Wat het sy tog nou weer aangevang?

Dit is so onvolwasse om op uitdagings te oorreageer. Maar om haarself vir Boer Soek ’n Vrou in te skryf is seker een van die domste dinge wat sy al ooit gedoen het. Iemand het haar uitgedaag, anders het sy nie haar nek uitgesteek om afgekap te word soos ’n skilpad wat nie gevaar voorsien nie.

Hier sit sy nou waaragtig saam met drie vreemde vroue in ’n onbekende sitkamer, en die man wat oorkant hulle op ’n stoel soos ’n troon sit, is ’n harige, bruingebrande boer in kakieklere, met vaal hare en kritiese bruin oë. Hy moes hulle uit ’n klomp hoopvolle idiote gekies het.

Hulle weet hulle sal stap vir stap uitgedun word tot net een oorbly.

Die aanbieder van die program kom ingefladder. Sy is so mooi dat die boer se oë omtrent uitpeul toe hy na haar kyk, maar haar kan hy mos nie kry nie.

“Boet Swanepoel, ons aantreklike boer uit die Karoo, het ’n enorme skaapplaas en hy soek ’n maat om dit met hom te deel,” koer die aanbieder.

“Hy is 30 jaar oud, vlytig en flink en rook nie. Hy hou nie daarvan dat vroue rook nie. Hy drink, maar hou altyd matigheid voor oë.”

Haar klere sit seker te styf aan haar, want die boer bekyk haar half krities.

So, hy hou darem van ’n dop, dink Julene. Wel, sy is ’n Bolandse vrou wat graag wyn drink. Wat weet sy van die Karoo? Sy het al daardeur gery en was al ’n paar keer by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees. Die vlaktes is meestal dor en daar is meer volstruise as skape in daardie geweste.

Waarom is dié boer nog nie met die buurplaas se dogter of so iemand getroud nie? Waarom wil hy kies uit ’n klomp dorpsvroue wat dalk nie op sy plaas op die vlaktes gaan aard nie? Sê nou net hy het ’n heks van ’n ma wat verwag sy vrou moet konfyt en seep kook?

Nee, darem nie seep nie. Dit het hulle honderd jaar gelede gedoen. Maar sy sal skaap moet kan verwerk en lewer in netvet maak, of maak ’n mens skaapniertjies in netvet? Hoe groot is skaapniertjies?

Sy vrou sal brood en beskuit en koek moet bak. Sy sal braaiboude moet kan stop en milddadige bykosse maak. Dié boer lyk soos ’n vleis-rys-en-aartappels-man wat dink slaai is bokkos.

Hy klink wragtig asof hy dink dis nie ’n ding wat ’n kuise, ordentlike vrou behoort te doen nie. Sy vererg haar sommer.

Sy self verkies Italiaanse kos, maar dié fris kêrel gaan nie met ’n bakkie lasagne en ’n groenslaaitjie tevrede wees nie. Kyk daai dik nek, groot lyf, kuite en arms. Hy bult van die spiere – en dit kry jy wanneer jy baie vleis eet. Wat het haar tog besiel?

Hier sit sy, ’n maer bleeksiel wat baie lees en ure voor die rekenaar werk, met haar reguit blonde hare wat die haarkapper moet kleur sodat dit nie bruin word nie. Die plaas sal ver van haar haarkapper af wees.

Haar blou oë is sensitief vir die son en sy kry hooikoors van stof. Sy is ’n groen huisplant, nie ’n vaal veldplant nie. Haar klere sit seker te styf aan haar, want die boer bekyk haar half krities van bo tot onder.

Soek hy ’n kuise, koekerige vrou? Waarom het hy haar dan gekies? Sy kyk hoe lyk die ander vroue: die hele spektrum van ’n brunet en rooikop tot blykbaar ’n egte blondine.

Hulle is almal sexy en almal kyk na haar asof die kat haar ingedra het. Die kleure wat hulle dra is nogal skel: pers, rooi, goudgeel. Hulle lyk so kleurryk soos ’n klomp Amasone-papegaaie.

Julene voel heeltemal uit haar gemaksone.

“Julle is die gelukkige uitverkorenes,” sê die aanbieder. “Boet het julle gekies uit die pakke briewe en foto’s wat vroue aan hom gestuur het. Het jy gedink dié skone dames het die regte eienskappe wat jy soek, Boet? Terloops, sy naam is eintlik Johan, maar hy verkies Boet.”

Boer Boet kug. “Ja, hulle was die beste van die klomp.”

Sy blik beweeg van die een na die ander en talm op haar. So lank dat sy van ongemak kriewel. Wat dink hy?

“Jy is Julene wat liefdesverhale skryf, nè?” sê hy in ’n diep stem.

"Ja, dis ek.”

Hy klink wragtig asof hy dink dis nie ’n ding wat ’n kuise, ordentlike vrou behoort te doen nie. Sy vererg haar sommer. Wat het haar tog besiel om deel te neem?

Die ander vroue is Judy, Susan en Chantelle. Hulle is ’n laerskoolonderwyseres, ’n eiendomsagent en ’n fisioterapeut. Wat op aarde wil hulle, met hul soort beroepe, op ’n plaas gaan doen?

