Sy staan by die heining en haal die wasgoed een stuk ná die ander af. Die wind het dit vandag lekker drooggewaai en gou ook.

Sy het al vroeg gewas, want sy het geweet die suidooster vee weer vandag alles uit sy pad. ’n Regte boelie, sou sy sê. Dis nou al byna ’n jaar sedert Netta se kinders hier by haar woon; hul ma het mos al vroeg vanjaar in die Kaap gaan werk.

Dit wil voorkom sy geniet dit daar, want sy kom beswaarlik huis toe. Asof dit nie genoeg is dat sy sit met haar eie vier en ’n man wat meer uithuisig is as enigiets anders nie.

Nie dat hy vir haar van hulp is nie, want die liefde het lank reeds by die agterdeur uitgestap. Die kinders raak vir haar soms net te veel. Agt monde om te voer is nie grappies nie, die kinders stry en baklei gedurig en sy is moeg van skeidsregter speel.

Die kinders raak hopeloos te gou groot na haar sin. Sy doen haar bes om ’n goeie ma vir hulle te wees, maar dis haas onmoontlik om aan elkeen genoeg aandag te gee en daarby is geld so skaars soos hoendertande.

Dalk sou die kinders nie so gefrustreerd wees as hulle meer kon uitgaan nie, al is dit net om op ’n ander plek as op die strand te speel.

Sy dink dis tog waar wat hulle oor geld sê – dit maak die lewe net soveel makliker, en ’n mens slaap ook beter as jy weet daar is kontant vir môre se brood en melk.

Soms laat die kinders haar nagte regop sit as hulle met koors of iets siek is. Gelukkig het die meeste al pampoentjies en waterpokkies gehad. Dis darem iets om voor dankbaar te wees; so nou is dit net die gewone ontwurming en inspuitings by die kliniek.

Sy wonder wat sy vanaand vir ete gaan maak; die bak deeg staan al hoog gerys onder die warm komberse op die tafel. Sy hoop Jan bring vanaand vis.

Sy maak ’n vinnige koppie koffie voor sy die bak deeg die stryd aansê. Die water op die ou Dover-stoof kook vinnig in die dun emaljepotjie.

Die reuk van vuurrook hang swaar in die klein kombuisie en laat haar oë effens traan. Sy gooi die kookwater in die moersak, en toe die bekende Koffiehuis-aroma opwalm, stem dit haar rustig.

Sy dink aan haar ma destyds in hul kombuisie toe sy ook altyd ’n slukkie gekry het. Dit was haar en ma se tydjie saam en sy onthou dit soos gister – ma met haar langbroek onder haar rok aan in die winter. Haar koffiekoppie is lankal koud toe sy uit haar mymering wakker word.

Dan trek hy ’n paar diep, behaaglike teue toe die vuurhoutjie in die tabak in- vlam

Sy staan op en maak die brood op soos ’n outomaat. Sy vorm perfekte brode in die swart plate en sit dit werktuiglik in die oond.

Die vuur knetter opgewonde aan die ander kant van die oond en stuur goue bakbeloftes met sy hitte uit.

Sy hoor ’n geluid by die agterdeur, dan kom Jan in en sit sy vissak op die tafel neer. Die reuk van see kom saam met hom by die deur in; sy swart waterskoene plof-plof oor die misvloer.

Hy groet somber en sit die twee groot kabeljoue op die tafel. Met ’n sug gaan hy by die tafel sit en sy skink vir hom ’n koppie koffie in sy geel emaljebeker.

Hy begin blaas-suig aan die warm koffie. Nie ’n woord word gesê nie, maar sy is al so gewoond aan sy stilte, dit pla haar nie eens nie.

Hy haal sy pyp en tabak uit sy seebaadjie se sak en begin die pyp tydsaam stop. Sy naels is al geel, seker van al die jare se rook.

Hy sukkel effens om die dun vuurhoutjie met sy dik vingers uit die klein boksie te kry. Die reuk van swael hang ’n oomblik in die skemer kombuis toe die vuurhoutjie vlam vat. Dan trek hy ’n paar diep, behaaglike teue toe die vuurhoutjie in die tabak invlam.

Hy begin hoes, maar hou steeds aan suie aan dié lekkerte. Sy hele houding is ontspanne en dit lyk of hy diep dink. Sy steur haar nie daaraan nie, want sy ken hom soos ’n boek; hy het nooit iets om te sê nie, allermins vir haar.

Hy trek sy waterskoene uit en loop op sy sokkies na buite. Sy voete ruik na iets tussen modder en karringmelk. Sy bring vir hom water in ’n bak waar hy op die bankie by die agterdeur sit.

Sy voete lyk bleek en geswel en lyk vir haar snaaks, want sy sien hom beswaarlik kaalvoet loop. Hy het elke dag sokkies aan, winter en somer.

