Irma se vingerpunte bewe toe sy die deur oopstoot wat na die babakamer lei. Sy huiwer ’n oomblik lank op die drumpel van die ligblou geverfde vertrek en laat haar oë oor die vrolike, funksionele dekor gly.

Die kinderbedjie is in die vorm van ’n boot. ’n Rooi reddingsboei hang bo die bed en rond die prentjie af. Gekleurde vissies en nog seediere van polistereen versier die mure en baljaar tussen die skuimende branders wat Irma self geverf het. ’n Opgestopte lapdolfyntjie wat op die bed lê se knoopogies loer nuuskierig na haar.

Irma tree oor die mat wat ’n stadstoneel uitbeeld. Daar is teerstraatjies, motorhawens, fabrieke en huisies, stopstrate en verkeersligte. Die seerowerkis teen die muur is vol karretjies en lorries gepak.

Sy gaan staan voor die groot gelamineerde letters teen die muur en trek die gladde buitelyne na met bewende vingertoppe. Haar lippe vorm die klanke een-een.

B-E-N.

Haar Ben . . . klein Ben. Sy draai om en haar oë vind sy ondeunde gesiggie op die geraamde foto teen die muur langs die oop deur. Sy skaterlag vul die vertrek. Irma se mondhoeke wil-wil optrek in ’n spontane saamlag, maar dan skiet haar oë vol trane en gaan sit sy op die bed.

Haar vingers streel oor die duvetoortreksel met die prentjies van veelkleurige bootjies daarop. Hier het sy op Ben se warm magie geblaas en allerhande skreeusnaakse geluide gemaak tot hy gejil het van die lag.

Irma tel die dolfyn op en druk dit teen haar vas. Ben was so lief vir hierdie sagtespeelding. Dolfie het elke aand by hom geslaap en is selfs op die mat staangemaak om saam karretjies te speel.

Irma trek haar voete onder haar in en gaan lê met haar wang op die koel sloop van die kussing. Sy druk haar neus in die kussing en adem diep in. Soms dink sy sy ruik hom nog . . . die onskuldige seuntjiereuk in sy nek, die geurige babasjampoe in sy hare . . .

Hier op sy bootbedjie met Dolfie styf teen haar bors kan sy soms nog glo hy is by haar. Asof hy net ’n langer-as- gewoonlik-uiltjie geknip het en nou-nou sal wakker word. Sy groot donker ogies sal oopgaan en vol blydskap en vertroue in hare kyk asof hy geweet het sy sou daar wees wanneer hy wakker word. Dis so seer . . . die verlange.

Ek’s bevrees ek’t slegte nuus vir u, mevrou. Juf. Lang se toestand is uiters kritiek. Sy vra na u.

Iewers lui ’n foon dringend en aanhoudend. Irma knip haar oë verward. Dis sterk skemer in die kamer. Sy het sowaar hier op Ben se bed ingesluimer.

Sy loer na die glimmende wysers op haar horlosie en kom dan vinnig orent. In feitlik dieselfde beweging stryk sy die beddegoed met die hand glad en lê die dolfyntjie op sy plek neer.

Die foon lui steeds en sy haas haar om dit in die tuiskantoor op die onderste verdieping te antwoord. Bernard woon op die oomblik ’n konferensie in die Kaap by en sal haar eers later vanaand op haar selfoon bel. Die huisfoon lui nie gereeld nie. Irma vermoed dis ’n telebemarker wat ’n diens of produk wil verkwansel; ’n baie opdringerige telebemarker wat die foon ná ure so lank laat lui, frons sy liggies toe sy die handstuk optel.

“Mev. Volcker? Irma Volcker?” verneem ’n vrouestem saaklik in haar oor.

“Ja, dis Irma Volcker wat praat. Kan ek u help?”

“Mev. Volcker, dis matrone Bets Conradie wat praat. Ek skakel in verband met ’n pasiënt, ’n juf. Tisha Lang, wat vanmiddag hier in die Siloam- Mediese Sentrum opgeneem is.”

Die naam van die hospitaal stuur koue rillings teen Irma se ruggraat af. Sy knyp haar oë toe en skud haar kop liggies om ontslae te raak van die naarheid wat in haar keel opstoot.

“Ek’s bevrees ek’t slegte nuus vir u, mevrou. Juf. Lang se toestand is uiters kritiek. Sy vra na u.”

Irma hou die gehoorstuk stywer vas.

“U’t seker die verkeerde nommer, matrone. Ek ken nie ’n Tisha Lang nie.”

Daar is ’n oomblik stilte. Dit klink asof die matrone deur ’n lêer blaai, want Irma kan die ritseling van papiere hoor.

Sy fluister iets onhoorbaars; haar oë groot en smekend. Deernis vir die sterwende vrou spoel deur Irma.

“Juf. Lang het u naam en foonnommer as verwysing gegee. Sy’t ook ’n straatadres gegee. Laat ek net gou kyk. Ja, hier’s dit. U adres word aangedui as Gousblomstraat 10. Is dit korrek?”

“Ja, dis wel my adres,” frons Irma, “maar ek verseker u, matrone, ek weet nie wie juf. Lang is nie. Ek kan nie dink hoekom sy my . . .”

“Mev. Volcker, asseblief. Wil u nie maar tog kom nie? Die vrou is op haar laaste.”

Matrone Conradie stap Irma tegemoet toe die hysbak haar op die derde vloer uitspoeg.

