Ek hoor van Lynn voor ons mekaar ontmoet. Ek is jonk, skaars 20, en het pas ’n tweejaarkursus in rekenaarstudie voltooi. Die ouens by die maatskappy waar ek begin werk het, praat oor die vreemde vrou wat ’n mens so maklik opval en wat jy nie as ’n vriendin wil hê nie.

“Ou Lynn Eend,” sê hulle en lag.

Ek lag saam vir die bynaam, maar wonder oor haar. Ek verbeel my ek is ook die soort mens met wie ander nie wil vriende wees nie. Toe ek in die kafeteria die lang figuur met die groot oë en breë glimlag in die bont rok en ewe bont strik in die bos hare sien, weet ek onmiddellik dis sy.

Sy het iets, dalk daardie glimlag, iets wat maak dat ’n mens haar vertrou, maar nie in romantiese terme aan haar laat dink nie. Daarvoor is sy te groot van postuur en haar gesig te hard. Ek lag nie saam oor haar onaansienlikheid nie; dis te na aan my eie onsekerheid.

Een van die dinge wat ’n jong mens eenvoudig moet doen, is die wêreld ingaan en ’n maat kry, en ek weet self nie hoe nie. Sy het heelparty vriende. Ek sien haar by ’n groep maatskappymense, meestal die stemmiger soort wat gereeld kerk toe gaan, Saterdagoggende vroeg gaan stap en versigtig is vir die partytjiediere – by wie ek my geskaar het.

Hoekom presies weet ek nie. Hulle is net van skooldae af vir my makliker om mee te gesels. Dit moet een van die groot waarhede van die lewe wees dat die eet-drink-en-wees-vrolik-groep jou nie veroordeel nie.

Sommige sou selfs sê jy kry nie gemakliker vriende nie. Dan ook die avontuuraspek: Wie wil al vroeg in die lewe stemmig wees, selfs al wonder jy oor ’n maat vir eendag?

In die biblioteek sien ek Lynn op ’n bankie voor ’n rak sit, haar lang bene bymekaar, haar wysvinger voor haar mond. Dis nie in die afdeling vir romantiese fiksie, waar ek haar sou kon plaas nie, maar by die boeke oor ingenieurswese, enjins en brandstof. Ek wonder of ek haar moet aanraai om liewer iets vroulikers te lees.

Sy kyk op en glimlag haar breë, hartlike glimlag verby haar hand. Ek knik en loop verby. Toe ontmoet ek en Lien mekaar een nag op ’n huispartytjie. Dis die lewe, dink ek: Werk vir jou inkomste, ontmoet mense en gesels oor die bestaan van die moderne jong mens.

Lien is ’n besonder aantreklike rekenmeester wat in flieks belangstel.

Ons gesels die nag om tussen die ander mense, en hoewel ek nie weet hoe om toenadering te soek nie, is ek tevrede met die idee van haar iewers, beskikbaar vir ’n drankie en ’n kuier. En, indien niks anders nie, as ’n lekker herinnering aan ’n aand in die stad.

By die werk kry ek ’n oproep. “Hallo, Johan, dis Lien wat praat. Weet jy wie dit is?” Dadelik herroep ek die nag lange gesprek oor flieks en ek sê natuurlik weet ek. Sy vra my om haar na ’n geleentheid te vergesel.

Toe ek die aand by die plek wag waarop ons afgespreek het, is dit nie Lien nie, maar Lynn wat opdaag, haar rok bonter as ooit, die strik in haar hare groter en haar glimlag breër.

Ek het verkeerd gehoor, maar nee kan ek nie nou sê nie. Die geleentheid, by ’n braairestaurant langs die hipermark, is ’n pyniging. Ek vererg my vir ’n kollega omdat hy haar Gogga noem en haar terg omdat sy vir ’n verandering ’n metgesel het “en hierdie een moet sy hou, want wragtig . . .” Sy lag daaroor op ’n verbete manier en lyk verleë toe ek die man aanspreek.

Hy trek ’n gesig en gaan dans met ’n rietskraal bondeltjie vrouelyf in ’n klein rokkie. Die aand eindig genadiglik vroeg toe Lynn voorstel ons moet ry. Ek voel sleg genoeg om haar later te bel.

Ons kry mekaar by die biblioteek en drink iets in die eetplekkie daar naby. Daarna kyk ons na skilderye in die galery. Dis ’n stram geleentheid. Ek weet nie wat ek in die vrou se geselskap maak nie.

Later vra sy my: “Kan ek iets vra? Kry jy my jammer? Is dit hoekom jy hier is? Want indien wel, moet jy nou gaan en my nie weer kontak nie.”

“Ek weet nie,” sê ek. Dis al wat ek kan sê. Deel van my voel skaam oor haar, die deel wat daarvan bewus is wat ander mans van my sal dink om in die geselskap van ’n vrou te wees wat hulle nie self wil hê nie. Dan staal ek myself: “Ons kan weer uitgaan.”

“Ek dink nie ons moet nie. Dit voel nie reg nie.”

