Dien staar in die diepte voor haar af – angs­bevange, asof sy terug is in daardie aaklige droom van verlede nag toe sy soos met elke droom moes spring met ’n rektou wat sy vooraf geweet het sou breek.

“Dis onnodig om bang te wees,” hoor sy die operateur agter haar sê.

“Ons het nog nooit ’n ongeluk hier op Bloukransbrug gehad nie. Die rektou om jou enkels is betroubaar.”

“Betroubaar?” jaag dit paniekerig deur haar gedagtes. Nadat ’n mens alle perke van vrees oorskry het, beteken so ’n woord niks.

Sy weet sy moet nou spring, maar haar bene reageer nie en hou haar kwalik staande. Sy maak haar oë toe. Miskien moet sy die man vra om haar van die platform af te stoot; dis al hoe sy in dié diep gat voor haar sal beland.

Sy kyk weer na benede, na die blink rivier wat 200 m ondertoe in die vallei wegkronkel, rustig, min gepla met die roekeloosheid van dié wat die noodlot hier in sy vallei so tart.

Ver onder op die rivieroewer sien sy weer die rooi stippel.

'Die regte vrou'

Dis Vorster wat daar in sy rooi windjekker op haar wag, soos hy haar beloof het; nee, soos hy eintlik gedreig het – asof hy iets sou kon doen as sake sou skeefloop, asof sy teenwoordigheid daar onder haar vrees sou verdryf.

“Kom, Dien,” onthou sy haar verloofde se woorde ’n week gelede.

“Jy moet spring, alleen. Dis al hoe ek sal weet jy’s die regte vrou vir my.”

Sy staar steeds na die rooi stippel op die rivieroewer. As hy tog net vir haar wil waai, haar met oop arms af na hom lok. Maar nee, hande in die sye staan hy daar onder, duidelik grimmig omdat sy nie tot aksie oorgaan nie.

Sy trek diep asem in en gee een laaste tree vorentoe tot op die rand van die platform. Sy kry steeds nie gespring nie, want nou, skielik en heeltemal onverklaarbaar, het ’n onverwagte kalmte oor haar gekom, asof sy ’n toeskouer is wat eenkant staan en die toneel emosie­loos gadeslaan.

Sy sprei haar arms soos twee vlerke langs haar sye en leun vooroor. Die rektou sal hou, besef sy met stille sekerheid. Toe, met ’n gil van ongekende ek­stase, tuimel sy in die dieptes af.

Die skoolheld

Dis die aand van die matriekafskeid en Dien kry nie die glimlag van haar gesig af nie.

Om te dink die skoolheld het haar gevra om sy metgesel te wees. Sal sy die gesigte van die ander matriekmeisies ooit vergeet toe sy, ’n meisie van die onder­dorp, ’n paar minute gelede die saal binnegesweef het, stralend aan die sy van die aantreklikste, rykste en gewildste seun in die ganse distrik.

Sy is nou wel onbetwis die mooiste meisie in die skool, maar hier op haar plattelandse geboortedorp is skoonheid iets wat vergaan terwyl deug bly staan; dis nou deug in die vorm van besittings, status en klas.  

Tot Dien se verstomming en behoed­same vreugde duur haar sprokie ná die matriekafskeid voort. Hoewel sy Vorster nie na die universiteit kan volg nie, hoor sy gereeld van hom. Sy werk as haar­kapster op die dorp, en met universiteitsvakansies en baie naweke sien sy die man van haar drome.

Vorster vang graad en keer terug na sy geboorteplaas. Hy vra Dien om haar hand, skuif ’n verloofring met ’n mas­siewe diamant oor haar ringvinger, en haar beker van geluk stort oor.

Die plan is dat hy as enigste seun en erfgenaam die vooruitstrewende boerdery by sy weduweema sal oorneem. Maar dit gebeur nie dadelik nie.

Nee, sê Vorster, ná al die jare se studie verdien hy ’n wegbreek en dis eers tyd vir ’n bietjie jol. Wat meer is, is sy wat Dien is, gaan saam met hom jol, het hy klaar besluit.

Adrenaliengedrewe ekspedisies

Dien bedank huiwerig by die haarsalon en trek by Vors­ter en sy ma op die plaas in. Sy word spoedig deel van die huishouding, maar die aanpassing is moeiliker as verwag. Die luuksheid wat haar nou omgeef, laat haar, kind uit ’n spoorweg­huisie, ongemaklik voel.  

Tog, net om by Vorster te wees vergoed vir alles, en haar geluk ken geen perke nie. Die geluk kom egter teen ’n prys, want spoedig besef sy presies wat Vorster met jol bedoel. Ook leer sy vinnig dat hy ’n adrenalienslaaf is. Geen waagstuk is te groot en geen avontuur te verregaande nie.

Een uitspattige ekspedisie volg op ’n ander en Dien het geen keuse nie; sy moet meedoen. Dis rotsklim sonder tou in die Drakensberge, skubaduik tussen haaie by Sodwana, skuimwaterroei op die Zambezi, vryval uit ’n vliegtuig oor die hoëveld van Mpumalanga en selfs ’n skitoer na die Oostenrykse Alpe.

