“Jammer, juf. Meyer, maar weens herstrukturering moet Jansen Prokureurs ongelukkig ’n paar personeellede se diens beëindig. Jy is een van hulle.”

“Wag ’n bietjie. Julle kan nie . . .”

“Jammer, juffrou, ons . . .”

“Jammer se voet. Julle weet natuurlik ek gaan CCMA toe!”

Marita swets en stap uit. Sy klap die deur so hard toe, dit laat ’n paar mense by hul kantoordeure uitloer.

Sy klem haar bewende hande saam. Sy sal baie vinnig ’n nuwe werk moet soek. Intussen moet sy maar net harder probeer om nog kliënte te kry vir die sanglesse wat sy aanbied.

'Dis net jou boobse wat serious aandag kort en jou hare wat ons wilder en witter moet kry, dan’s jy haar identical twin.'

Toe sy twee jaar tevore ’n nuwe buurvrou kry met baie geld én baie tyd op haar hande, het sy nie besef hoe dit haar lewe sou verander nie. Petunia Mnisi se man se onderneming, T.M. Furniture Removals, floreer fluks en Petunia bestee daardie inkomste net so fluks. Petunia nooi haar gereeld vir stinkblink, oordadige teepartytjies. High tea, noem sy dit.

“Tshepo kan blerrie bly wees sy vrou is so ’n goeie manager,” spog sy dan. “Ek sorg sy onderneming loop op oiled wheels en organise gedurig vir hom nuwe kontrakte.”

Marita onthou daardie dag in Julie toe sy Petunia ontmoet. Sy was net klaar met haar laaste sangles vir ’n ongeskikte, bedorwe brokkie toe haar deurklokkie lui.

“Sowaar Dolly Parton die tweede,” sê Petunia en gaap Marita oopmond aan langs haar klavier. Sy loop om haar soos ’n boer om ’n skouperd. Petunia vat bewonderend aan Marita se blonde, krullerige haredos.

“Dis net jou boobse wat serious aandag kort en jou hare wat ons wilder en witter moet kry, dan’s jy haar identical twin,” straal Petunia asof sy die agtste wonder van die wêreld ontdek het. Marita kyk fronsend na die vrou voor haar. Is sy gek?

“Gelukkig is daar nog baie tyd voor die kompetisie,” gaan Petunia voort.

Marita se mond hang oop. “Watter kompetisie?”

Petunia rol haar oë. “Lees jy nie koerant nie?”

“Waarvan praat jy, Petunia?”

'Niemand gaan raai hierdie paar DDD’s is nie my eie nie.'

“Wag, ek’s nou terug,” sê sy en hardloop by die voordeur uit.

Die advertensie in die Engelse Sondagkoerant is op bladsy ses: “Impersonators wanted for a Dolly Parton and Kenny Rogers show. The most magical show ever. At the super luxury Tulawhala Game Lodge in Mpumalanga. Date: 19 December.”

Petunia se oë blink. “Ek was some time ago by so ’n show by Emperors Palace. Toe twee Amerikaners Dolly en Kenny probeer namaak.”

Sy sug dramaties. “En ek sê jou, Marita, jy lyk baie meer na Dolly as daai Amerikaanse Sherry Gordon wat hulle import het.”

Marita kyk weer na die advertensie en sluk ’n paar keer toe sy die prysgeld sien. Genoeg om haar behoorlik uit haar geldpenarie te red.

Petunia slaan haar vuis op Marita se kosbare klavier. “As ek nog nooit ’n challenge gehad het nie, is hierdie die een. Waar begin ons?”

Petunia was onstuitbaar. Danksy haar vrag Dolly-CD’s en die internet bemeester Marita gou Dolly Parton se countrystem, lyftaal en maniertjies.

Sy koop vir haar ’n opstootbra en oefen ure voor die spieël. Nie lank nie en sy sing Jolene, Islands in the Stream en Country Road net so goed soos Dolly self.

Petunia wys vir haar opnames van vorige Dolly-en-Kenny-uitvoerings en hoe die twee saamgewerk het. Marita geniet haar Dolly-transformasie. Haar gesig, neus en nekkie is geen probleem nie. Die middeltjie ook nie.

Marita is in ’n donkerswart bui en lê heeldag soos ’n vrot sak patats op haar rusbank.

“Jou make-up is nie Dolly-style nie,” verklaar Petunia en sit ’n klomp buisies, swart potlode en kwassies voor haar neer.

Check nou mooi uit wat ek alles doen. Jy moet self leer; ek kan dit nie elke keer vir jou doen nie.”

Petunia plak ’n groot foto van Dolly se gesig teen die spieël en begin soos ’n kunstenaar werk. Selfs die vals moesie onderaan Marita se linkermondhoek lyk eg. Sy sit haar boude moeg voor Petunia klaar is.

“Nou moet ons nog net vir jou lekker dik eyelashes en lang naels kry. En daai modest voorkant van jou kort serious aandag. Jou push-up-bra werk nie regtig nie.”

Petunia ken iemand by ’n klerefabriek wat spesiale ballonbra’s maak.

Sy verduidelik: “Jy koop net ’n deepplunging bra drie sizes groter as jou gewone een en manoeuvre dan daardie dik lycra-halfmaanballonne tussen die bra en elke bors in. Aan die onderkante.” Dis boonop gewaarborg om nie af te blaas nie.”

“Eisj, Petunia,” rek Marita haar oë kort daarna. “Niemand gaan raai hierdie paar DDD’s is nie my eie nie.”

Helaas. Die hoopvolles by die oudisie het almal gelyk asof hulle óók Dolly se identiese tweeling is. Maar Marita byt vas en gaan uit haar pad om elke keer haar ballonbates reg te draai vir die kameras en te sorg haar spierwit tande vang die skerpste ligte.

