DAG EEN

Ná 10 jaar keer ek terug na Devil’s Point. Die groot geroesemoes van die Kersgety is reeds verby.

Een ná die ander het gesinne hul wasgoedsakke vol vuil strandklere, hul kinders se nuwe speelgoed, hul opgevoude strandsambrele en kartondose vol halfgeëte kruideniersware teruggepak in hul motor, hul woon- of sleepwa agteraan hul motor gehaak, ingeklim op sitplekke nog klam van die handdoeke en korrelrig van sandkorrels, en die lang pad teruggevat na die binneland.

Wat oorbly, is ’n kaal kus. Die treurige geloei van die laatsomerwind verby die jetty en deur die stoep van die verlate strandkafee. En ek.

Tien jaar. Tien jaar sedert ek hier was. Nege jaar waarin ek gewag het dat die pyn van daardie verskriklike somer verbygaan. Dit het nie. Daarom het ek teruggekom. Daarom móés ek terugkeer.

Om vrede te maak met die gebeure van daardie Oujaarsaand. Trudy. Niks kan haar terugbring nie. Kan niks my dan ooit troos nie?

Tien jaar sedert ek hier was. Nege jaar waarin ek gewag het dat die pyn van daardie verskriklike somer verbygaan.

Ek het vanmiddag die verweerde deur van ons ou strandhuis agter my gesluit met die nuwe dubbele grendels wat ek aangesit het toe ek gister hier aankom, en ek het net begin stap.

Sommer ’n rigting in. Links en regs van my het die leë huise opgedoem. Pragtige strandhuise van hout en plaveisel, met name soos “C-Toe” en “Costa Plenti”. Die meeste was toegeluik; seker tot die volgende langnaweek.

By die see gekom, het ek ’n oomblik diep stil gaan staan, ver uitgekyk oor die grysblou water waar die laaste strale van die laatmiddagson die kruine van die branders met blas verfspatsels streel.

In die nat sand voor my was ’n enkele ry spore van ’n ander strandloper. Kaalvoetspore en langsaan, toe ek nader kyk, die trippeltoontjies van ’n hond.

Ek was klaarblyklik nie heeltemal alleen op Devil’s Point nie. Ek het my plakkies uitgeskop langs ’n lae bossie waar ek hulle met die terugkom weer sou kon kry, en aangestryk in die teenoorgestelde rigting as die ry kaalvoetspore.

DAG TWEE

Ek sien haar op ’n afstand. Die hond is ’n vriendelike bruin-en-swart borderkollie wat stertswaaiend al om haar dans en opgewonde die vlak brandertjies inhardloop elke keer wanneer sy ’n klippie gooi.

Sy is behendig met die plat klippies; hulle bons elke keer minstens vyf of ses maal op die water. ’n Ou seestapper. En ’n mooi vrou, met lang hare, byna die kleur van haar hond.

Ná Trudy se dood kon ek nog nie weer opgewonde raak oor mooi vroue nie.

Sy is steeds kaalvoet met ’n bont hippieagtige romp en iets wat op ’n afstand lyk soos houtkrale om haar nek. ’n Vry gees. Sy waai toe sy my sien, maar maak nie aanstaltes om ’n geselsie aan te knoop nie.

Ek is bly.

Ná Trudy se dood kon ek nog nie weer opgewonde raak oor mooi vroue nie.

Maar ek is jaloers dat sy so ’n gawe hond het. Ek mis dit. Die geselskap van ’n dier is vertroostend, en nie so veeleisend soos dié van ’n mens nie.

Dié aand, terwyl die ontydige somerreën saggies uitsak op my sinkdak en riviertjies vorm teen my ruite af, pak ek ’n klein vuurtjie in die binnebraaiplek, braai vir my twee tjoppies en eet dit sommer daar aan die kombuistafel. ’n Glasie rooiwyn voltooi die prentjie.

Sedert Trudy se dood het ek gemaklik begin voel met my eie geselskap. Ek was, per slot van rekening, nie heeltemal alleen nie. Die gesiglose, donker figuur van verlies en woede was my konstante medereisiger. Waar ek ook al gegaan het, was dit soos ’n woordelose skim in die hoek van elke vertrek, of dit nou in my eie huis in die stad was of in ’n vreemde hotel of hier.

Hier, waar die onheil ons getref het in die nanag van daardie Oujaarsaandvierings 10 jaar gelede.

Dit is erger hier. Ek het geweet dit sou erger wees. Hoekom het ek teruggekom?

Ek kou stadig, sluk die braaivleis stadig af en spoel elke hap af met ’n slukkie wyn. Dit smaak na niks. Maar in die lig van die kers wat ek aangesteek en op die houttafel voor my neergesit het, glinster die wyn in die glas. Soos bloed.

DAG DRIE

Ek het vanoggend wakker geword met ’n vae hoofpyn. Hoeveel wyn het ek gisteraand gedrink?

Tog, toe ek by die kombuis instap om op te ruim en die vorige aand se skottelgoed te was, is ek verbaas om te besef ek voel beter.

Devil’s Point doen my goed, want hier is ook goeie herinnerings. Ja, vandag voel ek anders. Ek het proviand nodig. Ek tel my beursie op.

Dis tyd om ander mense in die gesig te kyk, al is dit net die tannie agter die kasregister van die strandkafee.