“Mev. Volcker?” verneem sy saaklik, en toe Irma knik, neem sy haar aan die elmboog en stuur haar na die hoësorgkamer oorkant die diensstasie.

“Trompop botsing. Dokter het gedoen wat hy kon . . .” Sy haal haar skouers op.

“Dokter kon die ou seuntjie met ’n keisersnee red, maar ek’s bevrees die jong moedertjie se beserings is net te erg.”

Irma staar na die onbekende, bleek vrou in die hospitaalbed. Sy is oorweldigend bewus van die reuk van ontsmetmiddel, die biepende monitors en drupstaander. Ben is in so ’n kamer dood verklaar. Haar knieë swig onder haar en sy gaan sit bewerig op die stoel langs die bed. Haar maag ruk en sy kyk benoud rond.

Matrone Conradie gee Irma ’n glas water aan en raak simpatiek aan haar skouer. Dan draai sy na die pasiënt wat steeds met toe oë lê. “Tisha? Mev. Volcker is hier.”

Die jong vrou se mooi groen oë fladder oop. Die matrone verskoon haar en verlaat die vertrek.

Dis duidelik Tisha verkeer in kwaai pyn. Daar is donker kringe onder haar oë en sy pers haar lippe in ’n dun lyn saam. Haar hande reik krampagtig na Irma s’n. Sy fluister iets onhoorbaars; haar oë groot en smekend.

Deernis vir die sterwende vrou spoel deur Irma. Sy plaas die glas op die bedkassie en neem die vrou se yskoue hande vertroostend in hare.

Jy en Bernard het ’n verhouding gehad? Jy en my man? ’n Affair?

“Wie . . .?” begin sy, maar Tisha vind haar stem. “Bernard . . . is die . . . pa . . .” fluister sy skor.

Irma frons en skud haar kop. Sy moes verkeerd gehoor het. Die vrou yl. Dalk moet sy die matrone roep?

“Ná Ben . . .” Tisha se oë skiet vol trane. Sy hyg na asem. “Bernard . . . by my troos gesoek. So jammer. Vergewe . . .”

Nee. Dit kan nie waar wees nie. Is dit iemand se idee van ’n grap? Irma voel hoe die kamer om haar begin draai. Sy wil haar hande wegtrek, maar Tisha se greep is meteens verbasend sterk; haar oë helder.

“Bernard het . . . jóú lief. Ek . . . en hy het net . . . troos gevind . . . by mekaar. Ek ná my egskeiding. Hy . . . Ben.”

“Jy en Bernard het ’n verhouding gehad? Jy en my man? ’n Affair?” Die woorde kom lê vreemd op Irma se tong.

“Een keer. Net één keer. Bernard . . . weet nie eens van . . . die baba nie. Maar nou . . .” Tisha hoes.

Haar gesig vertrek van die pyn. Sy leun swak teen die kussing terug. ’n Paar oomblikke lank is net die biep van die masjiene hoorbaar.

“Asseblief, vat my baba,” fluister Tisha.

“Ekskuus?” Irma skud haar kop in verbystering. Hierdie vreemde vrou is stapelgek. Om sulke dinge te sê . . .

“Sy praat die waarheid. Jy weet dit,” pla ’n stem diep binne-in Irma. “Jy was so in jou eie smart vasgevang ná klein Ben se dood dat jy jou onttrek het aan jou man. Hy moes alleen op sy eie rou.”

Haar gesig vertrek van die pyn. Sy lê swak teen die kussings terug.

Die deur gaan oop en ’n verpleegster kom binne. Sy dra ’n toegedraaide bondeltjie. Sy kyk vir toestemming na Tisha en plaas dan die slapende babatjie in die oorblufte Irma se arms.

“Die mooiste seuntjie in die wêreld.” Sy glimlag. Irma staar na die pienk, verkreukelde gesiggie. ’n Gesiggie wat so baie na haar Ben lyk.

Onwillekeurig lig sy die baba se ken op en vind die geboortevlekkie daar. Dis dieselfde vlek wat Bernard het; dieselfde vlek wat Ben gehad het.

Voor sy haar kan keer, plant sy ’n soentjie op die kleinding se voorkoppie en adem sy die babatjie se reuk diep in haar longe in. Vir die eerste keer sedert Ben se dood voel haar arms nie leeg nie.

“Joune,” fluister Tisha skor. “Asseblief!”

Sy hoes weer. Bloeddruppels spat oor die wit deken. Die verpleegster is dadelik by om te help, maar Tisha beur weg. Haar oë is angstig-smekend op Irma gerig. Haar hele wese is ingestel op dié se antwoord.

Irma se arms verstyf beskermend om die bondeltjie.

Dis Bernard se kind. Ben se kleinboet. Sy, Irma, kan nie meer kinders hê nie. Hierdie seuntjie kan hare wees as sy hom wil hê. Sy leun spontaan vorentoe sodat Tisha haar baba se gesiggie kan sien.

“Ek en Bernard sal mooi na hom kyk. Ek belowe.”

Tisha se oë skiet vol trane. Sy sluk en knik dankbaar. Sy raak saggies aan haar seuntjie se wang. Leun dan swak en uitgeput terug en sluit haar oë. Haar bors dein vir oulaas liggies op en dan af. Sy haal nie weer asem nie.

Irma kyk toe hoe die verpleegster die laken oor Tisha se stil gelaat trek. Haar gemoed is oorvol. Die baba word wakker en knies saggies. Irma glimlag liefdevol in sy ogies af.

“Kom ons bel jou pappa en vertel hom van jou.”