Stella neem die bus stad toe omdat sy nie kans sien vir die verkeer nie. Sy het net ’n paar uur om ’n swart nommertjie vir Stefan-hulle se skemerpartytjie te koop.

“Hier’s vir jou geld,” het hy vanoggend ’n stapeltjie ponde op die bedkassie gelaat toe hy donkertyd kantoor toe is. Sy kon sien hoe moeilik dit vir hom was om dit vir haar te gee. Stefan is ’n man wat sy beursie dig toe hou en haar daagliks daaraan herinner dat hulle ’n enkelinkomstehuishouding is.

“Gaan koop vir jou iets skafliks,” was die bevel. “Onthou net, die baas se vrou moet onberispelik lyk.”

So asof sy hom in die skande sou steek. Of dalk het sy al en kan sy dit nie meer onthou nie. Sy was immers 11 jaar gelede laas by een van sy werkgeleenthede toe hulle nog in Suid-Afrika gewoon het.

Nee wat, sy is seker sy het hom nog nooit laat skaam kry nie. Waar sou sy die geleentheid gekry het? Sy was dan altyd net die tweeling se tuisblyma. Die meeste van sy kollegas weet waarskynlik nie eens hy het ’n vrou en kinders nie.

Terwyl sy deur die bus se ruit op die grou dag uitkyk, onthou sy die keer toe sy en die kinders onverwags by sy kantoor opgedaag het nadat hulle by die pediater in Sandton was. “Jy doen dit nooit weer nie,” het hy haar ferm aan die elmboog tot by die hyser begelei.

Sy het gedink hy was geïrriteerd omdat sy uitgevind het hy stal nie die kinders se foto’s op sy lessenaar uit nie; foto’s wat sy elke ses maande getrou laat raam het.

Wat het sy daardie dag aangehad? Dalk was dit een van haar sweetpakdae; sy onthou nie meer nie. Die tweeling was so dikwels siek dat sy die meeste dae nie by behoorlik aantrek uitgekom het nie.

Stefan was die meester van balanseertoertjies op pad na die boonste sport van die korporatiewe leer; sy die een wat haar beroep prysgegee het ter wille van die tweeling.

“Hoe was jou dag?” het sy dikwels gevra, net om ál meer te verdwaal in die onverstaanbare finansiële terminologie van sy onbetrokke antwoorde. Tevergeefs sou sy wag dat hy uitvra oor haar dag met die kinders.

Sy het die skuld soos ’n gewillige spons opgeslurp.

Die enkele keer dat sy werk nie hul jaarlikse vakansie in die wiele gery het nie, het hy die tweeling se name aanhou omruil. “Ek het geweet dis ’n slegte idee dat jy hulle sulke eenderse name gee,” het hy die skuld verplaas.

“Ek sal ophou om hulle dieselfde aan te trek,” het sy die skuld soos ’n gewillige spons opgeslurp. Dis toe dat sy die foto’s saam werk toe begin stuur het. Stefan was met tye so oorstuur dat sy bang was hy sou sy dogters heeltemal vergeet; daarom het sy hul name op die foto’s laat druk: Janneke en Janet.

Sy lewe het ál kleurryker geword: oorsese reise, onderhoude met die media, selfs ’n boekkontrak. Haar lewe het vervaal tot pajamadae en planne beraam om die tweeling se vergesogte verjaardagkoekidees te laat werk.

Soms het sy gesmag na sommer net gesels. “Dit het dol gegaan vandag,” het sy dit een aand teen bedtyd gewaag. “Die spesialis sê die meisiekinders se mangels moet uit.”

“Ek kan nie na jou geneul oor die kinders luister nie,” het hy gesê terwyl hy mansjetknopies uitsoek wat by die volgende oggend se hemp en das vir ’n belangrike vergadering pas.

“Ek het nie bedoel om te neul nie, Stefan. Ek sê bloot die dokter dink hulle mangels moet uit,” het sy verduidelik.

“Dit voel vir my jy verstaan nie hoe moeg ek saans is ná ’n stresvolle dag op kantoor nie,” het hy gesê en in die bed neergeplof.

