Anja lig haar voet van die petrolpedaal af en die Volkswagen Golf ruk byna tot stilstand toe sy Rivierdorp se enigste stopstraat nader.

’n Spookagtige mis hang oor haar grootwordplek, net soos die dag toe hulle hier weg is. Woon tannie Raubenheimer ooit nog hier? Leef sy nog? Sy was reeds baie oud toe Anja-hulle 10 jaar gelede hier weg is.

Moes sy nie net eers uitgevind het voor sy die pad aangedurf het nie? Anja se skouerspiere trek op ’n knop. Dalk moet sy eerder die Golf se neus omdraai en teruggaan na haar veilige bestaan.

Ou koeie moet met rus laat. Sy skud haar kop. Basta met al die verskonings. Sy moet nou deurdruk, want dit is al hoe sy vrede gaan kry.

Die hoofstraat lyk byna identies soos 10 jaar gelede, behalwe ’n paar nuwe winkeltjies wat opgeskiet het. Die Portugees se winkeltjie staan steeds op die hoek.

Sou oom Manuel nog so gesteld wees op sy blink vloere? Langs die winkeltjie is die dorp se biblioteek. Hoeveel genotvolle ure het sy, Melissa en Brenda nie daar deurgebring tussen al daardie boeke nie.

Waarom kon alles nie maar net so gebly het soos dit was nie? Waarom het hulle drie daardie dag die vreeslike ding aangevang?

Dit is nie asof enigeen van hulle sadistiese neigings gehad het nie. Dit was bloot ’n klein bietjie onskuldige pret wat skeefgeloop het.

Anja sug. “Ons moes van beter geweet het,” prewel sy.

Sy oorweeg dit ’n oomblik om eers ’n melkskommel by tant Bettie se koffiekroeg te gaan drink, as dit nog bestaan. Dalk help dit vir haar droë mond. Maar sy besluit daarteen, want hoe vinniger dié ding afhandel word, hoe beter.

Sy wonder of Melissa en Brenda al by hul ou boomhuis is. Gaan hulle enigsins opdaag?

Van gister af reageer nie een van die twee op haar WhatsApp-boodskappe nie. Hopelik trek hulle nie kleinkoppie nie. Kan sy hulle verkwalik as hulle dit wel doen? Dit is immers nie maklik om op koue voetspore terug te stap nie.

Toe sy by die boomhuis aankom, laat luier sy die Golf ’n minuut of twee terwyl haar oë alles om haar indrink. Al wat van die boomhuis oorgebly het, is ’n paar planke wat windskeef uit die ou sipres hang.

Wat het sy verwag? Tyd het mos ’n manier om dinge te verrinneweer. Anja sien geen ander voertuig nie. Sy is amper doodseker die ander twee gaan nie opdaag nie.

Moet sy maar ’n rukkie wag? Nee! besluit sy. Dié ding moet vandag nog afgehandel word.

Sy skakel die Golf af en klim steunend uit. Vandag voel sy ouer as haar 26 jaar. Sy stap na die bagasiebak en haal ’n graaf uit. Dit is loodswaar in haar hande.

Stadig stap sy na die boomhuis. Sy gaan staan stil voor die dik stam en tree vier tree agteruit en dan weer twee tree links. Die presiese plek is in haar geheue ingegraveer.

Sy neem ’n rukkerige asemteug. Die lug ruik pure rivier; iets tussen verrotte blare, skoon lug en die skerp reuk van gifappelplantjies.

Ná so 20 spitte steek die graaf teen iets hards vas. Haar hart klop in haar keel

Ná so 20 spitte steek die graaf teen iets hards vas. Haar hart klop in haar keel.

Wat gaan sy in die tassie aantref? Waar is Melissa en Brenda? Hulle is albei ewe skuldig hieroor. Hoekom moet sy alleen die kastaiings uit die vuur grawe?

Anja onthou die dag soos gister.

Sy, Melissa en Brenda het van die biblioteek af gekom. Hulle was vroeg klaar met die aardrykskundetaak en het doelloos rondgeslenter. Die stootwaentjie wat op oom Manuel se stoep gestaan het, het hulle soos ’n magneet aangetrek.

Dit was beslis tannie Raubenheimer se waentjie. Oral waar die tannie gegaan het, kon ’n mens die tjier-tjier van die uitgedroogde wieletjies van ver af hoor. Dit was eienaardig dat die stootwaentjie juis op dié dag alleen op die stoep gestaan het.

Eers later het hulle gehoor dat tannie Raubenheimer net vinnig in die kafee ingeglip het om melk te koop. Die vloer was nat en sy wou haar nie oom Manuel se toorn op die hals haal nie. Melissa het met die plan vorendag gekom en Anja en Brenda het nie op hulle laat wag nie.

Hulle sou vir tannie Raubenheimer ’n poets bak. Die tannie met haar waterige ogies, krom rug en halfoop mond was altyd aan die ontvangkant van die dorp se tieners se kwajongstreke.

