Die bejaarde veiligheidswag by die hek probeer die soveelste keer ’n geselsie met Zaan aanknoop. Teen dié tyd weet sy al sy ­gunstelingonderwerpe is rugby en Gauteng se weer.

“Het dame ’n bietjie kom kuier?” vra hy terwyl sy inteken. “Die Blou Bulle het darem gister mooi gespeel, nè?”

“Ja,” sê Zaan.

“Lyk of dit gaan reën.”

“Ja.”

Dis haar standaardantwoord, want sy spaar haar woorde vir die kuier by Hannah de Villiers.


Die klein vroutjie met die groot hart het oornag ’n gestremde geword toe ’n beroerte die regterkant van haar lyf verlam. Die siekte het haar feitlik van al haar menswaardigheid gestroop, maar haar brein is steeds helder en haar spraak onaangetas.

Dit het ’n groot omwenteling in hul lewe teweeggebring.

Hannah is nou aan ’n rolstoel gekluister in ’n kamertjie van nege vierkante meter op die sesde vloer van ’n versorgingsoord met die vrolike naam Blommehof.

Die oord het noodgedwonge haar permanente blyplek geword, want Zaan se huis het te veel trappe en daar is niemand om gedurende die dag na haar ma om te sien nie.

Die eerste paar maande voel dit vir Zaan asof sy ook die einde van haar pad bereik het. Alles is so finaal en buite haar beheer, en wat sy ook al doen om die omstandighede te verbeter, help nie juis om haar of haar ma se gemoeds­toestand te lig nie.

Hannah kla gereeld oor die kos en die personeel wat net Engels praat, maar Zaan glo dis maar haar ma se manier om haar nog ’n bietjie te laat geld.

Sy verf Hannah se kamer room­kleurig, hang die familieportrette op, en elke Sondag pak sy die klein ingeboude kas reg.

Tog bly die kamertjie soos ’n tydelike blyplek sonder warmte of hoop voel. Dis oorvol met die rolstoel, loopraam, yskas en die ou meubeltjies waaraan Hannah steeds so vasklou.

Hannah kla gereeld oor die kos en die personeel wat net Engels praat, maar Zaan glo dis maar haar ma se manier om haar nog ’n bietjie te laat geld. Sy was immers haar lewe lank aktief by haar kerk en politieke party betrokke.

“Ag, my kind, wat weet hulle van my lewe? Op 85 maak ’n mens nie weer nuwe vriende nie.”

Haar ma se stem het altyd ’n bietjie hartseer in.

Maar Hannah herwin ná ’n paar maande die gebruik van haar regterhand en van toe af kuier sy oral in die gebou. Eers by die inwoners op haar vloer wat bedlêend is en dan by dié wat nog op en wakker is op die laer verdiepings.

Dit voel dikwels of haar skuldgevoelens haar verlam, asof sy nie die regte woorde kan kry nie en met elke besoek ’n berg uitklim.

Zaan moet haar dikwels soek wanneer sy kom kuier en dan stel ­Hannah haar trots aan haar nuwe vriende voor.

“Dis nou my dogter, Zaan, van wie ek jou vertel het.”

Die oord is goed vir Hannah, maar vir Zaan bly dit moeilik om haar ma so te sien.

“Glimlag en groet die ou mense,” maan sy haarself, maar dit voel dikwels of haar skuldgevoelens haar verlam, asof sy nie die regte woorde kan kry nie en met elke besoek ’n berg uitklim. Die hekwag se praatjies laat ook nie juis die donker wolke in haar gemoed vervaag nie.

Sonder dat sy wil, leer sy tog van die inwoners ken.

Tannie Magrieta op die stoep by die voordeur saam met haar vriendin tannie Ralie wat ietwat doof is. Die twee is oudonderwyseresse wat jare lank by een van Pretoria se spogskole voor ’n klas gestaan het.

Hulle is altyd deftig geklee met elke silwer haartjie op sy plek, pêrels om die nek en ’n sakdoekie netjies onder die horlosie ingeskuif.

Dan is daar oom Ampie wat al diep in die 90 is, maar steeds die trap na sy kamer op die vierde vloer klim. Hy is ’n oudlanddros wat elke dag twee koerante lees en met wie Hannah lekker politiek gesels.

Zaan lag stilweg toe sy hoor haar ma noem hom oom. Maar nou ja, hy was 20 toe sy 10 jaar oud was en dan is jy oom genoem, dink sy.

Die Du Plooys het jare gelede in dieselfde straat as Zaan-hulle gewoon.

Hannah se grootste geskenk is die dag toe haar beste vriendin ook by Blommehof intrek.

Sy het 65 jaar gelede saam met tannie Rienie in Standard Bank op Kerkplein gewerk. Die Du Plooys het jare gelede in dieselfde straat as Zaan-hulle gewoon.

Tannie Rienie is ’n lywige vrou wat op haar dag die buurt se bobaasbakster was en steeds ’n soetig­heidjie in haar kas wegsteek, al waarsku ’n nota op haar kamerdeur sy mag geen suiker inneem nie.

Skielik is dit asof Hannah ’n tweede asem kry. Sy het nou ’n bondgenoot wat haar lewe weer in konteks kan plaas, want Rienie du Plooy weet en ­verstaan wie Hannah de Villiers was voor sy in ’n rolstoel beland het.

