Die blonde vrou met die letsels sit in die donker hoekie en speel met die glas wyn in haar hand.

Catriona is ongeduldig. Elke aand sit die vrou in dieselfde hoek tot wie weet watter tyd.

Bedags kruip sy in ’n donker kamer weg omdat die son blase op haar vel veroorsaak. “Nog wyn.” Die vrou kap ongeduldig met die glas op die tafel en die steel breek morsaf.

Catriona is moeg en haar lont is kort. “Nee, jy het genoeg gehad. Uit! Gaan huis toe en loop slaap jou roes af.” Die vrou staan op en waggel onseker op haar voete. “Nog wyn.”

Pleitend.

“Nee. Uit! Skoert!” “Jy gaan spyt wees!” Dreigend. Tillie Venter haas haar langsaam in die rigting van Catriona’s se kleedkamer, haar kelnerinuniform in haar beswete hand vasgeklem.

Sy sweet; nie van hitte nie, maar van angs. Die moontlikheid is sterk dat sy vandag nog sonder werk kan sit. Catriona kan darem ’n verskriklike keel opsit oor die paar sente. Nou-nou dink almal sy’s ’n dief . . .

Speursers. Fred Visagie klim steun-steun uit die stokou geel Mini. Uitklim is nie eintlik die woord nie – hy dwing sy lyf uit. Dis nog vroeg en stil. In die verte knal die branders teen die rotse.

Hy kyk met misnoeë na die modderbruin gebou met die pleister wat plek-plek afval, die vroeë oggendbries koel en vriendelik teen sy gesig. Gisteraand se slapelose nag klop bokant sy linkerslaap.

Neels Faber, die jong rooikopspeurdertjie, hobbel verlig nader, sy gesig bleek onder die magdom sproete. Hy is op krukke weens ’n misverstand met ’n piesangskil die vorige dag.

“Almal is reeds hier, ’sant. Dit lyk my ons het met ’n reeksmoordenaar te make. Verlede week was dit die twee sekswerkers, laas nag die blonde vrou met die letsels, en nou weer. Ek voel of ek kan omval van moegheid,” sy oë stip gerig op die blertse mosterd en tamatiesous op die sersant se imposante maag.

Teen die grou lug begin die oggendson in al die skakerings van goud en blou versplinter.

Die dood het Catriona Nel onverwags en vinnig oorval

Doer ver lê die mistonnels van die groot stad. Die sersant kyk op na die flitsbord by die ingang: Catriona se Kroeg en Braairestaurant. Trots Afrikaans.

Hy mompel iets onverstaanbaars en gaan die kleedkamer binne waar die roetine van ’n misdaadopsporing al begin het: Die distriksgeneesheer het die liggaam reeds ondersoek, die fotograaf kniel op die vloer, en die vingerafdrukspesialis is druk besig op sy pos.

Die kleedkamer is ’n kil vertrek vol oggendleegte – die venstertjie ’n silwervaal reghoek teen die grou muur. Vroeë sonstrale dwing lang vingers daardeur en bewe halfpad by een muur af.

Die dood het Catriona Nel onverwags en vinnig oorval. Die patetiese figuur lê op die sementvloer, die styfgetrekte serp om die seningrige nek. Daar is ’n verbaasde uitdrukking op die bleek gesig, so van die grimering besmeer dat dit amper onmoontlik is om te bepaal hoe sy in haar natuurlike toestand sou lyk.

Tillie sit op een van die kroegstoele, verbasend kalm vir iemand wat so ’n grusame ontdekking gemaak het – haar grys oë is wyd en behoedsaam met net ’n glimp van ’n uitdaging.

Die sersant tik ingedagte op die toonbank, vryf sy bril met ’n vuil sakdoek en trek dan sy sakboekie met ’n sug nader. Hy is so moeg. Die nagte kan lank en eensaam wees, en drank ’n goeie metgesel.

Slaap, die mens se beste vriend, is al jare sy grootste vyand. Sy gedagtes dreig om uitmekaar te jaag van die lang, onderbroke nagte.

Soms wanneer hy so oopoog in die duisternis instaar, verbeel hy hom Willemien is nooit weg nie. As die wonde in sy binneste net wil genees. Herinnerings aan die smalende aanmerkings oor sy gebrekkige viriliteit en haar ontrouheid pluk pynlik aan sy hart, en hy dwing hom na die hede.

Tillie vertel hoe sy haar werkklere wou aantrek en op die toneel afgekom het. Sy is laat die vorige aand daar weg aangesien daar probleme met dronk klante was. Verder weet sy niks. Haar kêrel het haar kom haal, en hulle is reguit huis toe.

Hy staan op en beweeg na die kombuis. Mabel de Klerk laat hom binne met ’n ontevrede blik. Hy voel soos Hansie wat die heks se uitnodiging aanvaar.

Die koddige figuur lyk half gebreklik met ’n indrukwekkende boesem wat kort onder haar ken pryk, ’n ontluikende snor wat menige hoërskoolseun groen van jaloesie sal maak en ’n swart moesie wat soos ’n uitgesuipte bosluis aan haar bolip klou.

Die kombuis is klein, en sy staan tussen die tafel en die stoof vasgekeer. Deur die vaal venster bemerk hy ’n Duitse herdershond so groot soos ’n brahmaanbulletjie in ’n verdagte hurkposisie.

