Dik Dun Thick Thin
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Nataniël (Human & Rousseau, R215*)

Ontmoet van die mense in Dik Dun Thick Thin: “Cini was die jongste van Kortwiek en Brug Kleinkamp se drie dogters. Die oudste twee was grofgeboude wesens met harte harder as oorlogseep. Hulle was luidrugtig, ondankbaar en hariger as immigrante.”

Daar is drie soorte vroue. Die eerste groep “is gewoonlik kort, praat sag, hulle sê goed soos geniet jou daggie of Hallo jy, en hulle het name soos Dialise Smit”.

Die tweede groep besit almal salonne vir naels, hare of honde.

“Hulle bespreek jou (as verhoogkunstenaar) vir die mees belag­like geleenthede en gebruik altyd in ’n stadium die woorde ‘red velvet cake’.”

Die derde groep is die gevaarlikste: “Altyd besig met ’n kompetisie, altyd ter wille van liefdadigheid, doodsake soos hoërskoolprinsesse, koortoere en trompoppies. Direk ná skool kies hulle ’n naam uit ’n liedjie, trou met ’n Voortrekkervan, laat die neus verklein en die borste vergroot. En kontak my. Die res gaan plaasvind met my gratis hulp.”

“Mevroutjie Smuts was ’n kort dame wat in die ouetehuis se grootste woonstel gebly het. Sy was ’n oujongnooi, haar regte naam was Essie Krige, sy was plomp en het net breidrag besit, sy kon vir ure sit sonder enige beweging, dit was soos ’n sagte kussing met ogies, ’n verpleegster moes elke uur gaan voel of sy nog lewe.”

Nataniël skryf met ’n skerp potlood: Hy teken mense en situasies helder sodat jy jouself of jou verpestelike familie en bure duidelik herken.

Sy tong is net so skerp – hy spaar geen heilige koei of krimpelien nie. Maar sy duisende aanhangers vergewe hom, want . . . nee, ’n mens weet nie hoekom nie, want deernis en medemenslikheid skyn nie te helder hier nie.

Soos hy self skryf: “Dis hoekom ek alleen woon, blykbaar kan geen mens dit uithou saam met iemand wat eenvoudig alles reg doen nie.”

  • Hier is splinternuwe kortverhale – 20 in Afrikaans en agt in Engels – uit die gek dog baie begaafde kop van Nataniël, ook verhoogkunstenaar, sanger, klavierspeler, kok en so baie voorts.
Die antie met die pienk rok en ander stories
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Jan Spies (Tafelberg, R199*)

Hierdie stories sal nooit oud word nie, want hulle is werklik snaaks en onderhoudend en meesterlik geskryf deur Jan Spies. Hy was die legendariese koerantredakteur, skrywer en aanbieder van die TV-program Spies en Plessie.

Die antie met die pienk rok is uitgesoekte verhale uit vier van sy vorige boeke.

Nuwe lesers sal hulle verlekker in byvoorbeeld die kêrel wat in die kerk agter ’n groot vrou gesit het: “Sy’s van bo tot onner gebou soos ’n hangkas – reguit af en wyd genoeg vir twee mense se klere.”

Die moeilikheid het gekom toe hulle opstaan vir die eerste gesang, want toe “knyp sy darie geweldige rok van skuins onner haar blaaie af vas deur haar magtige kloof tot tussen haar kuite”.

Wat toe gebeur het asook die volgende Sondag, het gelei tot twee blou oë vir hom.

  • Ou lesers sal hulle nogmaals verkneukel in sersant Jônie Louw, die dorstige pater Hoeflies en Orrelkosie.
Onder een dak – 100 ou en nuwe stories
Beskikbaar by NB Uitgewers
Beskikbaar by NB Uitgewers

Deur Dana Snyman (Tafelberg, R250)

Twee “trekboere” maak ’n winkel oop op Brandvlei waar hulle goedkoop klere en elektroniese ware verkoop. Die smal toonbank “is soos ’n oseaan wat hulle skei” van hul klante. Soms kom die jongerige Chinese paar onverwags by Fytjie se huis aan en speel met haar kinders.

“Hulle en die kinders speel met ’n bôl en lag en as hulle voel hulle het nou genoeg gespeel, dan groet hulle en ry weer.” Die enigste Afrikaans wat hulle ken, is “baie dankie”.

In een van sy nuwe verhale skryf Dana hoe die inperking vir hom ’n tyd geword het om “ ’n slag binnetoe te reis”. Dit laat hom sy “onnadenkende verbruikerslewe” besef – die on­nodige besittings wat bewys is van ons
onbeperkte begeertes sonder om die breekbaarheid van die planeet in ag te neem.

  • Sy stories help ons om ons wêreld deur ’n ander bril te sien sodat ons met meer insig en deernis na die mense om ons kyk.
Mal Hansie en ander verhale
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Audrey Blignault (Protea Boekhuis, R169*)

Die eerste uitgawe van Mal Hansie het in 1996 verskyn en vir dié uitgawe moes ’n nuwe voorblad gekies word.

Audrey Blignault se dogter, Marié Heese, verduidelik die keuse van ’n tikmasjien: “Die skildery van ’n blou tikmasjien het dadelik my aandag getrek. Want solank ek kan onthou, het my ma daagliks voor haar Remington gesit en tik.”

Audrey was ’n joernalis wat half toevallig ook ’n essayskrywer geword het. In hierdie bundel is 10 van haar langer vertellings vir die eerste keer saamgegroepeer.

Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

So vertel sy van die stoeltjie met rooi rose wat haar Ierse oupa laat maak het.

“Hy het dit vir my gegee in die spaansvliegtyd toe dit op die kappertjieblare gereën het en die Liewe Jesus-blomme oop was in die heining.”

  • Van Bertie die pruimdief wat uit die boom val en sy been breek. Was dit omdat sy hom gevloek het? “Kakkerlak, hotnotsgot, oorkruiper, miskruier, koning van die poelakke!”
BESKIKBAAR TEEN DIÉ PRYSE BY TAKEALOT.COM. DIE PRYSE WAS KORREK MET DRUKTYD EN IS ONDERWORPE AAN VERANDERING.