Dis nou of nooit. Sy gee haar kredietkaart aan die lenige outjie met sy satyngladde kuite. Daar gaan my vakansie Kroasië toe, besef sy. Want sy het pas haar kaart in die rooi gedruk vir ’n lycra-broekie met ’n opgestopte sitvlak en ’n fietsrak wat sy vroualleen aan haar motor kan vasklik.

En daarmee het haar verskoning van verlede jaar, dat die stad te onveilig is vir fietsry, amptelik gesneuwel. Haar ander verskoning bestaan ook nie langer nie: Brian. Hy het haar die dag voor Kersfees ingelig hy wil eintlik net vriende wees.

Iets wat haar suster van verligting laat jubel het: “Daar het jy pas van 80 lelike kilogramme ontslae geraak!” Brian se idee van oefening was rekenaarspeletjies. G’n wonder sy het stadig maar seker uit haar jeans begin stoel nie. Maar dis geskiedenis.

Sy sal die spinnerakke tussen die fiets se speke uitvee en begin ry. Koebaai, Kroasië; hallo, kuite!

Saterdagoggend is sy al van vieruur af wakker. Fiets gewas; bande gepomp. Teen vyfuur het sy ’n piesang in en kletter sy met fiets en al by die brandtrap af na die woonstel se parkeergarage.

Nuwe fietsrak aanklik; fiets vasmaak. Helm, bril, skoene. Handskoene? Sy moet terughardloop. Waterbottel? Weer terug draf. Sweetband! Vir die derde keer storm sy die trap uit.

Teen sesuur sit sy natgesweet agter die stuur. Dit voel asof sy weer matriek-algebra gaan skryf. Hoekom het dit verlede week na ’n briljante plan geklink?

Sy ry deur die stil strate. Dis ’n ander Johannesburg dié, een wat net die vroegoggenddrawwers en die fietsryers ken. Sy ry met die venster oop. Die lug wat inwaai, ruik na klam grond en gras. Om te dink sy kon nou agter Brian se rug gelê en na sy rokerskug geluister het . . .

Die beginners. En die meisies met boude wat ’n dubbelgarage nodig het.

Toe is sy buite die stad. Onder yslike bloekoms kry sy die koffierestaurant waar die klub bymekaarkom. Daar is reeds plate motors. Sy ken nie ’n siel nie, maar sy weet sy moet Tom soek. Dis glo hy wat die beginners by ’n blou banier sal ontmoet.

Sy het op die internet gesoek na ’n fietsklub tot sy een gekry het wat voorsiening maak vir beginners, mense soos sy wie se fiets al jare lank teen ’n motorhuismuur hang. Mense soos sy wat nie kan glo hoe groot die fietsrybroek haar sitvlak laat lyk nie.

Sy kyk skrams na haarself in die weerkaatsing van ’n motor terwyl sy haar fiets na die blou banier stoot. Hoekom laat die blessitse broek haar soos ’n baba met ’n nat doek voel? En tog lyk die atletiese manne hier voor haar soos gode in hul kleefpakkies, van kop tot tone in babablou, die ene senings en bultende kuite.

“Dis die elitespan,” hoor sy iemand agter haar sê. Moet wees, dink sy en loer onder haar wimpers na die gladde bene. Mooi was nog nooit lelik nie. Veral nie die een wat op sy pedale staan en balanseer soos ’n sirkusakrobaat nie. Aan elke kuit is ’n bulhond getatoeëer. Met elke trilling van sy spiere lyk dit of die honde se lippe bewe.

Toe sy by hom verbyskuur, raak haar pedaal aan die papierdun wiel van sy babablou fiets. Vir ’n oomblik kantel hy gevaarlik. Hy kry sy voet betyds op die grond, maar swets verskriklik.

“Ekskuus!” Sy hou haar hand uit om te keer dat die knaap omval.

“Jammer. Ek is regtig jammer.” Sy weet haar nek gloei.

“Watch it!” brom die ou toe hy sy balans herwin. Hy stoot haar hand weg.

