Trudy Van Wyk stap met afgemete treë tussen die geparkeerde motors deur. Haar pikswart kuif wip-wip oor haar ongegrimeerde gesig, ’n gesig nou rooi van frustrasie.

“Dis nie my dag vandag nie,” erken sy hardop aan haarself terwyl sy in haar handsak grawe op soek na haar selfoon. Gelukkig is haar beste vriend, Diederik, se nommer in haar snelbellysie gebêre.

“Diederik, help my,” kla-snik sy sommer met die intrap, sonder om eens te vra hoe dit met hom gaan.

“Ek is buite die winkelsentrum. Ek het daardie boek kom soek wat Eduard so graag vir sy verjaardag wil hê. Maar ek kan nie mooi onthou wat die boek se naam is nie en ek kon dit nêrens kry nie en nou weet ek nie waar my motor is nie. Ek is klaar amper laat vir die boekbespreking waar ek hom moet ontmoet.”

“Wag, wag,” hoor sy Diederik se kalmerende stem aan die ander kant.

“Gaan staan nou eers stil, Trudy. Ontspan en dink terug. Van watter kant het jy die parkeerterrein binnegery?”

Trudy gaan staan botstil. Soos altyd wanneer sy Diederik se gerusstellende stem hoor, is dit asof die paniek stadig uit haar lyf verdamp.

“Ek . . . ek onthou nou,” sê sy verlig.

“Ek het van die huis se kant gekom. Daar staan my motor!”

“Stap nou na jou kar, Trudy, en terwyl jy stap, vertel my van die boek wat Eduard graag wil hê. Kan jy die skrywer se naam onthou? Of ten minste een woord van die titel?”

“Dis iets van . . . van metafoor! Dis hy! Dit gaan oor die buitenste ruimte. En iets van ’n metafoor.”

Sy ken Diederik al van gr. 6 af. So lank as wat sy kan onthou, was hy nog altyd die een wat haar uithelp wanneer sy in die moeilikheid is.

Goeie, geduldige ou Diederik. Die omgeebeertjie met sy potsierlike dik lyfie en sy immervriendelike glimlag. Altyd die een wat haar herinner het aan watter huiswerk hulle moet doen. Altyd die een wat haar ondersteun en navorsing help doen het vir haar debatkompetisies.

Hy het tot haar rok vir die matriekafskeid help uitsoek, al het hy self nie eens ’n date gehad nie.

Vandag is hy ’n aktuaris by ’n groot firma en nie meer die pokkeltjie van hul laerskooldae nie. Maar áltyd daar wanneer sy iemand soek om raad te gee. Moed in te praat. ’n Skouer soek om op te huil.

Goeie vriende is ’n seldsame ding, dink sy toe sy ’n halfuur later haar motor ’n blok van die huis parkeer waar die boekbespreking plaasvind.

“Ek skuld hom iets. Dalk moet ons een aand gaan uiteet, net ek en hy, net vriendskaplik; ek sal alles betaal . . . ja! Dis ’n goeie idee.”

Sy voel skielik beter nadat sy dié besluit geneem het.

Die straat voor die huis is reeds stampvol motors en die geselsie is seker al aan die gang. Gaan Eduard vies wees sy is so laat? Hy is ’n stiptelike mens en sy is so ’n loskop. Dit was van die begin af ’n groot bron van frustrasie in hul verhouding.

As ’n mens dit ’n verhouding kan noem.

Aantreklike vrygesel Eduard. Dosent in letterkunde aan die universiteit. Honderde studente was al tevergeefs op hom en sy intense staalblou oë verlief. En hy’s boonop romanties. Sy wéét dis hy wat klokslag elke week ’n bos rose anoniem by haar voordeur laat aflewer.

Hoekom, ná ’n jaar van los en vas uitgaan, ’n jaar van flankeer, drukkies en wangsoentjies, hou sy hom steeds op ’n afstand?

Die rockkitaarspeler Joachim. Dis die rede. Hy is die absolute teenpool van Eduard. Deurmekaar, chaoties, waansinnig kreatief en verleidelik losbandig. Nie so perfek aantreklik soos Eduard nie, maar met sy lang hare, ruie, donker wimpers en lui uitdrukking is hy so onweerstaanbaar soos die duiwel self.

Sy is nou al maande lank tussen twee vure. Lig en donker. Jin en Jang. Aan wie moet sy haar hart toevertrou?

Terwyl Trudy buite in haar motor sit en oorval word deur besluiteloosheid en gemengde gevoelens wat dreig om haar in twee te skeur, hoor sy skielik ’n tok-tok aan die ruit van haar motor.

Sy draai die ruit af. Waar kom hy vandaan? So skielik? Sy herken dadelik die simpatieke, sagte grysgroen oë, die skamerige glimlaggie, die vaal hare, effens deurmekaar, bo die intelligente hoë voorkop. Diederik. Hy lyk uitasem.

“Ek het die boek gekry wat jy soek en dit sommer klaar in geskenkpapier toegedraai,” sê hy.

“Meer As ’n Metafoor deur Maryna Blomerus.”

“Dis reg,” sê Trudy verbaas.

“O, Diederik, jy moes nie . . . en so vinnig! Hoe het jy dit reggekry?”

“Gegoogle. Jou naam is nie daarin nie, maar aangesien die rose wat hy vir jou stuur anoniem is, kan hy ’n slag raai van wie dit kom.”

Hy knipoog.

“Ek het darem die prys afgehaal.”

