Moet hy dit waag? wonder Andries. Dis laatmiddag en daar is geen manier waarop hy die plaas voor sononder gaan haal nie. Om die verlate stuk pad alleen aan te durf sal onverantwoordelik wees.

Hy’s nie meer vandag se kind nie en sy ou Ford het ook beter dae geken. Soos wat ’n mens kan verwag van ’n voertuig met tallose kilometers agter die uitlaatpyp. Buitendien sit hy met die heup. Een wat dringend vervang moet word, het die ortopeed ’n halfuur gelede bevestig.

Dis immers hoekom hy vandag hier na die dorp se hospitaal moes kom. ’n Hele 150 km van die plaas af.

Weer wik en weeg hy.

Dit kan net een ding wees: ’n pap band!

Dis óf by ’n gastehuis inteken en môreoggend vertrek óf die kans waag en sommer nou in die pad val. Ja, besluit Andries, dis laasgenoemde, al sal dit dan nou dom wees. ’n Bed vir die nag gaan hom ’n klomp geld uit die sak jaag, en buitendien wil hy vanaand in sy eie bed slaap. Môre moet hy oudergewoonte douvoordag met sy take op die plaaswerf begin.

Hy druk die Ford se neus noordwaarts en spoedig lê die lang pad wat oor die Karoovlakte uitstrek voor hom. Die getroue ou voertuig dreun voort en ’n halfuur later skakel Andries die radio aan, betyds om die uurlikse nuusflitse te hoor.

Wat weer oorheers word deur opstande, bendegeweld en betogings. Hy soek met die linkerhand na ’n radiostasie wat musiek aanbied. Rustige barokmusiek kom uit die luidsprekers, maar Andries se gedagtes bly by die nuusflitse. Wat gaan van die land word? Mense word meer; werk minder. ’n Bloudruk vir misdaad.

Gelukkig is dinge op die plaas nog rustig, maar vir hoe lank? Dis toe dat hy die flap-flap-flap-geluid hoor en ’n effense vibrasie aan die Ford se stuurwiel voel. Wat op aarde? Hy ry stadiger en hoor hoe die ritme van die flapgeluide ook verlangsaam.

Dit kan net een ding wees: ’n pap band!

Hy trek van die pad af, klim versigtig uit en hinkstap om die voertuig.

Pap band? Nee, al vier bande lyk reg. Wat anders kan dan flap-flap maak? Dalk ’n gebreekte as? ’n Wiellaer wat ingee? Onwaarskynlik, want vanoggend op pad dorp toe was die Ford nog pure perd.

Hy sit weer agter die stuurwiel en oorweeg sy opsies. Terugdraai? Nee, die dorp lê reeds 40 km in die verlede. Dan maar die insleepdiens bel. Hy grawe in die paneelkissie, hark sy selfoon nader en druk op die foontjie. Niks gebeur nie. Hy’t vergeet om die ding vanoggend te laai!

Hy bekyk die teerpad wat voor hom uitstrek die oneindigheid in. Net soos die toneel in die truspieël. Hy klim weer uit en korrel eenoog weswaarts. Nog so ’n uur se son. Dan maar verder ry en dinge net stadiger vat.

Flap-flap ry hy verder met die stuurwiel wat ál meer vibreer. Nee, besef Andries, so gaan hy nie die plaas haal nie. Hy stop en hinkepink weer om die voertuig, net om te sien al vier bande lyk steeds reg. So, band omruil sal nie eens help nie. Buitendien, watter wiel?

Dis toe dat dit hom tref. Hy’s gestrand, seer heup en al. Erger: Hy’s vingeralleen. ’n Maklike teiken vir booswigte wat gestrande motoriste op verlate paaie teëkom. Iets wat ál meer op nasionale paaie voorkom. Wat beteken hy moet vinnig iewers skuiling vir die nag kry. Vir hom en die Ford.

Skuiling? Wat hy waar gaan kry? Hier op die oop vlaktes? Hy gewaar ’n beweging in die truspieël. Dis ’n spierwit viertrek wat aangejaag kom. Andries spring uit en wuif, maar die luukse rytuig flits met ’n rukwind verby. Hy sak weer terug in die Ford, met ’n heup wat nou pyn dat dit bars.

Kan dit wees? Die viertrek het dan net verbygejaag? Ja, dis wat gebeur het. Net soos hy wat Andries is al male sonder tal in die verlede by ander gestrande voertuie verbygejaag het.

Iets flits voor in die pad en Andries gewaar weer ’n voertuig nader kom, nou van voor af. Hy klim versigtig uit en wuif, maar weer jaag die motoris verby. Hoekom dan? Al wat hy wil vra, is of die samaritaan bereid sal wees om ’n oproep na die insleepdiens te maak. Hy is bereid om R50 vir die oproep te betaal. Dis al kontant wat hy by hom het.

Nog drie motors, twee van voor en een van agter, flits op dieselfde manier verby, ondanks Andries se desperate gewuif. Agter die voorruit is onbetrokke gesigte wat maak of hy en sy Ford onsigbaar is.

Dis toe dat Andries besef sy pistool is nie meer in die paneelkissie nie.

Weer kyk Andries weswaarts. Die son begin water trek. Nog ’n halfuur se lig, as hy gelukkig is. Hy klim terug agter die stuurwiel, en dis toe dat hy dit hoor: doef-doef-doef. Hy kyk in die truspieël en sien die plat peperduur BMW stadig nader kom.

