Net voor Kersfees laat weet Grieta en George se seun, Dawid, hy en sy gesin land Oukersdag uit Amerika vir ’n kort kuiertjie. Hy wou dit eers geheim hou, maar was bang hy ry heelpad van die lughawe af en kry hulle nie tuis nie. Waarheen dink hy tog sou hulle gaan? wonder Grieta.

By die aanhoor van die kleinkinders se name trek George se pupille klein en verskoon hy homself om sy rolbalskoene te gaan poleer. Grootouerskap oor vastelande heen is vir hom maar ’n kunsmatige affêre.

Twee jaar gelede se besoek spook nou nog by die ou mense. Die kinders was iets uit die bose, met skoene op die meubels, luidrugtige stemme en ’n ongesonde bereidwilligheid om hul mening oor alles te lug. Oor hoe haar seun se vrou hulle toelaat om soveel nonsens saam met hul kos te hê, kon Grieta agterna nie uitgepraat raak nie.

Dit steek haar ook nou nog dwars in die krop hoe hulle haar met die ander ouma vergelyk het.

Die tweetjies het met smaak vertel nanna Annabelle in Washington sit kalkoene so groot soos dinosourusse voor en gee nie om as hulle nie groente eet nie. Sy versier Kerstyd glo die hele huis – van die bokant van die trapreling af, uit by die voordeur, tot op die sypaadjie.

Anders as “grandma Ghreeta” se Kersvader betaal nanna Annabelle s’n nie net geld in hul bankrekening nie; haar skoorsteen is wyd genoeg vir geskenke, so Kersoggend kan ’n mens glo nie in haar sitkamer getrap kry sonder om oor ’n geskenkpakkie te val nie.

By Grieta en George was nog nooit ’n kalkoen op die Kerstafel nie, maar geen Kersfees gaan verby sonder slaai uit haar groentetuin nie. Daar is ook al jare nie meer Kersversierings of -geskenke nie.

“Ma kan maar ophou om ter wille van my ’n Kersboom op te sit,” het Dawid droogweg in sy matriekjaar gesê. “Ek is al ’n man met ’n baard.”

Daarna het Grieta nie weer gebodder met versierings nie. George het dit nie eens opgemerk nie en Dawid is in elk geval universiteit toe. Was dit nie vir al die kos nie (George en Dawid wou nie op die eettradisies besnoei nie), sou Kersfees in haar huis deurgegaan het as ’n doodgewone dag.

Maar vanjaar sal sy die twee beterweterige boggoed wys, kort kennisgewing ten spyt. Sy het nie verniet al die versierings uit Dawid se kleintyd gebêre nie. Haar huis sal lyk soos iets uit ’n Hollywood-fliek wanneer die Amerikanertjies oor die drumpel trap.

“George, haal tog vir my die bokse met die Kersgoed bo uit die linnekas voor jy ry,” roep sy toe sy hom met sy motorsleutels hoor. Maar George is reeds by die deur uit. Mos getroud met rolbal, dié man van haar.

“As jy iets gedoen wil hê, doen dit self,” stoei Grieta met die trapleertjie al in die gang af. Sy staan op die punte van haar tone om by te kom.

“As ek vandag my nek breek, is dit op George se gewete,” kners sy. Genadiglik kry sy alles sonder voorval uit die kas.

Al wat sy kry, is motgevrete maaksels uit sy kleuterskooldae

Reeds met die oopmaak van die eerste boks besef sy sy het die Kersfeeste uit Dawid se kleintyd deur die jare in haar herinnerings opgesmuk. Al wat sy kry, is motgevrete maaksels uit sy kleuterskooldae, versierings wat hulle saam van wasgoedpennetjies gemaak het, ’n plastiekster met ’n afgebreekte punt en ’n paar stowwerige klaterstringe. Beslis niks wat genoeg blink om Amerikaners mee te beïndruk nie.

“Dis seker die lewe se manier om vir my te sê I can’t keep up with the Joneses,” sug sy. “Dan doen ons dit maar soos ek en George gewoond is.”

Sy dra die nuttelose bokse buitentoe en sit dit langs die vullisdrom neer. Heeldag maak sy huis skoon.

“Vir wat sit jy jou so uit?” vra George toe hy tuiskom. “Jy weet mos sodra jy die deur oopmaak, gaan die twee orkaantjies al jou moeite en jou meubels verwoes.”

“Dink jy ek kan ou lakens oor die rusbanke gooi sonder om aanstoot te gee?” ignoreer sy hom.

Toe George haar nie hoor nie, bêre sy liefs die lakens in die kas. Netnou maak sy Dawid vies. Dawid en sy vrou moet in sy ou kamer slaap. Dis nou wel twee enkelbeddens, maar nadat die kinders die vorige keer ’n kantspieël van die antieke spieëltafel gebreek het, sal George sy seun se gesin nie weer in die hoofslaapkamer toelaat nie.

Sy sal maar vir die tweetjies in die sitkamer ’n krismisbed maak. Alles wat kan breek, het sy reeds weggesit.

