"A, daar is tannie. Het tannie iets nodig?”

Rina vee met die agterkant van haar hand die sweet van haar voorkop af.

“Nee dankie, kindjie,” sê Cora. “Ek kom kyk net of ek nie vir jou kan hand gee in die kombuis nie. My hande is darem nog bruikbaar, al is my heupe en knieë verby hul rakleeftyd.”

“Tannie hoef vandag regtig niks te doen nie. Anna het geskil wat geskil moet word, die eend is in die oond en ek maak groente en geelrys. Ons sal tannie vir ete kom roep.”

Vir Cora klink dit soos ’n duidelike versoek om nie in die pad te wees nie.

Druipstert stap sy woonkamer toe. Sy’t eintlik gehoop Rina nooi haar om by die kombuistafel te kom sit vir ’n lekker geselsie, maar die kind hardloop so rond met te veel om nog te doen voor die gaste vir ete opdaag.

Sy wou graag uitvra oor Suna se nuwe werk en Pieter se eerste jaar op universiteit en hoe dit met Simon se rugbyloopbaan oorsee gaan.

Maar sy weet wanneer sy in die pad is. Cora tel die tydskrif op en blaai na die blokraaisels, maar haar gedagtes dwaal. Sy neem haar kierie en stap buitentoe.

Op die stoep is ’n lang tafel reeds spoggerig gedek. Rina se mooiste borde, messegoed en wynglase laat alles feestelik lyk.

Dis hoe Rina daarvan hou om vir besonderse geleenthede te onthaal. Anna kom met spierwit gestyfde servette uit wat sy vir elkeen onder sy kleinbordjie plaas.

“Net ingeval die wind opkom, oumevrou,” verduidelik sy.

“Dis reg so, Anna. Die tafel lyk pragtig,” komplimenteer Cora haar. Sy brand om te vra wie genooi is, maar Anna stap vinnig na binne.

Oor my dooie liggaam, tannie! Ons het vir moeder beloof ons sal eendag na tannie omsien. Tannie kom na ons toe, en dis afgespreek

Cora kry die blink gedagte om ’n paar blommetjies in die tuin te pluk vir ekstra kleur op die tafel. Sy sukkel versigtig met die trap af en moet mooi buk by die blommeakker om nie haar balans te verloor nie.

Ja, dink Cora, alles het verander toe sy die ellendige heupvervanging moes ondergaan ná haar val reg voor die kothuis.

Toe sy haar kom kry, lê sy plat op die grond en sy kon nie weer regop kom nie. Die operasie was nie suksesvol nie en snags knaag die pyne. Maar niemand sal haar hoor kla nie.

Sy besef ook lankal haar gehoor is nie meer so skerp nie, veral wanneer die familie gelyk praat. Dan mis sy die gesprekspunt, en wanneer hulle lag, voel sy uitgesluit.

Die afgelope 20 jaar woon sy by Rina en Dolf hier op die plaas. Nou verlang sy skielik na daardie beginjare.

Ek wil maar my woonstel verkoop en na ’n aftreeoord trek,” het sy hulle destyds ingelig.

“Oor my dooie liggaam, tannie! Ons het vir moeder beloof ons sal eendag na tannie omsien. Tannie kom na ons toe, en dis afgespreek.”

Cora onthou hoe lekker dit destyds was om in die kothuis langs haar susterskind se groot plaasopstal te kon intrek.

Toe was sy nog hups en aktief deel van die gesinsbedrywighede. Sy’t die kinders leer swem en lang ente saam met hulle op die plaas en die berge in gestap.

Elke jaar was dit haar trots om die spensrakke vol te pak met bottels vol ingelegde vrugte en konfyt van elke soort.

Saam met Anna het sy die perskes gedroog en die vyerolle gemaak waarvoor die familie so lief is. Maar later is die vrugtebome uitgekap weens ’n siekte. Jaar ná jaar is ’n paar bokke geskiet en geslag tydens die wintervakansies op die wildplaas.

Dan moes Cora die jonges touwys maak met biltong sny. Die gekorswel om die vleistafel en die sagte gedreun van die worsstopper klink nog helder in haar geheue.

Daardie plaas is intussen verkoop toe dit duidelik word die seuns wil nie boer nie. Nou is die kinders groot, uit die huis, en twee is sommer ook landuit. Hulle kom net vir spesiale geleenthede kuier, soos met Kersfees.

Vandag voel sy behoorlik soos ’n toeskouer eerder as een van die span. Verlede week was sy nog goed genoeg om die ellendige harde kwepers te help skil, maar vandag is haar hande deur Rina aan die saligheid belowe.

Sy voel oud en nutteloos en eenkant toe geskuif. Met ’n hand vol angeliere sukkel sy terug en loop Rina in die gang raak.

“Ek soek net twee blompotjies vir die tafel, Rina,” sê Cora versigtig. “Sit die blomme gerus in tannie se kamer. Ek het reeds vir die tafelversierings gesorg,” keer Rina.

“Wat is die okkasie vandag?”

“Ag sommer vir die lekker, tannie,” antwoord Rina en haas voort stoep toe.

Cora hoor ’n motor stilhou en direk daarna Rina se gille, maar dis gille van louter plesier. “Ag, hoe wonderlik!” weergalm Rina se vreugde oor die plaaswerf. “Welkom, julle!”