Jan is klaar en skiet die water oor die werf uit. Hy stap kamer toe en trek sy seeklere uit. Hy steek weer sy pyp aan wat intussen doodgegaan het en kom rook-rook uitgestap.

Hy mompel iets wat klink na die weer wat môre onweer gaan wees. Sy sê niks en stap na die tafel om die vis te sny.

Buite word dit vinnig donker, maar sy hoor die spelende kinders nog na mekaar skree en lag. Sy roep hulle om te bad en kommandeer die oudstes om toe te sien dat die kleintjies gewas en hul slaapklere aangetrek word.

Die winter is nou op sy koudste, so hulle moet maar vroeg binne wees. Sy kan nie elke week met die kinders se borse kliniek toe gaan nie.

Haar hart voel nou net so warm soos die kombuis. Netta se kinders het nog net hul ma, want hul pa is oorlede toe hulle nog klein was.

’n Mens moet maar probeer, sover jy kan, om wysheid te gebruik, en sy probeer hulle ook so grootmaak. Sy vlek die vis vinnig, haar hande sekuur om die vissersmes.

Meesterlik sny sy perfekte snitte, en toe die vars visreuk uit die pan begin styg, is dit soos ’n lokliedjie wat die kinders in die kombuis laat opdam. Die brood is ook reg en die mes sny seepglad deur die vars koeke.

Die botter smelt dadelik toe sy dit smeer; sy gee maar dié luukse vanaand, want sy het geen groente by nie. Die kinders lê weg asof hulle dae laas iets oor hul lippe gehad het; die lekkerte blink om hul monde.

Haar hart voel nou net so warm soos die kombuis. Netta se kinders het nog net hul ma, want hul pa is oorlede toe hulle nog klein was.

Sy probeer dus maar albei se skoene vol staan, want sy is tog vir hulle ook so lief soos vir haar eie. Hulle gee sin aan haar lewe en die stryd met Jan, veral oor naweke. Waar ander Vrydagmiddae van hul huislike pligte en kinders vergeet, gaan sy maar net voort soos in die week.

Ja, sy verlang daarna om soms ’n bietjie weg te breek en net asem te skep, maar dit is seker hoe die Liewe Vader haar aanmekaargesit het.

Om van haarself te gee, weer en weer – geen wonder almal dink sy moet maar net vir hulle regstaan nie. Sy ruk uit haar bepeinsing toe haar oudste dogter sê dat sy die kinders kamer toe neem. So een ná die ander kom hulle op ’n ry staan om nag te sê met klein armpies warm om haar lyf.

Sy voel die tenger kinderlyfies teen haar en haar hart wil van liefde oorloop. Hoe sou haar lewe sonder hulle gewees het?

Sy sou tien teen een al ’n volslae suiplap gewees het met Jan wat kom en gaan soos hy wil. Hierdie kinders gee sin aan haar lewe elke dag wat die Vader haar gee, en daarvoor is sy dankbaar.

Sy moet haarself male sonder tal soggens dwing om uit die kooi op te staan en met haar dagtake voort te gaan. Maar hierdie kinders – haar eie en Netta s’n – is haar missie.

Elke dag moet sy hulle voed en veilig hou.  

Die kinders lê soos sardientjies ingeryg op die breë grondbed. Sy buk af op haar knieë aan die koppenent en gee agt soentjies. Trane wel in haar oë op terwyl sy na hul vredevolle gesiggies afkyk.

Soveel onskuld en vrede straal op die slapende gesiggies, dit laat haar hart te groot vir haar borskas voel. Jan snork reeds toe sy onder die komberse inkruip. Haar voete en hande is yskoud en die wolsokkies voel nie juis van nut vir dié koue nie.

Haar asem is warm teen haar lippe en sy blaas in haar koue hande. Stadigaan laat Jan se liggaamshitte haar warm word; sy voel soos ’n bevrore hoender wat ontdooi.

Sy sug diep van verligting; die stilte van die nag is oorverdowend. Iewers breek ’n kriek se nagviool vir ’n oomblik deur die stilte. Veraf hoor sy ’n kiewiet in skril vlug. Is dit ’n ma-voël wat haar eiers beskerm?

Die vaak maak haar oë swaar en sy draai op haar sy. Haar voete en hande is nou warm en sy dompel droomloos hier en daar weg.

Dankbaar stuur sy haar gebed na bo en bid vir beskerming deur die donker nag vir haar kinders en vir haar suster in die groot stad.

Buite lê die werf in silwer gebaai. Soos in ’n sprokiesland staan die bome al met die paadjie langs tot onder in die groot pad.

Dis doodstil en selfs die kriek en die kiewiet het tot ruste gekom.

Op die oosterkim hang die maan vol en rond. Soos verwonderde kinderogies flonker die sterre soos diamante in die swart hemelruim. Môre is nog ’n dag.