Ek is nie meer ’n mens nie, dink sy. Ek is ’n human blimp.

Sy draai met haar sykant na die spieël, en met haar onderlip tussen haar tande vasgebyt, kyk sy na die boog wat haar maag maak. Jy dra nie in die boude nie, het haar ma gesê toe sy haarself eendag sover kry om na Amelia te kyk.

Dit gaan ’n dogtertjie wees. Daardie woorde het die strooitjies geword waaraan sy soos ’n besetene vasklou.

Partykeer, in die laatnag, wanneer die droom haar laat wakker skrik en sy sidderend in die ysige kom van die naskok lê, sê sy oor en oor en oor vir haarself: Dis ’n dogtertjie, dis ’n dogtertjie.

Enige man sou so opgetree het. Niemand verstaan nie. Nie haar ouers nie, nie een van haar vriendinne nie, nie die ginekoloog nie, nie die psigiater nie, maar veral nie Neil nie.

Sy lig haar naghemp op, vryf oor die amper deursigtige vel wat om die ronding van haar maag span, en met haar wysvinger volg sy die wasige padkaart van koningsblou are.

Alles aan my is soos ’n ryp vrug wat wag om oop te bars, dink sy terwyl sy na haar swaar, ronde borste kyk.

Aan die begin kon sy dit nie verduur om haarself te sien nie. Dis eers nou, soveel maande later, dat sy na haarself in die spieël kan kyk sonder om te haat. Dit het die ritueel geword wat haar van haarself moes red.

’n Radoxbad, growwe handdoek, room aan haar arms en bene en dan vitamien E-olie aan haar maag en borste. Sy het kaal na haar weerkaatsing staan en kyk en haarself gedwing om haar lang hare met egalige hale te borsel tot lank nadat dit uitgeborsel was.

Dan het sy na die hoë wangbene en die bang groen oë van die vrou in die spieël gekyk en dieselfde woorde oor en oor gesê: Ek is ’n mens, ek is ’n vrou, ek is ’n ma, ek is Amelia – tot sy geleer het om haarself te glo.

Aan die begin het sy in die nag wakker geword en haar hand het oor die koue bed na Neil gesoek. Sy kon nie huil nie. Sy het met brandende oë en ’n toegedrukte keel na die plafon lê en staar terwyl sy vir haarself vertel dis heeltemal normaal: Enige man sou so opgetree het.

Niemand verstaan nie. Nie haar ouers nie, nie een van haar vriendinne nie, nie die ginekoloog nie, nie die psigiater nie, maar veral nie Neil nie.

Sy is, op ’n heeltemal ander manier, die scarlet woman.

Toemaar, ek verstaan self nie, het sy in die nag gefluister asof sy vir Neil, wat nie daar is nie, wou troos. Die baba beweeg in haar en sy sit haar hand waar die roering is. Die vrou in die spieël se lippe maak ’n glimlag en ’n sagtheid gaan sit in haar oë.

Dit was soveel anders aan die begin. Daar was tye dat sy die kind uit haar liggaam sou skeur as sy kon. Sy het drome gehad waarin die kind in ’n monster verander en sy/haar pad uit haar lyf vreet.

Dan het sy dankbaar in haar droom gedink: Nou’s jy uit, nou sal Neil terugkom, nou sal my ma ophou slaappille drink en almal sal my weer aanvaar, nou sal ek weer kan leef.

Wanneer sy wakker word en die drukking in haar buik voel en besef die kind is nog in haar, wou sy die haat, afsku en die vrees uitskree. Aan die begin was daar woede; toe kom die vrees.

Jy hoef nie hierdie kind in die wêreld te bring nie, het die ginekoloog haar oor en oor verseker. Sê net.

Die psigiater het in sy stoel wat tjir teruggeleun en deur die waas van sigaretrook wat hom altyd omgewe, met sy oë op skrefies getrek, vir haar gevra hoekom. Ek weet nie, is al wat sy kon sê. Want sy hét nie.

Haar pa was te verleë om met haar daaroor te praat, maar sy kon die verslaentheid op sy gesig sien. Hy het dieselfde vraag as die psigiater gevra, maar met sy oë.

Haar ma was nog altyd die een wat die praatwerk gedoen het.

“Het jy mal geword,” het sy gevra. “Is jy van jou kop af? Is dit die trauma wat jou kranksinnig gemaak het? Want jy kan nie hierdie . . . monster in die wêreld bring nie. Verstaan jy nie? Daardie kind sal nooit my kleinkind wees nie. Sal nooit familie van ons wees nie. Jy koop met hierdie besluit vir jou eensaamheid, veragting en ’n lewe van onsekerheid en hel.”

Jy’s reg, ma, jy is reg. Dis net . . . ek kan nie.

En Neil.

Hy wou mal word toe hy hoor sy is swanger. Hy het gebrul en gehuil en God vervloek. Die ironie was verbysterend.

