Claudie hardloop die trappies van die roltrap op die Gautrein-stasie in Centurion twee-twee uit.

Vandag is die laaste dag dat sy kan bekostig om laat te wees. Die trein se deure het net oopgegaan toe sy die platform bereik. Gelukkig bondel die passasiers soos elke oggend nes skape voor die deure saam. Dit gee haar die ekstra tyd wat sy nodig het.

Maar sy is so moeg, sy kan amper nie op haar twee bene staan nie. Sy weet dit is wensdenkery dat ’n man sy sitplek vir haar miltsteek sal afstaan. Die gryskop kyk vinnig weg en die ander lees koerant of maak of hulle ernstig besig is op hul slimfoon of tablet.

Risiko is nou maar eenmaal haar besigheid.

Sandton-stasie kom gelukkig vinnig nader en sy kan uber tot voor hul imposante kantoorgebou. Sy voel steeds uitasem – dalk is dit die spanning oor vandag se belangrike vergadering.

As aktuaris rus nogal heelwat verantwoordelikheid op haar skouers om seker te maak die syfers is gunstig vir hul maatskappy en die onderskrywers is terselfdertyd ook gelukkig. Risiko is nou maar eenmaal haar besigheid.

Net voor sy deur die groot glasdeure loop, kom ’n ouerige vrou van voor en kyk afkeurend na haar broek. Sy wonder wat die vrou se probleem is. Dit is ’n nuwe broek wat sy eergister gekoop het, juis vir vandag – haar bankrekening meer as R500 leër.

Toe die ontvangsdame ook kug en met haar vinger na Claudie se broek wys, buk sy af om te kyk wat skort. Maar sy kan niks sien nie. Sy klim in die hysbak. Gelukkig is sy alleen. Sy skep asem en kam met haar vingers deur haar hare. Sy wil goed lyk vandag.

Dit is toe sy afkyk dat die hysbak se spieël antwoord: “Jou broek het die grootste gat in die land.”

Claudie klap die broek asof dit aan die brand is. Sy voel hoe sy nie net sweet nie, maar hoe die salpeter uitslaan.

Paniekerig storm sy die hysbak uit. Sy tref ’n kollega in die kleedkamer aan en smeek haar om haar winkelsentrum toe te vat. Tienuur begin die vergadering en sy wil nog ’n keer deur haar voorlegging gaan. Sy moet ’n nuwe broek kry en vinnig ook.

Gabby laai Claudie voor die sentrum af.

“Dankie, Gabby! Jy red my lewe!”

Gabby giggel en wys met haar duim boontoe.

“Sterkte! Koop nou ’n sexy broek!”

Soveel ongeskikte verkoopsvroue in een oggend is genoeg om jou kolon op ’n knop te trek.

Claudie weet sy het nie die wêreld se tyd nie. Sy sal vinnig moet aanpas en haar kieskeurigheid vir ’n ander dag los. Sy hardloop die eerste klerewinkel binne, maar is ewe gou weer daar uit. As aktuaris verdien sy nie te sleg nie, maar daar is perke aan uitbuiting. Dan staan sy liewer net in haar broekie en doen die voorlegging.

Sy wil lag vir haar eie grappie, maar besef sy het nie eens vir stuitigheid tyd nie. Ná vele boetieks en naamwinkels kry sy eindelik in ’n kettingwinkel ’n broek wat haar pas en selfs haar kurwes komplementeer. Maar sy is gedaan; soveel ongeskikte verkoopsvroue in een oggend is genoeg om jou kolon op ’n knop te trek.

Agter die toonbank staan ’n vriendelike mannetjie met ’n combover en blink gepoetste skerppuntskoentjies.

Die laaste een het haar wenkbroue gelig en haar mond geplooi soos juf. Rottenmeier toe sy Claudie vra hoeveel sy dan bereid is om vir ’n goeie kledingstuk op te dok. ’n Mens moet immers betaal as jy gehalte soek.

Maar Claudie was moedswillig. Sy het haar wenkbroue op dieselfde manier gelig, juf. Rottenmeier se pruilmondjie probeer naboots en haar toe duidelik laat verstaan sy soek net ’n langbroek en nie ’n aandeel in haar winkel nie. Sy het met haar kop omhoog die winkel uitgestap.

Sy merk die parfuumwinkeltjie aan die oorkant van die gangetjie en draf vinnig soontoe. Agter die toonbank staan ’n vriendelike mannetjie met ’n combover en blink gepoetste skerppuntskoentjies. Sy duur noupassende hemp en ewe noupassende broek laat haar dink dat hy wel die Rottenmeiers in die sentrum ondersteun. Sy is op die plek weer vies.

Voor sy hom kan stoomroller, glimlag hy die mooiste spierwit glimlag en vra hoe hy haar dag kan opvrolik. Claudie maak van die geleentheid gebruik.

“Ek beleef die aakligste oggend van my lewe. Jy kan besluit of jy dit vir my sal beter maak of nie. Ek sal nie jou belaglik duur parfuum koop nie, maar ek moet lekker ruik. Ek stel dus voor dat jy jou heel beste tester uithaal en my behoorlik spuit.

