“Eet iets.” Lenka staar na haar ontbyt. “Huh?”

“Ek sê eet,” herhaal Neil.

Wanneer Lenka skryf, vergeet sy dinge soos eet en hare kam.

Sy hap, maar haar gedagtes is op ’n ander plek.

Neil soen haar liggies. “Eet,” maan hy weer voor hy by die deur uitgaan. Lenka gaan sit voor haar rekenaar. Sy lees wat sy gister geskryf het, frons en vee uit. ’n Halfuur later gaan dit steeds so. Tik . . . vee uit . . . tik . . . vee uit.

So, liefde met die eerste oogopslag bestaan toe tog.

Moedeloos gesukkel gaan soek sy inspirasie by die naaste inkopiesentrum. Dit kom mos soms uit vreemde oorde. Sy koop ’n paar kleinighede, onder meer ’n nagrok wat ’n plaas se geld kos en haar laat bloos toe sy dit voor haar hou.

’n Boek oor lyftaal in die venster van ’n boekwinkel lok haar binne. Dis wat sy nodig het. Sy gaan sit in die hoek van ’n koffiekroeg en bekyk die mense. Hulle lag, gesels en neem foto’s van hulself, hul vriende en hul kos. Niks inspirerends nie.

Dan maar kyk wat sê die boek. Mm . . . weerspieël die ander persoon se liggaamshouding, speel met jou hare of jou bykomstighede, byt jou lip, maak oogkontak . . . Ingedagte boots sy die aksies na terwyl sy lees. By “oogkontak” kyk sy rond na iemand om mee oogkontak te maak, en ’n man tref haar oog. ’n Mooi man wat vir haar sit en lag. Verleë skuil sy agter die boek.

“Ek sal dit vir jou onderteken as jy wil.” Lenka kyk verskrik op. Die mooi man staan langs haar en beduie na die boek. “Ek . . . ek . . . wat?” Hy druk sy vinger op die foto van die skrywer en glimlag. “O, dis jou boek? Ek . . . ek bedoel, jy is die skrywer?”

“Hulle sê so.” Sy oë kreukel. “As jy vrae het, kan ons daaroor gesels.” Hy gaan sit sonder om te wag op ’n antwoord.

“Bekruip jy altyd mense wat jou boek lees?” Lenka vra die eerste ding wat in haar kop opkom.

“Wel, dit lyk asof jy sukkel, en ek is nou hier.” Hy leun ontspanne agteroor.

“Wel, terwyl jy nou hier is en hulp aanbied . . . Ek is Lenka.”

Hy skud haar hand plegtig. “En ek is Lood van Wyk, soos jy kan sien. Eintlik Lodewyk, maar Lodewyk van Wyk . . . ” Lenka lag saam met hom, en die ys is gebreek.

“Ek probeer ’n boek skryf, maar dis ’n nuwe genre vir my, en ek sukkel.”

Hy kyk ongelowig na haar trouring toe sy haar probleem verduidelik, en Lenka is dadelik op haar perdjie. “Ek was in ’n meisieskool en Neil was my eerste . . . kêrel. Ons het dadelik van mekaar gehou, so dit was nooit nodig om speletjies te speel nie.”

“So, liefde met die eerste oogopslag bestaan toe tog.”

Die glimlag in sy oë haal die byt uit sy opmerking.

Hy is wel ’n baie aantreklike man, maar regtig . . .

Lood is ’n goeie leermeester. Hy verduidelik en demonstreer en flankeer ligweg met elke vrou in die omtrek. En hulle val daarvoor. Hy is wel ’n baie aantreklike man, maar regtig . . .

Die laaste strooi is ’n paar bakvissies by die tafel langsaan wat kamma ’n selfie neem, maar die fokus is duidelik meer op Lood.

“Maak die vroumense jou nie gek nie?” blaker sy ná ’n ruk uit. “Nee. Ek demonstreer die fyner kunsies van lyftaal, en hulle is die proefkonyne.”

Hy klink ernstig, maar Lenka sien ’n vonkel in sy oë. Proefkonyne, verbeel jou!

“Vergeet van hulle. Kom ons kyk hoeveel visse jy kan vang.”

Hy beduie na twee mans drie tafels verder.

Lenka sluk haar lag. “Nou? Hier? Is jy gek? Ek sal dit nooit regkry nie.”

“Wil jy vir my sê ek is nie ’n goeie leermeester nie?”

“Jy is ’n aantreklike man en . . . ”

“En jy is ’n mooi vrou. Doen dit, anders gaan daardie storie nooit klaarkom nie.”

Lenka se oë pleit. “Ek is skaam. Kan ek nie op jou oefen nie? Dan kan jy my sê as ek iets verkeerds doen.”

“O, nee! Jy is die soort vrou wat ’n man se hart kan breek. Netnou val ek vir jou.”

Hy klink ernstig, maar die lag lê weer vlak in sy oë, of verbeel sy haar? Lenka se oë rek. Hy is nie ernstig nie! Of is hy? Lood kyk op sy horlosie en staan op, skielik haastig.

“Ek moet gaan. Maar oefen! Sodra daardie boek gepubliseer word, soek ek ’n getekende eksemplaar.”

