1. Kaptein - Kurt Darren

Dié liedjie sal die bui behoorlik lig. Dit is een van daardie snitte wat diep in die hart inkruip en selfs die kleingoed laat saamsing. 

2. Skepe - Jo Black

As 2018 ’n moeilike jaar was, is die lirieke van dié liedjie vir jou. Soos Jo in die liedjie sing: "Ons is gemaak in hoop se naam." 

3. Êrens in die Middel van Nêrens - Elvis Blue

Die geraas van die stad is agtergelaat en jy het ’n bietjie meer tyd om te dink. Die lirieke in die eerste vers: "Het jy al ooit gesit in die stilte, met net antwoorde as vrae", maak die lied een van daardie snitte wat ’n mens laat diep dink oor dinge waarvoor jy nie altyd tyd het om te dink nie.

4. Sing Vir Liefde - Karlien van Jaarsveld

Die liedjie dra die gevoel van eenheid en liefde oor en die ritme sal jou laat glimlag. Sing vir liefde. Sing!

5. Hardekole - Ricus Nel, Adam Tas, Bok van Blerk en Refentse

Die liedjie is ’n moet vir elke speellys. Die lirieke: "Saam sal ons huil en saam sal ons lag," dui op ’n eenheid wat oud en jonk sal inspireer.

6. Mal Oor Jou - Tarryn Lamb

Dis die tyd van die jaar om jou liefie te laat weet presies hoe jy oor hulle voel. Laat die liedjie van Tarryn, wat onlangs ’n mentor op die sangkompetisiereeks Die Kontrak op VIA was, die praatwerk doen.

7. Halley se komeet - Robbie Wessels

Dis daardie tyd van die jaar om dié liedjie vir die langpad uit te pluk. Van die eerste noot van dié treffende lied is dit asof ’n mens die moerkoffie en varsgebakte brood onder jou neus kan ruik.

8. Die Lyn - Elandré

As jy op pad is Weskus toe vir die vakansie, draai af die vensters en laat die wind deur jou hare speel. Dié liedjie laat die hart sorgeloos en vry voel. 

9. So Lank Sal Ek Jou Liefhê - Jay 

Of jy ’n spesiale mens in jou lewe het of nie; dié liedjie sal behoorlik die hartsnare roer.

10. Drie Susters - Pieter Koen

Die liedjie sal jou nie net laat lekker saamsing nie; dit sal ook die lagspiere prikkel.  

Veilig ry!