“Get out!” Toe ’n pistool deur die oop motorvenster teen haar wang gedruk word, skrik Velma so groot haar selfoon gly uit haar hand en beland onder die leersitplek.

“Get out!” skree die man weer. Velma kyk vas in die donker oë wat wydgesper van dringendheid na haar gluur. Weg is die scenario’s wat sy al in haar kop geoefen het; van wegjaag in trurat, geslote deure en vensters en ’n wakende oog op die omgewing, is nou geen sprake nie. Sy word gekaap.

Voor sy kan reageer, ruk hy die deur oop en word sy hardhandig aan die arm uitgepluk. Haar een skoen bly agter. Die pistool word roekeloos rondgeswaai terwyl ’n tweede man die kattebak oopmaak.

Sy kan nie aan die regte optrede dink nie. Moet sy skree of pleit? Of nee, sy het iewers gelees ’n mens moet net kalm bly en hulle gee wat hulle vra. Haar mond is skielik droog en sy herken nie haar eie stem toe sy praat nie.

“Take the car. Just don’t hurt me. Please!” Hy grynslag net en stamp haar in die rigting van die kattebak. Sy wil weer begin smeek, maar sy makker, wat nog nie ’n woord geuiter het nie, druk haar kop eerste by die kattebak in.

Velma dwing haarself om stadig asem te haal.

“Please, just take the car! Let me go!” Die trane kom nou vanself en sy probeer vreesbevange keer toe ’n vuis na haar geswaai word. Dit tref haar skrams teen die slaap. Dis genoeg om haar in ’n ligte beswyming te laat.

Die bak word toegeklap en ’n gitswart kombers vou om haar ingeperkte denke. Dit is haar nuwe Audi TT se brullende enjin wat haar later na die werklikheid terugruk.

Die kenmerklike reuk van nuwe mat en rubber maak haar naar. Haar kop is seer waar die vuis haar vroeër getref het. Sy kan hulle hoor lag en praat in die kajuit. “Here, help my, asseblief. Ek wil nie nou al doodgaan nie,” prewel sy.

Wag ’n bietjie, Francois sal haar selfoon kan naspoor, onthou sy. Hulle weet nie dit lê onder die sitplek nie. Hy het destyds daarop aangedring dat sy die Find my iPhone-app op haar foon laai. Hy sal haar daarmee kan opspoor.

Velma dwing haarself om stadig asem te haal. Sy moet net kalm bly, maan sy haarself. Die dag se gebeure speel soos ’n rolprent voor haar af. Sy word vandag 35. Hel, is dit hoe haar lewe gaan eindig? Gekaap, verkrag, dalk vermoor?

Sy dwing dié moontlikhede met mening uit haar gedagtes. Dié duur motor het Francois haar vroeg vanoggend met groot fanfare geskenk gegee. Dalk was dit sy manier om jammer te sê vir die afgelope jaar waarin hy haar so afgeskeep het.

“My husband is a wealthy man. He will pay a lot of money if you’ll let me go,” stotter sy.

Hy werk dag en nag; naweke ook. Sy het al vele kursusse gedoen om die eensaamheid hok te slaan. Van pottebakkery tot joga. Maar toe sy net ná Nuwejaar die soveelste keer die onderwerp van ’n baba ophaal, was sy reaksie weer die lont vir nog ’n onstuimige uitval.

Skielik hou die bestuurder stil. Haar lyf skuif saam met haar gedagtes tot teen die agterkant van die kattebak. Sy het geen benul hoe lank hulle al met haar rondry nie. Dit was net ná vyf toe sy voor hul hek stilhou.

Wat gaan hulle met haar doen? Vrees laat haar na haar asem snak toe die bak oopvlieg. Dis al sterk skemer. “Get out!” beveel die voorbok weer.

Sy huiwer ’n paar sekondes, maar besluit om liewer te maak soos hy sê. Haar kaal voete kry seer op die klipperige grond. Hulle is in ’n verlate veld. “O, Here, asseblief, nee,” fluister sy angsbevange.

Met die pistool op haar gerig, stamp hulle haar in ’n rigting weg van die motor. Dalk moet sy hulle waarsku dat Francois en die polisie teen hierdie tyd seker al warm op hul spoor is.

Of moet sy liewer met hulle onderhandel? Sy kyk om haar rond. Hulle is ’n hele ent buite die stad. Die ligte flonker in die verte. Dit sal nie help om te gil nie. Hier is niemand naby genoeg om te hoor nie.

“My husband is a wealthy man. He will pay a lot of money if you’ll let me go,” stotter sy. Voorbok begin skielik hard en kru lag.

’n Koue rilling loop teen haar ruggraat af. “This car of yours is our payment to get rid of you!” bulder hy terwyl sy makker uit sy keel saamlag.