“Dink jy dis iets wat jy kan doen of moet ek omdraai?”

Die mannetjie vou dubbel soos hy lag. “Jinne, girl, maar jy’s behoorlik op ’n roll. Maar ek hou van jou spirit.”

Hy sak onmiddellik agter die toonbank weg en grawe in een van die vele laaie. Claudie is uit die veld geslaan. Sy het gedink die man sou haar vra of sy haar varkies iewers verloor het.

“Dis jou lucky day. Ek het hierdie ongelooflike nuwe geur net gister ingekry! Staan nader, girl.”

Claudie tree versigtig vorentoe. Die mannetjie spuit met oordadige hale en sy voel sommer hoe die salpeter die wyk neem. Voor sy haar kan keer, val sy hom om die hals. Sy skryf haar naam, nommer en werkadres op ’n stuk papier en belowe om hom vir koffie te neem en te vertel hoe die res van haar dag afgeloop het.

Dit het klaarblyklik sy dag ook gemaak. Met ’n tweede druk, ’n waai en die monster in haar handsak – en ’n nuwe vriend daarby – kan sy die wêreld weer aandurf.

Die groepie onderskrywers en ander belanghebbendes was net vir ’n oomblik vir Claudie intimiderend, maar sy het gou gemaklik geraak omdat sy haar veld so goed ken. Sy moes vinnig leer funksioneer as ’n tegniese bemarker en analis en haar in nuwe, ontluikende velde soos inligtingstegnologie en groot data begeef. Tog weet sy sy kan goed en deursigtig kommunikeer.

Die groep het haar gekomplimenteer dat sy strykdeur objektief was en die belange van albei partye opgeweeg en geëvalueer het. Haar baas het haar ook bedank vir haar deeglike voorbereiding. Tydens ’n koffiepouse kry sy Gabby in die ontspanningsgebied.

“Ek hou van jou broek.” Claudie bars uit van die lag.

“Ek ook. En die avontuur wat ek deurgemaak het om dit te kry!”

Sy vertel Gabby kortliks hoe haar oggend verloop het sedert dié haar by die sentrum afgelaai het. Sy is skaars terug in haar kantoor toe die ontvangsdame met ’n pakkie instap.

“Dit het vir jou gekom.”

Claudie maak dit versigtig oop. Die verpakking op sigself het haar hart gesteel. Dit is met baie moeite en groot sorg toegedraai. Toe sy die lintjie en papier afhaal, is haar hart onmiddellik week. Die botteltjie parfuum is dieselfde geur as die monster in haar handsak.

Die nota lui: “Ek wil die res van jou dag opvrolik. Kom eet vanaand saam met my. Ek wag vir jou in Pigalle. So halfsewe?”

Halfsewe stap Claudie die restaurant binne. Die groot spieëls en kunswerke is opvallend. Sy hou van die detail. Die vrou wat Pigalle se besprekings behartig, stap haar tegemoet. Sy besef skielik sy het nooit die parfuummannetjie se naam gevra nie; sy sien hom ook nêrens sit nie.

Sy wil net paniekerig raak toe die vrou haar vra of sy Claudie is. Met ’n sug van verligting knik sy.

“Hy wag op die balkon.”

Claudie bedank haar en beweeg soontoe. Maar daar is net een mens. Hy staan met sy rug na haar gedraai. Gegewe sy bou, kan hy vir seker nie haar parfuummannetjie wees nie. Maar toe hy omdraai, hoor sy haar naam.

Dit klink soos fluweel, soos ’n sagte pinotage. Teen haar ruggraat voel sy hoe die hoendervel versprei. Voor haar staan die mooiste wese met die mooiste oë. Fity Shades of Grey speel voor haar af. Aktuarisse het ook behoeftes. In ’n paar sekondes dink sy aan alles wat sy met die lyf voor haar kan doen.

Sy lui glimlag ruk haar terug na die werklikheid.

“Wesley het nie oordryf toe hy sê hoe mooi jy is nie.”

“Wesley?”

“Sandton Perfume Gallery?”

“O, my parfuummannetjie.”

“Benewens jou skoonheid, het hy my ook verseker, brand ’n onblusbare vuur in jou. En dat jy by my sal pas, dat ek nie verder hoef te soek nie, dat hy my nimf gekry het . . .” Claudie se mond is droog. Haar hart klop in haar keel.

Skielik is een en een nie meer twee nie, maar die wese voor haar is wel ’n 10 uit 10. Sy is gewoond aan finansiële risiko’s om besluitneming te bestuur in die lig van moontlike toekomstige gebeure en hul gepaardgaande waarskynlikhede.

Maar dit is beperk tot die tradisionele velde van versekering, beleggings, pensioene en gesondheidsorg. Nou wil sy nie met haar verstand dink nie. Sy tree versigtig vorentoe. Hy ook.

“Jy ruik lekker!” “Dis nog van die tester,” glimlag sy.

“Sal jy ons twee ook ’n toetslopie gee?” vra hy en trek haar teen hom vas.