Sweetdruppels rol in my nek af en sprei in groot, bruin vlekke onder my armholtes op die tronktuniek uit.

Vrouelywe bondel saam en druk my soos ’n tjop teen ’n rooster vas. Ons peul soos maaiers uit ’n verrotte moeras deur die staalhekke.

Ek skouer my weg deur benerige ribbes en storm na my bankie in die binnehof. Hulle weet dis my sitplek. Vyftien jaar sit ek al hier.

’n Halfuur lank elke oggend terwyl hulle soos ape aan die tralieheining hang, bakhande uitgestrek na die tronkwagte buite. ’n Halfgerookte sigaret val in die bondel en hulle koek saam soos aasvoëls om ’n karkas.

Met my haarknippie kerf ek die merkie op die plank tussen my bene uit.

Oktober 2016. My verjaardagmaand. Ses en dertig. Soos altyd geen kaartjie of geskenk nie; geen brief of foto nie. Geen besoekers meer nie. Pa en ma se pen­sioengeld is skraps en die hofsaak was duur.

Hoe lank nog? Goeie gedrag tel ­blykbaar niks. On­skuldig sit ek nou al 15 jaar. Vier steeds my 21ste verjaardag.

Veels geluk, liefste Liela! Dankie dat jy so ’n voorbeeldige en liefdevolle dogter is. Dankie dat jy so hard gewerk het aan jou graad in die skone kunste.

As blyk van ons liefde het ons vir jou ’n reis bespreek om die wonders van Kambodja te gaan sien. Ons weet hoe versot jy op foto’s en skilderye van ou tempels is. Jy wou nog altyd die oeroue geheime van die Tempel van Angkor Wat sien.

Met liefde van pappa en mamma.

Lucky fish!

Dit was ’n wonderlike partytjie. Almal het saam met haar deur die reisbrosjures geblaai en haar dit beny.

Die toerbus het voor die tempel stilgehou, en oor die vallei het ’n sagte mistigheid hulle na die geheime van lank gelede gelok.

Soos glibberige slange het die takke en wortels om die vervalle mure en deur die stukkende dakke gebeur en die stories van lank gelede vasgedraai.

Oral het verwonderde uitroepe van honderde toeriste weerklink. Ek het my kamera uitgehaal, op my polshorlosie gekyk, en ’n gevoel van opwinding het my voortgedryf. Vang die ruïnes en die slingerplante se ritme vas sodat jy dit later kan skilder.

Kliek-kliek het die kameras gesing. Soos ’n opgewonde kind kon ek nie genoeg kry nie.

Iemand het teen my rugsak gedruk. ’n Sagte hand het op my skouer gerus. Ek het in die mooiste glimlag opgekyk. Dis die ou met die donker oë. Ek kyk al van gister af vir hom. My hart bokspring.

Hy is skielik so naby. Sy oë lag. Ek knik skaam. Sy hand op my skouer brand tot in my binneste. Om ons skarrel mense en hy fluister iets in my oor. Wat maak dit saak? Ek knik instemmend. Hy vat my arm en lei my die gebarste trap uit.

Die dag word ’n speelse reis in die koel gange; oor die terrasse waar ons verlore staar na die oerwoud wat wink.

Sy stem is soet soos heuning en borrelende fonteine.

Hy klad die sweetdruppels van my voorkop af. Hy kies die agterpaadjies en ons drapeer ons oor dik boomwortels terwyl ons koeldrank en appels deel. Hy sprei fyn druppels uit die spuitfontein oor my warm gesig.

Waar was jy die hele tyd, man van my drome, swymel my binneste, maar ek hou my afstand en terg hom met die swaai van my lang, blonde hare. Hy speel saam. Sy stem is soet soos heuning en borrelende fonteine.

Die toer gaan spesiaal wees, besef ek. Dankie, ma en pa.

Op die bus sit Janus beskermend naby en fluister lawwighede oor die tannie wat oorkant ons dut en die middeljarige paartjie wat reeds haaks is. Ons draf stomend agter die toergids aan.

Die blink druppels skitter soos pêrels aan sy wimpers toe hy oorleun en my saggies soen.

Janus maak grappies en die dag smelt soos sjokolade deur my vingers. Ek sien my vriendinne se gesig. Hulle het mos gelag vir my fassinasie met al die ou tempels. Medereisigers kan net so interessant wees.

Janus dra my rugsak. Ek drup koel water uit my waterbottel oor sy golwende swart hare en vryf dit deurmekaar. Die blink druppels skitter soos pêrels aan sy wimpers toe hy oorleun en my saggies soen. Hy pas my rugsak en kamera op terwyl ek in die badkamer lafenis soek. Ek voel soos ’n model terwyl hy foto’s neem.

Die ou vrou oorkant ons tik op my skouer en fluister: “Stadig, meisiekind!” Sjoe, hoe doen ’n mens dit as die liefde so onverwags aan jou deur kom klop?

Toe die bus voor die hotel stilhou, druk hy my skouer en beduie dat ons mekaar met aandete in die foyer sal ontmoet. Hy mompel iets van oproepe wat hy moet maak. Ek wip agter hom uit die bus, druk ’n soentjie op sy wang en storm hysbak toe.

In my kamer gooi ek die rugsak op die bed, stroop my klere af en draai die stortkrane oop. Voor die spieël borsel ek my hare tot die vonkies uit die borsel blits en vlei my kaal lyf op die bed neer. Nog ’n halfuur voor etenstyd.

Die klop aan die deur

'n Dringende klop laat my onmiddellik opvlieg. Ek gryp my japon en drafstap deur toe. Dalk is dit . . .