“Sal ’n dubbelgarage vir daai een nodig hê,” hoor sy hom toe sy ’n ent weg is. En dan die soort lag wat ’n meisie in trane kan laat uitbars. “Tekkies! O hel, pasop. Dis vandag net paloekas waar jy kyk.”

Dan is sy genadig te ver weg om nog te hoor. Sy kyk af na haar tekkies. Hulle is nog nie eens afbetaal nie en nou is hulle reeds afgegradeer na paloekastatus.

Anja stoot haar fiets blindelings tot tussen die groep met hul T-hemde en tekkies. Háár mense. Die beginners, verroestes en verstotelinge. En die meisies met boude wat ’n dubbelgarage nodig het. As sy kon, het sy nou teruggesluip motor toe. Maar sy is vas.

Die groep begin stadig beweeg. Sy wip op haar saal en begin trap tot sy reg agter die leier ry. Sy val by die man se ritme in. En teen haar sin geniet sy elke trap. Sy begin van Bulhondbene vergeet. Toe sy ná ’n halfuur omkyk, is daar geen teken van die groep nie. Voor haar wink die leier haar om langs hom in te val.

“Jy’s sterk?” Hy is vriendelik. En ’n ordentlike grootte. Lank en fris. “Bly links en hou reguit aan. Ek gaan omdraai vir die res van die groep. Ek sal jou weer inhaal. Lekker ry!”

Hy swenk weg om terug te draai. Sy trap. Dis hemels om haar lyf weer in aksie te voel. Sy kan haar skop dat sy so sleg geraak het. Net toe vlieg ’n groep ryers suisend by haar verby. Dis die span gode.

Die agterste een draai in sy saal om en skree: “Waar’s jou rooi vlag?”

“My wat?” vra sy verwilderd. Sy herken hom, dis Bulhondkuite.

“Rooi vlag vir abnormale vrag!” En kwa-kwa-kwa, lag hy vir sy eie grap. Hy hou terug tot sy langs hom ry. “Lekker vir die tekkies!” En hy skiet soos ’n vuurpyl vorentoe.

“Dis Hekkie.” Die leier is weer by haar. Hy haal hard asem.

Dis hemels om haar lyf weer in aksie te voel. Sy kan haar skop dat sy so sleg geraak het.

“Ignoreer hom. Groot bek. Iemand gaan dit nog vir hom toeklap.” Hulle ry ’n paar minute in stilte. Dan praat hy weer. “Ek is Tom. Jy?”

“Anja.” Sy moet haar asem spaar vir die bult wat voorlê.

“Jy is eintlik te sterk vir die beginners. Volgende week moet jy saam met die B-groep ry.”

“Regtig?”

“Beslis. En eendag kan jy in ’n padfiets belê. ’n Lekker ligte een. Jou bergfiets is vrek swaar. Dis dié dat ou Hekkie jou abnormale vrag noem.”

Vir die eerste keer in ’n lang, lang ruk voel Anja haar gemoed lig. ’n Rooiwarm stroom energie borrel uit haar hart na haar bene. Hiep-hiep! Hekkie het gepraat van haar fiets, nie haar sitvlak nie!

“Hei! Wat is in jou waterbottel?” Tom se asem jaag toe hy haar weer inhaal.

“Wat dit ook al is, gee vir my ook!”

Net toe sien sy ’n beweging links van die pad. Sy kyk weer. Kan dit wees?

“Rooiruglewerik!” blaker sy dit uit.

“Waar?” Tom trek sy remme en ry van die teer af.

“Wag net . . . dáár! Groot klip by tweeuur.” Net toe begin die lewerik helder roep.

“Kom!”

Tom stoot sy fiets tot teen die grensdraad. “Sou nader wou gegaan het, maar dis ’n bekslanerhek. Daar’s nie nou tyd om met hom te sukkel nie.”

Hy swaai sy rugsakkie af en haal ’n klein verkyker uit. “Hier, kyk. Dis ’n mannetjie.”

Met die lewerik se kuifie goed in fokus, vra sy hom: “Van waar jou belangstelling in voëls?”