Wat Dien nooit noem nie, is haar hoogtevrees. Sy durf dit veral nie met Vorster deel nie, en die meeste van hul avonture beleef sy as ’n onbeskryflike nagmerrie.

Sy moet dit gelate aanvaar, want geen nagmerrie is vergelykbaar met dié wat sal volg as sy Vorster moet verloor nie.

Soms voel sy soos ’n tou wat gerek word, ál langer en ál dunner. Een wat iewers vorentoe kan breek, moet breek. Die beeld verskyn dan ook gereeld in haar nagmerries, ’n droom waarin sy val en val, af in ’n eindelose diepte sonder dat ’n tou haar keer.

Vorster moes iets aangevoel het, want die volgende dag kom die keerpunt wat sy geweet het die een of ander tyd moes kom. Hy staan voor haar met daardie bekende roekelose vonk in sy oë.

Wittebrood

“Reksprong, Dien, iewers in die Tsitsikamma. Dis volgende op ons lys.”

Dien se keel trek toe, maar sy lag in Vorster se steeds gloeiende oë.

“Wonderlik, maar op een voorwaarde: Ons doen dit saam, ’n tandemsprong, met ander woorde, soos ons die vryval uit die vliegtuig gedoen het. Onthou jy? Ek het so veilig in jou arms gevoel.”

Die gloed in Vorster se oë verdiep.

“Nee, Dien, vergeet dit. Dié keer is dit elkeen op sy eie. Jy sal nie weer so aan my klou soos met die vryval uit die vliegtuig nie.”

Die vrees stoot hoër op in haar keel en sy soek woorde; kry niks. Wanneer Vorster besluit het, het hy besluit, weet sy teen dié tyd alte goed. Hy druk met die vinger op die skerm van sy rekenaartablet.

“Kyk net die foto’s op Google. Kan jy aan iets meer opwindends dink?”

“Opwindend?” dink sy desperaat terwyl sy na die foto’s staar, foto’s van lywe wat hulself minagtend aan die finaliteit van swaartekrag oorgee. Nee, sy kan nie aan iets meer opwindends dink nie; ook nie aan iets meer vreesaanjaends nie.

“En weet jy wat?” hoor sy Vorster voort­gaan.

“Ek het klaar vir ons bespreek. Ons gaan die Bloukransbrug doen; een van die hoogstes ter wêreld. Ek en jy. En nog iets, my lief, dit gaan ook ons wittebrood wees.”

Net so, sê hy dit, sonder dat hy haar mening vra.

“Moet ’n mens nie eers trou voor ’n witte­brood nie?” is al wat sy uitkry.

“Ja, en dis presies wat ons twee sal doen: trou, sommer voor ’n landdros. Ek’s nie lus vir ’n bruilof met ’n predikant en gaste en al daai nonsies nie.”

Liewe hemel, dink Dien, is dit hoe ’n vrou gevra word? Nee, nie gevra word nie, beveel word. Toe praat sy, en haar eie woorde betrap haar onkant.

“Nee, ons gaan dit andersom doen. Eers wittebrood, en dan trou. Toe, wat sê jy?”

“Ja, ek hou daarvan,” lag hy en sy voel sy arms kragtig om haar slaan.

“Dis hoe ’n man weet hy trou met die regte vrou. Die een wat bereid is om vir hom te rek­spring.”

“En dis hoe ’n vrou weet sy trou met die regte man,” praat sy teen sy bors, “die een vir wie sy dit sál doen.”

Gille weergalm

Met haar arms steeds wyd oopgesprei, tuimel sy verder in die dieptes af. En met elke meter neem die ekstase toe. Tonele flits voor haar oë verby: die blink rivier wat onder wag, die klipkranse wat haar tuimelende liggaam omgeef, die rooi stippel van Vorster wat al nader kom.

Toe swaai sy rug na onder, en so, terwyl sy val, gil sy in ekstase op in die blou hemel daar bo.

Iets pluk aan haar stewels en half onbetrokke besef sy dat dit haar rektou is wat teen die swaartekrag begin rem. Dis half jammer, flits dit deur haar gedagtes, want sy sou vir ewig so wou sweef.

Sy swaai meters bo die rivier en voel hoe die rektou span en haar weer opwaarts pluk. Haar arms is steeds wyd gestrek en sy hoor haarself steeds gil en gil met ’n gevoel van vryheid wat sy nog nooit beleef het nie.

Minute later word sy met die rektou tot op die riviersand laat sak. Vorster storm nader en slaan sy arms besitlik om haar lyf. Sy wag vir die opwinding wat haar oudergewoonte saam met sy arms omvou, maar dit kom nie.

Sy kyk oor sy skouer op na bo, na die brug daar bo wat nou ’n dun strepie teen die blou van die hemel trek.

Vorster praat in haar oor. “Ek weet nou jy’s die regte vrou vir my, Dien. Soos in rêrig. So, kom ons trou!”

“Ons twee gaan nie trou nie, Vorster. Nooit. In elk geval nie met mekaar nie.”

“Nie met mekaar nie?” kom dit onthuts. “En hoekom dan nie?”

Omdat die tou toe nie gebreek het nie, wil sy sê. Maar voorlopig sal sy swyg. Hy sal buitendien nie verstaan nie.