"Ja, toe. Ek dink dit is tyd dat jy jou ry kry.”

Heldemoedt sit sy teekoppie hard op die piering neer. Die koppie is nog half vol. Hy skuif dit heftig oor die koffietafeltjie sodat dit amper aan die ander kant afval.

Hy het genoeg gehad. As hy nog een minuut in dié vrou se geselskap moet wees . . .

Miemie Vermaak lyk baie onthuts. Haar gepoeierde gesig spreek luid wat haar oop mond nie kan verwoord nie: Hoe durf hy? Sy sit haar koppie neer en vat-vat aan haar kapsel.

“Jy is ’n ongeskikte buffel, Heldemoedt Muller!”

Haar stem tril. “Ek kan nie glo dat jy en my Dawie . . .” – sy maak ’n snikgeluid – “al die jare boesemvriende was nie.”

Weer die snik. “En jy hanteer my so. Sy weduwee. Dawie draai in sy graf om.”

Heldemoedt staan op. “Ek en Dawie was vriende, Miemie. Nie ek en jy nie. En weduwees rou. Hulle . . . hulle . . .”

Hy voel hoe sy bloeddruk gevaarlik styg. “En ja, hy sal in sy graf omdraai as hy jou moet aanskou. Die ene poeier en parfuum.”

Hy staan op en stap voordeur toe. “Kom. ’n Treklorrie gaan jou vas parkeer as jy nie nou ry nie.”

Hy het vroeër die meubelvervoerwa in die straat gesien. ’n Man in ’n groen oorpak is besig om die vragmotor nou stadig die kompleks in te lei.

Dis seker die mense wat by no. 14 intrek – dit staan al ’n geruime tyd leeg. Met haar handsakkie in een hand vasgeklem en die ander teen haar hart kom Miemie by Heldemoedt verbygestoom.

“Ek sal die mense moet waarsku,” tril sy weer. “Hulle sal dadelik weer trek wanneer hulle jou ontmoet het. Miskien is dit nog nie te laat nie.”

Sy wikkel haar ronde lyf tot by die man in die groen oorpak en beduie armswaaiend vir hom iets. Hy kyk haar kopskuddend aan.

’n Minuut later brul haar motor by die kompleks uit.

Ai, ou Dawie. Hoe kon jy dit so lank uithou? Heldemoedt maak sy voordeur toe en gaan sit.

Suinige ou korrelkop. Alleenloper. Die name gaan nie ongehoor by hom verby nie, maar hy ken homself en het berus.

Hy reik na die tydskrif wat by die halfvoltooide blokkiesraaisel oop lê, maar bedink hom. Hy sak terug in sy leunstoel en sluit sy oë.

Hy is moeg.

Miemie se flankeerdery ontstel hom. Hy en Dawie het soveel goeie tye gehad, van skooldae af. Dis nog moeilik vir hom om sy ou maat se dood te verwerk.

Dit het so vinnig gebeur. Die Dinsdag het Dawie nog oor sy karp van 10 kg gespog wat hy uit die dam uitgetrek het en die Vrydag het hulle hom begrawe. ’n Hartaanval.

Dis dié dat Miemie hom so omkrap. Het sy dan geen respek nie? Hy weet hy is nie ’n maklike mens nie. Ongeskik, bot.

Suinige ou korrelkop. Alleenloper. Die name gaan nie ongehoor by hom verby nie, maar hy ken homself en het berus. Ongelukkig in homself was hy nog nooit. Hy is wie hy is en basta met die res.

Hy skrik toe die voordeurklokkie skel lui.

Hy het seker ingesluimer. Wie kan dit tog nou wees? As dit weer daardie verbrande Miemie Vermaak is . . . Tipies sy.

Staan seker met ’n bak bobotie voor die deur. Kom, Hellie, jy moet eet. Hellie, jy is te maer. Hellie voor, Hellie agter.

Al die jare was hy Heldemoedt, maar ná Dawie se dood het sy hom tot Hellie herdoop. Verdomp. Dié nonsens stop vandag.

Met ’n “Miemie Vermaak!” pluk hy die voordeur oop.

Die vrou staan verskrik ’n tree terug, haar hand vlugtig voor haar mond.

“Ek is jammer, meneer. Jy het iemand verwag. Ek wou net . . .” aarsel sy. Dan: “Vergeet dit.”

Sy draai om en stap haastig weg. Heldemoedt kyk haar vir ’n oomblik woordeloos agterna en klap die deur toe.

Sy wou seker vir die een of ander liefdadigheid geld insamel. Hy gaan die sekuriteit van die kompleks weer op die agenda plaas met die volgende inwonersvergadering.

Dis ongehoord dat vreemdelinge goedsmoeds aan jou deur kom klop. ’n Vreemde onrustigheid knaag aan Heldemoedt toe hy later kos maak.

Hy het nie veel van ’n eetlus nie, maar dink aan Miemie Vermaak se ewige en ongevraagde vermanings oor sy gewig. Sy gedagtes is gedurig terug by die vrou by die voordeur. Wat is dit van haar wat hom pla?

Hy skat sy kan nie veel jonger as hy wees nie. Die grys in die hare natuurlik en ongekleur. Was dit haar oë?

Donker, geheimsinnig. Fyn lagplooitjies om haar mond. Oë en ’n mond wat hartstogtelik kan huil, maar net so uitbundig kan lag, verbeel hy hom.

Hy het haar net ’n paar oomblikke gesien, maar tog bly sy by hom spook. Wie kon sy tog wees en hoekom dink hy die hele tyd aan haar? Hy eet soos altyd alleen by die kombuistafel en gaan slaap.

