Toe die Afrikaanse popsanger Snotkop Huisgenoot laat weet sy jongste musiekvideo is te stout vir TV, kon ons skaars wag om dit self te sien!

“Dit gebeur nie baie dat mense die kans kry om iemand se huis af te  brand nie . . . die video is wild!” het Snotkop gesê oor sy nuwe musiekvideo, SOUSERIG.

Vandag wys Huisgenoot dié video waarvoor televisiekanale nee gesê het.

“Snotkop het ’n jare lange reputasie van albums wat so oorloop van lekkerkry dat dit voel asof dit onwettig behoort te wees. Sy kraakvars nuwe uitreiking, SOUSERIG, is geen uitsondering nie!” het Select Musiek se Tania Fourie gesê.

Volgens Tania moes drie gedeeltes uit dié stout video gesny word. Die gedeelte waar die vrou oor die tafel kruip omdat sy te veel bates wys, die roomgedeelte in haar borste en die deel waar Hilda van 7de Laan die sous vir Snotkop invryf en hy stout gedagtes kry.

SOUSERIG is een van 13 snitte op Snotkop se album, met dieselfde titel SOUSERIG.

Hierdie musiekvideo was aanvanklik te stout vir televisie en moes oor “gesensor” word vir uitsaaidoeleindes.

Toe ons Tania oor die video uitvra oor wat “te stout” was, het sy eers gelag.

Hulle moes die video aanpas sodat sou voldoen aan die vereistes van ’n ouerleiding-ouderdomsbeperking, vertel sy.

“Die veiligheidsmaatreëls op die stel was verskriklik streng omdat die hele kamer regtig afgebrand moes word,” sê Tania.

“’n Professionele span van spesiale-effektespesialiste is aangestel om die vlamwerk en veiligheid te behartig. Die stel is spesiaal gebou vir die video, met die gedagte dat dit heeltemal afgebrand sou word. Dit was uiters belangrik dat die brandtonele die eerste keer perfek moes werk aangesien daar nie ’n tweede kans sou wees om die stel af te brand nie. Dit is Snotkop se grootste musiekvideo nog!”

Tania vertel Snotkop se eie huis het twee jaar gelede amper in die Kaapse bergbrande in die slag gebly.

“Dit was ’n redelik emosionele ervaring vir Snotkop om te sien hoe die kamer aan die brand slaan ná sy persoonlike ervaring.”