Elizabeth kyk vlugtig op na die enigste ander passasier, die lang, blonde man regs agter teen die spieëlrug van die hyser, toe sy op die 27ste verdieping deur die dubbeldeure instap.

Hy glimlag vriendelik en sy blou oë vonkel. “Goeiemôre.” Hy het ’n aangename stem.

“Môre,” sê sy ingehoue en keer dadelik haar rug op hom soos hysbakprotokol vereis.

Maar dis nie al rede nie. Sy ly aan engtevrees en vermy meestal hysers, behalwe wanneer dit selfs vir haar verspot raak om trap te klim, soos vandag in die bankgroep se hemelhoë toringgebou in Johannesburg.

Daarom moet sy dadelik iets doen om haar aandag af te lei. Gewoonlik is sy bewapen met leesstof, maar vanmôre was een van dáárdie oggende, en toe sy teen die spoed van lig by haar voordeur uitvlieg om betyds vir haar afspraak te wees, nou ja . . .

Elizabeth rits haar groot handsak oop en vat die notaboekie met pen raak nog voor die hyserdeure behoorlik toe is.

Sy begin ekstra aantekeninge maak oor die onderhoud wat sy pas gehad het met die grootbaas van ’n nuutgestigte ouditeursfirma – persoonlike indrukke wat ’n berig altyd ’n bietjie ekstra kleur gee.

“Wat ’n pragtige Louis Leipoldt-lentedag,” hoor sy agter haar toe die hysbak in beweging kom.

Praat die man met haar? Wie anders, Elizabeth? Kom by!

Sy draai haar kop effens na regs en probeer dink hoe die dag buite lyk. By haar meenthuis was die voëls aan die kweel in die bome wat al varsgroen lyk.

“Ja, nogal,” antwoord sy en hoef nie te wonder waarom haar stem gespanne klink nie.

Die hyser hou stil, Elizabeth se maag draai en sy kyk vlugtig op.

“Drie en twintig,” sê die liggie. Die skuifdeure gaan oop en ’n man stap in.

Hy is donker, van gemiddelde lengte, gespierd, en sy baard skyn blou aan sy wange. Elizabeth vermy oogkontak en staan weg van die middel af eenkant toe sodat die nuwe passasier sy persoonlike ruimte het.

“Goeiemôre,” kom dit vriendelik van die blonde man wat nou reg agter haar staan, maar Bloubaard reageer nie; vat-vat net aan sy swart leerbaadjie.

Iets aan die nuwe passasier pla haar, maar sy is nie seker wat nie. Elizabeth dwing haar aandag terug na haar aantekeninge.

Maar hulle beweeg skaars of die hyser wieg weer tot stilstand.

“Een en twintig,” wys die liggie. Voor die hyser sit ’n vrou in ’n rolstoel en ’n man staan gereed agter haar met sy hande op die handvatsels.

Toe gebeur dinge eensklaps en blitsvinnig. Die swartkopman trap vorentoe en druk die knoppie wat die hysbakdeure aktiveer om toe te maak.

Elizabeth se skerp inaseming en die blonde man se kwaai “A nee a, wat maak jy nou?” gebeur so te sê gelyktydig.

“Sjaddap!” sê die donker man en sy regterhand beweeg onder sy baadjie in.

Elizabeth hyggil toe sy hand te voorskyn kom met ’n pistool daarin, en in ’n nanosekonde weet sy wat haar gepla het: die bult onder sy baadjie.

Toe skiet sy linkerarm vorentoe, gryp Elizabeth en pluk haar met haar rug onsag teen hom vas. Die loop van die pistool stamp teen haar ribbes.

Sy gil weer van pyn en skrik.

“Sjaddap!” blaf Bloubaard bokant haar linkeroor.

Sy wil huil en skree, maar besef sy moet saam met die blonde man kalm bly.

Elizabeth voel die man se harde lyf teen haar en besef tensy ’n wonderwerk gebeur, is sy en die blonde man uitgelewer aan ’n gespierde bees sonder goeie bedoelings met ’n moordwapen in die hand.

Bloubaard trek die pistool weg van haar ribbekas en druk die alarmknop met die loop van die wapen. Die skel klank gil en tril, en binne ’n sekonde of drie sidder die hyser tot stilstand.

Toe druk Bloubaard weer die loop in haar ribbes. Elizabeth soek met haar geelbruin oë die blonde man se bloues vir gerusstelling, maar hy fokus op Bloubaard.

“Los haar. Laat sy uitgaan en sê my waaroor die storie gaan.”

Sy stem klink kalm, maar Elizabeth hoor tog die gespannenheid van onderdrukte woede.

“Jy gaan vir ons die pad oopmaak onder in die bank. Jy’s mos een van die grootkoppe. My boys wag daar.”

“Laat haar eers uitgaan.”

“Sorrie, ou, die bal is aan die rol. Die hysbak gaan nou wegtrek ondertoe, bank toe.

"Ek hou jou al twee weke dop. Als is uitgewerk. Die girl het soos ’n unexpected bonus gekom – ekstra leverage.”

Elizabeth probeer haar emosies beteuel. Sy wil huil en skree, maar besef sy moet saam met die blonde man kalm bly.

Toe die hyser begin daal, draai haar oë na hom. Hy kyk direk na haar, knip sy oë stadig en maak hulle weer oop asof hy sê: “Dis goed. Bly kalm.”

Sonder nog stoppe daal hulle ondertoe. Op die grondvloer kom die hyser effens sidderend tot stilstand. Die deure skuif oop en bly oop.

