Bernoldus Labuschagne, alias Likkewaan, reptielspesialis, vrygesel en veearts-cum-wildbewaarder op e-Manzi, voel weemoedig. Hy drup ontsmetmiddel op die abses aan die benewelde krokodil se snoet, staar droomverlore na die eindelose Bosveldprag en streel oor sy Magnum-snor.

Dit is nog lig, die sagte ligpers voor dit die nag inlui.

Gewoonlik is hy mal oor dié vredige tyd van die dag, die rustigheid van diere wat by die watergate staan en suip.

Later kies hy kortpad deur die doringbome lodge toe, sy oë en ore bedag op ’n moontlike rampspoedige misverstand met ’n slang of skerpioen. Hy stamp sy jiggroottoon, die gevolg van te veel koffie, en gaan sit op ’n stomp om sy seer toon selfbejammerend te vryf.

’n Man moet ’n maat hê, iemand wat die wilde prag saam met hom kan geniet, sy seer toon kan vertroetel en nie gril vir elke skubberige ongedierte nie.

Vir vroumense was hy nog altyd skrikkerig.

Die verwoesting wat wulpse skool- en studentemeisies in sy vriende se lewe aangerig het, het hom afgeskrik.

In die ses jaar op Onderstepoort het hy maar so af en toe in die bondel gevry en die hasepad gevat sodra die meisie te ernstig begin raak. Maar nou is hy 30 en sy ma karring oor kleinkinders.

“Dis die ergste van die huwelik,” het Pieter Fourie, veteraangeskeide en eienaar van die wildplaas, droewig tydens middagete gefilosofeer.

Likkewaan wou nie uitvra nie. Sy kennis van die huwelik is beperk tot sy ouers se huwelik van 40 jaar.

“Wat is so erg?” wou Barry White, wildbewaarder wat pas van sy wittebrood teruggekeer het, weet.

“Nee, ek verwys maar na die vernietigende effek van die getroude lewe.”

Pieter se oë was glasig en hy het babbelasend na die inhoud van die glas gestaar.

Albei sy vorige vroue was moderne poppies wat gedroom het van spabehandelings en eksotiese drankies langs ’n groot swembad.

Poppie nommer drie het pas die pad gevat. Later in sy rondawel staar Likkewaan ingedagte na sy groot voete.

Hy het sy no. 14’s van sy oupa Labuschagne geërf. Hy ag hom nie as ’n vangs nie. Hier op e-Manzi kom en gaan besoekers en dikwels jong vroue wat uit hul pad gaan om sy aandag te trek. Hy het egter geen sin in oppervlakkige flirtasies nie.

Hy staar nou ernstig na sy beeld in die spieël. ’n Songebruinde gesig, versier met ’n welige donker snor, humoristies, vasberade en vindingryk, staar terug.

Hy is nogal honger ná al die ure in die son. Hy wonder of die meisie wat tydens middagete sy hart op galop gesit het vanaand teenwoordig gaan wees.

’n Namibiese toergroep het die oggend vroeg daar aangekom en sy het onmiddellik sy oog gevang: lank, lenig en bruingebrand, met ’n parmantige poniestert.

Sy taal het verstom, sy mond het verdroog en sy hart het in sy keel geklop. Pieter het dadelik ’n potensiële nommer vier geïdentifiseer, maar sy het sonder meer sy tjank afgetrap.

Likkewaan kan nie help om te grinnik wanneer hy daaraan terugdink nie. As gevolg van die hitte is tafels op die stoep gedek.

Gaste kan hulself help met die buffet-ete en sit waar hulle wil. Die Namibiese toergroep het hulle aan die onderpunt tuisgemaak, en dis ’n geroesemoes van Afrikaans, Engels en Duits dat hoor en sien vergaan.

Die gesprek word oorheers deur ’n luidrugtige, oorgewig Duitse vrou wat blykbaar die diens hier met minder as niks beloon. Likkewaan het ook reeds vasgestel dat die foutsoekerige tannie die onbekende engel se ma is.

Haar jeremiade betrek die hitte waaraan niks, nie eens die groot waaiers, iets kan doen nie.

Sy het haar visier op Pieter. Hy gooi sy hande hulpeloos in die lug en sy begluur hom soos ’n onbelangstellende aristokraat wat geen belang het by die mening van ’n pleb nie.

Nog ’n woordontploffing volg. Sy seil die voordeur binne met al die selfvertroue van ’n Titanic wat pas te water gelaat is.

Pieter sug verlig. “ ’n Tannie wat nie van haar hart ’n moordkuil maak nie; alles spuit uit asof sy purgasie gedrink het.”

“Dis glad nie snaaks nie. Julle spot met my Mutti.”

Pieter wil weer die sjarmekraan oopdraai, maar sy ignoreer hom

Daar staan sy, die onbekende engel, met haar hande in die sye, maar haar oë vol lagduiweltjies. Likkewaan voel lighoofdig, asof hy die een is met al die Klippies-en-Coke agter die blad.

Pieter wil weer die sjarmekraan oopdraai, maar sy ignoreer hom asof hy nie bestaan nie.

Sy staar na Likkewaan. “Nollie, Nollie Labuschagne, is dit tog nie jy nie?”

“Ja,” kwaak hy verstom.

“Nollie,” skater sy vriende, “jou regte naam is seker Arnoldus.”

“Dis Bernoldus,” sê hy vies.

Hy voel verneder, maar ook uit die veld geslaan.

“Jy het ’n slang in jou koshuiskamer aangehou,” vertel sy. “Jy was goed in die moeilikheid daaroor.”

