Kerneels. Kon sy ouers hom nie ’n eksotieser naam gegee het nie? Iets soos Xavier of Elio of Luan. Maar Kerneels?

Toe Lienkie sy naam onder haar selfoonkontakte bêre, het haar vingers stadiger as gewoonlik beweeg. “Kerneels met ’n K?” Hy kon voel hoe sy kollegas na hom kyk terwyl hulle vir die vergadering gaan sit.

“Jip. K soos in kwarantyn.” Sy kyk op en lag. Maggies, sy is mooi wanneer sy lag.

“Moet ons jou nie dalk in kwarantyn plaas nie?”

“Met ’n naam soos daardie – durf ons hom op kliënte loslaat?” vra Jan-Hendrik, wat altyd die laaste woord moet inkry. Hy bêre Lienkie se naam op sy selfoon. Lieflike Lienkie, noem hy haar.

“Hy is die beste verkoopsman.” Dis mnr. Lotter, besturende direkteur van die maatskappy waar hy en Lienkie werk.

“Dankie, meneer,” brom hy en sien hoe Lienkie opkyk.

“Fone op silent.” Lotter se stem is onverbiddelik.

As daar iets is wat hy haat, is dit wanneer ’n selfoon gedurende ’n vergadering afgaan. Lienkie sug en skakel hare af.

Kerneels wil net sy selfoon afskakel toe ’n SMS deurkom.

“Vervelige ou walgwors,” staan daar op sy skerm. Hy sien lieflike Lienkie se naam. Sy trek haar mond op ’n tuit. “Jip,” antwoord hy vinnig.

Dit was die begin van hul SMS-vriendskap soos sy ma daarna verwys, veral wanneer hy tuiskom en gedurende ete boodskappe na Lienkie stuur. (Hy woon nog by sy ouers. Dis goedkoper.)

Hy wil in daardie diepblou oë kyk wat soos swembadwater lyk.

“Praat julle ooit met mekaar?” vra sy ma. “Ek’s seker jy SMS nog eendag die tafelgebed deur.”

“Natuurlik, ma. Maar sy’s mos nie nou hier nie. Hoe anders moet ek kommunikeer?”

“Haar miskien kom voorstel?” Sy pa takel ’n biefstuk soos ’n rugbyspeler ’n bal in ’n skrum.

“Wat het geword van die lekkerpraatwoorde pleks van die leeswoorde wat verkeerd gespel word? Of daai vieslike afkortings. Wmj? Gdg? Sjm.”

“Gdg, pa? Sjm?”

“Gaan dit goed? Sien jou môre.”

“En hoe ken jy die afkortings?” vra sy ma.

Bertus lyk skuldig. “Ek is nie heeltemal uit die oude doos nie, Maria.”

Maria. Kerneels. Bertus. As hy eendag ’n seun het, sal hy hom ’n eksotiese naam gee – veral een waarvan meisies soos Lienkie sal hou.

“Ek praat nie weer oor daardie selfoon nie, Kerneels.”

“Lus om te kuier?” sien hy ’n SMS van Lienkie.

“Ek wens jy wil ’n normale voluitgesprek met my voer,” verwyt sy ma met ’n kwaai blik na die selfoon.

“Sien jou 10:00 by Zenco’s,” kon hy darem nog SMS voor sy pa sy hand vir die tafelgebed vat.

Hy sien uit na die kuier saam met Lienkie. Hy wil in daardie diepblou oë kyk wat soos swembadwater lyk. Hy wil haar stem hoor wat soos water oor spoelklippies klink.

Sy SMS en vou dan die foon in haar hand toe asof dit die enigste ding is waaraan sy wil vat. Sy streel daaroor asof dit ’n minnaar is.

“Kerneels? Waar’s jy?” vra sy ma ná die gebed.

“Besig om SMS’e in sy kop te stuur,” lag sy pa. “Dan is dit vir ’n verandering reg gespel en bestaan dit uit meer as een lettergreep.”

Saterdagoggend tienuur stap hy die restaurant binne. Lienkie sit by ’n tafel met ’n glas water. Sy is besig om te SMS.

“Haai.”

Sjoe, sy is mooier as ’n sonsopkoms. Amper soos Emma Stone in daardie fliek waar hulle so dans. En wanneer sy praat, streel haar stem oor al die regte senuweepunte. Sy praat egter maar min.

“O, haai.” Sy hou nie op met SMS nie. Hy dink hoe hy die gesprek moet benader.

“Lienkie.”

Sy hou aan met SMS. Hy wou voorstel hulle moet deur die park voor die inkopiesentrum gaan stap, maar dit lyk nie of sy in die bui is vir stap nie. Fliek is dalk ’n beter opsie, veral vir ’n meisie wat aan skerms gewoond is.

“Is jy nie lus om te gaan fliek nie?”

Sy kyk na haar selfoon. Hy dink hoe mooi sy in ’n bikini moet lyk en hoe dit moet voel om aan daardie hande te vat wat so driftig met die selfoon speel.

“Daai fliek oor die twee motordiewe. Sal ons?”

Sy glimlag. Dit voel asof sy net vir hom glimlag. Haar oë maak met iets anders as ’n selfoonvenstertjie kontak.

“Ek was lank laas in ’n fliek,” antwoord sy en kyk weer na haar selfoon. Hy dink aan iets om te sê om haar van die selfoon weg te lok.

“Wat wil jy eintlik doen, Lienkie?” Sy trek haar skouers op asof sy nog nie daaraan gedink het nie.