Toe Simon, Suna en Pieter oomblikke later ingestap kom en Cora kom groet, is sy skoon oorstelp. Wat maak die kinders dié tyd van die jaar hier? Dan is dít waarom die tafel so mooi gedek is. Wat ’n verrassing.

Cora krap desperaat in haar geheue rond. Verjaar iemand? Is haar kop nou regtig besig om haar in die steek te laat?

Suna kom druk haar styf vas en lyk soos ’n model in ’n modieuse pakkie. “Dis so ’n voorreg, tannie Cora,” sê sy aangedaan.

Voor Cora kan vra na watter voorreg sy verwys, kom rokkel Dolf sy dogter af. “Dagsê, my liefste tannie,” groet Pieter haar hartlik en druk haar styf vas.

“Ek wou hierdie dag vir geen geld ter wêreld misloop nie,” groet die gespierde Simon en druk amper haar asem uit. Cora is nou nog meer in die war.

Dit gons om die eettafel en Cora vergeet kortstondig van haar vroeëre gevoelens. Sy kyk haar familie een vir een deur en dink aan die goeie jare saam met hulle.

Hulle is die gesin wat sy nooit gehad het nie. Dolf en Rina se kinders is soos haar eie kleinkinders. Om hulle vandag al drie om die tafel te sien is spesiaal.

Julle moet my nou maar ’n dag se water gee en my neus in ’n rigting druk

Tog bly broei die krapperige gevoel. Die operasie was wel ’n terugslag, maar sy voel nog heel kapabel om ’n nuttige en sinvolle bydrae in en om die huis te lewer.

Miskien moet sy ’n familievergadering belê sodat sy die saak in die reine kan bring. Sy weet presies wat sy gaan sê.

“Ek dink,” sal sy begin, “daar is baie te sê vir die Eskimo’s en ander volke se tradisie om hul ou mense die wildernis in te stuur om elders te gaan sterf wanneer hulle nie meer nuttig is nie. Dis nou soos ek.

“Ek het nutteloos geword. Ek mag nie eens meer in die kombuis help of blomme op die tafel sit nie. Nee wat, julle moet my nou maar ’n dag se water gee en my neus in ’n rigting druk en my groet.”

Dis wat sy sal sê. Sy sluk aan die knop in haar keel. “Tannie Cora is so stil,” sê Dolf van oorkant die tafel. “Voel tannie oukei?”

“Dankie, Dolf, ek makeer niks. Ek sit en dink maar net oor die ouderdom.” Cora lê ekstra klem op ouderdom en sien dit as ’n moontlike opening vir haar toespraak, sou die familie haar die geringste aanduiding gee, maar sy wag verniet.

Almal se oë is eerder vol liefde op haar gerig. “Ouderdom? Van watter ouderdom praat tannie?”

Almal lag saam met Dolf. ’n Koor van komplimente vir Cora zoem skielik om haar sensitiewe ore, woorde wat sy nie behoorlik kan uitmaak nie.

Sy sukkel om verby die ellendige gesuis van die tinnitus enigiets te verstaan. Haar hart sit op loop. Die gesigte begin voor haar sweef en almal se mond beweeg in stadige aksie. Haar hande voel skielik klam. “Tannie!” “Gee haar gou ’n bietjie water,” gebied Rina.

Cora drink dit dankbaar en bly so sit tot haar hart bedaar. Sy was nog nooit een om die aandag op haarself te vestig nie, maar vandag het sy dit behoorlik reggekry.

“Verskoon my,” kry sy dit eindelik uit. “Miskien moet ek maar ’n bietjie gaan lê.” Cora skuif haar stoel agteruit en Pieter snel haar te hulp. “Nie so haastig nie, tannie Cora,” sê hy en maak keel skoon, sy arm beskermend om haar.

“Tannie,” begin hy, “ons het dit sowaar reggekry om op hierdie spesiale dag almal hier te wees. Dit was maar ’n gesukkel om Simon hier te kry, om van Suna nie eens te praat nie. As die jongste is dit my voorreg om op hierdie besonderse dag ’n heildronk op tannie in te stel.”

“ ’n Heildronk? Op my? Hoekom? Dis mos nie my verjaardag nie! Ek sou dit darem seker onthou het?” “Nee, dis nog meer spesiaal.”

Cora kyk die jong man vraend aan. Die deur gaan oop en Anna kom uitgestap met ’n breë glimlag en ’n koek met 20 brandende kersies daarop.

“Tannie Cora,” vervolg Pieter, “dis vandag presies 20 jaar dat tannie hier by ons bly. Hoe kan ons ooit dankie sê vir al tannie se insette as ons tweede ma?

“Tannie het ons help grootmaak en is steeds ons rolmodel, veral oor hoe ’n mens die ouderdom moet benader – grasieus, rustig, altyd met ’n goeie skeut humor en altyd behulpsaam. Beslis nie iemand wat haar hande aan die saligheid belowe het nie.”

“Hoor-hoor!” beaam die familie. Rina knipoog vir haar. Die glasies klingel die heildronk. “Op tannie Cora!”

En Cora klingel haar glas ’n ekstra skoot uit dankbaarheid dat sy nie ’n Eskimo is nie.