Mathilda stap geruisloos die trap af. Die skerp mes in haar hand flits in die donker.

Rufus snork kliphard in die kombuis en grom elke keer wanneer hy ’n nagmerrie kry. Waaroor kry honde nagmerries, wonder sy. Dalk ’n wolf of ’n leeu wat hulle jaag?

Rufus se gesnork stuit gelukkig nie haar voetstappe toe sy kaalvoet die trap afstap nie. Haar wasige wit nagrok kleef aan haar tam en sweterige lyf.

Benjamin het teen hierdie tyd seker al sy sewende whisky van die aand agter die rug. Of dalk sy agtste. Tjoeftjaf, laat hy val waar hy wil. Is dit al middernag?

Hy skink gewoonlik sy eerste dop so vyfuur. Die ou kerkklok slaan 12 slae en die klank sweef meedoënloos deur die slapende en gevrekte dorpie. Die kerkklok klink traag, moeg. Lewensmoeg. Net soos sy op die oomblik voel.

Haar gekweste liggaam beweeg ritmies en meganies. Soos ’n robot. Vorentoe, vorentoe. Sy klem die mes stywer vas. Sal ’n rewolwer nie dalk ’n beter moordwapen wees nie? wonder sy.

Sy gril nog altyd vir bloed. Jig!

Dalk sien sy baie bloed wanneer sy skiet. Sy het al in flieks gesien hoe party slagoffers ná ’n skietery in ’n plas bloed lê.

Mathilda het nou die onderkant van die trap bereik. Sy haal swaar asem. Toe sy by Benjamin se studeerkamer kom, sy man cave soos hy dit noem, reik haar linkerhand stadig na die deur se handvatsel.

Hy raak elke aand dié tyd in sy leunstoel agter sy lessenaar aan die slaap.

Sy sit haar oor versigtig teen die deur; dalk hoor sy hom snork. As hy snork, weet sy hy slaap vas. Sy sien sommer in haar geestesoog hoe hy met sy mond wyd oop en met sy grys kop agteroor op sy stoel lê.

Sê nou net hy word wakker wanneer sy die deur oopmaak? Dit gaan haar planne fnuik.

Sy skraap al lank moed bymekaar om dié man, wat glad nie meer haar liefdevolle man is nie, dood te maak. Koelbloedig. Hy het sedert hulle getroud is in ’n liederlike monster verander.

Maar toe Mathilda net aan die woord dink, gril sy. Sy kry hoendervleis en voel hoe die haartjies in haar nek penorent staan.

Sy het nooit gedink sy sou by dié kruispad in haar lewe kom nie. Maar dit is nou of nooit.

Sy klem die mes vas. Sal ’n rewolwer nie ’n beter moordwapen wees nie?

"Ma! Waar’s die grondboontjiebotter? Ek is honger!” skree Emil uit die kombuis.

Verdomp, net toe sy by die klimaks van haar storie kom, pla die kinders. Kan sy dan nooit in rus en vrede klaar skryf nie?

“Dis in die kas bo die stoof, Emil!” skree Katinka terug. “En moet asseblief nie krummels op die vloer mors nie.”

“Maar, ma, wanneer eet ons? Gaan ma nie vanaand vir ons lasagne maak nie?”

“Aarde, Emil, julle kinders dink ook net aan jul mae. As ek nie skryf nie, sal ons nooit kos op die tafel hê nie.”

Sy sal Mathilda vir eers voor die studeerkamerdeur los. Met die moordwapen in haar hand en wraak in haar hart.

Dit is dalk nodig dat sy self haar brein ’n bietjie suurstof gee. ’n Moord en veral ’n koelbloedige een met voorbedagte rade was nog nooit ’n maklike ding om te beplan nie. Wat nog te sê skryf?

Sy sleep haar voete kombuis toe. Van die rekenaar na die kombuis na die bed. Dis nou haar voorland tot die moordverhaal se laaste woord neergepen is.

Hopelik sal die verhaleredakteur haar ’n bietjie meer grasie gee.

Die kinders en al hul aktiwiteite en geite trek haar aandag heeltyd af. Wel, niemand het gesê dis maklik om drie kinders alleen groot te maak nie; wat nog te sê drie rebelse tieners.

Haar buurman Hennie beaam dit wanneer hy soms die rose in sy tuin snoei en ’n geselsie oor die heining probeer aanknoop.

Toegegee, haar kroos is beslis nie modelkinders nie. Elkeen het sy eie persoonlikheid, of moet ’n mens liefs sê nukke.

Die uitgesproke Klara met haar alewige puisie- en kêrelprobleme, die skaam Ben met sy woedeuitbarstings en ek-haat-die-hele-wêreld-houding. En Emil, haar oudste, die voor-op-die-wa bulletjie wat rammetjieuitnek die hele wêreld in een dag wil verower.

Toegegee, haar kroos is beslis nie modelkinders nie. Elkeen het sy eie persoonlikheid, of moet ’n mens liefs sê nukke.

Die maalvleis prut en sy maak die witsous.

“Ben, waar’s jy? Het jy al jou huiswerk gedoen?” vra sy.

“Nee, ma, hy speel videospeletjies!” antwoord Klara.

“Ag, sjarrap, jy; jy boer heeltyd op Tinder,” snou Ben Klara toe.

’n Koppie tee vir die daaglikse katastrofes, het haar oorlede ma altyd gesê. Die tee is pure lafenis. Ai, as sy nou net daardie slot agter die rug kan kry.