Sy vou haar arms selfbewus, en in die ry voor die kaartjieskantoor swaai sy haar kop hard teen ’n man se gesig vas

Maar ons gaan weer uit en ry die dag na ’n hotel op die platteland. Daar drink ons iets in ’n stil sitkamer. Op ’n ander geleentheid gaan ons in ’n groot tuin stap.

En ’n derde keer pak ons ’n tentjie en kos in ’n rugsak en span by ’n kampeerterrein uit. Dis Lynn wat al dié plekke ken. Dis asof sy navorsing gedoen het, voorbrand gemaak het vir die groot stap van uitgaan. In die kampeerterrein sit ons heelnag by ’n vuur.

Soms praat ons, soms nie. Wat ek volgende moet doen, weet ek nie, maar ek kom aan haar kalm manier van gesels en haar rustige gesigsuitdrukking agter sy is tevrede.

Vir my is dit ’n groot gewaarwording: Ek kan iemand tevrede stel. Ons gaan fliek. Nou is ons in die openbaar. Miskien is sy ook ’n bietjie skaam; dalk oor die klere wat sy gedra het, want haar bos hare is korter en die lint makeer en haar bont rok is deur jeans en ’n hemp vervang.

Sy vou haar arms selfbewus, en in die ry voor die kaartjieskantoor swaai sy haar kop hard teen ’n man se gesig vas.

“Ek wil hom ook met die kop slaan,” troos die man se vriendin. Tydens ’n spannende toneel in die fliek gryp sy na my bobeen, maar bedink haar. Ek neem haar na ’n uitvoering.

Dis ’n amptelike afspraak. Sy lyk besonder stemmig in ’n uitrusting wat glad nie die kleurrykheid van voorheen vertoon nie. Ná die musiek en die kleur en die baie mense in die ouditorium is ons by haar woonstel en iets moet gebeur.

Sy skink vir ons wyn en ons sit op haar balkon en kyk uit op die strate.

Oor die volgende maande sien ek haar nog by die maatskappy; daarna nie weer nie

"En wat dink jy deesdae van Ou Lynn Eend?” vra sy my met ’n glimlag. Ek kan nie na haar kyk nie. Dis asof ek manalleen verantwoording moet doen vir elke belediging in haar verlede. “Ek het ook al byname gehad.”

“Noem een wat so erg is. Een wat my regtig sal beïndruk.” “Johan Hond. Ek het my broer se kar se bande laat skwiek.” “Nee, wat.” “Kaperjoller. Ek het by die matriekafskeid wild en woes gedans.” “Beteken niks.” “Floppa.” “Oef. Wat beteken dit?”

“Ek weet nie. Dis aan my gegee sonder enige verduideliking, maar saam met heelwat gelag.”

“Ja, dis nogal ’n gerekende bynaam. Nou kan ek jou ernstig opneem. En jy moet my nou ernstig opneem.”

Toe begin sy met my gesels. Sy vertel hoe sy van kleins af die lelike een in enige geselskap is en dat sy telkens daarvoor moes vergoed met iets moois, iets wat sy sê of doen, ’n geskenkie wat sy gee. En sy wil vanaand vir my iets gee. My vryheid. “My wat?” vra ek verbaas.

“Jy moet gaan. Jy moet vir jou ’n vrou kry op wie jy kan trots wees, een wat weet wie sy is. Dis nie ek nie. Ek sien hoe jy jou bes doen om van my te hou. Jy is wonderlik, want jy het die een of ander pligsbesef waarvan jy miskien self nie bewus is nie. Maar dis tyd dat jy gaan. Moenie terugkom nie.”

“Maar wat . . .” Ek bly stil. “Wat gaan ek doen? Ek gaan voort. Jy het my gehelp. Ek sien nou ek het nie nodig om al die bont goed en helder makeup te dra nie. Ek moenie meer aandag trek nie, maar minder. Jy het dit aan my gewys.” “Ek wou sê jy dra deesdae ander klere.”

“En dankie daarvoor. En nou skop ek jou uit voor jy verplig voel om met my te vry.”

Oor die volgende maande sien ek haar nog by die maatskappy; daarna nie weer nie. Ek hoor wel een keer dat Ou Lynn Eend darem nou baie anders lyk, sonder om vas te stel presies wat aangaan. Maande gaan verby, later jare.

Ek het Lien weer raakgeloop, die aantreklike rekenmeester wat van flieks hou, en ons hou mekaar nou geselskap. Dermate dat ons op ’n plaas trou en met wittebrood vertrek. Ek sien haar weer by ’n padstal teen skemer, Lynn.

Haar hare is kort en haar gesig donker gegrimeer, haar klere van leer en haar voete in stewels. ’n Helm rus op die motorfietssitplek voor haar. ’n Groot, sterk man, ook in leer geklee, stap na haar. Ek kyk onwillekeurig weg van dié intimiderende figuur. Toe hou hy pynappelsap na Lynn uit.

Hy glimlag en sê iets terwyl sy uit die bottel drink. Sy laat dit sak, lag en sit die helm op. Toe hulle ry, kyk sy sonder blyk van herkenning na my; ek is sekerlik self ouer en anders.

“En dié lieftalligheid?” vra Lien omdat ek haar omhels. Veel kan ek nie sê nie, maar ek dink dit voel asof iets nie voorheen reg was nie, maar nou is dit.