"Is dit nou die tyd om op te daag? Geen wonder hierdie besigheid lyk soos hy lyk nie. As die bestuurder so laat is, wanneer kom die res van die personeel aan die werk?”

Daphne skrik haar asvaal toe hy agter haar praat. Sy het hom glad nie met die inkomslag gesien nie. In elk geval, dit is nog glad nie agtuur nie; waarom gaan hy dan so tekere?

“Ek is regtig jammer,” probeer sy verdedig, maar hy luister nie na haar nie.

“Sorg asseblief dat almal tienuur in die raadsaal is. Daar is dinge wat bespreek moet word. Vandag nog!” blaf hy voor hy uitstap.

Franna sal hom nie vir my hoef te skaam nie. Ek kan nog altyd nie glo hy het ja gesê toe ek hom nooi nie!

Toe hy uit is, gaan Daphne met ’n frons sit. Sy kan sweer . . . Nee, dit kan nie waar wees nie. Sy sal hom tog kan herken, al is dit 20 jaar gelede. Of sal sy? Is F.A. Lambert en Franna Lambert dieselfde mens? Dit moet wees, want niemand anders het nog ooit sulke mooi blou oë gehad nie.

Meteens is sy weer in matriek en vanaand is hul afskeid. Hy is in die buurskool en sy is tot oor haar ore toe verlief op hom.

“Mamma, dit is die mooiste rok wat ek in my hele lewe gehad het. Die ander kinders sal nooit kan raai dat dit ’n ou rok was wat net ’n bietjie verander is nie. Franna sal hom nie vir my hoef te skaam nie. Ek kan nog altyd nie glo hy het ja gesê toe ek hom nooi nie!”

Maar Franna het nooit opgedaag nie. ’n Uur ná hul afspraak het sy die rok uitgetrek en in die kas gehang. In die jare daarna het die blou oë by haar bly spook sodat sy in geen ander man sinnigheid kon kry nie.

Haar assistent, Martie, is soos gewoonlik laat.

“Het jy gesien wie is hier?” wil sy weet.

“Die baas het gekom. En weet jy wat? Ek het ’n soentjie gekry. Ek kan nie wag vir vanaand se personeelete nie. Vir seker gaan ek sorg dat ek langs hom sit. Haai, siestog, ek hoor sy vrou is oorlede in daardie vreeslike ongeluk,” borrel sy oor.

Daphne is glad nie beïndruk met Martie se relaas nie.

“Wanneer presies het jy gedink wil jy daardie verslag klaarmaak? Ek het dit tienuur nodig, maar dit weet jy tog.”

Martie gaan afgehaal sit en begin tik. Sy het nog nooit gehoor dat Daphne met enige van die personeel so kwaai praat nie. Wat sou vandag in haar gevaar het?

Daphne wip soos sy skrik toe mnr. Lambert skielik aan haar deur klop. Sy kyk skuldig op, so al asof hy haar gedagtes kan lees. Toe sy wil opstaan, wuif hy met die hand dat dit nie nodig is nie.

Jare gelede was sy een van die onderdorpse kinders, maar vandag hoef sy nie een tree vir hom terug te staan nie.

“Daphne, ons het mekaar op die verkeerde voet gevang vroeër vanoggend. Ek is jammer dat ek my ongeduld op jou uitgehaal het. Kan ons vrede maak?”

Maar Daphne is glad nie lus vir sy mooi woordjies nie. Kan hy haar regtig nie onthou nie? Of is hy al weer besig met ’n speletjie? Jare gelede was sy een van die onderdorpse kinders, maar vandag hoef sy nie een tree vir hom terug te staan nie.

Sy gaan staan kiertsregop voor hom. “Mnr. Lambert, dit spyt my dat ek vanoggend laat was. Dit was weens omstandighede buite my beheer. As u ons tak meer dikwels besoek het, sou u geweet het dis nie my gewoonte om so op die nippertjie by die werk op te daag nie.”

Sy gryp ’n lêer van die tafel af. “Hier is die statistieke van die afgelope ses maande soos u per e-pos gevra het. As u nog inligting wil hê, vra gerus.”

Sy sien nie die lagduiweltjies in sy oë nie, want sy het reeds weer agter haar rekenaar gaan sit om verder te werk. Daphne is voor die tyd in die raadsaal en sorg dat alles in orde is vir die vergadering. Sy gaan sowaar nie weer toelaat dat die vermetele man haar oor die vingers tik nie.

Sy kom nie agter dat hy stilletjies inkom en aan die punt van die groot tafel aansit nie. Hy haal sy notas uit en kyk weer vinnig daarna terwyl die res van die personeel een-een inkom. Die mense wat nog nie die verlore seun gegroet het nie, is die een so bly soos die ander om hom weer te sien.

Sy kyk geïrriteerd op. ’n Mens sou sweer die man is van ’n ander planeet soos hulle oe en aa rondom hom. Wel, by haar gaan hy beslis sy kop stamp; sy is nie een van sy marionette nie – sy gaan nie dans wanneer hy die toutjies trek nie.

“Daphne, kom sit asseblief hier langs my,” sê hy sonder om hom te steur aan haar parmantige houding. Hy wag tot sy sit voor hy met sy toespraak begin.

“Liewe kollegas, dit is heerlik om weer hier by julle te wees. Ná my ongeluk ’n jaar gelede het ek dit oorweeg om die onderneming te verkoop. Gelukkig het ek dit toe nie gedoen nie, want jul syfers is uitstekend.