Toe die drie meisies seker is niemand sien hulle nie, het Brenda soos blits vorentoe geskiet en die bondeltjie uit die stootwaentjie gegryp. Die reuk van babapoeier was oorweldigend. Hulle het vinnig na die boomhuis gehardloop en die bondeltjie gaan versteek.

Die plan was om dit weer in ’n later stadium aan tannie Raubenheimer terug te besorg, miskien nog ’n beloning op die koop toe te ontvang. Hoe het die plan nie geboemerang nie! Daardie aand kon Anja nie die huis verlaat nie.

Die storie van die verskriklike ding wat tannie Raubenheimer oorgekom het, het die hele Rivierdorp vol gelê.

Anja se ouers het haar belet om haar voete by die huis uit te sit, want Rivierdorp was nie meer veilig nie. Waarom hulle nie destyds toe maar met die hele sak patats uitgekom het nie, kon Anja nog nooit verklaar nie.

Teen die tyd dat Anja, Melissa en Brenda weer by mekaar kon uitkom, was dit drie dae later en was dit te laat om sake reg te stel. Hulle het geen ander keuse gehad as om van die bewys ontslae te raak nie.

Die bondeltjie is in een van Melissa se waterdigte smuktassies geplaas en die tassie is onder die boomhuis begrawe. Die hele gemeenskap was saam met tannie Raubenheimer in rou.

Niemand kon verstaan dat iemand so ’n wrede daad aan ’n medemens kon doen nie.

Daardie Sondag het die tannie luidkeels in die kerk uitgeroep: “Vervloek is die een wat my baba gesteel het!” Sy is eindelik daardie dag skreeuend deur haar versorger uit die kerk begelei.

Omtrent ’n maand ná die gebeure het die vragmotor Anja-hulle se meubels kom oplaai. Sy wonder tot vandag toe of haar ouers iets van haar aandeel in die gebeure vermoed het, en of dit toevallig was dat haar pa juis toe ’n verplasing gevra het.

Nooit is weer in hul huis oor tannie Raubenheimer gepraat nie. Aanvanklik het Anja, Melissa en Brenda aanhou korrespondeer, maar soos die tyd verbygegaan het, het die kontak tussen hulle drie opgedroog.

Die ding op haar gewete was net te groot en deur die ander twee sover moontlik uit haar lewe te sny het Anja vir kort rukkies die wete van wat hulle gedoen het uit haar gedagtes verban.

Anja trek haar asem diep in, buk af en lig die tassie uit die vlak graf. Sidderend diep sy die bondeltjie uit die tassie op en loop daarmee terug na die Golf.

Die ou lap voel skurf onder haar vingers toe sy die bondeltjie op die sitplek langs haar neersit. In ’n dwaal skakel sy die voertuig aan en ry na waar tannie Raubenheimer se huisie jare gelede gestaan het.

Wat is die kans dat sy steeds daar woon?

Toe Anja voor die huisie stilhou, klim sy uit en stap doelgerig met die bondeltjie na die voordeur. Dit is nou of nooit. Met bewende hande klop sy en die paar minute tot sy die geritsel aan die binnekant van die voordeur hoor, voel soos ’n ewigheid.

Sy bewe toe sy die vrou voor haar sien. Tannie Raubenheimer lyk nog weerloser as wat sy haar onthou. Die tannie se oë lyk vraend toe Anja beduie wie sy is en ná ’n rukkie wys sy met haar kop dat hulle moet deurstap na die sitkamer.

Die vloerplanke kraak toe tannie Raubenheimer met ’n loopraam voor Anja uitskuifel. Met elke tree voel dit vir Anja asof sy nader aan die galg stap. Omdraaikans is daar nou nie meer nie.

Die tannie gaan sit op ’n riempiestoel en beduie vir Anja om dieselfde te doen. Na ’n oomblik se stilte lui tannie Raubenheimer ’n klokkie en iemand – dit lyk presies net soos die versorger van daardie jare –kom hoor of hulle enigiets wil drink.

Met ’n koppie koffie in die hand probeer Anja haar woorde formuleer. Waar begin ’n mens? Hoe sê ’n mens vir iemand anders jy is die oorsaak van al haar pyn die afgelope jare?

Toe die tannie weer vraend na haar kyk, trek Anja haar asem diep in, staan op en druk die bondeltjie in die tannie se knopperige hande.

Die oomblik toe tannie Raubenheimer die vergeelde lap afdraai en sien wat daaronder is, kry haar gesig lewe. Trane stroom uit haar waterige ogies en die halfskewe mond is amper reguit soos sy glimlag: “My baba! My baba!”

Sy wieg die pop heen en weer en soen haar op die plastieklippies. “Ná al die jare is my gebede verhoor!” sê sy.

Anja vergeet van haar eie vrees vir veroordeling toe sy die jubel in elke vou van tannie Raubenheimer se gesig sien.

Toe sy sowat twee uur later weer die Golf se neus uit die dorpie stuur, merk sy op die misgordyn het gelig en sy weet sy is waarlik vry van die verlede.