Wanneer laas kon sy die luukse van verveling ervaar?

“Ek verstaan dit maar alte goed,” het sy gesê. “Ek is saans net so moeg soos jy.”

“Moeg van verveling, ja. Miskien moet jy vir ’n slag iets doen wat jou regtig bang maak,” het hy gesê. Hy het begin snork voor sy in haar vaal dop kon terugdeins vir die lemme van sy woorde.

Wanneer laas kon sy die luukse van verveling ervaar? Sy het ’n woede in haar voel opwel, maar tyd om haar woordwonde te verbind was daar nie. Janneke se koors was 40 grade en Janet was ook huilerig. Dis ’n wonderwerk dat sy enigsins in die nag kon soek na ’n antwoord: Wat maak haar die bangste?

“Ek dog dan jy sê die twee is siek,” het Stefan haar sesuur in die kinders se kamer kom piksoen toe hy ry. “Hier lê julle al drie so uit soos ’n kers.”

Van pure uitputting, ja, wou sy gil.

Sy het opgestaan en sterk koffie gaan maak, wetend dat kafeïen haar deur die dag sou moes dra. “Vandag bel ek ’n prokureur, Stefan Malan,” het sy by die venster geprewel terwyl sy kyk hoe hy na sy volkleurlewe wegry. “Want die ding wat my verreweg die bangste maak, is om met twee klein kindertjies oor te begin.”

Tussen doktersafsprake, koorsaanvalle en onsigbaar voel in lang apteektoue deur was daar heeldag nie tyd om ’n prokureur te soek wat nie met haar man bevriend is of saam met hom gholf speel nie.

“Ek is bevorder, liefling,” het Stefan haar daardie aand onkant betrap. Onkant omdat hy vroeg tuis was en aangebied het om aandete te maak terwyl sy die kinders bad. Onkant omdat hy haar ge-liefling het en onkant oor die arm vol tulpe wat hy aangedra het.

“Bevorder tot wat?” het sy gevra terwyl sy die blomme in ’n inmaakfles druk omdat sy die blomvase lank reeds in ’n krat in die motorhuis gebêre het. Sy kon nie dink aan iets wat hy beroepsgewys nog nie bereik het nie.

“Ek moet ’n kantoor in Londen gaan open en bestuur,” het hy gesê.

“Oos-Londen?”

“Londen-Londen,” het hy trots gesê en gelag. “Jy sal moet begin pak; ons het nie baie tyd nie.”

Londen in die verre vreemde met twee kinders wat binnenshuis sou moes speel om die grys nattigheid te ontwyk. ’n Man wat sy nog minder sou sien as nou. Algehele eensaamheid, geen sosiale infrastruktuur nie.

Dit het Stella veel banger gemaak as die egskeiding wat sy daardie oggend oorweeg het. “Wanneer moet ons aan die ander kant wees?” het sy gevra sonder dat hy die naakte vrees in haar stem kon hoor.

DIE eerste druppels teen haar gesig ruk Stella terug tot die hede. Sy moes intussen van die bus afgeklim het, want hier staan sy op die hoek van Oxford- en New Bond-straat.

Om haar skarrel mense om uit die reën te kom. Somber, stil, in swart en grys – dalk plek-plek iets in vlootblou vir enkele Britte wat dit waag om met kleur te speel. Sy glip by die eerste deur in om nie sopnat te reën nie.

Dis die luukse van ’n Bondstraatwinkel, besef sy toe haar skoene diep in die tapyt wegsak. Stefan sal stuipe kry as hy weet waar sy nou is. Die hopie swaarverdiende note wat hy haar die oggend gegee het, sal beslis niks hier kan koop nie. Nee wat, sy geld beperk haar tot die kettingwinkels in Oxfordstraat.

Hy hoef hom nie te bekommer nie; sy gaan immers altyd heel oordeelkundig te werk met sy geld. Sy kan net sowel gou deur die ontwerpersklere kyk tot die ergste reën bedaar. Sy is nou hier. Die winkel ruik na hout en lemoenbloeisels. Die klassieke melodieë pas by die mense se hoflike, gedempte stemme.