Elke e-pos het soos die vorige een gelyk – propvol vermanings en hoekoms en waaroms.

“Ek wil veral vir Daphne gelukwens. Sy het hier ingestap terwyl die kantoor die een verlies ná die ander gely het, en sy het dit in so ’n mate reggeruk dat julle die wenspan is. Nie een van die ander 10 takke kom naby jul syfers nie. Baie dankie aan almal. Daphne, jy is ’n staatmaker en ek stel dit hoog op prys.”

Daphne is te verslae om saam met die res van die personeel hande te klap en te juig. Die hele tyd het hy haar laat verstaan sy doen nie genoeg nie en hy verwag meer van haar. Elke e-pos het soos die vorige een gelyk – propvol vermanings en hoekoms en waaroms.

Toe almal stil is, gaan hy voort.

“Sit asseblief ’n kennisgewing op die deur dat ons vir twee dae gesluit sal wees. Ons sal nie vanaand ons gewone ete saam hê nie. Almal moet môre stiptelik om seweuur voor by ontvangs wees. Trek gemaklik aan, want dit gaan ’n lang dag word. En ja, pak ’n rugsak met nagklere en ’n deftige dingetjie vir die aand, hoor.”

Meer kry hulle nie uit hom nie. Met ’n groot glimlag stuur hy almal huis toe.

Hy volg Daphne na haar kantoor. Sy bly gespanne staan. Wat wil hy nou van haar hê? Dit is maklik genoeg om veilig te voel tussen die ander personeellede, maar nou is haar kantoor skielik te klein vir hulle twee saam.

Hy begin saggies lag, want hy sien hoe selfbewus sy is. Dit lyk asof hy hom verlekker in haar ongemak.

“Daphne, ek wou maar net seker maak jy weet hoe dankbaar ek is vir die werk wat jy hier doen. As bewys daarvan bevorder ek jou tot streekbestuurder. Dit sluit die gewone pakket in; onder meer ’n maatskappymotor en ander dingetjies wat ons later kan bespreek.”

Voor sy hom kan antwoord, gaan hy voort: “Sal jy asseblief vanaand saam met my gaan eet? Ek voel regtig nie lus om alleen te wees nie.”

Toe sy huiwer, dring hy daarop aan.

“Ek vra niks meer van jou as om ’n bord kos saam met my te geniet nie. Asseblief.”

Sy kan haar verontwaardiging nie langer beheer nie. Moet sy nou sowaar saam met hom gaan eet omdat hy haar bevorder het? Wat dink die man van homself? Dink hy sowaar sy is nog die matriekmeisie wat haar aan die slaap gehuil het omdat hy haar nie kom oplaai het nie?

“Baie dankie vir die uitnodiging, maar ek sal dit nie kan maak nie. Ek het verantwoordelikhede om na te kom by die huis.”

Daphne slaap die nag nie baie nie. Iewers voor slaaptyd kry sy ’n SMS van hom.

As daardie lummel haar vandag afdank, is dit haar verdiende loon.

“Jy is nog net so mooi soos altyd. Kan jy my asseblief vergewe vir destyds?”

Waarom, o waarom moet die lewe so moeilik wees? Eintlik wil sy hom haat, maar daardie blou oë . . .

Toe sy die volgende oggend by die werk opdaag, sit almal reeds in die luukse bus. Sy besef sy het weer ’n groot blaps begaan. As daardie lummel haar vandag afdank, is dit haar verdiende loon. Maar hy is nêrens te sien nie.

Die busbestuurder sê hy wag vir hulle op die lughawe. Lughawe? Sy wonder wat voer die man in die mou. Waarheen is hulle op pad? Op die lughawe is dit ’n dolle gejaag, want hul privaat vliegtuig moes al opgestyg het.

Daphne vergeet haar irritasie teenoor mnr. Lambert toe hy laggend saam met hulle oor die aanloopbaan hardloop om in die vliegtuig te kom. Skielik voel dit vir haar asof sy in ’n droom leef. Die vlugpersoneel sit ’n sjampanjeontbyt voor.

Dis vir haar glad nie vreemd toe hy langs haar kom sit nie. Hulle klink ’n glasie op die voorspoed van die onderneming en sit en kyk hoe die res van die personeel die vlug geniet.

Hulle land op ’n deftige wildplaas. Die vroue gaan na ’n spa en die manne speel gholf. Laatmiddag kom hulle bymekaar vir ’n skemerkelkie, maar almal is haastig om te gaan aantrek vir die onthaal later.

Daphne kyk vir oulaas in die spieël en glimlag. Sy weet sy lyk pragtig. Buite haar deur wag Franna. Woordeloos stuur hy haar in die rigting van ’n bankie buite die onthaalsaal. Toe hulle sit, draai hy na haar toe.

“Ek het nooit die moed gehad om jou weer te kontak nie. Ek is so jammer daaroor. Wat sal dit help om jou nou te vertel dat my ma daardie aand met ’n ander man weggeloop het? Ek het so uitgesien na die afskeid saam met jou, maar ek kon nie . . .”

Hulle hoor hoe die ander lag en gesels in die saal, maar tussen hulle is dit stil. Geen woorde is nou nodig nie, net die besef dat dit ’n nuwe begin is. Baie later staan hulle op en stap hand aan hand die onthaalsaal binne.