Hy streel liggies met sy vinger oor haar wang. “Tot siens, mooi Lenka!”

Teen die tyd dat sy by die huis kom, voel die tussenspel soos ’n ou droom. Vanaand bederf sy haar man vir ’n slag. Die ellendige boek sal nie weghardloop nie. Sy voel skuldig daaroor dat sy Neil die afgelope tyd afgeskeep het.

Sy wag vir hom op die stoep en hy soen haar skrams, sy aandag meer by die geure wat uit die kombuis kom.

Jy is die soort vrou wat ’n man se hart kan breek. Netnou val ek vir jou.

“Is jou boek klaar?”

“Nee. En dis ’n manuskrip, nie ’n boek nie . . . ” Lenka voel dadelik krapperig.

“Wel, dit gaan ’n boek word,” vererger hy die situasie onwetend.

“Nie soos dit nou gaan nie. Ek sukkel.” Lenka weet sy klink bot, maar sy wil nie nou oor die boek praat nie.

Neil weet van beter as om met haar te redeneer. Die res van die aand vermy hy die onderwerp. Dis lekker om haar weer ’n slag vir homself te hê, maar hy weet dit sal nie lank duur nie. Die nag slaap sy sleg en voordag sluip sy studeerkamer toe. Die manuskrip moet klaarkom sodat hul lewe weer normaal kan raak. Dit voel asof sy aan niks anders kan dink nie.

Gelukkig hou Neil die fort. Hy verstaan haar soos niemand anders nie. Nie eens die sjarmante Lood van Wyk nie. Hulle ken mekaar so goed, weet wat mekaar se behoeftes is – maar hoekom voel dit vir haar asof dit hul verhouding se skuld is dat sy die roman nie geskryf kry nie?

Daar skort tog nie iets nie. Neil sou seker vir haar gesê het as iets hom pla. Sy self is tevrede – sy dink in ieder geval sy is tevrede, want sy ken niks anders as dit wat sy en Neil het nie.

Tik . . . vee uit . . . tik . . . vee uit . . . Die woorde klink reg in haar kop, maar wanneer sy dit teruglees, klink dit emosieloos. Stomp, skerp, te dramaties, te soetsappig, te gevoelloos, te dit, te dat . . .

Neil trek die voordeur agter hom toe. Hy hoor hoe Lenka haar frustrasie op die sleutelbord uithaal. Goed, dan is wegneemetes hul voorland. Hy bestel by ’n plek wat aflewer, maar soos baie aande eet hy alleen. Dis laat toe Lenka kamer toe kom.

“Het jy geëet?” vra Neil besorgd.

Dan voel sy sy warm mond wat ’n paadjie soen van haar skouer teen haar nek op tot agter haar oor. Hoe kon sy nie weet van hierdie wonderlik sensitiewe plek op haar eie lyf nie!

“Ek is nie lus vir kos nie.” Hy wonder of hy hom verbeel dat hy iets onbekends in haar oë gesien het.

Lenka bad en trek die nuwe nagrok aan. Dis beslis nie die soort kledingstuk waaraan sy of haar man gewoond is nie. Dis meer kant as lap en wys baie meer as wat dit toemaak. Sy sien haarself onverwags in die spieël en ’n gloed trek teen haar nek op.

Neil kyk nie op toe sy by die badkamer uitstap nie; eers toe sy aan sy kant van die bed gaan sit.

“Neil, vryf asseblief my skouers. Ek is stokstyf.”

Sy oorweeg dit om hom pleitend aan te kyk, maar sy wil nie haar hand oorspeel nie. Dit word stil agter haar. Sy loer oor haar skouer en sien haar man na haar kaal rug staar. Sy hande skuif die fyn bandjies van haar skouers af, en sy wag dat hy haar seer spiere begin vryf.

Maar dan voel sy sy warm mond wat ’n paadjie soen van haar skouer teen haar nek op tot agter haar oor. Hoe kon sy nie weet van hierdie wonderlik sensitiewe plek op haar eie lyf nie!

Sy staan op.

“Nee, kom terug!” Neil se stem is hees.

Lyftaal, nè?

Sy draai om en kyk hom reguit in sy oë. Net vir ’n oomblik, want dan skuif sy blik af, oor haar lippe en haar nek tot by haar rondings wat onder die swart kant uitloer. Sy steek haar hand uit, neem syne en sit dit op haar heup neer. Hy lig sy ander hand op en vat haar alkant vas.

Heelwat later, baie later, glip sy van die bed af. Neil gryp na haar, maar sy draai haar lyf uit sy pad.

“Nee, kom terug! Waarheen gaan jy dan nou?”

“My boek klaar skryf,” sê sy oor haar skouer.

“Wat van jou navorsing? Jy het mos gesê jy moet nog navorsing doen?”

“Klaar gedoen. Nou net . . . ”

Sy oë vernou. “Presies watter soort boek is jy aan die skryf, Lenka?” “

’n Hygroman. Dankie vir jou hulp!”

Sy lag volg haar in die gang af. “Enige tyd, my vrou. Enige tyd!”