Hy onthou die petalje met die slang, maar nie die meisie nie.

“Brigitte Lötte,” en haar koel hand lê gemaklik in syne. “Ek het nogal ’n hewige crush op jou gehad.”

So, sy was op Onderstepoort, maar hy kan haar nie plaas nie. Ure later sit hy mismoedig op sy deurmekaar bed en blaai deur fotoalbums.

Dit bevat volledige klasfoto’s van al die jare, maar nêrens iemand wat naastenby soos sy lyk nie. Dit het ook nie name by nie. Hy het sommer afdrukke gemaak.

Sy nag is slapeloos.

Aan die ontbyttafel stoom haar ma op hom af terwyl hy drie stewige lepels suiker in sy koffie gooi, jig ofte nie. Hy het moed nodig. Hy skuif rond op die sitplek, wat skielik vuurwarm voel.

Sy begluur hom soos ’n sekretarisvoël wat ’n slang wil verslind.

“Is jy die mannetjie wat Brigitte se hart op Onderstepoort gebreek het?”

Verwilderd skud hy sy kop.

“Mooi,” sê sy, “ek hou jou dop, en skeer daardie . . . moestas af. Jy lyk soos daardie Magnum-karakter op TV.”

Sy verlaat hom majestueus agter haar indrukwekkende boesem aan, en hy staar haar verstom agterna.

Wie de duiwel is Magnum? Sy TV-kennis strek tot rugbywedstryde en natuurprogramme. Barry en sy nuwe vrou, Disa, sluit by hom aan.

Sy ruik na katjiepiering. Hy is lus om die veld in te hardloop en alles met blomme te besaai

“ ’n Regte ou draak,” glimlag Disa, “maar Brigitte is ’n oulike mensie. Diereverpleegster in Midrand, maar sy haat dit. Sy’s mal oor die buitelewe.”

Later sit hy op ’n klip langs die rivier aan sy pyp en suig.

Hy dink aan die liedjie waarop die studente altyd so styf gedans het. Some enchanted evening. Iets oor ’n vreemdeling wat jy raaksien en dan weet jy dadelik.

“Mag ek?” en keboem slaan sy hart teen sy ribbekas. Sy ruik na katjiepiering, en ineens is hy lus om die veld in te hardloop en alles met blomme te besaai. ’n Ligte windjie ruis deur die blare en die sonbesies dreunsing onophoudelik.

Sy sug. “Ek is mal oor dié soort lewe,” en Likkewaan se hart klop tjoklits. Hulle het soveel gemeen.

“Waaraan dink jy?” vra hy en bloos.

“Nee, sommer.” Later stap hulle saam terug deur die veld. Hulle het nie veel gesels nie, maar daar was ’n gevoel van gemeensaamheid. Hy kan haar steeds nie plaas nie, en sy help hom nie reg nie.

Hy wens hy kan haar hand vashou, maar sal dit nooit regkry nie. By die lodge wil sy weet of hy die aand die dans gaan bywoon.

Daar is altyd ’n braai en dans die aand voor ’n toergroep vertrek. Hy kan eintlik net sakkie-sakkie en is gewoonlik maar ’n muurblom.

Later, toe hy gekleurde gloeilampies ophang, kry hy ’n steekpyn in sy hart.

Ná vanaand sal hy haar seker nooit weer sien nie. Deon Breed of Salmon Swart of ’n ander Onderstepoort-casanova sal haar seker opraap. En hy sal as ’n eensame gebrokene agterbly.

Paartjies kom aangedrentel. Almal het maats, net ekke nie – ’n ou liedjie uit sy Volkspeledae.

Hy sien Gertrude Lötte eenkant sit. Dalk beïndruk hy haar as hy haar vra om te dans.

“A, Magnum,” bulder sy, “jy trap nie op my liddorings nie, gehoor!”

“Nee, uhm, madame. Ek sal versigtig wees,” en hy trap waterpas op haar tone. Sy spring soos ’n jong olifantjie rond. “My liddorings! Du Blödmann . . .”

Likkewaan sien ’n blou rokkie en blink poniestert en loop blindelings op soek na ’n boom waaraan hy homself kan ophang; ruik katjiepiering voor hy haar sien. Sy is vol lag en trek hom na die rots langs die rivier.

Die sokkieaande, en nooit het jy my gevra om te dans nie

Honderde vuurvliegies weerkaats in die water, en die ryp appelkoosvolmaan dryf lui in sy spieëlbeeld rond.

Wonderland by night,” mymer sy. “Onthou jy, Nollie? Die sokkieaande, en nooit het jy my gevra om te dans nie.”

Dis absoluut onmoontlik. Natuurlik sou hy haar gevra het.

“Jy onthou my nie? Ek was baie oorgewig en onseker van myself. Maar ek het grootgeword, en nou gaan ek jou soen, Nollie Labuschagne, want ek is lankal mal oor jou.”

Hoor en sien vergaan. Sterretjies ontplof in sy kop en hy sweef in die lug rond.

Hy ruik die krokodil voor hy haar sien en klits die ongedierte hard op die snoet; kyk besorg na Brigitte wat haar knie geskraap het toe sy verskrik wegspring.

“My held,” spot sy liggies toe hy die bloed versigtig met sy sakdoek afvee. Sy beloon hom behoorlik.

Hy tel haar op en hulle sweef deur die veld wat soos in ’n storieboek maanverlig om hulle uitsprei. Barry en Disa kom hulle besorg tegemoet.

“Ek sê niks,” antwoord Likkewaan selfvoldaan op Barry se vraag. “Maar sê my net, wie is Magnum?”