Met die gedoef van rapmusiek wat ál harder word. En by hom verbyry, verder, met die gedoef wat ál sagter word en eindelik onhoorbaar raak. Andries kyk die swart voertuig agterna.

“Hou seblief net aan met ry,” bid hy hardop. Want die insittendes agter die getinte vensters is heel waarskynlik dié soort teen wie almal gewaarsku word.

Maar sy gebed blyk onverhoor te wees, want die swart BMW se stopligte gaan aan, die voertuig maak ’n U-draai en kom stadig teruggery. Met die gedoef wat weer ál harder word.

Die voertuig maak weer ’n U-draai en hou vlak agter die Ford stil. Met die doef-doef-doef nou oorverdowend hard.

Dis toe dat Andries besef sy pistool is nie meer in die paneelkissie nie. Dis in die kattebak, waar hy dit vanoggend langs die noodwiel weggesteek het. Hy wil uitspring vir die wapen, maar besef dis te laat.

In die truspieël sien hy albei die voordeure van die BMW oopswaai, twee mans wat uitklim en aan sy kant van die Ford stelling inneem. Is dit sy laaste uur hierdie? Op so ’n manier?

Doef-doef-doef, rap die BMW, met die laatmiddagson wat teen die getinte vensters kaats. En teen die donkerbrille op die twee gesigte wat hom uitdrukkingloos beskou. Andries rol die venster halfpad af.

“Ons wil help,” sê een in perfekte Afrikaans en beduie na die Ford se regtervoorwiel. “Ek is Ithemba en my vriend hier se naam is Elton.”

Andries besef hy het geen keuse nie en klim versigtig uit. Ja, die band het intussen pap geword. ’n Stadige lekkasie dalk?

Elton wys na die wiel. “Het jy ’n spare?” Doef-doef-doef, rap die BMW, en Andries dink: Ja, dankie, gangsters, oulike aanslag. Maak of julle kamtig wil help. As hy verdomp net by sy pistool kan kom. In die kattebak.

Kattebak? Ja, natuurlik! Dis waar die noodwiel is!

“Ja,” sê Andries, “ek het ’n spaarwiel. Dis in die boot. Ek kry dit gou.”

Andries hink na agter en maak die kattebak oop. Hy prop die .38 vinnig in sy broeksak, en met die ander hand wys hy na die binnekant van die bagasieruim. “Kom, bliksems, ek’s reg vir julle,” prewel hy by homself.

Die gedoef uit die BMW het intussen stil geraak. Net die gesuis van die eensame Karoovlakte om hulle heen, met geen ander voertuig nou in sig nie.

“Help, seblief, Here,” bid Andries in stilte.

Ithemba trek sy leerbaadjie uit, stap nader, en met ’n gemaklike swaai lig hy die noodwiel uit die kattebak. Andries merk nou die mans se klere en skoene. Moet van die duurste wees wat geld kan koop.

“Wasie jack?” vra Elton en kom aan die ander kant van Andries staan. Andries retireer twee treë. Verdomp of hy hom in sy eie bagasieruim gaan laat prop!

Hy beduie met die een hand waar die domkrag is en met die ander beklou hy die pistool. Dis nou net ’n kwessie van tyd. “Luister, menere,” sê Andries en hoor sy eie stem klink dun.

“Ek waardeer jul hulp, maar het nie geld by my nie. Ek kan julle nie betaal nie.”

“Help, seblief, Here,” bid Andries in stilte.

Ithemba beskou Andries van agter sy donkerbril. “Wie’t van geld gepraat? Ons help jou nou, en anderdag help iemand ons.”

Sonder verdere woorde spring die twee aan die werk. Die Ford word opgedomkrag en die pap wiel se moere losgedraai. Andries kyk toe, ’n paar meter weg. Die sakkende son flits op die ringe aan die vingers van die vier hande wat werk. Kan net goud wees, besluit Andries. Of edelgesteentes. Hy’t nou ’n toeskouer geword.

Ook het hy van die pistool in sy sweterige hand vergeet. Minute later is die Ford terug op al vier wiele. Elton wys na die stukkende band.

“Kyk, die rubber het losgetrek. Vannie canvas af. Toe’t die canvas geskeur. Hieso.” Hy druk met ’n ringbelaaide vinger op ’n skeur in die stukkende band.

Die wiel en gereedskap word in die kattebak teruggesit en die twee helpers staan voor Andries.

“Hier,” sê hy en hou die R50-noot uit. “Dis nie veel nie, maar dis darem ’n ietsie. Vir jul moeite.”

Albei mans kyk na die noot in Andries se hand. “Gee dit liewer virrie SPCA,” lag Elton.

Ithemba vee sy regterhand met sy sakdoek af en skud Andries se hand. Elton doen dieselfde. Hulle klim in hul voertuig, wuif deur albei vensters, en met die doef-doef-doef wat ál sagter word, verdwyn die BMW.

Later is dit net ’n blink stippeltjie in die verlatenheid van die Karoo. Andries sit die Ford in rat om te vertrek.

“Misdaad het handuit geruk,” kla ’n inbeller oor die radio. “Omgee vir mekaar en naasteliefde bestaan nie meer nie.” Andries haal sy bril af, vryf die lense skoon en sit dit weer op.

Maar hy kan steeds nie deur die neweligheid voor sy oë sien nie.