Zaan loer altyd eers by tannie Rienie in voor sy na haar ma se kamertjie onder in die gang stap. Dis nou wanneer sy hulle nie reeds saam op die voorstoep raakgeloop het nie.

Daar klets hulle tot die personeel hulle voor aandete na hul kamers terugstoot. Dikwels kuier hulle weer ná aandete verder, want Hannah weier volstrek dat die lig in haar kamer vroeg afgeskakel word.

Sy vul tot laataand blokraaisels in en soms speel sy ­Solitaire op haar skootrekenaar terwyl sy laatnag RSG luister.

“Dis mos nie ’n skoolkoshuis nie,” sê sy vir Zaan.

Die spraaksame hekwag groet Zaan nou al soos ’n ou bekende en praat soms oor meer as die Blou Bulle en die weer.

“Sien dame die man wat daar op die bankie sit? Dis mos ou Tiger de Lange,” sê hy.

“Die oudbokser. Onthou dame hom? Hy was ’n groot naam op sy dae, maar is voos geslaan. Sit nou net so en staar.”

Die naam lui vaagweg ’n klokkie en Zaan lees later op Google Tiger de Lange was in die 1970’s ’n bekende swaargewig­bokser; hoog op die wêreldranglys en gereeld op die voor- en agterblaaie van die Sondagkoerante.

“En daar sit hy nou dagin en daguit op ’n bankie diep in sy eie gedagtes versonke,” dink sy.

“Vergete en waar­skynlik sonder ’n sent om vir sy glorie­ryke loopbaan te wys.”

Die hekwag vertel Zaan Tiger is nie ’n inwoner van Blommehof nie; hulle albei bly in die enkelkamers langsaan wat ook aan die kerk behoort.

“Die kerk het die plek spesiaal ingerig vir mense wat staatspensioene ontvang en andersins op straat sou wees,” vertel hy.

Die plek het nie ’n naam nie, maar Zaan hoor Blommehof se matrone praat van Huis D en O. Dis glo ’n privaat grappie wat vir Huis Down and Out staan.

Dit laat Zaan wonder of die oues dalk ’n bietjie op hul armer bure neersien.

Nes Tiger sit baie van Huis D en O se inwoners meestal buite in die son. Hulle is gewoonlik omring deur die terrein se rondloperkatte wat hier liefde en kos kry.

Dit lyk nie of Blommehof se bejaardes eintlik met Huis D en O se mense meng nie.

Dit laat Zaan wonder of die oues dalk ’n bietjie op hul armer bure neersien. Want net ’n klein grasperk skei die twee plekke en albei se inwoners praat Afrikaans.

Sy wonder of hulle weet Tiger was lank gelede beroemd en het destyds die Groen-en-Goud vir Suid-Afrika ­gedra.

Zaan neem haar ma een keer per maand uit vir ete. Gewoonlik na Brooklyn Mall, want daar is gerieflike parkeerplek vir mense in rolstoele.

Maar Hannah moet twee keer by die kar in en uit getel word; ’n dooie gewig wat aan Zaan hang en wie se lyf glad nie op haar bevele kan reageer nie.

Dis altyd ’n gesukkel, want oor naweke is die oord se personeel min en Zaan is self al in haar 60’s en onfiks. Maar sy weet hoe baie haar ma na die ete uitsien en sy hou daarmee vol al tap die sweet haar soms af terwyl sy Hannah inlaai.

“Kom, mammie, hou om my nek vas, dan lig ek jou uit die rolstoel. Reg, skuif nou jou linkervoet. Sê vir jou voet om te beweeg, mammie. Een, twee, drie en skuif! Daar’s hy.

"Vat met albei jou hande aan die handvatsel in die dak en trek jou op. Nee, jy kan; dis net ’n paar senti­meter. Ek gaan jou bene inswaai. Een, twee, drie. Moenie styfskop nie, ­mammie. So ja!”

Een Sondag sien Zaan weer vir ­Tiger de Lange op sy bankie by die hek sit waar hy in die verte staar, en skielik weet sy hy is die antwoord.

“Mnr. De Lange?” Die dofheid verlaat vir ’n oomblik sy leë blik.

“Kan jy dalk help? My ma is nie swaar nie, maar ek sukkel om haar in my kar te tel.”

Die groot man sê nie ’n woord nie, maar tel Hannah soos ’n veertjie op. Later die middag stap hy weer nader toe Zaan en Hannah by die hek inry.

“Baie dankie, meneer,” sê Hannah. ­Tiger sê weer niks, maar toe Zaan later huis toe ry, sien sy hom by die vullisdromme by die hek staan, besig om die rondloperkatte uit ’n winkelsak te voer.

Sy hou langs hom stil.

“Nogmaals dankie, mnr. De Lange. Wil jy nie dalk Sondae saam met ons gaan eet nie? Dit sal my taak baie ligter maak as jy my met my ma se draery kan help.”

Die dofheid in die oudbokser se oë verdwyn. Die dankbaarheid wat sy daarin sien, laat haar eie oë verdof van hartseer oor die ou man met sy groot ou lyf.

Sy is al ’n ent weg toe sy hom steeds in haar truspieël sien met sy hand in ’n wuif gelig.