“Dis seker maar die sand onder my tone. Ek is ’n Kalaharikind. En jy?”

“Bosveld in my are. My selfoon lui soos die kuifkopvisvanger.” Sy skakel haar foon se luitoon vir hom aan. Tjip-tjirrrrr, begin die visvangertjie roep.

“Luister na myne,” roep hy verras. “Ek koop vir jou koffie as jy dié een ken.”

Sy foon begin hees skree. “Jy gaan koffie koop, Tom. Dis ’n swart korhaan daai.”

Sy kan bars van trots toe sy die verbasing op sy gesig lees. “Dan moet ons nou op die pad kom. Ek ruik al die koffie.”

Hy kyk op. “Daar kom die stadiges. Ek gaan agter by hulle ry. As jy haastig is, gaan gerus vooruit.”

Sy klouter terug op die fiets. “Nee wat. Ek soek liewer nog ’n mooi voëltjie.”

Vir die volgende halfuur trap hulle rustig terwyl Tom die agterosse aanmoedig. So tussendeur gesels hulle oor voëls. En oor werk en woonstelle, spitsverkeer en staproetes. Dit voel vir Anja of sy hom al jare lank ken. Dis net so lekker om met die skaam argitek te praat.

“Ons is seker maar almal trekvoëls,” sê Tom skielik.

“Jy bedoel dat ons stad toe trek agter kos aan? Werk?”

Sy dink aan die rooiwangparakiete wat saans in die boom voor haar venster slaap. Hoe de dinges het hulle die hele ent van Namibië af daar gekom?

“Dit ook. Maar vir maats soek. Om nes te bou.” Hy lag. “Vergeet dat ek dit gesê het. Dit het nou heeltemal verkeerd uitgekom.”

Hy ry vooruit om ’n oorgewig man teen die bult uit te stoot.

Anja grinnik. Sy kan sweer sy ore gloei.

Skielik swaai die groep voor haar uit. Daar is ’n ryer in die noodbaan wat sy fiets stoot. Dis Hekkie wat rooi in die gesig op sy sokkies langs sy fiets draf.

“Pap band?” hoor sy Tom skree. Maar die groep lag en fluit. “Die klub se kombi is net agter ons. Spring maar in.”

Anja trek haar remme. Sy gaan stadig langs Hekkie ry. “Waar’s jou skoene?”

“Gaan bars,” snou hy haar uitasem toe. “Julle flippen vroumense het g’n humorsin nie.”

’n Lig gaan vir Anja op. “Toe vat ’n meisie jou skoene? Sommerso?”

En voor sy haarself kan keer, koggel sy hom. “Was dit ’n paloeka met tekkies aan?”

Hy antwoord nie, want die klub se kombi toeter agter hulle.

Moenie ’n sterk meisie onderskat nie, veral nie as sy kwaad is nie.

Anja begin weer trap. Sy haal die meisie net voor die koffierestaurant in. Sy is sterk gebou. Die twee hempsakkies aan haar rug staan bult met twee babablou fietsskoene.

“Hoe het jy dit reggekry?” vra Anja.

“Ek het hom laasweek belowe ek sal hom van sy fiets afhaal as hy weer sy bek oor my rek. En hy wou nie luister nie.”

Haar tande skitter. “Moenie ’n sterk meisie onderskat nie, veral nie as sy kwaad is nie.” Sy glimlag vir Anja.

“Ek het hom doodeenvoudig van agter af ingery en met my dikwiel van die pad afgedwing. O, ou Hekkie sal moet kruip vir sy skoene!”

“Toe vang ’n bekslanerhek vandag vir ou Hekkie?” lag Tom waar hy haar inwag. “Ek het vir ons koffie bestel. Sommer eier ook. Reg met jou?”

“Klink of jy iets het om te vier?”

“ ’n Rooiruglewerik en ’n mooi kuifkopvisvanger op een oggend.” Sy oë kreukel.

“En ’n bekslaner,” herinner sy hom laggend.

Voëls van enerse vere, sou haar ma sê.