Interessantheidshalwe blaai Stella deur die rak met swart skemerkelkrokkies, die een so voorspelbaar soos die ander. Die pryse is belaglik. In Oxfordstraat sal sy veel minder betaal om ewe saai te lyk. Sy kyk op haar horlosie: Sy sal haar moet roer.

Vir die eerste keer in 11 jaar onthou Stella in volkleur.

Sy draai om deur se kant toe en word onverhoeds betrap deur reusagtige oranje hibiskusse op ’n swart rokkie voor haar. Dit lyk behoorlik of die blomme haar met laggende lippe wil omhels.

Oranje, die kleur die verste verwyder van die Britse kleurspektrum. Die kleur van Afrika-somers, die kleur waarin Afrika-mense lag. Vir die eerste keer in 11 jaar onthou Stella in volkleur.

Sy onthou haar bloedrooi woede die dag toe sy van Stefan wou skei, die baldadige bont bos tulpe waarmee hy haar probeer verlei het om hierheen te kom, en toe die strak swart en wit van Londen wat binne-in haar siel kom plak het. Tot vandag toe.

Dis asof die grys newel oor haar siel lig. Sy weet presies wat om te doen.

Die rok is peperduur, maar dit pas haar asof dit vir haar gemaak is. Sy verstom haar aan die uurglasfiguur wat sy 11 jaar lank in swart of grys slonsklere weggesteek het. In die aantrekkamer vroetel sy in die aparte vakkie in haar beursie en haal Stefan se kredietkaart uit die klein plastiekvouer.

“Slegs en alleenlik vir noodgevalle,” het hy gesê toe hy dit tevore vir haar gegee het voor een van sy lang oorsese reise.

Sy bel huis toe en praat met Janet. “Bestel vanaand vir julle ’n kerrie; ek is nog in die stad. Ek gaan direk van hier af na pappa se werkgeleentheid toe.”

Sy kyk een laaste keer vir haarself in die spieël: Nooit in haar wildste drome sou sy kon dink dat oranje haar so goed sou pas nie. “Watter skoene sou jy by hierdie rokkie aanbeveel?” vra sy vir die verkoopsdame.

Jimmy Choos, natuurlik. Speels in swart, oranje en rooi. Sy stry nie toe die verkoopsdame ook ’n bypassende handsakkie voorstel nie.

“Hoe gemaak met hare en grimering wanneer ’n mens nie baie tyd het nie?” vra Stella.

“Tweede verdieping,” sê die verkoopsdame trots. “Ons bied klante graag ’n eenstop-mode-ervaring.”

Stefan se reaksie wanneer hy haar sien, sal bepaal watter afspraak sy kanselleer.

VAN reën is daar nie sprake toe die nuwe Stella uitstap op die sypaadjie nie. Die laatmiddagson speel in ougoud teen die winkelvensters oorkant die pad. Sonder om te aarsel wink sy ’n taxi nader – ’n swarte, nogal.

Teen die tyd dat die taxi voor die hotel se deur stilhou, het Stella twee oproepe gemaak: een na die Afrikaanse dominee by die Suid-Afrikaanse gemeente; die ander na die prokureur tussen die banktak en die eiendomsagent in hul buurt. Stefan se reaksie wanneer hy haar sien, sal bepaal watter afspraak sy kanselleer.

Hy wag persoonlik die gaste in by die deur en skud elkeen se hand asof hy die hartlike soort is. “Good e- . . . Stella?” sêvra hy toe sy voor hom staan. Sy sien hoe sy nek rooi word terwyl sy glimlag verstyf. “Jy lyk . . . liewe hemel, vrou, hoeveel geld het jy uitgegee?”

Stella wikkel haar los uit sy greep. “Ons kan later daaroor praat,” glimlag sy. “Verskoon my net ’n oomblik.”

In ’n stil hoek van die foyer maak sy die oproep.

“Ek moet ongelukkig ons afspraak môre kanselleer,” sê sy vir die dominee.

Daarna neem sy ’n glas sjampanje by een van die kelners en stap uit na die partytjie op die stoep. Koppe draai na die helderoranje hibiskus-lag. Stella kan nie dink dat sy ooit bang was nie.