Die wenners van twee van Suid-Afrika se grootste sangkompetisies het nou ’n duet uitgereik.

Craig Lucas, 2017 se wenner van The Voice South Africa, en Paxton Fielies, 2017 se Idols SA-wenner, se liedjie, Smother, boer deesdae op die radiostasies.

Smother was een van Craig, wat koning gekraai het in die tweede seisoen van The Voice SA, se liedjies op sy debuutalbum, Restless.

Hy het besluit om dit weer op te neem saam met die pragtige Paxton, wat die 13de Idols-wenner is. Sy is nou besig met haar eie debuutalbum.

Hoe het dit gekom dat julle ’n liedjie saam opgeneem het?

Craig

A post shared by Craig Lucas (@craigdlucas) on

“Ek het Paxton se reis op Idols gevolg. Ek het van alles van haar gehou: van haar stem tot haar verhoogtegnieke.

"Ek het besluit om kontak te maak om haar geluk te wens. Ek sou in elk geval steeds saam met haar wou werk, of sy Idols gewen het of nie. Gelukkig het sy van my liedjie Smother gehou en gevra of ons dit saam kan heropneem.

"Natuurlik het ek ja gesê. Ons is albei van Kaapstad en het al twee ’n nasionale kompetisie gewen; so dit is ’n moet dat ons saamwerk!”

Paxton

“Ek het altyd gedink ek en Craig sal goed kan saamwerk. En toevallig ken ons agente mekaar. Dit is waar alles begin het.”

Wat dink julle van mekaar as kunstenaars?

Craig

“Sy is ongelooflik! Baie uniek en jonk, en niemand kan soos sy sing nie. Sy het baie potensiaal en gaan beslis iets anders tot die plaaslike musiekbedryf bydra. Ek is baie opgewonde oor haar loopbaan!”

Paxton

“Sy kreatiwiteit en werketiek inspireer my beslis.”

Hoe het dit gevoel om vir die eerste keer saam te werk?

Craig

“Dit was lekker om haar werk te sien. Almal het altyd hul eie manier van dinge doen; so dis lekker om ’n truuk of twee te leer.

"Ons ken mekaar nie baie goed nie, maar was heeltemal op ons gemak met mekaar.”

Paxton

“Ek het van alles gehou toe ons saamwerk. Alles! Hy is regtig ’n goeie mens. Ons het goeie chemistry gehad. Ons was net by tye lekker ongemaklik toe ons die fotosessies doen.”

Gaan julle weer saamwerk?

Craig

“Beslis!”

Paxton

“Ons oorweeg regtig die moontlikheid; wie weet?”

Oor die liedjie

Dit handel oor ’n toksiese verhouding.

“Ek gee gewoonlik 100% in ’n verhouding. Dit kan goed wees as die verhouding gesond is, maar as dit nie is nie, is dit tot my nadeel,” sê Craig.

Smother handel presies hieroor. ’n Mens is so daarop ingestel om ’n verhouding te laat werk, jy laat jouself in die steek, sê Craig.

Hy glo Paxton het baie kwesbaarheid tot die liedjie bygedra. Craig sê hy het destyds ’n volle dag saam met die sanger, liedjieskrywer en vervaardiger Jethro Tait deurgebring om die lirieke vir Smother te skryf.

“In die laaste minute van die dag het ons dit toe reggekry om die lied bymekaar te sit. Alles het net op die laaste oomblik gewerk.”

Smother (Craig se soloweergawe) was vroeër die maand no. 13 op die Kaapse radiostasie Heart FM se top-40-trefferlys en no. 4 op Good Hope FM, ook in die Kaap, se Hit 30-trefferlys en is byna 50 000 keer op YouTube gekyk.