Haar stem slaan met die klank van metaal ’n paar hoë C’s. Met so ’n stem sal ’n dokter ’n breinoperasie sonder narkose kan uitvoer. Nee, sy weet niks. Sy’s laat huis toe omdat sy die vorige aand vroeg geloop het.

Hy ken die soort. Gladde- bek snotkop met sy verlepte toiletborsel-ogies

Daar was ’n klomp rumoerige klante, en sy en Catriona moes hulle later met behulp van die buurtwag verwyder. Toe sy middernag se kant weg is, was daar nog een klant – die blonde vrou in die hoek – en Sam Losper, die kroegman.

Dié lê by al wat ’n vrou is aan; hy het gister sy laaste waarskuwing hieroor van Catriona ontvang. Die gif van die oujongnooi is dodelik. Die sersant kyk aandagtig na die tof met ’n swart streepsnorretjie en gejelde haarstyl. Hy ken die soort.

Gladdebek snotkop met sy verlepte toiletborsel- ogies, brein so dof soos ’n skoendoos en ’n Bugs Bunny-gesig. Een van daardie mans wat dink vroue vind hom onweerstaanbaar. ’n Tikkie minderwaardigheid behoort hom geen skade te doen nie. Losper ly aan verbale diarree.

Die sersant laat hom sy gang gaan. Dis leuens, alles leuens. Mabel is jaloers op hom, en nou probeer sy van hom ’n verdagte maak.

Hy en Catriona was so – en hy druk twee vingers suggestief teen mekaar, as die sersant nou weet wat hy bedoel . . .

Die sersant luister met bittere vermaak. Eens op ’n tyd was sy werk sy lewe, maar deesdae word hy net met die dood en nonsens soos hierdie inligting gekonfronteer.

Hy haat die ondersoekroetine, maar dit verlig die leë reëlmatigheid van sy persoonlike lewe. Soms dink hy daaraan om die diens te verlaat, maar wat sal hy dan met homself aanvang?

Dis aangenaam om weer buite in die warm son te wees met die koel seebries, skoon en sout, teen sy brandende wange. Hy stap na die koffiekroeg oorkant die straat.

Die kind leun skuins oor die toonbank op sy een elmboog terwyl hy oor ’n selfoon praat. Traag sit hy die foon neer. “Ja?” ’n Koel ongeërgdheid in sy toon. Om die hoek loer ’n kleintjie met ’n neus wat aandag nodig het.

Die sersant kyk misnoeg na die taai toonbank. Daar by Catriona was alles ten minste skoon en blink. Die lig het soos in ’n spieël op die donker toonbankhout weerkaats.

“Bring maar koffie. Swart.”

Sy skrik geweldig toe sy voetstappe agter haar hoor, maar glimlag verlig toe sy die plesierige stem hoor

Inkswart vloeistof word voor hom neergeplak. “Ek hoor die ou lady daar by Catriona’s het die emmer geskop.” Nuuskierige oë word gulsig op die sersant gerig.

“Mislike ou heks. Kon nooit ordentlik met ’n mens praat nie. Geen wonder sy’s uitgehaal nie.”

Hy draai vinnig om en verdwyn agter ’n swaaideur. Die sersant beweeg na die kleedkamer. Die spieël is gekraak sodat dit lyk asof sy weerkaatsing soos spookfigure heen en weer spring wanneer hy sy kop draai.

Hy spoel sy gesig af en stap uit.

Mabel se kort beentjies dra haar so vinnig as wat hulle kan deur die donker strate na die losieshuis. Sy is so bang soos nog nooit in haar lewe nie. Die groeiende verskrikking dreig om haar te versmoor.

Die nat aand is vol bondels reën. Die digte mis vou haar toe soos ’n klam kombers. Dis ongelooflik donker. Niks bestaan behalwe die duisternis nie, maar die nag pols van die klank van water.

’n Blok verder lê die brandsiek losieshuis waar ’n mens nie eens ’n behoorlike maaltyd kry nie. Alles opgekook en waterig. Sy verbeel haar sy sien die dowwe stoeplig deur die duisternis wink.

Sy skrik geweldig toe sy voetstappe agter haar hoor, maar glimlag verlig toe sy die plesierige stem hoor. “Onaangename aand, nie waar nie? Is jy op pad huis toe? Jy sal siek word, en dis gevaarlik. Wil jy hê ek moet saamstap?”

Sy huil amper van verligting. “Asseblief.”

“Haai kyk, jou serp het losgekom. Wag, laat ek help.”

Die wolserp word om haar nek geplaas en styfgetrek. Mabel se gesig is ’n studie in ongeloof. Haar mond gaap oop sonder ’n geluid, en die serp trek nog stywer.

Die moordenaar glimlag, maak sagte susgeluidjies en streel oor die kneusplekke aan Mabel se nek, sleep dan die liggaam na ’n grondpaadjie wat tussen die bosse inslinger en struikel tussen klippe en takke deur terug na die motor.

Nat stewels trap stink lugborrels oop uit die modder. Bruin oë blink, die sponserige onderlip nat van die aanhoudende gelek. Die moordenaar haal ’n sakdoek uit en vee sy beswete gesig af.

Hy dwing sy lyf in die motor, haal sy das af en druk dit in sy sak. Daar is geen jammerte of berou nie, net soete wraak. Geen vrou is bestand teen hom nie. Die stokou geel Mini verdwyn in die digte mis.