Amalia se gedagtes loop ver paaie terug na die dag toe sy die enigste kind geword het.

Sy sit onder die groot wilgerboom wat lang­arm sy wiegende takke in die wind laat speel. Die harde houtbankie waarop sy sit, is haar ­gereelde ontvlugting.

Sy kom hierheen wanneer gister se herinnerings haar uit die huis kom jaag. Sy onthou die pyn wat ’n mens versmoor en jou keel toedruk. Die begeerte om te hardloop en nooit weer terug te kyk nie.

Sy glimlag effens toe sy na die klompie kinders kyk wat op die lowergroen grasperk van die parkie bal skop. Hoe eenvoudig is die lewe nie wanneer ’n mens sewe jaar oud is nie?

Die ou man op die bankie

Sy word bewus van die ou man wat langs haar op die bankie sit en skyfies eet. Hulle kyk stilweg na mekaar. Sy sien die verhale van swaarkry op sy gesig afgeëts en vir ’n oomblik hou hy haar oë gevange. Met krom, vereelte vingers hou hy die pak skyfies woordeloos na haar uit. Sy neem ’n paar en kou stadig daaraan. Hy eet ongestoord verder sonder om ’n woord te sê.

Die goudgeel vinke wedywer raserig oor ’n stukkie brood hier voor haar voete.

Vandag is dit presies 25 jaar ná daardie donker Dinsdagmiddag. Haar bors trek toe toe sy aan die witkrytbuitelyne op die grond dink. ’n Kleintjie en ’n grote.

Sy dink terug aan die man wat hul pa was, hoe hulle sy humeur moes probeer sysprong. Hul ma wat altyd moes smeek hy moet haar en Anke tog net los.

“Vat my; los hulle asseblief net!” hoor sy steeds die gesmeek wat op dowe ore geval het wanneer die lang nek van die bottel hul pa se verstand kom toedraai het.

Wanneer sy en Anke met kneusplekke by die skool opgedaag het, het niemand iets gesê nie. Wie sou dit waag om teenoor Rudi Pieterse ’n woord te rep? Almal was bang vir die groot man met die ­wrede oë.

Trane stroom oor haar wange. Die ou man langs haar sit steeds rustig, geensins deur haar soutwatergeween geraak of geïntimideer nie.

Haat en wrewel

Sy onthou die gevoel van vryheid elke keer wanneer sy by die spoorweghuisie aan die verkeerde kant van die spoor uitgestap het. Sy het gedroom hoe sy eendag uit Jagersfontein sal wegstap en nooit weer sal terugkyk nie. Haar pa nooit weer sal sien nie.

Sy het hom gehaat. Sy voel weer die wrewel in haar opstoot. Sy sluk, haal diep asem en fokus daarop om te ontspan. Sy het in die loop van die jare geleer om te laat gaan, maar so af en toe oorweldig die verwyt haar weer.

Amalia sidder en trek haar serpie hoër teen haar nek op. Sy loer vlugtig na die man langs haar. Hy het ’n kortmoustrepieshemp aan en sy hoed is laag oor sy oë getrek. Hy kou steeds rustig aan sy pak skyfies. Hy is oud, sy gesig duidelik deur die storms van die lewe verwaai.

Sou hy ook sit en na gister verlang? Het hy ­enige verwyte oor sy lewe en dinge wat hy anders sou gedoen het?

Hoe graag sou sy nou eerder langs Anke wou sit. Hulle sou gelag, gesels en elke faset van hul lewe met mekaar uitgeruil het. Haar suster sou gretig in haar vreugde gedeel het toe sy graad vang.

Amalia sug. As ’n tweeling gebore; as ’n enigste kind graad gevang.

Kalwerliefde word vir-altyd-liefde

Sy weet Anke skep nou asem bo die wolke. Sy behoort getroos te wees Anke is hierdie wêreld se pyn gespaar. Haar sussie het altyd baie swaarder as sy gekry. Die baadjie van mishandeling het Anke oor haar skouers gegooi en nooit weer uitgetrek nie. Amalia kon dit afskud en by die huis los.

Sy het daardie Dinsdag uitgeglip na Werner toe.

Hy was haar ontvlugting, haar wegkruip van die lewe en haar beste vriend. Hy was al wat in haar lewe sin gemaak het. Kalwerliefde wat vroeg reeds vir-altyd-liefde geword het. Wanneer sy sleepvoet na die spoorweghuisie moes terugloop, het sy die magteloosheid in sy oë gesien.

Tot daardie Dinsdagmiddag.

Voor sy mooi tot verhaal kon kom, dra hulle Anke en ma langbome toe. Een groot kis en een kleintjie. ’n Miljoen jaar kom sit in haar lyf elke keer wanneer sy terug­dink aan die leë graf waarin die kiste stadig afsak. Sy is nie seker hoe sy dit deur daardie dag gemaak het nie. Sy onthou net Werner se hand in die holte van haar rug wat haar regop gehou het.