DAG VIER

Ek kom haar weer teë, van alle plekke juis in die kafee langs die winkel. Ek sit met ’n koppie koffie en die oggendkoerant voor my uitgesprei toe sy ingestap kom, windverwaaid en asemrowend, met ’n vars blos op haar wange. Die hond is by haar. By die ingang na die kafee buk sy en maak hom aan ’n leiband vas soos die reëls vereis.

Eers toe sy gaan sit aan ’n tafel sowat 2 m weg, sien sy my raak. Daar is nie wegkomkans nie. Ons sal moet gesels. Tot my verbasing ken sy my.

Maar in die lig van die kers wat ek aangesteek en op die houttafel voor my neergesit het, glinster die wyn in die glas. Soos bloed.

“Jy is Willem,” sê sy, ’n skaduwee vlietend voor haar oë. Ek is verbaas dat sy my onthou. Sy is seker ’n ou inwoner van Devil’s Point, of haar ouers is.

Sy staan op en skud my hand. Haar vel voel effens grof, anders as wat ek verwag het. Soos iemand wat baie tuinwerk doen.

“Ek is Lana du Preez,” stel sy haarself voor.

“Jy sal my dalk nie onthou nie. Ek was nog op skool toe jy laas hier was. Ons was net met vakansies hier. Nou is ek terug. Ek het . . . ”

Sy lyk ’n oomblik selfbewus. “Ek het ’n beeldhouateljee begin.”

“Hallo, Lana,” sê ek, en skielik spring daar ’n prentjie in my kop van ’n mooierige tiener wat my groet terwyl sy oorhaastig by my verbyjaag op haar fiets dat die klippies van die grondpad teen my spat. “Hallo, oom Willem!”

Goeiste.

Ek vermy meteens haar oë, buk af en kyk na haar hond. Ek steek my hand uit na die vriendelike gesig met die spits neus en die uitasem tong. Die bruin oë vonkel van plesier toe ek my hande deur die dier se hare streel.

“Julle het ver gestap,” sê ek. “Hy’s lekker moeg.”

“Ontmoet Rufus,” sê sy.

Toe ek in Rufus se oë kyk, weet ek dit. Of voel ek ten minste iets roer diep binne.

Ek kyk van Rufus op na Lana.

Hul oë lyk dieselfde. Vol lewenslus en warmte. En ’n tikkie hartseer. Watter pyn steek sy weg?

Omdat ek nie weet wat om verder te sê nie, vra ek op die ingewing van die oomblik: “Watter soort beeldhouwerk doen jy?”

Haar oë skitter vir ’n oomblik asof sy regtig bly is oor die belangstelling.

“Kom kyk!” nooi sy my.

“Dis net hier langs die kafee.”

Toe sy begin uitstap, onthou ek haar naam skielik helder as deel van ’n koerantberig so drie jaar gelede. ’n Man is doodgeskiet op ’n kleinhoewe buite Devil’s Point.

“Hy word oorleef deur sy vrou, Lana.”

Ek staan op, sluk my laaste bietjie koffie af, skuif die koerant met al die slegte nuus van moord en doodslag eenkant toe, en volg die skraal vrou en haar hond. Af by die trap tot in die grondpad. Links by ’n volgende hekkie in.

Ons moet buk vir die lae takke van ’n oorhangende boom. Haar ateljee staan oop. Anders as die deur van my huis, wat ek elke keer stewig toegrendel, selfs wanneer ek net om die blok stap.

Hoe kom ek oor die vrees?

Boekrakke vol boeke. ’n Klein kombuisie. Veelkleurige muurbehangsels. Toonbanke vol kuns. Borsbeelde. Gesigte. Party uit klei, ander uit klip gemessel.

Ons deel dieselfde soort pyn.

“Ek doen gemengde media,” verduidelik sy terwyl die hond al stertswaaiend saamwandel.

“Hier is . . . ” Sy aarsel ’n oomblik. “My man.”

Ek herken die gesig. Hy het ook as tiener hier saam met sy ouers vakansie gehou.

“Ek maak beelde van mense wat gely het,” sê sy sag. “Dis deel van my eie traumaberading.”

Sy gaan staan stil voor ’n gesig wat nog nat is van die klei. “Hier is my nuutste.”

My hart vries in my.

Dis Trudy.

“Jy . . . jy weet.”

Sy knik.

Dan sê sy: “Ons deel dieselfde soort pyn.”

Ek buk af om van nader te kyk. Dis asof Trudy lewe.

Sy het alles vasgevang: die lewensblyheid, die wakker belangstelling, die innigheid.

“Ek het jou vrou geken,” sê sy. “Sy het party vakansies vir my storieboeke geleen.”

’n Baie lang ruk kry ek nie ’n woord uit nie.

Al wat ek voel, is die ongelooflike begeerte om te praat, ’n nag lank te praat, alles uit te praat met hierdie mens.

Toe ek terugkyk na haar, sien ek haar onderlip bewe.

Ek sê: “Lana, aangesien julle ook alleen hier is, wil jy en Rufus nie vanaand by my kom braai nie?”

Dis asof sy haar skielik regruk. Iets word wakker in haar oë wat nie vroeër daar was nie.

Dan skud sy haar lang hare van haar voorkop weg en vra met ’n ernstige glimlag: “Sal daar bene wees vir Rufus?”

Ek kyk af na die hond wat afwagtend en stip in my oë kyk met daardie bruin kykers van hom.

“Ons sal maar sien,” sê ek.

En in my geestesoog sien ek klippies, dosyne plat klippies wat bons oor die water.

Drie, vier, vyf, ontelbare kere.