’n Vreemde toneel begroet hulle, so vreemd dat Elizabeth sukkel om die beeld te registreer.

Masjiengewere in die hande van omtrent ’n dosyn polisiemanne in koeëlvaste baadjies met al die lope gerig op die drie mense in die blink bespieëlde kajuit.

Die blonde man se skop teen Bloubaard se elmboog en sy uitroep: “Val plat!” gebeur gelyktydig.

Elizabeth voel Bloubaard se greep verslap en sy gooi haar soos ’n sak aartappels op die vloer. Sy draai haar gesig met haar wang teen die koue metaalvloer van die hyser en kom agter haar hele lyf is soos ’n staalveer gespan.

Al wat sy nou kan sien, is mans in uniform wat vinnig beweeg teen ’n ligte agtergrond van glas en chroom. Asof van ver af hoor sy opdragte en voetstappe, selfs ’n hond wat blaf.

Nader aan haar herken sy uit rolprente die klank van vuishoue teen vlees en been en daaropvolgende uitroepe van pyn.

Sy vermoed dis die blonde man wat sy frustrasie op Bloubaard uitwoed – wraak vir ongevraagde pyn en lyding. Toe voel sy sterk hande onder haar skouers wat haar oplig, arms wat haar opraap en uit die hyser dra.

Sy word op haar voete neergesit, met ’n man se warm borskas teen haar gesig en lyf, en arms wat haar gerusstellend in ’n omhelsing toevou.

Hy ruik lekker – vars, met ’n vae geur van warm naeltjies. Haar hande en arms kruip vanself om sy lyf.

Sy maak haar oë toe. Mag sy maar tot in ewigheid so staan?

“Mnr. Schlebusch,” praat ’n manstem te gou langs Elizabeth, “die bevelvoerende offiser, kol. Visagie, vra of u gereed is om ’n verklaring af te lê? En die juffrou ook.”

“Natuurlik.”

“Baie dankie. Kom saam met my.”

“Hoe voel jy?” vra die blonde mnr. Schlebusch sag by haar oor.

Elizabeth voel hoe sy bloos terwyl sy haar arms om sy lyf losmaak. Haar “Goed dankie” is ’n fluister.

Sy voel effens lighoofdig en haar gevoelens is ’n warboel. “My handsak . . . notaboek,” sê sy werktuiglik en kyk rond.

“Hier, juffrou,” sê ’n hulpvaardige polisieman. Asof dit die natuurlikste gebaar op aarde is, vat mnr. Schlebusch Elizabeth se hand toe hulle agter die polisieman aanstap.

Ná hul verklarings stap hulle weer hand aan hand by die kantoor uit in die luukse voorportaal van die gebou.

“Kom drink saam met my koffie,” nooi mnr. Schlebusch, “met heelwat suiker, en dan stap ek later saam met jou parkade toe. Eintlik wil ek jou wegbring werk toe, want in jou geskokte toestand behoort jy nie te bestuur nie.”

Elizabeth glimlag. “Dankie, maar dis onnodig. Jy moet weet, ek is ’n joernalis in Johannesburg, en ’n ruk gelede moes ek ses maande lank help met misdaadverslaggewing. Die ding is net . . . Ek was nog nooit so lyflik betrokke by ’n aanval nie.”

Op die ingewing van die oomblik gaan staan sy. “Dalk is dit die aangewese tyd om my aan jou voor te stel,” sy giggel effens, “al ken jy my herkoms reeds uit ’n polisieverklaring: Elizabeth Conradie, ondersoekende joernalis by Die Stem.”

“Besonder aangename kennis, Elizabeth Conradie, al sou ek jou graag onder minder dramatiese en meer romantiese omstandighede die eerste keer wou ontmoet het.

"Soos jy ook reeds weet, ek is Stefanus Gerhardus Schlebusch, een van die adjunkte hier. Ongetroud,” en sy glimlag straal soos lente.

Later toe hulle albei met ’n tweede cappuccino voor hulle sit, lug Elizabeth haar verwondering.

“Wat ek net graag wil weet, is hoe die polisie asof per afspraak so gereed en paraat was toe die hyser onder aankom.”

“Moeilik om te sê, maar ek glo nie dis toevallig nie. Eerder ’n wenk wat ’n rol gespeel het, want ons konsulteer al weke lank met die polisie en sekuriteitspersoneel oor hoe om bankmisdaad te bekamp.

"Allerhande planne is intussen al in werking gestel – maar niemand weet presies wat alles nie, want benewens meer sekuriteitspersoneel, beter inligting, fluitjieblasery en reaksie op wenke speel geheimhouding ook ’n rol.”

Stefan vat Elizabeth se hande in syne terwyl sy met ’n lapservet sit en speel.

“Kom eet asseblief vanaand saam met my, Elizabeth. Ek wil van voor af kennis maak, onder minder stresvolle omstandighede. Ek het ’n gevoel jy is die ontwykende fee na wie ek al te lank soek.”

“Hou in gedagte dat joernaliste normaalweg floreer op stresvolle omstandighede. Hulle kan kwalik as feetjies beskryf word.”

“Ja, maar ’n meisie kan nie van stres alleen leef nie en ’n hardebaardsakeman ook nie.”

Elizabeth kyk af na hul hande wat verstrengel op die servet lê en wonder of hul kinders ooit die storie van mnr. Schlebusch en die hysbakdrama sal glo.