Hy wou mal word toe hy hoor sy is swanger. Hy het gebrul en gehuil en God vervloek en toe het hy soos ’n klein seuntjie by haar gepleit om van die kind ontslae te raak. Dis nie ’n kind nie, het hy geprewel, dis nie ’n kind nie.

Die ironie was verbysterend. Hy, haar man, kon nie by haar die kind verwek waarop hulle so gehoop het nie.

Dit het ’n verkragter gekos om dit te doen. En sy wou hom gelukkig maak ná alles wat hy saam met haar moes deurmaak. Die afspraak is gemaak, die teater bespreek en almal was verlig dit sou alles binnekort verby wees. Dit was amper soos om vir Kersfees voor te berei . . . die opgewondenheid in die familie.

In die hospitaal, met die bleekblou teaterklere in haar hande, het sy na hom gedraai en vir hom gesê sy kan nie daarmee voortgaan nie. Sy gesig was wit.

“Ek smeek jou, Amelia. Dis óf die . . . kind óf ek. Ek kan nie ’n verkragter se kind grootmaak nie; jy mag dit nie van my verwag nie.”

“Ek verwag dit nie van jou nie,” het sy gefluister en gevoel hoe die teaterklere uit haar dooie hande val.

Vannag sukkel sy om haar lê te kry. Die kind is swaar en sy sukkel om asem te haal. Sy sluimer in en skrik wakker ná ’n nagmerrie waarin die man haar weer verkrag. Sy sien hom so helder in haar droom.

Die dik blonde hare, die bril, die breë skouers en die groot, groot hande. Daardie hande het vuiste gemaak en haar geslaan tot sy nie meer kon keer nie.

Natgesweet raak sy weer aan die slaap en hierdie keer droom sy sy en die man sit aan tafel. Daar is Nagmaalwyn en brood op die tafel. Sy gee hom die beker en hy drink. Sy bied hom ’n stukkie brood aan en hy vat dit met daardie dik vingers.

Vergewe my, fluister hy. Ek het jou klaar vergewe, belowe sy hom, voor sy die Nagmaalbeker na haar mond lig.

Dis die pyn wat haar wakker maak. So, dis hoe dit voel, dink sy, en in die donkerte krimp haar hande in vuiste tot haar naels haar handpalms sny. Vir die eerste keer sedert Neil vir die laaste keer by hul huis uitgestap het, huil sy oor hom.

Sy huil oor die herinnering aan die sagtheid in sy oë wanneer hulle seks gehad het, die manier waarop hy sy lyf om hare kon krul wanneer hulle regmaak om aan die slaap te raak, sy arm om haar skouers wanneer hulle sit en televisie kyk, die eindelose ure van liefde wat sy gedink het nooit sal ophou nie.

Sy bel haar ma en vra of sy haar hospitaal toe sal vat.

“Ek is nou daar,” kom die slaperige stem wat tot skielike saaklikheid geskok is.

Haar pa is by. Hy dra die tassie stil-stil agter hulle aan, terwyl haar ma haar ondersteun op pad motor toe.

Daardie hande het vuiste gemaak en haar geslaan tot sy nie meer kon keer nie.

Ek was so alleen, wil sy vir haar ma sê. Ek wou van die eensaamheid vergaan, maar die sagtheid van jou lyf teen myne en die bekommernis in jou oë en dié van my pa maak my die gelukkigste mens op aarde.

Die ginekoloog is vaderlik. Die baba lê ongelukkig verkeerd; ’n noodkeisersnee is net die ding om die ou probleempie op te los.

Waar’s die pappa, vra die suster terwyl hulle die epiduraal toedien. Sy neem aan dis die pyn wat veroorsaak dat haar vraag nie beantwoord word nie.

Die ginekoloog glimlag vir haar oor die gordyn wat haar kop van die res van haar lyf skei en hy vertel haar hy gaan nou begin. Alles is amper verby, belowe hy haar. Sy maak haar oë toe en luister na die geluid van haar hartklop.

Die ginekoloog se stem kom droog: “Môre, pa, bly jy kon betyds hier wees. Gaan hou maar haar hand vas. Toe, suster, maak vir hom ’n bietjie plek.”

Waarvan praat hy, wonder Amelia. Haar oë flikker oop toe haar hand opgelig word. Donker hare en blou oë bo ’n teatermasker kyk af na haar. Neil? Oë wat vol trane skiet en ’n dierbare gesig wat na haar afbuig.

“Ek is lief vir jou,” fluister Neil se stem. Moenie ’n droom wees nie, pleit sy in haar kop; dit sal te wreed wees.

Haar lyf beweeg asof vanself en die drukking in haar buik, waaraan sy al so gewoond geraak het, is binne ’n asemteug weg.

Dan is daar die geluid van ’n stemmetjie wat luidkeels alles vertel oor die pyn en skok van daardie eerste asem en die ginekoloog se stem wat triomfantelik verklaar: “Dis ’n dogtertjie!”

“Sy lyk nes jy,” fluister Neil later. “Sy is so ongelooflik mooi.”