Sy was altyd die sterk een; die enigste een wat teen pa kon opstaan, hom net  ’n sekonde laat huiwer het.

Telkens het sy pimpel en pers daar uitgestap as gevolg daarvan. Dan het sy by Werner haar wonde gaan lek. Hy het keer op keer met ’n yspak en koue lappie haar blou kolle beter gemaak. Hy het haar weggesteek.

As sy maar net daar was. Nie so gereeld na Werner se huis gevlug het nie. Anke en haar ma was soos een siel. Dieselfde sagte geaardheid en dieselfde uitkyk op die lewe. Hulle het alles saam gedoen, ook saam op die bed lê en huil wanneer pa eindelik op die ruskamer se bank sy roes lê en afslaap.

Grootwordjare

Sy was anders. Iemand wat dinge nie net gelate aanvaar het nie. Met na­betragting besef sy sy het eintlik alles met haar teenstand vererger.

Twee jong mense stap hand aan hand voor hulle in die paadjie verby. Die meisie met haar ontwerpersklere en ’n uitgelate heupswaai. Blink vere ’n bewys hulle is deel van die generasie wat nog niks in die lewe moes opoffer nie. Sy beny hulle hul sorgelose jeug.

Haar eie jeug is ge­kenmerk deur lang ure se gespook om die pot aan die kook te hou.

Sy moes ná daardie Dinsdagmiddag, op 16, broodwinner wees. Nie een dag was so sorgeloos soos hulle s’n nie. Sy het bedags skoolgegaan, smiddae in die kafee gewerk en saans tot laatnag by kerslig sit en leer, vas­beslote om te presteer.

Dit sou haar kaartjie na vryheid wees; ’n manier om van hierdie haatlike plek af weg te kom. Slaap was ’n luukse en elke sent is 10 keer omgedraai. Haar hande was skurf gewerk.

Sy sien weer die witkrytbuitelyne op die grond. Sy onthou hoe sy op die buite­lyne lê en huil het tot ’n polisieman haar opgetel en in ’n harde grys kombers toegedraai het.

Haar pa het eenkant in ’n patetiese bondel gelê, besope en met sy oë pleitend op haar gerig tot hulle hom weg­geneem het.

Sy onthou sy het gewonder hoekom hulle so gelukkig was om te kon sterf en sy nie. Sy wou saamgaan; sy wou nie alleen agterbly nie.

Vergifnis

Vandag, presies 25 jaar later, het sy haar pa vergewe, al kom klim die bitterheid soms nog op haar rug.

Vergifnis maak ’n mens vry. Dit verander nie die verlede nie, maar verhef die toekoms. Vergifnis is nie iets wat jy vir iemand anders doen nie; jy doen dit vir jouself. Sodat jy kan genees en ­vorentoe beweeg. Dit bring bevryding. Dít het sy geleer.

Sy sien voor haar geestesoog die gefrommelde motorwrak op daardie donker Dinsdagmiddag. Die flitsende ligte en loeiende sirenes. En weer die krytbuitelyne wat elke nag wanneer sy haar oë toemaak nog by haar spook. Sy ruik nog die brandstof en reuk van verfrommelde menselywe. Anke en ma se lywe. Sy sien die eindelose swart remmerke op die warm, grys teer.

Sy het daarna elke dag vir haar pa gaan kuier, ure langs sy bed sit en huil. Haar pa het nooit weer gepraat nie, nooit weer geleef nie. Ophou loop en ophou hoop.

Toe hy die dag ontslaan word, het sy besef daar is nie meer tyd vir selfbejammering nie. Sy het alleen agtergebly met die siellose liggaam van haar pa om te versorg.

Die man langs haar maak keel skoon en sy word uit haar droomwêreld wakker geruk. Sy kyk op en sien die son het ­agter die wolke verdwyn.

Dankbaarheid is die hart se geheue wat jou vandag se seë­ninge met intensiteit laat ervaar.

“Kom, pa, ons moet teruggaan,” sê sy en staan op. Sy help hom terug in sy rolstoel en tel sy voete een vir een op die pedale. Hulle stap met die gekraakte sementpaadjie langs na waar die groot huis agter die laning witstinkhoutbome lê. Werner en die kinders wag seker al vir hulle.

Die letsels van haar lewe is op haar lyf sigbaar, maar toe sy by die tuinhekkie instap en haar kinders in die blou swembad voor haar imposante woning hoor lag en speel, besef sy dankbaarheid gee sin aan gister, vrede aan vandag en skep hoop vir môre. Dankbaarheid is die hart se geheue wat jou vandag se seë­ninge met intensiteit laat ervaar.

Sy stoot die groot man in die rolstoel met die netjiese leiklippaadjie langs tussen die kleurryke bedding kannas deur. Haar gemoed raak weer lig en sy asem die geur van ’n skoongewaste siel in.

Sy kyk af na haar pa in die rolstoel en weet ten spyte van die grondpaaie van pyn en swaarkry, kruip bloed tog waar dit nie kan loop nie.