Ná ’n rustelose rondrollery staan Heldemoedt eindelik teen vyfuur op en maak koffie. Die vrou pla hom steeds. As hy haar maar net weer kan sien en vra wie sy is.

Hy sal selfs ’n bydrae lewer tot waarvoor sy ook al geld insamel. Hy het van gister af ’n vreemde drukking op sy bors. So al asof ’n hand om sy hart gevou is.

Miskien moet hy tog maar weer dokter toe gaan vir ’n ondersoek. Dit is ’n nuwe gevoel en hy hou nie daarvan nie.

"Nee wat, die klok tik nog honderd persent,” sê die dokter later terwyl Heldemoedt sy hemp toeknoop. “Die bloeddruk so ’n rapsie hoër as gewoonlik, maar niks om oor bekommerd te wees nie. Miskien is oom verlief.”

Die dokter knipoog.

Heldemoedt besluit om vir hom ’n ander dokter te kry. Verlief. Die man is versteur en moet verbied word om te praktiseer.

Was dit haar oë? Donker, geheimsinnig. Fyn lagplooitjies om haar mond

Die kompleks se hekwag weet van geen sout of water nie toe Heldemoedt hom vra of hy die vrou gesien het. Hoe kan hy dan nou ook ’n behoorlike beskrywing gee van iemand wat hy maar kwalik gesien het?

Hy het drie oproepe op sy selfoon misgeloop omdat hy dit op die boekrak in sy woonstel laat lê het. Miemie Vermaak. Heldemoedt sug. Vir die eerste keer in sy lewe voel hy onseker. Verlore. Iets skort in sy lewe, maar wat?

’n Nuwe dokter is miskien nie so ’n slegte idee nie. Hy het bes moontlik ’n ernstige kwaal onder lede. Sy selfoon lui.

Toe hy Miemie Vermaak se naam op die skerm sien, smyt hy die luiende foon op die tafel neer, gryp sy bakkie se sleutels en storm by die woonstel uit.

Die oop pad, uit op die snelweg tot waar hy die horison kan sien. Ruimte, waar hy kan asemhaal; vry kan wees van Miemie Vermaak en die knaende gedagtes aan ’n vrou wat hy van geen kant ken nie.

Dit is ’n sekonde te laat toe Heldemoedt desperaat rem.

Die rooi Volkswagen Kewer tref sy bakkie op die deur. Die geweld van die impak laat albei voertuie deur Heldemoedt se roostuintjie ploeg, bo-oor sy posbus tot vlak by sy voordeur.

Heldemoedt se kop tref die stuurwiel met ’n verblindende slag. Veraf hoor hy ’n vrouestem gil: “Oom! Is oom oukei?”

Dan raak alles stil en donker om hom. Besorgde vrouestemme. Een jonk, die ander volwasse en vaagweg bekend. Heldemoedt se ooglede is swaar en wil nie oop nie.

Waar is hy? Die ongeluk.

Hy onthou die slag, die Kewer wat uit die niet verskyn het. Hy beur orent en maak sy oë oop. Hy is in die hospitaal.

’n Man met ’n wit jas en stetoskoop staan by die voetenent van sy bed. Aan Heldemoedt se linkerkant staan ’n jong vrou met pieringgroot verskrikte oë. ’n Sagte hand raak aan sy regterarm. “Meneer Muller?”

Heldemoedt swaai sy kop na regs. Dis sy. Hy kreun toe die pyn deur sy kop skiet.

“Vat dit rustig, meneer Muller,” sê die dokter. “Jy het harsingskudding opgedoen. Ons hou jou nog ’n dag vir waarneming. Alles lyk goed.”

Hy maak ’n paar aantekenings en verskoon hom.

“Meneer Muller, kan ek my voorstel?” Heldemoedt knik sy kop versigtig. Hy kyk voor hom, na waar die dokter gestaan het.

“My naam is Emma Fourie. Ek is die nuwe intrekker in no. 14.”

“En ek is haar kleindogter, Emmarentia. Die een met die rooi Volla,” kom dit tranerig van Heldemoedt se linkerkant.

Heldemoedt wens sy wil aanhou praat. Vir hom vertel waar sy vandaan kom.

“Ek het oom genuine nie gesien nie. Daai draai is terrible.”

“Ek wou gister kom kennis maak.” Emma Fourie onderbreek haar kleindogter. “Ek glo nie dit was ’n goeie tyd nie.”

Sy kug en gaan voort: “Ek wou ook die blinde draai voor u woonstel bespreek. Met dié dat no. 14 so lank leeg gestaan het. ’n Motor kan ’n mens onverhoeds betrap.”

Sy sug. “Wat nou ook gebeur het.”

Sorry, oom,” van die linkerkant. Heldemoedt wens sy wil aanhou praat. Vir hom vertel waar sy vandaan kom.

Van watter blomme sy hou, haar gunstelingkleur. En of kleindogter Emmarentia ook ’n oupa het. Met dié gedagte voel hy hoe sy nek soos ’n skoolseun vuurrooi uitslaan.

Gedra jou, Heldemoedt Muller. Sonder om te kyk steek hy sy hand na Emma uit.

Sy neem sy hand. Haar greep is sag maar ferm.

“Heldemoedt is my naam.” Sy stem is skor.

Emma is ’n oomblik stil, asof sy nadink.

Dan sê sy: “Dit is ’n mooi naam.”

Skielik is Heldemoedt se kop minder seer. Deur die hospitaalvenster sien hy die son koper oor die horison sak.

Êrens binne hom word ’n leemte gevul. Hy hou van die gevoel.