Sy kan ten minste enige plek skryf, sy moet net haar rekenaar hê.

Hulle kom met kykNET se bussie op die plaas aan. Om hulle wei honderde skape en strek die vlaktes so wyd soos die Heer se genade. Die huis is groot en vierkantig, van bruin bakstene gebou, met ’n blink silwer sinkdak. Daar is sukkelende grasperke en bloekombome wat lyk asof dit na water smag.

Sy kry ’n beklemming. Hoe kan sy, ’n vrou wat van ’n wêreld met berge, wingerde en waterstrome kom, op ’n plek kom woon waar die droogte en hitte al jou vog uitsuig?

Boet Swanepoel neem hulle by sy huis in. Dit is karig gemeubileer, maar die man is mos ’n vrygesel en hy woon hier op sy eie. Sy ma op die buurplaas kom elke dag kyk of hy oukei is, vertel hy.

“Boet se ouers en sy broer en suster en ’n paar van sy vriende kom vanmiddag kuier,” sê die aanbieder.

“Boet gaan braai, maar julle vroue maak slaai en bykos. Wys hom wat in julle steek.”

Julene deel ’n kamer met Chantelle, die eiendomsagent, wat voor ander mense stroopvriendelik is, maar katterig agteraf.

“Het jy dan reeds gekies?” vra die aanbieder verbaas. “Ja, ek weet al wie ek wil hê,” sê hy.

Hulle moet almal in die outydse klein kombuisie slaai maak en aartappels skil. Hulle stamp teen mekaar en almal is gemaak opgeruimd. Die kombuis is ’n chaos soos die vroue meeding om kos te maak.

Julene voel heeltemal uit haar gemaksone.

Boet haal ’n yslike bak skaapvleis uit die yskas. “Ek is ’n bobaasbraaier,” spog hy.

Hy kyk na Julene. “Kan jy kook?”

Ergerlik kyk sy na hom. “Ja, ek kan kook.”

Miskien nie goed waarvan hy gaan hou nie, maar darem. Hoekom vra hy? Sy ma is natuurlik ’n voorslag en hy sal kos soos sy ma s’n wil hê: souskluitjies, potbrood, wat ook al.

Die aanbieder, wat saam met Boet uitgegaan het, kom in. “Boet se familie is hier. Kom ontmoet hulle.”

Julene sit haar messie neer, was haar hande by die wasbak en droog dit aan ’n vadoek af. Waarom het hulle nie kans gekry om te stort en skoon aan te trek nie? Sy voel morsig en haar hare is slierte.

Die mense het met ’n enorme dubbelkajuitbakkie aangekom. Die ma en pa is lekker vet. Die broer en suster is ook nie juis maer nie, maar darem nie so vet soos die ouers nie. Hulle lyk ordentlik, hoewel hulle met kritiese oë na die groep uitverkorenes kyk.

Julene voel soos ’n koei op ’n vendusie. Hulle word voorgestel en Julene moet almal se hand skud. Die ma kyk haar op en af. “Jy’s ’n maer ou dingetjie, maar toemaar, ons sal jou vet voer.”

Julene verstyf.

Daar kom nog motors aan: viertrekke en bakkies. ’n Klomp mense kom bekyk die uitverkorenes en Julene sien hoe fluister en skinder hulle agter hul hande, hul oë blink van nuuskierigheid.

Hy trek haar nader vir ’n soen. Verligting vloei soos ’n tsoenami deur haar lyf.

Sy voel uitgelewer en wens sy kan vlug. Toe sy sien, eet hulle. Sy sit aan ’n tafel en iemand het vir haar twee groot skaaptjops, ’n yslike dik stuk boerewors, skaapribbes, lewer in netvet en aartappels ingeskep. Waar is die slaai?

Almal kyk na haar.

“Eet, meisie,” beveel Boet Swanepoel met ’n wolfagtige glimlag. “As jy my vrou wil wees, moet jy darem iets hê om aan te vat. Jy is net ’n sak bene.”

“Het jy dan reeds gekies?” vra die aanbieder verbaas.

“Ja, ek weet al wie ek wil hê,” sê hy.

Julene voel siek. Sy kan nie eet nie. Wat op aarde soek sy hier? Sy kry ’n pyn op haar maag.

"Alexander?” Haar kat is bo-op haar en hy miaau honger.

Julene probeer uit die newels kom en stoot hom van haar maag af. Sy draai haar kop. Die oë van die man wat sy liefhet, kyk na haar. Sy kop is op die kussing langs hare. Sy steek haar hand uit en streel sy wang.

“Ek is so lief vir jou.”

“En ek vir jou,” sê hy lui.

“Ek het so ’n nagmerrie gehad.”

“Jy kan my later vertel.”

Hy trek haar nader vir ’n soen. Verligting vloei soos ’n tsoenami deur haar lyf. Haar man is nie ’n fris boer nie.

Hy is ’n lang en lenige raakvatter-ouditeur wat nie omgee om haar lensieburgers klaar te braai voor hy sy sappige skaaptjoppies opsit nie.

Hy sit sy hande op haar heupe en trek haar tot teen hom. Dis nie net uit dankbaarheid dat haar lyf teen syne smelt nie.