Die witsous wil-wil klonte maak terwyl sy die warm tee afsluk. Nou die maalvleis en pasta in lae pak en dan die witsous en kaas.

Sy haat kos maak. Dis soveel lekkerder om te skryf en op jou eie verbeeldingsvlugte te gaan en onder ’n karakter se vel in te kruip.

Dalk moet sy begin sepies skryf. Dink net; om jou karakters op die kassie te sien. En dis meer geld as wat ’n tydskrif soos Lief en Leed betaal.

“Klara, kan jy asseblief kom tafel dek?” vra sy. Haar geduld raak op met die kinders wat so op hul selfone kuier. Waar’s die dae toe gesinne nog met mekaar gesels het? Sy konfiskeer sommer al drie se selfone en hou dit ’n week.

Klara dek die tafel. Haar puisies is met wit salf toegeplak.

“Kyk net die yslike puisie op my ken,” sê sy. “En môreaand is dit fliekaand by die skool. Hoe kan ek so uitgaan?” vra sy.

“Wel, jy het in die eerste plek nog nie eens vir my gevra of jy mag uitgaan nie. En as ek mag vra: saam met wie?” vra Katinka.

“Saam met Wikus. Hy is vanjaar die gr. 11’s se rugbykaptein,” sê sy.

“Is hy nie ’n groot joller nie?” vra Ben toe hy instap.

“Sjarrap, jy ken hom nie eens nie. Hoor ma hoe Ben en Emil al my boyfriends afkraak?” sê Klara en kies koers kamer toe.

“Kom eet, almal. Kos is op die tafel. Klara, laat staan jou nonsens,” probeer Katinka die vrede bewaar.

“En wanneer julle klaar geëet het, dek asseblief die tafel af. Emil, dis jou beurt om die skottelgoed te was. Ek gaan nou verder skryf.”

Mathilda maak die deur stadig oop. Sy hoor hoe Benjamin balke saag. Sjoe, hy sal vir Rufus ’n go gee.

Sy loop tot reg agter hom en lig haar regterarm met die mes in die hand.

Haar man slaap vas, soos ’n baba. Hoe onskuldig lyk hy nie. Asof hy geen vlieg sal skade aandoen nie. Nou is die groot oomblik, por sy haarself aan.

Maar toe sy haar asem intrek om die mes in sy nek in te boor, stamp sy per ongeluk aan sy stoel. Sy skrik en gil en Benjamin is dadelik wakker. Hy probeer na haar hand gryp.

“Bliksem, vroumens, wat dink jy doen jy? Wil jy my doodmaak?”

Die whiskywalms dam saam met al die jare se vernedering en pyn in haar op. Benjamin koes nog, maar sy trek haar arm terug en steek hom in sy skouer. Die bloed spat. Sy gil, Rufus begin blaf, en met dié trek die bure se honde ook los.

Mathilda skrik wakker. Sy staan in haar nagrok in Benjamin se studeerkamer en wonder hoe op dees aarde sy daar gekom het.

Daar’s ’n klop aan haar voordeur. Dis haar buurman Petrus.

“Jammer om te pla, Mathilda. Die honde gaan so tekere, ek het gewonder of alles orraait is hier by jou,” sê hy van buite.

Mathilda loop droombeneweld voordeur toe. Sy maak die deur oop.

Bliksem, vroumens, wat dink jy doen jy? Wil jy my doodmaak?

“Naand, buurman, alles is hunky-dory. Dankie dat jy kom kyk het. Vandat Benjamin dood is, is ek vrek bang,” sê sy.

“Wel, ek’s verlig alles is oukei, Mathilda. Nou groet ek maar. Jy moet lekker slaap,” sê Petrus.

Sy maak die deur toe en stap met die trap op, terug slaapkamer toe. Hoeveel keer gaan sy nog in haar slaap loop en dit nogal met ’n mes in die hand? Wanneer gaan die aaklige nagmerrie waarin sy Benjamin wil vermoor einde kry?

Rufus snork rustig voort en sy voel stoksielalleen toe sy in haar dubbelbed klim.

Katinka skakel haar rekenaar af. Die huis is skielik onheilspellend stil. Kan die kinders al slaap? Hulle is dan sulke naguile?

Sy kyk na die gesinsfoto op haar lessenaar waar hulle vyf voor die Victoriawaterval in Zimbabwe staan. Klara was so 10 jaar oud, Emil amper 14 en Ben agt. Hy lyk nog soos ’n seuntjie.

Haar oorlede man, Klaus, het sy jaghoed op. Daardie kakiehoed wat sy so kon verfoei. Sy was nooit lief vir ’n kamera nie, maar is so dankbaar vir dié foto, want dit is geneem net voor Klaus en die seuns gaan witwaterroei het.

En die boot in die versnellings beland en Klaus met moeite probeer het om die twee seuns te red, maar toe self verdrink het. As sy maar net daardie dag haar voet neergesit het dat hulle nie op die avontuur gaan nie. As . . .

Die kerkklok slaan twaalfuur. Katinka gaap. Sy gaan staan voor die spieël en vryf deur haar hare wat vroegtydig grys wys. Nee wat, so hoef sy darem nie te lyk nie. Net môre gaan koop sy ’n kleursjampoe.

En net môre sal sy haar dié kant van die heining tuismaak wanneer buurman Hennie weer sy rose versorg. ’n Vrou kan immers ook net so lank in nagmerriestudeerkamers ’n man met ’n mes probeer doodsteek.