Die groep, wat bestaan uit Hugo Ludik, Reynardt Hugo en Kyle Grant, het in 2016 laas ’n album, die Ghoema-bekroonde Hoogtevrees, uitgereik. Hul jongste album, Bewe, word op 23 Maart uitgereik.

“Ons het in die afgelope jaar en ’n half van ons beste liedjies nog geskryf en kon dit nie meer langer vir onsself hou nie; ons moet dit deel,” sê Reynardt, oftewel dr. Tertius Jonker in Binnelanders.

Die titel is geïnspireer deur hul gevoelens oor die album, sê Hugo.

“Die meeste van die liedjies se klank is anders as wat ons al ooit geskryf en opgeneem het.

“Hoewel ons bewe van opgewondenheid (dat die mense die album moet hoor), bewe ons ook ’n bietjie van senuwees oor hoe die mense dit gaan ontvang. Ons is wel verskriklik opgewonde en voel gerus dat ons ons heel beste ­gegee het op die album.”

’N ROUER AANSLAG

Hul nuwe album gaan luisteraars verras met ’n meer akoestiese aanslag.

“Ons sal dikwels akoestiese weergawes opneem van ons gunstelingliedjies wat ons geskryf het omdat so ’n weergawe baie ‘rou’ is,” sê Reynardt.

“ ’n Mens kan niks wegsteek agter fancy dromme en programmering nie.

“Die melodie, lirieke en instrumente is reg voor en heel blootgestel. En dis vir ons baiekeer lekker om vir mense die rou en ‘oorspronklike’ weergawe van die liedjie te gee.”

DIE MANNE VAN NADER

Ons moet ­helaas die nuus deel dat al drie van die rak af is. Jammer, meisies!

Reynardt Hugo (31)

  • Reynardt is al agt jaar in ’n verhouding met An-Maré Roothman, ’n onderwyseres van Port Elizabeth.
  • Hy het ’n suikertand en is mal oor ­lekkergoed.
  • Hy verkies om in sy onderbroek in die ateljee liedjies op te neem.

Hugo Ludik (34)

  • Hugo is al nege maande in ’n verhouding met Danieka du Plessis.
  • Hy is ’n talentvolle krieketspeler wat van 2004 tot ’08 vir Namibië gespeel het. Hy het daar grootgeword.
  • Hy is mal oor kaarttoertjies doen.

Kyle Grant (32)

  • Elizca Coetzer, ’n aktrise en sangeres, is al ’n dekade die vrou aan Kyle se sy. Hulle is al vyf jaar getroud.
  • Sy sing saam met die groep Kalmeer op hul nuwe ­album.
  • Kyle is nes Reynardt ’n akteur.
  • Hy het Schalk in die sepie Egoli gespeel en tree gereeld in toneelproduksies op.


SKOFFEL SAAM

Dié drie dansalbums sal lewe blaas in enige ­langarm-opskoppartytjie en behoort op die liefhebbers van dansmusiek se speellys te wees.

WITWARM KITAAR KLANKE – KANNIE WARRIES ­DANSORKES

Die titel van dié album sê presies wat om te verwag. Dit is die groep se sesde ­album sedert hul debuut in 2007 en bevat weer ’n nuwerwetse snaarklank saam met hul eiesoortige outydse lekkerkry.

Die tydlose Kalfie Wals kry ’n nuwe baadjie en die countrygunsteling A Couple More Years (1975) word ook in hul besonderse kitaarstyl aangebied.

GOOI DIE MEEL – VATVAS DANSORKES

As jy op country-, ruk-en-rol- en boeremusiek wil dans, sal dié groep die ritme by jou partytjie verskaf. Dit bevat 20 kitaartreffers van ou bekendes soos 500 Miles, Cecilia en Green Door.

KOFFIETYD (TRADISIONELE BOEREMUSIEK) – VERSKEIE KUNSTENAARS

As boeremusiek in die tradi­sionele styl jou ding is, is hierdie album die een vir jou met polkas, vastrappe en setiese. Een van die hoogtepunte is die liedjie Vanaand Gaan die Volkies Koring Sny.

Dit bevat 20 kitaartreffers van ou bekendes soos 500 Miles, Cecilia en Green Door.

– JACO HOUGH-COETZEE


VUURWARM ENKELSNIT

NEVER BE THE SAME – CAMILA CABELLO

Die talentvolle sangeres ryg die een treffer ná die ander in as solokunstenaar sedert sy einde 2016 die meisiegroep Fifth Harmony verlaat het.

In dié aansteeklike popliedjie sing sy oor ’n verhouding wat te intens raak. Volgens Camila is dit die beste snit wat sy al geskryf het.

Foto: FATHOM MEDIA