, jy kan huil. En hier dog ek nog altyd jy dra ysterpanties,” sê Renier en hy lag.

“Wat wil jy hê?” vra sy bars.

“Wat bedoel jy?” “Hoekom is jy, die hartebreker van die eeu, deesdae so op my case?”

“Want jy is interessant.” Surika sug diep.

“Renier, ek het nie tyd vir kinderspeletjies nie.”

“En ek het? Is dit hoekom jy nie van my hou nie?”

“Ja.”

“Hoekom huil jy?”

“Dit het niks met jou te doen nie.”

“Dan raai ek maar.” Surika lag bitter.

“Jy probeer verniet.”

“Jy huil, want jy worry oor jou pa.” Dié opmerking laat Surika haar oë twee keer verbaas knip.

“Jou ma is al drie jaar dood, maar dit lyk nie of jou pa dit ooit sal verwerk nie. En om alles te kroon, is hy besig om hom dood te werk omdat hy vir stilte en die werklikheid bang is.”

“Hoe weet jy dit?” vra Surika geskok.

“Ek is nie stupid nie, Surika. Ek het oë in my kop. Ek het gesien hoe sy hande nou die aand bewe.”

“Hoe maak ek dit vir hom beter? Ek het alles gedoen waaraan ek kon dink.”

“Jy oorreed hom om op vakansie te gaan.”

“Ek het al probeer.”

“Duidelik nie hard genoeg nie."

’n Mens kan nie ’n mens se pa dwing om iets te doen wat hy nie wil doen nie.”

“Weet jy wat sy kredietkaart se verifikasiekode is?”

“Ja . . .” antwoord Surika onseker.

“Gaan soek ’n nommer vir ’n reisagent op Google en bespreek vir hom ’n lekker jagvakansie.”

“Die kode is net vir noodgevalle.”

“Dit is mos ’n noodgeval.”

Surika staan ’n ruk en dink. “Dalk is jy reg. In elk geval, wat het jy kom soek?”

“Plastiekhandskoene.”

“Om wat mee te maak?”

“Mnr. Bronkhorst was ernstig oor die toilette skrop.”

Dis meer as ’n maand later, in die middel van die Junie-eksamen. Renier het nog nie weer met Surika gepraat nie.

“Hoe gaan dit met jou pa?”kom vra Renier onverwags vir haar.

“Ek weet nie. Ek hoor maar min van hom. Hy is in die Bosveld.”

“Het jy hom sover gekry om te gaan?” vra Renier bly.

“Ja, maar dit was ’n gesukkel.”

Dan is dit stil tussen hulle twee. “Gaan jy saam met my matriekafskeid toe?” vra Renier skielik.

“Ekskuus?”

“Het iemand jou al gevra?”

“Nee, maar . . . ”

“Maar wat?”

“Ek kan nie saam met jou gaan nie.”

“Want?”

“Want . . . want . . .”

“Want ek is gevaarlik en jy weet nie of ek jou gaan seermaak nie. En jy kan nie nou seerkry nie. Jy mis jou ma nog te veel.”

Surika antwoord nie. Staar net met groot oë na Renier.

“Jy hou jou net so tough omdat jy dink dis al manier om te oorleef.”

“Nonsens, Renier. As jy so aangaan, dan neem jy nog oor by Dr. Phil.”

“So?”

“So, wat?”

“Vertrou jy my al meer?”

“Ek weet nie.”

“Jy kan maar. Ek het al genoeg in my lewe opgeneuk om iets kosbaars te kan raaksien.”

Surika staan en bekyk Renier skewekop. Dan begin sy saggies lag.

“Renier Maree, waar het jy geleer om jou hart so in jou hande rond te dra?”