Die hond is eerste in die kamer, gevolg deur ’n man met priemende swart oë en ’n kwaai stem.

Miss Heymans?” Ek knik verskrik. Die hond blaf. Hy tel my rugsak op en skud die inhoud op die bed uit. Dan gryp hy die bruin pakkie. Wat is dit?

Get dressed. You come with me,” blaf die polisieman.

Wat de ongeluk gaan aan? Hy prop die bondel natgeswete klere in my hande en beduie ek moet in die badkamer aantrek. Met bewende hande sukkel ek om die rits toe te trek. Die hond tjank en die polisieman roep ongeduldig.

Ek skud my kop. Hy lig sy hand en ek val teen die deur.

Hy dwing my hande agter my rug in en sluit die boeie om my polse. Ek sluk. In die hysbak probeer ek protesteer. 

Hy bulder iets en beduie na die pakkie in die bruinpapier. Ek skud my kop. Hy lig sy hand en ek val teen die deur. Die hysbak hou op die grondvloer stil. Die ontvangspersoneel staar soos sfinkse.

Please call Janus van der Merwe,” pleit ek.

Shut up!” Hy sleep my by die voordeur uit. Die toergids verskyn en maak beswaar, maar die polisieman steur hom nie daaraan nie.

“Help my!” gil ek voor ek in ’n donker vangwa val. My hart slaan teen my ribbes. Hopelik sal die toergids met Janus kontak maak, troos ek myself.

En hier sit ek nou al byna 15 jaar op die bankie.

Elke oggend ontsnap ons ’n paar minute lank uit die donker selle. Die dae glip lankal soos modderwater deur my vingers. Niks om vas te hou nie. Niemand om aan te raak nie. Net die stank van bedompige selle en keffende vroue.

Dis ’n leë verhoog en ek wag dat die ligte gedoof word. Janus van der Merwe het in die hole van Kambodja verdwyn.

Wie is Janus?

In die hofsaak toe pa en oom Hardus met ’n tolk probeer bewys het dat ek on­skuldig is, het die hofamptenare gelag toe ons van Janus vertel.

Janus? Hulle ken nie so iemand nie. Ons het vir hulle sy foto gewys.

“Aha! No Janus. That guy is the Jungle Spider!”

Hoe kon ek so naïef wees? So halsoorkop verlief? Intussen sluip hy steeds rond op soek na naïewe meisie­tjies om in sy web te vang. Om sy pakkies vir hom te dra.

Eindelik was pa se pensioengeldjies, die geld wat my vriende bymekaar­geskraap het . . . alles in ’n bodemlose put vol teenstrydige stories.

Wie is Janus van der Merwe?

Daar was nie so ’n mens op die toergids se lys nie. Ure in warm, lawaaierige hofsale, wagte wat skel en skree. Tot die geroesemoes my in hierdie hool uitgespoeg het.

Vyftien jaar tussen honderde vroue in vuil badkamers, luise in die komberse en oneetbare kos.

Mettertyd droog die besoekers op. Jy leer om die alleenheid in die oë te kyk. Die verlange na kwaste en verf, na die samesyn van vriende en familie knaag soos kewers aan jou binne­ste. Elke dag opstaan om vanaand weer te gaan slaap.

Dae, weke, maande afgemerk op die bankie se sitplek. Die wag se stem oor die megafoon is ’n dralende hommelby teen ’n dowwe ruit. Niemand luister nie.

Pa en ma sal nie weer kom nie. Ouboet ook nie. Hy is Engeland toe. Die skande was vir hom te veel. ’n Tronkwag pluk aan my arm.

Merrie, vir jou bliks . . . Ek mik na haar. Sy beduie na die luidspreker. Gryp my vuis vas.

“Liela Heymans, report to the office.” Sy boender my deur die hek. Por my in die rug deur die gang. Kantoor toe. Wat nou? My asem jaag en my hart klop in my keel. Sweet en trane brand my oë en ek vee dit aan my skouer af.

Come on, Liela, maybe today it will be the right person.”

Sy borskas is ingeduik en ’n flenterhemp gaap tussen skewe knoopsgate. Aan sy borsbeen sien ek die spinnekoptatoe.

Aan die einde van die gang, afgeëts teen die gapende buitedeur, sien ek hom. Ek gaan staan voor hom. My keel trek bottoe. Sy leë oë staar in die niet. Oor sy gesig kronkel diep lyne.

“Dis hy, ja. Dis Janus van der Merwe,” fluister ek.

Hy knak vooroor, gryp sy maag vas en gaan sit kermend. Sy borskas is ingeduik en ’n flenterhemp gaap tussen skewe knoopsgate. Aan sy borsbeen sien ek die spinnekoptatoe. Die aarde begin draai en my binneste ruk. Toe braak hy ’n streep bloed oor die vloer. Ek steier agteruit.

“Water, water, asseblief,” pleit hy, maar niemand hoor nie.

My reis is verby. Die wag hou my verweerde handsak na my uit. Ek kyk terug in die donker gang. Janus sit-lê op die vloer, sy kop skeef. Buite in die sonlig wag ’n toektoek.

Airport, please,” fluister ek en gaan sit op die agterste sitplek. Die enjintjie tik-tik straataf. Ek gewaar ’n straatwinkeltjie.

“Stop!” beveel ek. “You can go.”

Vroegoggend kom die tronkwagte gang­af. Hulle tel Janus se lyk op. Ek staan op, tel die leë waterbottel op en stap uit in die helder sonlig.

Vry.