“Diederik, ek het gedink . . . ek wou jou lankal treat vir alles wat jy vir my beteken. Sal ons vanaand iets gaan eet en drink? Wat van Mitzi’s? Ek sal betaal.”

Wow, dit sal lekker wees, thanks, Trudy, maar wat gaan jou kêrels daarvan dink? Dit nogal op Eduard se verjaardag?”

“Hy sien vanaand sy ouers,” sê sy.

“Hy’t my saamgenooi, maar ek voel nog nie reg om hulle te ontmoet nie. En Joachim . . . ek sien hom vanmiddag, maar hul groep speel vanaand by die casino.”

’n Skaduwee val oor hulle.

“Dankie, Trudy, ek sal daar wees. So sewe . . .”

Die volgende oomblik stamp die ander man hom ru van haar motor weg.

“Jy los haar uit!” Diederik staan effens verbaas eenkant toe, verwarring op sy gesig.

“Daar is seker iewers ’n misverstand. Daar is niks . . .”

Maar Eduard se woedende oë is nou op Trudy gerig.

“My geduld is op, jong dame. Dis die einde van ons kersligetes. Ek het genoeg geld op jou uitgegee!”

Hy draai op sy hakskeen om en stap met mening terug na die huis waar die boekbespreking steeds aan die gang is. Trudy en Diederik kyk na mekaar. Haar mond werk-werk van die skok.

“Is jy oukei, Trudy?” vra Diederik besorg.

“Dis oukei, Diederik.” Sy sluk.

“Sien jou . . . sien jou seweuur by Mitzi’s?”

“Dalk kan jy daai boek vir Joachim gee,” skerts Diederik. Sy glimlag valerig.

“Meer As ’n Metafoor? Nee. Ek dink nie so nie. Hy sal nie weet wat ’n metafoor is nie.”

Maar die middag op pad na Joachim se plek besluit sy tog: “Aangesien hy nou my enigste kêrel is, moet ek hom ’n bietjie probeer opvoed.”

Met die boek, steeds toegedraai, in haar hand, klim sy die trap na sy woonstel. ’n Vreemde, soet reuk val haar op. Dit neem Joachim lank om sy voordeur oop te maak. Toe hy eindelik verskyn, is hy in sy onderbroek. Sy oë is rooi en bloedbelope.

“Trudy! Gits! Ek het skoon van ons koffiedate vergeet.”

’n Meisie verskyn agter hom. Sy het nie baie klere aan nie.

“Jockie, moenie sommer die deur oopmaak nie. Dit kan dalk die cops wees.”

Trudy herken haar as Pamela, die nuwe agtergrondsangeres in Joachim se groep. Joachim gee ’n skewe laggie.

“Dis Pamela,” sê hy. “Sy het duidelik vergeet zol is nou legal.”

Sonder ’n woord stop Trudy die boek in Joachim se hande. Dan draai sy om.

“Wat’s dié?” vra hy terwyl hy die papier afskeur.

“Meer As ’n . . . wát?”

“Beskou dit as my afskeidsgeskenk,” sê Trudy bitter sonder om eens een keer na hom terug te kyk.

Daardie aand is die eerste werklik ontspanne aand in Trudy se lewe in ’n lang tyd. Sy is eers stil, maar ná die eerste glasie rooiwyn begin sy beter voel. En toe, skielik, raak haar tong los.

“Dankie tog, Diederik, ek hoef nie meer my lewe so versigtig te beplan nie,” sê sy verlig.

“Dis heerlik om weer single te wees. Ek besef dit nou eers.”

Single? Wat van Joachim?”

“Hy weet nie wat ’n metafoor is nie. En hy rook dagga. En o ja! Hy slaap by sy band se nuwe sangeres. Dink ek.”

“O.”

Terwyl die kelnerin haar tyd neem om die kers tussen hulle aan te steek, kyk Trudy skielik na Diederik en sê: “Diederik, jy is nou al 15 jaar my beste pel en ek voel dis ’n eenrigtingvriendskap. Ek weet nie eens wat deesdae in jou lewe aangaan nie. Vertel my iets. Hoe is jou werk? Het jy al ’n meisie in die oog?”

Diederik glimlag, tel die spyskaart op en steek sy gesig daaragter weg voor hy sê: “Ek is al so lank verlief op ’n onbereikbare iemand, Trudy, maar sy sien my nie eens raak nie.”

“Dóén iets!” sê Trudy.

“Stuur vir haar rose of iets.”

“Ek doen dit,” sê hy. “Elke week.”

Dan haal hy die spyskaart weg en kyk reguit na haar.

“Dit help nie.”

“Dit was jý?”

Trudy se oë rek so groot soos pierings.

“Jy . . . vir my.”

“Ja,” sê Diederik. “Ek . . . vir jou.” Dan voeg hy die vermiste woorde self in. “Is lief. Ek is lief vir jou.”

Op daardie oomblik verskyn die kelnerin weer en probeer hul glase met nog rooiwyn volmaak. Maar Trudy sit haar hande plat bo-op albei glase.

“Niks meer vir my nie,” sê sy, “en ook nie vir hom nie.” Diederik lyk verbouereerd.

“Ons kan dit los, Trudy,” fluister hy.

“Ek kan huis toe gaan.”

Maar Trudy knipoog vir hom en kyk dan na die kelnerin.

“Ek dink ons moet na vonkelwyn oorslaan,” sê sy beslis. En dan kyk sy met ’n breë glimlag haar beste maat stip in die oë.

“Ek het die gevoel ons gaan voor die aand om is iets hê om te vier.”