Haar blink rooi rok, met die selfs blinker fraiings onderaan die moue, trek aandag en sy doen moeite om haar arms nes Dolly s’n te swaai terwyl die fraiings saamswiep.

Toe Marita nie wen nie, word sy ’n troosprys aangebied as ’n reserwe die aand van die 19de. Sy moet net klaar opgedollie in ’n kleedkamer wag, sou die wenner dalk ’n enkel breek.

So sit sy toe daardie aand in spanning en wag saam met Petunia en die reserwe van die Kenny Rogers-nabootser, Kelvin Roux.

Anders as Marita is Kelvin se singery nie om den brode nie; dis sy stokperdjie. Hy doen dit al jare so tussen sy studie deur, vertel hy. Marita kry ’n bitter smaak in haar mond toe sy hoor hoe geesdriftig die gehoor die nabootsers oor en oor toejuig.

Eindelik kry dit klaar en Kelvin en Marita ontvang hul skamele tjekkies, haal hul grimering af, groet en vat die pad.

Marita en Petunia is doodstil in die kar op pad huis toe. Die volgende dag is Marita in ’n donkerswart bui en lê heeldag soos ’n vrot sak patats op haar rusbank. Drie-uur lui haar selfoon. Petunia, sien sy op die skermpie.

'Ek het besluit jy en daai hunk van ’n Kelvin Roux is damn beter impersonators as die twee wat gewen het. So, ek gaan vir julle ’n north-to-south-Dolly-en-Kenny- toer organise.'

“Maak jou hek en voordeur vir my oop. Ek het wonderlike nuus.”

Sy is nie lus vir Petunia se ewige optimisme nie, maar doen dit.

“Ek het besluit jy en daai hunk van ’n Kelvin Roux is damn beter impersonators as die twee wat gewen het. So, ek gaan vir julle ’n north-to-south-Dolly-en-Kenny toer organise.”

Petunia kyk ernstig na Marita. “Ek was vanoggend by Kelvin en nie net is hy game nie; hy is moewies geesdriftig. Hy’t onlangs sy LL.B. gekry en wou eintlik ’n jaar lank die land vol gallivant voor hy ’n legal practice join. Maar hy scheme my toer gaan baie lekkerder wees.”

Marita huiwer nie. “Ek is daar, Petunia. Stoom voort, vriendin.”

Petunia bespreek ’n klomp skool- en kerksale en vakansieplekke se verhoë. Van Coetzervallei tot Lemoenfontein en selfs Dewaalville se boereskou. Die peperduur kaartjies verkoop soos soetkoek en Petunia sorg vir wonderlike backtracks by elke vertoning.

Kelvin en Marita leer mekaar besonder goed ken en hul kyke op die verhoog raak ál intenser. Die 50ste keer dat hulle optree, is by ’n vakansieoord net buite Stilbaai. Danksy Petunia se internetbemarking is daar mense van Swellendam, Riversdal en Mosselbaai.

Petunia het ’n meneer van ’n markiestent gereël. En dis sowaar die eerste windstil aand in weke, vertel almal vir Marita. Alles is perfek, van die beligting tot die klank.

Toe Marita en Kelvin hand aan hand binnestap, kyk hy ekstraspesiaal na haar. So ’n lang ek-begeer-jou-kyk.

Die gehoor juig dat die tentflappe bewe. Net voor hulle groet en wegloop, vra iemand mooi nog net een Dolly-nommertjie.

Kelvin en Marita leer mekaar besonder goed ken en hul kyke op die verhoog raak ál intenser.

Marita knik, skuif die mikrofoontjie voor haar mond reg en tel die dogtertjie wat ’n ma vir haar aangee glimlaggend op. Almal kyk bewonderend na haar terwyl sy Lucille uit volle bors sing.

Sy druk die kleintjie styf onder haar boesem vas, maar sien nie die versiering met die skerp pen in die kind se poniestert nie. Die dogtertjie wriemel en Marita voel hoe die ballon onder haar linkerbors deurboor word en begin afblaas.

Sy sien die kabel van die vloerbeligting langs haar en skop ’n paar keer hard daaraan tot dié se prop uit die verlengtou loskom. Toe sit sy die kleinding neer, gryp Kelvin se hand, hardloop in die donker tot by hul motor en woema Stilbaai toe.

Daar gekom, bespreek hulle plek in ’n gastehuis en gaan met ’n bottel wyn op die plek se stoepmuur sit.

“Die Dolly-en-Kenny-toerdery was verskriklik lekker, maar nou’s ek klaar,” verklaar Kelvin.

“Ai, hoe moes ek nou weet die ballon gaan afblaas,” sê sy.

“Ek is eintlik bly.” Hy glimlag. “Want ek wou jou lankal iets vertel.”

“Wat vertel?”

“Ek sluit oor ’n maand by ’n regspraktyk aan en soek ’n persoonlike assistent.” Marita se hart klop in haar keel.

“En . . .”

“En jy sal ideaal wees daarvoor.”

Sy juig stilweg. Armoede afgeweer.

“Wat gaan ek met al my Dolly-outfits doen?” mymer sy.

“Bêre dit diep weg. Die ballonne ook.”

“Om so op te dollie was darem lekker.”

“Miskien. Maar sal dit nie lekkerder wees om jou in ’n trourok op te tof nie?” Marita frons. “Hoekom sal ek dit nou wil doen?”

“Om te trou, natuurlik. Hoekom anders?”

“Met wie nogal?”

“Met my. Dis nou as jy instem om mev. Kelvin Roux te word.”

Hy trek haar nader en gee haar ’n regte, egte, onnagebootste soen.