Oukersdag begin Grieta voor sonop al met die bereiding van die kos: gestolde tunavorm vir voorgereg, aartappelslaai, hamme versier met glanskersies, gebraaide plaashoenders en beestonge met kondensmelkmosterd. Die beet staan reeds gebottel en die koolslaai sal sy Kersoggend maak.

Haar spyskaart lyk soos elke ander jaar. Moet sy dalk vir die kinders iets anders maak?

“Nee wat,” sug sy, “dit sal ’n mors van tyd en energie wees.”

Sy moet net onthou om die tonge vroegtydig te sny voor die twee sien wat dit is en hulself dalk naar maak. Dis al laatmiddag toe die gaste opdaag. Toe haar seun deur die deur stap, voel dit vir Grieta of hy nooit weg was nie. Die vrou groet ook hartlik.

“Dinner from the city,” soen sy Grieta op albei wange en stop haar ’n sak KFC in die hand. “Just to spare you the inconvenience of having to cook for us three days in a row.”

Grieta sien hoe George sy oë rol. Die twee bogte is intussen boontjieranke, genadiglik dié keer kaalvoet, merk sy op.

“Awh, no Christmas tree, grandma?” vra die oudste teleurgesteld.

“Wel, ek het . . . uhm, my planne het skeefgeloop.”

Grieta is dadelik vies dat sy haarself aan die klein merrie probeer verduidelik.

“Kom ons help met die bagasie,” verander sy die onderwerp. Met dié verdwyn die kinders deur die agterdeur buitentoe om die wêreld te gaan verken.

“We found some Christmas treasures outside,” sê hulle die aand terwyl hulle aan die KFC smul.

“Watse skatte nogal?” vra George agterdogtig. Hy wil gaan kyk of hy dalk van sy gereedskap buite laat rondlê het, maar Grieta sit haar hand op sy arm. Dis asof sy wil sê gereedskap is vervangbaar; ’n seun wat kom kuier, is nie.

“It’s a Christmas secret!” giggel die kinders. “Wait and see!”

“Julle sal moet regmaak vir jul krismisbed in die sitkamer,” sê Grieta op haar beste Engels toe sy sien hoe Dawid gaap.

“Awesome!” roep die twee kinders in ’n koor. By nanna Annabelle se huis sou ’n vloerbed-avontuur glo bitter gevaarlik wees: Kersvader sou hulle in die nag kon vertrap met sy sak geskenke.

Toe almal bed toe is, luister Grieta en George nog lank hoe die kinders giggel, rondskarrel en mekaar met kussings slaan. Grieta moet net keer of George gaan maak hulle stil.

“Laat los maar; ons sien Dawid net elke tweede Kersfees,” paai sy voor sy insluimer.

"Merry Christmas; come see the surprises!” skree die kinders hulle die oggend wakker en ruk die beddegoed af.

’n Oomblik lank is Grieta deurmekaar, maar dan onthou sy van die “skatte” wat die twee ontdek het. Sy en George moet maar gaan kyk.

“Hou jouself in, my man,” fluister sy toe hulle gangaf strompel. Ook Dawid en sy vrou kom met dikgeslaapte oë uit hul kamer.

'Is it from a factory?'

Voor die kaggel staan die groentetuin se voëlverskrikkertak in ’n ou verfblik, kompleet met sy foeliestringe wat die voëls verjaag. Die tak is plek-plek versier met ’n wasgoedpendonkie wat nog redbaar was. Die stukkende ster uit Dawid se kinderdae hang lendelam oor die hoogste takkie.

“We made a Christmas tree!” klap die twee hande. “And look, Santa has left us some delicious mud pies!”

Op die koffietafel staan inderdaad ’n bord vol modderkoekies, versier met rooi pitte van ’n granaat uit die tuin. Dié keer klap die grootmense hande terwyl die kinders vir elkeen ’n stralekrans van stowwerige glinsterstringe op die kop sit.

Middagete word vroeg voorgesit, want soos Grieta sê: “Die tafel wil nie heeldag swaarkry onder al die kos nie.”

“What kind of chicken is this?” vra die seunskind oor die tong.

“Dis bief,” wil-wil Grieta haar opwerk.

“Is it from a factory?”

“Self gemaak,” sê Grieta. “ ’n Mens eet dit saam met kondensmelk,” wys sy die snip.

Hmf, wie sou kon raai? Dalk is dit die vars plattelandse lug, maar die kinders verslind ’n hele tong op hul eie – saam met ’n bak kondensmelkmosterd, natuurlik. Grieta voel gevlei. George duidelik ook, want ná ete toor hy vir die kinders elk ’n paar geldnote agter hul ore uit.

“Cool – South African money has wild animals!” jil die seunskind.

“I love Christmas at grandma Ghreeta’s house!” gee die meisiemens oupa en ouma elkeen ’n druk.

Slaaptyd is die ou mense pootuit.

“Die twee snuiters raak oulik,” sê George toe hy onder die lakens inskuif.

“Elke Kersfees het sy wonderwerke,” sê Grieta en glimlag. “Teen die tyd dat hulle môre vertrek, gaan hulle beslis ons hart saamneem.”