Peet Nel het gehoop die klasopdrag in die semester se doodsnikke sou sy studente aanmoedig om hul toetsbord – en verstand – in die vakansie geolie te hou. Met sy kenmerkende ywer vir sy vakgebied het hy dit deurgegee: “Skryf vir my ’n wenstorie oor die karakter op die foto wat ek aan julle gaan uitdeel. Gee hom lewe, ’n persoonlikheid, ’n geskiedenis, ’n familie . . .”

Lukraak is die knipsels uitgedeel; foto’s uit tydskrifte gesny om die studente se verbeelding te prikkel. “Binne ses weke op my tafel. En moet in hemelsnaam nie vir my sad stories bring nie, mense,” het hy gemaan.

“As lesers trane soek, gaan lees hulle die koerant!”

Almal het gelag.

Tes was aan’t oppak toe die foto voor haar beland. Petra het van langs haar oorgeleun: “Beach bum, njam!” Sonbruin lyf; nat skouerlengte-krulhare. Tes het die uitknipsel opgetel.

Asof in ’n droom het alles om haar weggeraak; klanke en beelde het vervaag. Haar penneblik het grond toe getuimel. Onmoontlik. Dit was heeltemal onmoontlik.

Dit was eers by die huis dat Tes haarself toegelaat het om weer te kyk. Vanuit die prentjie het die jong man in ’n swembroek direk vir die lens gelag. Nie ’n gemodelleerde foto nie; dit moes as deel van ’n artikel verskyn het. Donker hare en oë.

Maar dit was die diep kuiltjie in sy ken waarop haar oë vasgenael gebly het.

Erick het daardie dag ’n ander man uit die boord teruggekom. Die Here weet, iets is fout

Sandra de Waal stap haar dogter se kamer binne. Foto’s lê besaai oor die bed. “En nou, Tessie?”

“Die foto’s, ma, die pakkie wittebroodsfoto’s wat ma in die bruin koevert bêre?” Sy het te vinnig verduidelik.

“Dis vir ’n klasopdrag, asseblief, ma.”

Sandra glimlag en diep die koevert uit onder ’n stapel ou skoolrapporte van haar enigste, hul wonderkind. Hoe graag wou hulle nie nog enetjie gehad het nie; hoe het sy nie gesmag om Erick met ’n seun, ’n erfgenaam vir Waalvlei, te seën nie!

Sy onthou die obsessie, die pyn, selfverwyt en verwyt – en later aanvaarding – waardeur hulle moes worstel.

Tes weet waar sy haar pa sal kry. Die man wat vir haar en haar ma ’n hemel geskep het hier op Waalvlei, ’n spogwynlandgoed knus teen die Cederberge.

Voor Tes lê die wingerde uitgestrek; die donker druiwe swartrooi aan die stokke.

“ ’n Goeie oesjaar,” het haar pa die vorige week voorspel.

Hoe het hy nie probeer om sy dogter vir die wynmaakkuns lief te maak nie! Van kleintyd af het hy haar saamgeneem: boorde in met pluktyd, parstyd op die eikevate sitgemaak en vertel van die wonder van die druif.

Maar Erick het vroeg besef sy dromerkind se hart lê nie in die druiwe nie; sy sal nie by hom oorneem nie.

“Ek wil skryf, pa. Ek wil woorde maak en daarmee speel. Woorde is soos wyn, ryk en kompleks, met duisend geheime tussen die letters versteek.”

Erick kyk op van waar hy op die sonstoep sit en lees. “Pa?”

Sy gesig versag. Hoe mooi is sy kind nie.

“Tes! Kom sit by my.”

Haar binneste is ’n warboel emosies. Die woorde wil nie uit nie.

“Tessie?” Stadig sit sy die ou wittebroodsfoto op die tafel langs hom neer en die uitknipsel langsaan.

“Pa?”

Eers kyk hy haar onbegrypend aan.

Dan sien sy hoe hy verbleek; hoe sy hande ruk toe hy dit optel. Lank sit hy roerloos daarna en staar.

“Pa?”

Dit is asof hy haar nie hoor nie. Eindelik staan hy op, soos ’n man in pyn.

Die knipsel gly uit sy hand. Tes is versteen, geskud deur die woordelose erkenning. Hy draai om en stap weg, diep die wingerd in.

“Het jy en jou pa stry gekry?” probeer Sandra later een maal, onoortuig deur Tes se flou ontkenning.

"Kom gerus deur. Die spul tydskrifte moet nog iewers in my studeerkamer wees,” het prof. Nel aangebied.

Koorsagtig het sy daarheen gejaag en deur die stapel geblaai. Dit het soos ’n ewigheid gevoel voor sy dit gekry het.

Die meisie aan die ander kant is onseker. “Nee, ek weet nie, maar wag, ek skakel jou deur na Louw; hy’s al jare hier.”

Louw groet joviaal. “Nee hel, jong, dit was meer as ’n jaar gelede; Derick is nie meer hier nie.”

Derick! weerklink dit in haar kop. Daar was geen naam by die foto nie. Die artikel was ’n kortetjie oor diepseeduik en ’n onderhoud met die eienaar van die duikskool waar die foto’s geneem is. “Derick is ’n ruk gelede al Atlantis Divers toe. Slim Engelsmannetjie daai gewees; ’n goeie sakekop.”