“My eie make-up-reeks hê.”

“Jy het nie grimering nodig nie. Jy’s mooi genoeg,” antwoord hy.

Sy lag. “Is jy regtig? Soos in for real?”

Het hy iets verkeerds gesê?

“Ek is maar net ek,” beduie hy en voel hoe ’n rooi gloed by sy nek uitslaan.

“Kerneels is maar net Kerneels,” lag sy. “Ek hou nogal daarvan.”

“O.” Hy is skoon verbaas.

“Eintlik ken ek jou maar net deur SMS’e. Of as ons by die waterkan of in die hysbak praat. Ons moet iets daaraan doen.”

Hy is verbaas hy het die moed gehad om dit te sê.

“Wat bedoel jy?”

“Ná die fliek gaan stap. Iewers heen ry en gesels.”

Sy frons asof sy nog nooit daaraan gedink het nie. Sy is selfs mooi wanneer sy frons. Haar selfoon biep weer. Sy lees die boodskap. Dan lag sy en begin SMS.

“Ek dink ’n fliek is vir eers ’n beter opsie.”

SMS. SMS. Oor en oor. Hy probeer weer aan haar selfoonhand vat, maar sy pluk dit weg.

“Ja, kom ons gaan.”

’n Kelner vra wat hy wil eet, maar hy het net een begeerte: om hier uit te kom en by haar te wees. Al sit hulle net langs mekaar. Dit sal hom die verskoning gee om sy hand om haar skouers te sit of selfs aan haar hand te vat. Sy SMS weer.

“Lienkie?”

Sy kyk op asof hy gevra het of sy rape vir ontbyt verkies. G’n wonder sy pa verwys na sy vriende as die duimdrukgeslag nie. Haar duime lyk soos die voete van die dansers wat hy nou die dag in daai musiekfliek gesien het.

Sy SMS en vou dan die foon in haar hand toe asof dit die enigste ding is waaraan sy wil vat. Sy streel daaroor asof dit ’n minnaar is.

Sy kyk na hom soos iemand wat op iets wag. Maar wat? Dan sug sy en sit geld langs haar halfgedrinkte bottel water neer. Het sy dalk verwag hy moet dit betaal? Hoe kon hy so dom gewees het?

Sy hou haar selfoon oor die rekening. Klik! sê die Zapper, en klieng! reageer haar selfoon.

“Watse selfoon het jy?” vra sy terwyl hulle fliek toe stap.

“Q6. Neem pragtige foto’s.”

Sy rammel ’n ingewikkelde naam af.

“Ek kan dadelik op Instagram, Facebook en Twitter inteken. Love dit!” Hy gebruik sy kredietkaart om die fliekkaartjies te koop.

Met die naderstap skakel hy sy selfoon af. Dit is ’n goeie gewoonte wat sy pa hom geleer het. “ ’n Mens moet aan die ander mense ook dink, Kerneels.”

Hy koop gou springmielies, maar sy skud haar kop. “Te veel kilojoules.”

Pieng! maak haar foon weer. Toe hulle by die teater instap, sit sy dit darem genadiglik op stil.

Hy probeer sy arm om haar sit, maar sy is so besig om te SMS of SMS’e te lees hy kry nooit ’n behoorlike kans nie. Sy kyk af en toe na die groot skerm, maar eintlik sou ’n mens sweer die fliek speel op haar selfoon.

In die halfskemer sien hy hoe mooi haar bene is . . .

Sy springmielieboks is later leeg. Nou kan hy darem sy hand uitsteek en saggies aan hare probeer vat. Hy dink. Dan waag hy dit, maar sy trek haar hand weg en begin weer SMS.

Die SMS’e hou dwarsdeur die fliek aan en begin hom later irriteer. Ander mense kyk om. SMS. SMS. Oor en oor. Hy probeer weer aan haar selfoonhand vat, maar sy pluk dit weg.

“Gaan gou ’n draai loop,” sê sy naby die fliek se einde. Toe sy vyf minute later nog nie terug is nie, raak hy bekommerd.

Ná 10 minute stap hy na die kleedkamers. ’n Vrou kom uitgestap.

“Is ’n blonde meisie daar binne?” vra hy.

“Nee. Daar is niemand.”

Die fliekgangers begin uitstroom, maar steeds is daar nie ’n teken van haar nie. Uit radeloosheid skakel hy sy selfoon aan om haar te SMS. Drie boodskappe.

“Kerneels met die K, ek dink nie om met jou uit te gaan is ’n goeie idee nie. Jy kan nie kommunikeer nie.”

Nommer 2: “Ek hou ook nie daarvan dat ek vir my eie water moes betaal nie. Sies. Jy’t nie ’n idee hoe om met ’n meisie te werk nie.”

Nommer 3: “Ek maak hiermee amptelik met jou uit. En buitendien, ek hou niks van jou naam nie.”

Maandag maak Kerneels in sy ma se tuiskantoor ’n draai.

“Is ma darem nog lief vir my?” vra hy. Hy sit ’n 5 L-kan water voor haar neer.

“Kerneels?”

“Ek mis volsinne, ma. En ’n mens kan nie water SMS nie.”

Sy ma se lag klink soos droogte wat breek. Agter haar sit haar nuwe sekretaresse, wat eers geamuseerd na die water kyk en dan na hom.

Daar is nie ’n selfoon naby haar nie. Sy lyk skielik vir Kerneels soos ’n outydse volsinmeisie.

As haar naam Gertruida is, sal dit ook in die haak wees met hom.