Velma steek vas en ’n breukdeel van ’n sekonde, terwyl die werklikheid van sy woorde insink, wens sy hy het liewer al die sneller getrek. “He has a new girlfriend and he needs the money.”

Hy geniet nou elke woord wat hy kwytraak. Stukkies van die legkaart val in plek. Velma strompel stadig voort; haar stukkende voete maak nie meer saak nie.

“Neem die lewenspolis uit, my lief. Oor 15 jaar kry jy al jou premies terug. Dis ’n belegging,” was Francois se woorde ’n jaar gelede. As sy te sterwe kom, sal R3 miljoen uitbetaal word – aan hom.

Die Audi, wat nog nie eens nommerplate het nie, is seker ook vir ’n aardige bedrag verseker. Maar die geld wat sy by haar pa geërf het, was seker sy grootste motivering.

Velma se verslaentheid skakel in ’n ongekende woede om. Sy draai skielik in haar spoor om en kyk Voorbok reg in die oë. “You can take the car and I will transfer R200 000 into your bank account tonight. If you kill my husband instead.”

Sy sien hoe hulle stomverbaas na haar staar en dan na mekaar. Daar is ’n lang stilte. Hy beduie met die pistool sy moet kniel.

Velma se handpalms sweet en haar hart klop in haar keel. Is dit haar laaste sekondes op aarde? Sy voel hoe hy die pistool teen haar kop druk. In dié oomblik verloor sy beheer oor haar blaas.

Dan praat Makker vir die eerste keer. Sag, maar dringend. “No,” is al wat sy duidelik in haar verdwaaldheid hoor. Hy en Voorbok stap ’n entjie weg, maar sy bly roerloos op haar knieë staan.

Sy is te bang om om te kyk. Sy hoor hoe hulle gedemp beraadslaag. Voorbok pluk haar aan haar arm op tot op haar voete. “Okay. We’ll go back to your house. You’ll pay us or we’ll kill both of you.”

Tydelike verligting spoel oor Velma. Sy weet hulle sal haar waarskynlik in elk geval doodmaak, maar sy moet nog tyd koop. Hulle boender haar op die agtersitplek in en trek met ’n vaart weg.

Sy sien weer swart voor haar.

Velma voel naar. Sy herken nie die smaak in haar mond nie. Is dit hoe haat en wraak proe? Hoe kon hy so ver gaan om huurmoordenaars te kry?

Terwyl die straatligte se weerkaatsing deur die venster op haar gesig speel, dink sy terug aan haar huwelik met Francois.

Sy is Francois se derde vrou. Dié feit moes haar seker al laat wonder het. Gerugte van sy dwalende oë het haar ore al met die bostelegraaf bereik, maar sy het dit as jaloesie afgemaak.

Sy was 30 toe hulle trou. Hy het haar tot in die afgrond bederf – duur juwele; oorsese reise – tot haar behoefte om ’n kind te hê alles tussen hulle begin bederf het.

Hy het hom net ál meer in sy werk begin begrawe, maar sy wou nie kopgee nie. En nou sit sy hier. In haar duur verjaardaggeskenk saam met twee huurmoordenaars.

Sy sien weer swart voor haar. Wel, hy het haar onderskat; sy sal hom met niks minder nie as gelyke munt terugbetaal.

Toe hulle weer voor die hek stilhou ná wat soos ure voel, sit Velma se hart skielik in haar keel. Wil sy regtig hiermee voortgaan? Maar ’n ongekende bitterheid kom in haar nesskop.

Daar waar ’n baba moes ontwikkel het, broei nou onheilspellende wraak. Die hek skuif geruisloos oop. Hy is tuis; die ligte in sy studeerkamer brand.

Nadat sy die voordeursleutel aan die twee uitgewys het, verdwyn hulle geluidloos in die donker. Velma sit roerloos tot hulle buite sig is. Dan buk sy af en soek haar motor se spaarsleutel in haar handsak, wat steeds op die vloer lê.

Sy klim tussen die sitplekke deur en neem agter die stuurwiel plaas. Sy hoor twee skote en dan nog twee! Haar hande bewe onbedaarlik, maar sy kry tog die sleutel in die aansitter.

Sy skakel die motor aan en voel die koue staal van die pedaal onder haar voet. Oomblikke later strompel Francois met ’n rewolwer in die hand by die voordeur uit.

Hy moes die ander twee doodgeskiet het! In die helder stoeplig kan sy die bloed op sy ontwerpershemp sien. Hy is gewond. Hy sak op sy knieë neer en in daardie oomblik kyk hulle mekaar stip in die oë.

Sy sien die verbystering op sy gesig net voor hy inmekaarsak. Dan sit sy die Audi in trurat en gee vet. Die enjin is ewe kragtig as die gevoel wat oor haar spoel: Sy het die laaste ronde gewen. Nou moet sy net haar storie agtermekaarkry voor sy by die polisiekantoor stilhou.