Sy wil hom stil hê; gaan bel.

“Ek het gehoor hy het verlede jaar verdrink, arme Derick. Kyk net in die boek: Atlantis Divers; hulle sal jou nog kan vertel. Is jy ’n joernalis? Dan kan jy ’n storie oor ons kom doen.”

Sy hoor niks meer nie . . .

Erick kyk na sy weerkaatsing in die spieël. Hoe lank gelede was dit? Twee, drie en twintig jaar? Nooit het sy liefde vir Sandra gewankel nie.

Nie toe sy maande lank haarself en hom kasty het oor haar onvermoë om weer swanger te raak nie. Nie toe sy hom van haar weggestoot het nie.

Nie toe nie, nie nou nie. Dit moes nie gebeur het nie, maar dit het. Donna was net ’n rukkie op Waalvlei, destyds. Sy was mooi en gaaf. Navorsing oor fermentasietegnieke kom doen.

Saans was die huis ’n vanghok van emosies, ’n donker gat wat gedreig het om hom saam met Sandra te verswelg. Donna het hom herinner aan Sandra voor die talle miskrame; sy lewenslustige, lieflike Sandra.

’n Paar weke was sy lyf Donna s’n, maar sy hart nooit.

Ná haar vertrek het die skuldgevoelens hom byna verteer en het hy Sandra stadig uit die put van wanhoop gehelp. Van Donna het hy nooit weer gehoor nie.

Sandra sit voor haar en uitstaar; sien min. Erick sit langs haar op die stoep: teenwoordig; tog afwesig. Sy verstaan nie. Erick is haar oop boek; was nog altyd.

Haar rots aan wie sy nog altyd kon glo, op wie sy altyd kon vertrou . . . ’n Onheilsgevoel hang oor Waalvlei.

Tes is die volgende oggend vinnig weg en Erick het daardie dag ’n ander man uit die boord teruggekom. Die Here weet, iets is fout.

Met die foto’s in haar hand geklem, hou Tes stil voor Atlantis Divers. Die nuus was oorweldigend: verdrink, die jong man met haar pa se gesig. Waarom dan, Here? Hul lewe is onderstebo gekeer deur ’n bisarre toeval.

Dalk moes sy die verlede met rus gelaat het. Maar Tes het geweet dit is onmoontlik; sy moes meer weet. En toe moes sy dit wat sy oopgekrap het, gaan regstel. Die groot houthut op die strand is ’n deurmekaarspul van gasbottels, pype en duikpakke.

Seesand knars onder haar voete. ’n Meisie met ’n blonde poniestert staan nader.

“Derick Brown?” kry Tes uit. “Het jy hom geken en . . .?”

Derick, someone for you!” roep die meisie nog voor sy die sin kan voltooi.

Tes se wêreld kantel. Dan staan hy voor haar.

Tes beweeg nie, praat nie. “Hi, I’m Derick.” Hy kyk vraend na die meisie wat hom bewegingloos aanstaar. “How may I help you?

“Hulle het gesê jy’s dood,” stotter sy.

Die blondekop tree tussenbeide. “Nee, dit was Eddie; ons kan dit steeds nie glo nie.”

Derick sien die foto’s wat sy na hom uithou. Die uitknipsel ken hy; onthou die dag nog goed. Hy neem die ander een stadig uit haar hand; versteen ’n oomblik lank totaal. Uit die ou foto staar hy terug na homself. Die kuiltjie, die oë, die mond.

Derick kyk op na Tes; sien iets van homself. Toe verstaan hy: Sy aanneemouers wou of kon nooit enige inligting gee nie. Hy het altyd gewonder en gehoop. Sy woorde kom in ’n swaar Engelse aksent. “My pa?”

Prof. Nel rek behaaglik. Hy is suf gelees. Die skryfstukke wissel van puik tot vrot. Deesdae wil al wat asemhaal, skryf, maar weinig kan.

“ ’n Goeie Oesjaar, deur Tes de Waal.” Hy blaai om en glimlag; die meisie se storie begin in die lesingsaal. Slim!

Tes was aan’t penne inpak toe die koerantknipsel voor haar beland: ’n jong man van iets in die 20 . . .

Hy lees verder, blaai, lees . . .

Tes hoor haar ma se stem van ver toe sy die huis binnestap.

“Daardie kuiltjie het al soveel grappe ontketen,” sê Sandra de Waal en tik speels teen die jong man se ken. “Dit kom reeds ses geslagte saam met die De Waals, weet jy?”

Derick Brown sit langs Sandra op die rusbank, tuis hier in die huis waar sy ma jare gelede kortstondig liefgehad het. Asof hy hier hoort. Sy pa staan op, stap nader en vryf oor die jong man se donker krulle.

“Jy sal ordentlik Afrikaans moet leer praat, soutie. ’n Engelse De Waal hier op Waalvlei sal nie deug nie,” skerts Erick en knipoog vir Tes. Toe buk hy oor Sandra en soen sy vrou saggies op haar voorkop. 

“ ’n Goeie oesjaar, nè, ma?”

Die dosent lees weer die laaste deel, die einde effens stroperig teenoor die traumatiese storielyn. Hy het op ’n sterker slot gehoop.

Toe onthou hy sy opdrag aan die studente. “’n Gelukkige einde, asseblief, mense; ons soek nie trane nie!” Almal het gelag.

Tes het onthou.